|
REGS:
’n Kaart van Israel.
Kaart uit die World
Factbook van die Amerikaanse CIA; vertalings deur Mieliestronk.com
“Ek gee aan jou en jou
nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as
’n blywende besitting, en Ek sal
hulle God wees.”
— Genesis 17:8
(1983-vertaling)
IR die Christen is dit ’n besondere
belewenis om Israel te besoek. Jy staan dalk op die Olyfberg in
Jerusalem en kyk uit oor die Tempelberg en skielik besef jy watter
belangrike deel van jou mens-wees ook in hierdie land gewortel is.
Of jy staan langs die See van Galilea en
tuur met ontsag oor die meer, en raak bewoë by die wete dat die
Meester eenmaal lank gelede hier op die waters geloop en ’n storm stilgemaak het.
In die Ou Testament lees ons dat die Heilige Land 4000 jaar gelede
aan die ou stamvader Abraham en sy nageslag belowe is. Daar word dan
ook algemeen aanvaar dat daar reeds tussen 1900 en 1700 v.C.
Hebreërs in die huidige Israel was. In die daaropvolgende eeue is
die kinders van Abraham herhaaldelik uit hul vaderland verdryf, soms
deur hongersnood, meer dikwels deur veroweraars. Maar hulle het keer op keer teruggekeer.
Oplaas, nadat die Romeine hul land in 63 v.C. verower het, is die
Jode oor groot dele van die węreld verstrooi. In 70 n.C. het
Rome selfs Jerusalem weens ’n Joodse rebellie heeltemal verwoes. Ná die val van die
Romeinse Ryk is hierdie deel van die Midde-Ooste deur ander volkere geregeer,
onder meer deur Arabiere.

BO: Die beleg en verwoesting
van Jerusalem deur die Romeine onder bevel van Titus, 70 n.C. Die
olieskildery op doek is in 1850 deur die Skotse kunstenaar David
Roberts (1796–1864) geskilder.
Regdeur die afgelope tweeduisend jaar het die verspreide Joodse
gemeenskappe groot verdrukking en agtervolging verduur. Uiteindelik
het ’n begeerte onder die Jode ontstaan om na die land van hul
voorvaders terug te keer.
Sedert die middel van die 1800’s het klein groepies Jode uit
Oos-Europa hulle begin vestig in wat toe as Palestina bekend gestaan
het. Iets meer as honderd jaar gelede, teen die einde van die
1800’s, is die Sionistiese Beweging in die lewe geroep om mense te
help om na die “Beloofde Land” terug te keer en te werk vir die
stigting van ’n onafhanklike Joodse staat.
Toe die Eerste Węreldoorlog uitbreek, het sowat 85 000 Jode reeds in
Palestina gewoon. In 1917, tydens dié oorlog, het Brittanje die
Balfour-verklaring uitgereik waarin die Verenigde Koninkryk sy steun toegesę
het vir die vestiging van ’n tuisland vir die Jode in Palestina. Die
Volkebond, wat ná die oorlog gestig is, het die verantwoordelikheid
vir die administrasie van Palestina aan Brittanje oorgedra.
Arabiere wat in Palestina gewoon het, was bitter hierteen gekant.
Hulle het hulle teen enige verdere Joodse immigrasie in Palestina
verset en hul begeerte verkondig om ’n onafhanklike Arabiese staat
in Palestina tot stand te bring.
Duitsland se Nazi’s se vervolging van die Jode in die 1930’s het groter
stukrag aan Joodse immigrasie verleen.
In die laaste helfte van die 1930’s het die Palestynse Arabiere teen
die Britse heerskappy gerebelleer.
In die Tweede Węreldoorlog is sowat ses miljoen Jode in
die groot
Nazi-slagting vermoor. Hierdie wrede volksmoord het Jode nog meer
vasbeslote as ooit tevore gemaak om ’n eie tuisland te hę waar hulle
in veiligheid kon woon.
 |
LINKS: Die
vlag van Israel. Die sogenaamde Ster van Dawid is
lank reeds ’n simbool van Joodse identiteit en die Judaďsme
(Jodedom), en dit is genoem na die Bybelse koning Dawid van die ou
Israeliete. Met die totstandkoming van die moderne staat
Israel in 1948, is die Ster van Dawid ook op die landsvlag geplaas.
Die kleure van die vlag is blou en wit. |
IN 1947 het die Verenigde Nasies, wat die ou Volkebond vervang het,
gestem om Palestina in twee state te verdeel, een vir die Jode en
een vir die Arabiere, met Jerusalem onder internasionale beheer. Die
Jode het, ofskoon hulle nie heeltemal gelukkig met die voorstel was
nie, gevoel dat dit die beste was wat hulle toe kon verwag het en
die plan goedgekeur. Die Arabiere, daarenteen, het hulle duidelik
teen die skeiding verset.
Op 14 Mei 1948 het Brittanje hom aan Palestina onttrek en het die
onafhanklike staat Israel tot stand gekom. Die Arabiere het nie op
hulle laat wag om terug te veg nie. Net die dag daarna, op 15 Mei,
het Arabiese leërs uit Egipte, Sirië, Libanon, Irak en Transjordanië
(vandag Jordanië genoem) saamgespan om die nuwe klein landjie aan te
val.
Teen vroeg in 1949 het Israel nie net sy aanvallers verslaan nie,
maar ook die helfte van die land oorgeneem wat vir die nuwe Arabiese
staat bedoel was. In Januarie 1949 het Israel sy eerste verkiesing
gehou. Die volgende maand het Chaim Weizmann die president en David
Ben-Gurion die premier geword. Op 11 Mei 1949 het Israel ’n lid van
die Verenigde Nasies geword.
Die Jode het met ywer hul nuwe land begin bou. Maklik sou dit egter
nooit vir hulle wees nie. In die dekades daarna het Israel nog
verskeie kere teen sy Arabiese bure geveg, onder meer in 1956 (Sinai-inval), 1967
(Sesdaagse Oorlog), 1973 (Joom Kippoer-oorlog), 1982
(Libanon-inval), 2006 (die Tweede Libanese Oorlog), 2009 (die
Offensief in Gaza). Daarteenoor het vredesverdrae wat in 1979 tussen
Israel en Egipte en in 1994 tussen Israel en Jordanië gesluit is,
stand gehou.
Tog is Jood en Arabier dikwels vandag ewe onverdraagsaam teenoor
mekaar as meer as sestig jaar gelede, hoewel die hoop steeds brandend bly in die
gedurige soeke na vrede.

BO: ’n
Vliegtuig van die Israeliese lugmag vlieg oor die Amerikaanse
staat Nevada tydens gesamentlike oefeninge met die lugmag van
die VSA. Amerika is ’n stoere bondgenoot van Israel, kennelik
die vernaamste rede hoekom daar soveel vyandelikheid in die
Arabiese węreld teenoor die Verenigde State is.
Foto: Master
Sergeant Kevin J. Gruenwald / U.S. Air
Force
|
Ook ’n vrou
moet haar man kan staan...
REGS: In ’n land
wat gedurig gereed moet wees om aanvalle af te weer, is
elke weerbare man nodig om die grense te verdedig—en
elke vrou wat ook haar deel in hierdie verband kan doen.
Hier is Roni Duani, ’n Israeliese pop-ster, ten tyde van
haar verpligte militęre dienstyd.
Foto deur سندباد.
wat dit wat dit by Wikimedia Commons
op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”)
|
 |

BO:
Tel Aviv soos gesien vanaf Jaffa. Hierdie stad aan die
Middellandse See is Israel se sake-, toeriste- en
vermaaklikheidsentrum.
Detail van ’n oorspronklike foto
deur “Wikipeder”,
wat dit by Wikimedia Commons op
die węreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released
into the public domain”)
Israel in ’n neutedop
HOOFSTAD: Jerusalem.
LIGGING: In Midde-Ooste, aan die oostekant van die Middellandse See.
OPPERVLAKTE: 20 770 vk. km, waarvan 440 vk. km onder water is.
BEVOLKING: Israel is die węreld se enigste oorheersend Joodse staat
met ’n bevolking van 7 233 701
(volgens ’n raming vir Julie 2009). In 2004 is bereken dat
76,4% van die bevolking Joods en 23,6% nie-Joods is. DIe meeste van
die laasgenoemde is Arabiere.
ELEVASIE: Hoogste punt: Har Meron, 1208 m; laagste punt: Dooie See,
oewer sowat 400 m onderkant seevlak.
TALE: Hebreeus (amptelik), Arabies amptelik gebruik vir Arabiese
minderheid, Engels is die mees algemeen gebruikte vreemde taal.
VOLKSLIED: Hatikva (Die Hoop).
EKONOMIE: Die ekonomie, gegrond op die nominale bruto binnelandse
produk, is die 44ste grootste ter węreld. Die vernaamse landbouprodukte is vrugte, veral
sitrusvrugte, blomme (waaronder tulpe wat na Nederland uitgevoer
word), neute, koring, gort, mielies, katoen, dadels en olywe, asook
gewasse soos tamaties, komkommers, avokado’s, rissies en
waatlemoene. Nywerheidsprodukte sluit in elektroniese toerusting,
rekenaartoerusting, geslypte en gepoleerde diamante, wetenskaplike
en mediese instrumente, lasers en toerusting vir swaar industrieë.
Israel het min natuurlike hulpbronne en moet olie en
steenkool invoer. Die land doen baie navorsing in
die ontwikkeling van sonkrag en baie huise in Israel het
sonkragverwarmers. Daar is min mineraal- en metaalneerslae—meestal koper, gips en kalkklip. Maar soute wat uit die
Dooie See
onttrek word, is onder die land se waardevolste natuurlike
hulpbronne. Dit sluit potas en soute van magnesium en broom in, wat
as kunsmis gebruik word, asook tafelsout. Toerisme is ’n belangrike
bron van inkomste. Die klimaat is ideaal, die water helder en daar
is luukse-oorde en baie geskiedkundige en argeologiese
besienswaardighede. Die staatkundige probleme van die afgelope meer
as sestig jaar en massiewe verdedigingsuitgawes het die Israeliese ekonomie
ernstig benadeel.
|
REGS: ’n Dromedaris (eenboggel-kameel) in die Negeb, ’n
woestyn- en halfwoestynstreek in Israel.
Foto: David Q. Hall,
wat dit op sy webwerf op węreldwye
web tot openbare besit verklaar het (“released into the
public domain”)
|
 |
LINKS:
Die menora, ’n antieke heilige kersblaker, is die amptelike
embleem van die staat Israel. |
REGS:
’n Ou foto wat meer as honderd jaar gelede geneem is van vissers op
die See van Galilea, adem miskien nog iets van die atmosfeer in die
tyd van die aardse omwandelinge van Jesus baie eeue vroeër... toe Hy
sy vissers-dissipels geleer het om visers van mense te word.
Die See van Galilea
word ook die meer Kinneret genoem omdat dit soos ’n kinnor (harp) gevorm is.
’n Ander naam daarvoor is die See van Tiberias. Daar is ook ’n stad
met die naam Tiberias aan die meer se westelike oewer. Die ou
Romeinse keiser Tiberius (42 v.C. – 37 n.C.) is hier vernoem.
Daar is baie kampeerplekke aan die See van Galilea se
klipperige oewers waar mense swem, hengel en piekniek hou. Die meer
is die laagste geleë varswatermeer ter węreld, terwyl die Dooie See
die laagste soutwatermeer is. Die
Jordaanrivier en die See van Galilea is vandag dan ook die hoofbronne van vars water
vir Israel.
Hoewel ’n groot deel van Israel woestynwęreld is, het
die Israeli’s geleer om met doeltreffende besproeiingsmetodes as ’t
ware die woestyn te laat blom. Hoogs gesofistikeerde
besproeiingstelsels, wat deur rekenaars beheer word, is in dié land
geskep.
Foto: U.S.
Library of Congress
|