2. Spogreeks
Phylum: Arthropoda
Klas: Insecta

Insek-kaleidoskoop
Hoofstuk 2:
Taktieke vir oorlewing

Klik hieronder op die skakel na die hoofstuk van jou keuse:

  •   Hoofstuk 1: Bou en ontwikkeling van insekte
•   Hoofstuk 2: Taktieke vir oorlewing
•   Hoofstuk 3: Hoe roofinsekte hul prooi vang
•   Hoofstuk 4: Hoe insekte bou
•   Hoofstuk 5: Onder skandeer-elektronmikroskoop

 

•   Hoofstuk 6: Sprinkane
•   Hoofstuk 7: Hottentotsgot
•   Hoofstuk 8: Naaldekokers en waterjuffers
•   Hoofstuk 9: Insekgroepe
•   Hoofstuk 10:    Wonder van insekte se vlerke

  Insekte se wonderlike maniere om hul roofvyande te uitoorlê 

TAK-tiek vir oorlewing
Die mees verstokte diertjie op aarde!

Stokinsek

Die figuur HIERBO is nie hoog in die takke nie, maar ’n takkie in die hoogte... of nee, alle grappies op ’n stokkie, hy’s sowaar geen takkie nie, maar ’n insek! Net soos die blaarinsekte (kyk hoofstuk 1), is die stokinsekte eweneens van die wonderlikste kamoefleerders in die natuur. Maar daar is natuurlik ook verskillende ander vernuftige maniere waarop insekte hul roofvyande flous. Lees meer daaroor in hierdie hoofstuk...

 

• Kyk ook die foto van ’n rare stokinsek met vlerke in hoofstuk 7b van Mieliestronk se reeks oor die Biome van die aarde. Stokinsekte kom regoor die wêreld voor, maar die meeste soorte word in die trope aangetref. Meer as drieduisend spesies is al beskryf, dog daar is glo baie meer wat nog nie beskryf is nie.

 
Foto deur Fir0002 van Victoria, Australië,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het. Kopiëring, verspreiding en / of wysiging hiervan word vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation; met geen Invariante Seksies, geen Voorbladtekste en geen Agterbladtekste nie. ’n Kopie van die lisensie is vervat in die afdeling getiteld “GNU Free Documentation License”.  Besoek ook Fir0002 se webwerf by www.flagstaffotos.com.au, waar nog van sy foto’s te sien is.


DIE vermoë om meteens in hul spore te verstar. Om kranige skerpskutters te wees met liederlike walms. Om met handelsmerke te adverteer hoe onsmaaklik hulle is. Om hulle met sydrade uit die voete te maak of eenvoudig skynbaar in die niet te verdwyn.
 
Dis maar ’n paar van die aangebore talente in die groot gemeenskap van die goggatjies—die slim taktieke wat verskillende insekte gebruik om hul roofvyande te flous.
 
Daar is so ’n mag der menigte insekte op aarde, getalswys sowel as wat soorte aanbetref, dat miskien die helfte of dalk selfs twee derdes van die soorte nog nie eens name het nie.
 
Maar straks moet insekte so verskriklik baie wees omdat hul vyande so talryk is. Hulle is die gunsteling-maal van menige spinnekop (let wel, spinnekoppe is nie insekte nie), maar ook van reptiele, voëls, visse, soogdiere en natuurlik ander insekte.
 
Dog die natuur sorg vir haar kinders en hierdie wesentjies is met die verstommendste beskermingsmiddele toegerus...

 



Vernuftige vermommings 

TALLE insekte is heeltemal weerloos teen roofvyande omdat hulle nie snydende of spigtige wapens soos knypers, hake of skerp kloue het nie. Baie van dié moet hulle dus maar op die enigste ander uitweg verlaat—vermomming.
 
Sekeres kamoefleer hulself met behulp van kleur deur met die agtergrond saam te smelt; ander se lyfies lyk weer soos iets heeltemal oneetbaar.

 

Gekamoefleerde vlinderREGS: ’n Gevlekte skoenlapper met onopvallende, “houterige” kleure smelt hier so saam met sy deurmekaar omgewing van ou takke en stompe dat jy hom maklik kan miskyk as jy nie spesifiek na hom soek nie.

 

Foto deur “Conty”, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het  / “released to the public domain” (rande deur ons weggesny)


 



Die rusper van een soort skoenlapper, die Trimen-valsrooitjie, is uitgeknip ’n takkie vol mos of korsmos. Doringkewers van die Peruaanse reënwoud het weer sommer ’n dubbele beskerming. Roofvyande word nie net geflous omdat hulle so sprekend soos dorings lyk nie, maar hul puntige bedekkings keer ook dat hulle ingesluk word.
 
Sekere insekte wat self onskadelik is, boots ander insekte na wat sleg smaak of wat met ’n angel of gif toegerus is.

 

Sal die ware wesp asseblief opvlieg?

Sal die ware wesp asseblief opvlieg? LINKS BO is die ware Jakob, REGS BO ’n soort vlieg wat die leek alte maklik met ’n wesp kan verwar. Albei is van Europa.

 

Foto’s: Tom Ings / Public Library of Science  / Creative Commons Attribution License, 2.5


 
Vinnig op vlug

BAIE insekte maak veral op hul ratsheid staat om van hul vyande weg te kom. Bedrewe hoppers soos krieke, sprinkane en vlooie maak hulle spring-spring uit die voete. Insekte soos vlinders, vlieë, muskiete en naaldekokers sal weer al vlieënde ontvlug.
 
Talle inseklarwes maak ’n sekere slim plannetjie. As hul kamoeflering hulle nie kan beskerm nie, skei hulle ’n sydraad af en val met hierdie delikate lewensdraad grond toe. Wanneer die gevaar verby is, klim hulle boontoe en vreet weer die “tou” sommer so al klimmende op.
 



Blink gepantser

BAIE insekte, veral kewers, word in sekere mate beskerm deur ’n harde kutikel, wat selfs doeltreffender gemaak kan word deur chitien-stekels en -horings.
 
Talle insekte voer dit ’n treetjie verder deur in stywe balletjies op te rol sodat kleiner roofvyande geen vatplek aan hulle kan kry nie.

 

Liefdeskewer van Midde-Afrika

BO: Blink Stefaans! Die gestreepte liefdeskewer van Midde-Afrika het ’n harde, kleurryke harnas en ander toebehoorsels wat hom ’n ridder onder die kewers maak.

 

Foto: Adrian Pingstone,

 wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het  / “released to the public domain”



Kammakastig dood

HEELPARTY insekte, soos blaar- en stokinsekte, kalanders en sekere kewers, hou hulle kwansuis dood om hul vyande om die bos te lei.
 
Kniptorre of springkewers maak nie net van só ’n skyndood gebruik om aan vyande te ontsnap nie, maar boonop van ’n spring-orgaan en ’n geluid.

 

LINKS: Een van die kniptorre.
 
Wanneer ’n roofvyand een beetkry en optel, maak hy ’n verrassende klikgeluid wat kan veroorsaak dat die aanvaller skrik en hom laat val. Hy val dan op sy rug neer en maak of hy dood is. Ná ’n rukkie swaai hy hom terug op sy pote met behulp van ’n spesiale meganisme op sy rug. Hy kan ook hierdie meganisme gebruik om hom uit ’n roofvyand se greep te pluk.

 

Die “skyndood” van ’n vlieg

 

Die “skyndood” van ’n vlieg

 

BO: So dood soos mossië? Nee, eerder so uit soos ’n kers! Die verskil tussen hierdie vlieg en ander insekte wat opsetlik maak of hulle dood is om hul vyande te flous, is dat die vlieg werklik in ’n soort skyndood verkeer. Hy is as verdronke uit ’n swembad gehaal en was oënskynlik dood terwyl hy afgeneem is. Maar, vertel die fotograaf, die rateltaai goggabie het bygekom en sowat ’n uur later onverwags weggevlieg.

Foto: SoftCore Studios / Kitten Wants,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas het en gelisensieer het ingevolge die Attribution-Non-Commercial-Share Alike 2.0-lisensie



Chemiese oorlogvoering

KLEIN maar vol venyn—só is baie insekte. Hulle voer chemiese oorloë met wapens wat vir hul grootte net so gesofistikeerd as dié van die mens is.
 
Dink maar aan die steekhare van talle ruspers wat óf klewerig óf giftig is en parasiete en roofvyande weghou.
 
Maar sekere insekte sprei ook werklik skadelike vloeistowwe op hul aanvallers. Sekere liewenheersbesies (“ladybirds”) en blaarkewers kan ’n onsmaaklike of bytende vloeistof uit hul liggame spuit. Party termiete skiet ’n klewerige vloeistof uit met die doel om die aanvaller se beweging te belemmer.
 
Die rare mier van die Namib spuit mieresuur na ’n vyand. Sy agterlyf word onder sy lyf ingebuig as hy hom regmaak vir die aanval.
 
Daar is al selfs berig dat ’n slakvretende grondkewer van Asië ’n insektekenner tydelik verblind het deur brandende vloeistof reg in sy oë te skiet.
 
Maar die berugste bombardeerder van almal dra ’n gepaste naam: die bombardeerkewer. Wanneer hy op die vyand losbrand, kan ’n plofgeluid gehoor word, met ’n mistige straal wat by die punt van sy agterlyf uitkom. ’n Mier of enige ander aanvallertjie kan dit berou.

 

Bombardeerkewer “vergas” spinnekop

BO: ’n Voorstelling van ’n bombardeerkewer wat ’n lastige spinnekoppie met ’n onverwagse ontploffinkie “vergas”. Een van hierdie bombarderende insekte kan sy mislike mistigheid tot twintig keer uitblerts voordat sy klier-arsenaal uitgeput is.

 

Die linkerkantste deel van ons voorstelling is ’n foto deur Patrick Coin,
wat ’n veel groter weergawe daarvn op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye deling en die skep van afgeleide werke daarvan word vergun mits behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word onderhewig aan ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie



Die k
leur spel “pas op!”

DIT kan vir insekte wat giftig is, angels het of bitter smaak, lonend wees om hul gevaar te adverteer sodat roofvyande hulle kan uitken en vermy. Sulke insekte het helder of selfs spoggerige kleure wat “bly weg” spel. Talle veelkleuriger motte en skoenlappers is byvoorbeeld giftig.
 
Alledaagse waarskuwingskleure is ’n kombinasie van swart en geel of swart en rooi.
 
Die rusper van die lemoenvlinder het ’n eienaardigheid wat ’n osmeterium genoem word op sy agterkop. Wanneer hy bedreig word, rig die rusper hom op, die osmeterium staan regop en roofvyande word deur sy helder kleur en slegte reuk afgeskrik.

 

Rooi Gevaar: “Bly weg, ek smaak sleg!”
 

Flambojante naaldekoker

BO: Die helder kleure van hierdie naaldekoker waarsku roofvyande dat hy so sleg smaak as wat hy flambojant is.

 

Foto: André Karwath,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye deling en die skep van afgeleide werke daarvan word vergun mits behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word onderhewig aan ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie



Wat op aarde...?

DAAR is talle insekte wat sulke helder kleure of opsigtelike liggaamsdele het dat dit hul vyande totaal afskrik—of hulle ten minste so “oorbluf” laat dat dit die insekte genoeg tyd gee om weg te kom.
 
By party motte en vlinders, byvoorbeeld, het die vlerke bo of onder patrone van kontrasterende kleure wat ’n heel oortuigende paar oë vorm. Sal hulle vir ’n aanvaller nie alte veel na die oë van ’n uil of so iets vreesliks lyk nie? (Kyk foto van die vals oë op die vlerke van ’n skoenlapper in Mieliestronk se afsonderlike artikel oor motte en skoenlappers, wat nie ’n deel van hierdie reeks. Insek-kaleidoskoop, is nie.)
 
’n Paar insekte het liggaamsdele wat roofvyande só flous dat hulle die verkeerde deel van die liggaam aanval. Dun verlengstukke agteraan die vlerke kan byvoorbeeld soos voelhorings lyk—en aanvallers kan letterlik nie kop of stert uitmaak nie!

 

REGS: ’n Swaelstertvlinder... sy dun verlengstukke agteraan die vlerke kan vir ’n roofvyand soos voelhorings (antennes) lyk. Die aanvaller kan dan reken sy prooi se kop sit agter. En as hy die agterkant aanval, kan die belangrike kop straks nog ongeskonde bly.

 

Foto: Elizabeth A. Sellers /
U.S. National Biological Information Infrastructure (NBii) / Public Domain Image (detail)

Swaelstertvlinder

 



“Piep, piep, piep! Ek gee vlermuise griep!”

’N PAAR soorte insekte kondig met klank aan dat daar gevaar is. DIe motte van sekere Amerikaanse harige ruspers (“woolly bears”)  maak glo ultrasoniese piepgeluide deur spesiale holtes in hul bors, wat deur vlermuise vertolk sou word as ’n teken dat die potensiële prooi nie lekker gaan smaak nie. Die motte het inderdaad dodelike gifstof in hul liggame.

 

“Woolly bear”-rusperLINKS: Die “woolly bear” (Pyrrharctia isabella) lyk wel wollerig, maar of hy ’n mens aan ’n beer herinner... wel, besluit maar self. As volwassene is hy die Isabella-tiermot—wat glo met vlermuise kan “praat”.

 

Foto deur Tony the Misfit”,
wat dit  op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die die Attribution-Non-Commercial-Share Alike 2.0-lisensie


 <   Terug na hoofstuk 1              Voort na hoofstuk 3   >

•   Gaan na die begin van hierdie hoofstuk vir die skakels na al die hoofstukke in hierdie reeks

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk.werf