Waartoe insekte in staat is... ’n interessante Mieliestronk-brokkie...

Opskrif: Olimpiade van die goggas

MedaljeDis ’n eer vir enige land om die Olimpiese Spele aan te bied. Dit vind egter net een maal elke vier jaar plaas en ons moet telkens wag vir die volgende Spele om te gebeur. Intussen kan ons wel ons eie, opwindende Olimpiade hou... met die insekte van die wêreld as die atlete! Lees hieronder wat die uitslag is in die nommers hoogspring, gewigstoot en naelloop!

AL die veld is vrolik vir die veldnommers en die kewers is kaatjies van die baan, en nadat die goggatjies galop het, word die pryse toegeken. Drie insekte spog met hul goue medaljes en dit gons op die paviljoene. Hulle is die onbetwisbare konings van die Gogga-Spele!

Goue medalje in die hoogspring: Skuimbesie
(hy’s selfs die katvlooi se moses, bevind navorser)


Foto: Openbare besit (“Public Domain”,  Wikimedia Commons)

MedaljeSkuimbesie: Nadat lank gedink was dat die katvlooi ongetwyfeld die kampioen in die hoogspring moet wees, is ’n tyd gelede wetenskaplik vasgestel dat die einste vlooi sleg in die skadu gestel word deur sekere skuimbesies wanneer dit by hoë spronge kom.

KatvlooiSkuimbesies (waarvan die nimfe hulle só met skuim omring dat hulle in die volksmond ook bekend staan as “slangspoeg”) kan in hul volwasse stadium tot 70 cm in die lug opspring. Dit is meer as twee keer hoër as die sprong van die katvlooi (REGS), wie se hoogte van 34 cm vroeër reeds as “astronomies” bestempel is, as ’n mens dit met sy liggaamsgrootte vergelyk.

Die skuimbesies behoort tot die superfamilie Cercopoidea en is ’n groep halfvlerkige insekte, in die suborde Auchenorrhyncha.

Rakende die katvlooi, Ctenocephalides felis—dis hoeka bekend dat hy 130 keer sy eie hoogte kan spring. As die mens hom hierin wil ewenaar, moet hy 50 verdiepings hoog spring.

Volgens ’n insektekenner het die vlooi ’n rubberagtige balletjie in die heupgewrig van die agterpote. Die vlooi gebruik groot spiere om die balletjie op te wen. ’n Snellerspier word getrek en die opgegaarde energie word deur die pote uitgewip.

 

Tog kan só ’n sprong gevaarlik wees. Die stuwing wat ondervind word, is honderd keer die swaartekrag van die aarde, meer as in ’n vuurpyl op pad maan toe. Gelukkig vir die vlooi werk sy buitenste dop soos ’n drukpak.

 

Maar ’n Britse wetenskaplike, Malcolm Burrows van die Universiteit van Cambridge, het vasgestel dat die skuimbesie se wegskiet-meganisme eintlik baie doeltreffender as dié van die vlooi is. Hy het in sy ondersoek ’n kamera gebruik wat 2000 foto’s per sekonde kan neem.

 
Sy foto’s toon dat die skuimbesie so vinnig kan versnel waneer hy spring dat sy liggaampie aan 400 keer die swaartekrag van die aarde blootgestel word. Dit is veertig maal meer as die sowat tien keer wat vlieëniers in vegvliegtuie partymaal moet verduur—maar dan natuurlik in drukpakke om dit te kan oorlewe.

 

Die skuimbesie, net sowat ’n halwe sentimeter lank, belê sowat ’n tiende van sy liggaamsmassa in twee spiere in sy bors. Dit is hierdie spiere wat soveel krag aan sy agterpote verskaf. Die agterpote haak as.’t ware vas, totdat die spiere binne sowat ’n sekonde genoeg “gelaai” is en die “sneller” getrek word wat die agterpote laat losskiet. Dit ontlading vind binne ’n millisekonde plaas.

 

Woerts! En sy yslike sprong is goud werd vir die skuimbesie op die Gogga-Spele.

      
Goue medalje in gewigstoot: Miskruier
   

  
MiskruierMedaljeMis-
kruier:
Nadat hy gewys het hy kan tot 850 keer sy eie gewig dra, het die miskruier hom onteenseglik as die koning van die gewigstoters bewys. Eintlik is daar duisende soorte van hierdie kragtige kewers—waarvan party ook renosterkewers genoem word vanweë hul “neushorings”—maar die kewers van Afrika is die sterkste en grootste.

Die familie Scarabaeidae soos dit tans gedefinieer word, bestaan inderdaad uit meer as 30 000 kewerspesies oor die wêreld heen. Die spesies word ook skarabeë genoem.

Foto: Bruce Marlin  http://cirrusimage.com  (Colour image changed to black and white. It is imperative to always include the copyright along with this image.)
    


      
Goue medalje in die naelloop: Kakkerlak
      

  
MedaljeAmerikaanse kakkerlak (Periplaneta americana)Kakkerlak: As ’n menslike atleet die Amerikaanse kakkerlak (Periplaneta americana) se 5,4 km/h kon nadoen (na verhouding), sou hy die 100 m in net iets meer as ’n sekonde kon aflê. Teen daardie snelheid hol die kakkerlak net op sy twee agterpote. Dit is ’n ontsnappingsmeganisme en die insek kan dit net vir ’n kort rukkie volhou.

Foto: US CDC
    

Nog rekordhouers

 
DAAR is baie meer insektesoorte as enige ander dieresoorte op ons planeet. Nog interessante rekordhouers is:
Afrika-sonbesie (Brevisana brevis)•  Luidrugtigste insek: Die Afrika-sonbesie (Brevisana brevis) (REGS). Sonbesies is lankal bekend as van die grootste raasbekkies onder die goggas, maar die luide langasem van Afrika span die kroon. Daar is al gemeet dat sy kras krysende geteem op ’n afstand van 50 cm ’n hardheid van 106,7 desibel het. Hy word wel getroef deur die vuvuzela met sy 127 desibel, maar enige vuvuzela is mos darem aanmerklik groter as ’n sonbesie!
•  Grootste skoenlapper: Koningin Alexandra se voëlvlerkvlinder (Ornithoptera alexandrae) van die Oro-provinsie in die ooste van Papoea-Nieu-Guinee. Die wyfies kan ’n vlerkspan van meer as 30 cm hê, met ’n liggaamslengte van 8 cm en ’n liggaamsmassa van tot 12 gram. Vir ’n skoenlapper is al hierdie afmetings enorm. Die mannetjies is kleiner as die wyfies.
•  Langste migrasie: Dit word onderneem deur die
Noord-Amerikaanse koningvlinder (Danaus plexippus), wat oor sewentig dae ’n verbysterende afstand van 4000 km aflê. In die herfs vlieg die brose koningvlinders van Kanada in die noorde tot by Florida of Mexiko in die suide, waar hulle die winter in ’n gedeeltelike winterslaap verwyl. In die somer vlieg hulle weer terug. Hierdie noord- en suidwaartse trekke word saam deur drie tot vier generasies van die skoenlapper onderneem.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad