|
Die
bou en ontwikkeling van insekte
O
togga, dié blaar is ’n gogga!
Hulle is die
eienaardigste kreature denkbaar. Party lyk soos blare;
ander het tot 30 000 lense in hul oë. En dan kan
sommige ’n hele jaar lank bly lewe nadat hul koppe
afgesny is!

BO:
Die “wandelende blaar” is beslis een van
ongelooflikste skepseltjies op aarde. Hy het die
kuns van kamoeflering vervolmaak deur sprekend soos
’n blaar te lyk—partykeer nogal ’n bra verweerde
blaar ook (soos die een REGS). Blaarinsekte (familie
Phylliidae) kom van Suid-Asië af regdeur
Suidoos-Asië tot in Australië voor. Roofvyande word
nog verder deur die wandelende blare verwar deurdat
hulle heen en weer wieg wanneer hulle loop—kompleet
soos blare wat deur die wind rondgewaai word.
Groot
foto heel bo: Sandilya Theuerkauf, Wynaad,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
węreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het
ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom vrye
deling en afgeleide werke daarvan word vergun mits
behoorlike erkenning gegee word en dit slegs
versprei word ingevolge ’n lisensie wat identies is
aan hierdie een.
Amptelike lisensie
Foto regs bo is ’n
gewysigde weergawe van ’n foto wat deur sy
ongenoemde eienaar tot openbare besit verklaar is
(“released to the public domain”)
Die bou van ’n tipiese
insek
•
Kyk die beginbladsy
van hierdie reeks vir ’n uitvoerige illustrasie van die
bou van ’n insek
AL lyk die
wandelende blare op die foto’s hierbo niewers soos jou
tipiese
insek
nie, is die aarde se insekte—die ganse magtige
gewemelte—tog wesenlik eenders gebou: elkeen het ’n
liggaam wat in drie dele verdeel is.
Voor sit die kop, bestaande uit die breintjie, die
monddele, samegestelde oë en dikwels enkelvoudige oë, en
’n paar voelhorings.
Aan die middeldeel, die borsstuk, is drie pare pote en,
indien teenwoordig, die vlerke. Daar is kragtige spiere
in die bors wat die pote en vlerke laat beweeg.
Die agterlyf, wat gesegmenteer is, huisves die organe
vir asemhaling, spysvertering, uitskeiding en
voortplanting.
Oë van die insek
INSEKTE het
twee samegestelde oë. Elke oog bestaan uit baie
afsonderlike fasette wat ommatidia genoem word. Elke
ommatidium het ’n seshoekige lens aan sy buitekant,
daaronder ’n rabdoom wat uit ligsensitiewe retinulaselle
bestaan, en ’n senuwee verder ondertoe.
Die lens, wat slegs ’n baie klein deeltjie opvang van
die toneel wat die insek sien, stuur die beeld deur die
rabdoom na die senuwee, en die brein voeg die beelde
saam om ’n mosaďekprent te vorm.
Hoe meer lense hoe duideliker die beeld. Naaldekokers,
wat uitsluitlik hul oë gebruik om te jag, het tot 30 000
lense in elke samegestelde oog. Werkermiere wat meestal
ondergronds bly, daarenteen, het minder as ’n halfdosyn.

BO: ’n
Naby-foto van ’n naaldekoker van voor gesien. Die ronde
inlas toon ’n deeltjie van sy een oog op dieselfde
foto, maar in hoë resolusie.
Foto:
Bruce Avera Hunter / NBii /
Vrye gebruik vir
nie-kommersiële en opvoedkundige doeleindes word
vergun mits die nodige erkenning gegee word.
Hoewel geen mens al ooit deur ’n
insekoog gekyk het nie, is dit feitlik seker dat hulle
swakker sien as die hoëre diere. Hulle het vermoedelik
net tot sowat ’n meter ver skerp visie.
Maar samegestelde oë kan beweging uitstekend waarneem,
sodat die insekte vinnig kan laat spat of toeslaan
wanneer hulle hul vyande of prooi gewaar.
Die meeste insekte het ook ’n aantal klein, enkelvoudige
oë wat ocelli genoem word en wat, só word gemeen, die
sensitiwiteit van die samegestelde oë vir lig verhoog.
Voelhorings (antennes)
ANTENNES of
voelhorings is dikwels die opvallendste sintuiglike
organe by insekte. Hulle gebruik dit om die węreld om
hulle te “proe”. Die voelers is gedurig aan die
roer—draaiend en swaaiend om nou op die oppervlak te tik
waaroor die insek beweeg, dan weer om ’n potensiële
koshappie te inspekteer. En as twee insekte bymekaarkom,
raak hulle net met hul voelers aan mekaar.
Kortom, antennes vertel die insek van die gevoel, smaak,
klank, reuk, temperatuur en vogtigheid van die omgewing.
Antennes het allerhande groottes en vorms.

BO: Die
yslike voelhorings van hierdie mannetjie van die
Europese huiskriek (Acheta domesticus) herinner
’n mens byna aan die lugdrade van draagbare radio’s.
Foto deur
“Hexasoft”,
wat dit Wikimedia
Commons op die węreldwye web tot openbare besit verklaar
het (“released to the public domain”) (rande van groter
foto deur ons weggesny)
Die insek se beskermende
dop en sy haartjies
DIE epidermis
van ’n insek bestaan uit ’n enkele laag selle. Aan die
buitekant daarvan lę die kutikel en aan die binnekant
die basaalvlies.
Die
kutikel, wat drie hooflae het, is sterk en veerkragtig,
en dien as die insek-geraamte waaraan die bewegingspiere
geheg is.
Die kutikel beskerm die sagte, interne organe en, omdat
dit dik en waterdig is, keer dit dat die insek uitdroog.
Dit stel insekte in staat om baie verskillende plekke te
bevolk, ook woestyne.
Die basaalvlies aan die binnekant
is ’n amorfe laag wat net sowat 0,5 mikrometer dik is.
Insekte het verskeie sinsorgane waarmee hulle met die
buitewęreld in verbinding bly. Dié organe penetreer die
kutikel en laat prikkels soos dié vir reuk, smaak en
gevoel na die liggaam deur. Klein openinkies, of
spirakels, laat gasse in die asemhalingsproses deur.
Omdat hul eksoskelet (uitwendige
“geraamte”) ’n buffer tussen hulle en die buitewęreld
skep, het die meeste insekte haartjies wat oral oor hul
liggame versprei is en gevoelig is vir kontak en selfs
inligting oor klanke en die windsnelheid sal verskaf.
Hoe doeltreffend hierdie haartjies is, moet duidelik
wees vir elkeen wat al ’n vlieg met iets soos ’n stuk
opgerolde papier probeer doodslaan het. Die vlieg kom
gewoonlik weg omdat sy haartjies hom gewaarsku het oor
die lug wat deur die papier verplaas is.
Wapens vir verdediging
DIE liggaam van
’n insek is dikwels met wapens toegerus waarmee hy hom
verdedig. Baie, soos die gewone
kriek,
het doeltreffende stekels aan die pote wat hulle teen
roofvyande gebruik. Ander, soos die perdeby, is met ’n
angel toegerus wat selfs mense afskrlk.
Gehoor
HOEWEL baie
insekte geen gehoorsintuie het nie, is dit bloot logies
dat die meeste wat klanke kan voortbring ook moet kan
hoor.
Party insekte soos krieke, sprinkane en sonbesies het
ore soortgelyk aan dié van die mens, met ’n “oortrom” of
trommelvlies. Dié is op die pote of aan die agterlyf.
Insekmusikante
GEDURENDE
die lente en somer is die lug gevul met die vrolike
klanke van insekte. “Al die kriekies kriek daarbuit’,”
soos die digter dit stel. In verskeie lande hou mense
selfs veldkrieke in koutjies aan om na hul opgewekte
liedere te luister.
Die doel van ’n insekgesang is om ’n maat te lok, ’n
mededinger af te weer of ’n roofvyand te verjaag.
Insekte het nie ware stemme nie, maar die meeste geluide
word voortgebring deur een deel van die liggaam teen die
ander te vryf.
Die treksprinkaan het byvoorbeeld ’n aantal spore aan
elke agterpoot wat teen die vlerke gestryk word om ’n
krassende geluid te maak.
Die sonbesie het weer ’n paar
trommelvliese met resonators aan die agterlyf wat deur
middel van spiere in die liggaam tril om sy kenmerkende,
skril geroep voort te bring.
Dis net die mannetjies onder die sonbesies wat “sing”.
Sowat 2400 jaar gelede het die Griekse dramaturg
Xenarchus geskryf (vry vertaal): “Sonbesies is so
gelukkig as kan kom, want al hul vroue is mos stom.”

|
|
 |
BO: Onder
die sonbesies het die periodieke sikades van die ooste
van Noord-Amerika nie net die langste lewensloop (party
tot sewentien jaar) nie, maar ook die hardste
paringsroep in die insektewęreld.
LINKS: Die “ roep” word bewerkstellig deurdat hulle ’n
paar trommelvliese naby hul vlerke deur middel van
supervinnige spiere laat ratel.
Groot foto deur
“Jonrev”,
wat
dit by
Wikimedia Commons op die węreldwye web
tot openbare besit verklaar
het (“released to the public domain”) (rande van foto
deur ons weggesny)
Illustrasie: NIAMS / U.S.
National Institutes of Health (detail)
|
|
Die
stralende beeld van ’n kriek se lied . . .
REGS:
Geen leek sou dit maklik kon geraai het nie, maar
hierdie beeld is 'n grafiese weergawe van ’n
kriekmannetjie se lied! ’n Spesiale wiskundige proses
genaamd “wavelets” is hier gebruik om wisselings in
kriekklanke aan te dui wat nie altyd in soveel detail
te sien is op
standaard-grafieke wat frekwensie oor ’n sekere tydsduur
uitbeeld nie. Die mannetjies onder
die krieke sing hul liedere deur kam-agtige uitgroeisels
aan hul vlerke teenmekaar te vryf. Beeld geskep deur
Mark Fischer van
Aguasonic Acoustics in die
Verenigde State.
Krediet: AGUASONIC ACOUSTICS
/
SCIENCE PHOTO LIBRARY
|
Vreetgerei
INSEKTE het
drie pare vreetledemate wat saamwerk om die kos te gryp,
te proe en fyn te druk.
Afhangende van die soort kos wat verorber word, kan een
of twee van die ledemate toegerus wees vir
gespesialiseerde vreettegnieke soos byt, deurboor of
suig.
Die monddele van roofwantse
(voorbeeld REGS)
vorm byvoorbeeld ’n
steeksnuit waarmee hulle hul prooi doodsteek. Die
roofwantse pomp
giftige sappe in sy slagoffer in, wat hom van binne
verteer en hom vloeibaar laat word. Dan suig die
roofwants geleidelik die vloeistof op. Hierdie toksiese
speeksel is verskriklik pynlik as die insek ’n mens byt.
Daarteenoor is die monddele van die vlinder sodanig dat
hy nektar uit blomme kan suig.
Metamorfose by die insek
Mensebabas is
kleiner as mensekinders en mensekinders is kleiner as
grootmense. Maar hulle het almal arms en bene en ’n kop
met oë, mond, neus en ore, en hulle is almal duidelik
herkenbare mense. By die insekte is die verskil tussen
klein en groot egter nie naastenby so eenvoudig nie...
•
Metamorfose
beteken “gedaantewisseling”, die verandering van die
uiterlike vorm en voorkoms. Daar is twee hoofvorms van
metamorfose by insekte, naamlik volkome en onvolkome.
IN
haar Wonderland is klein Alice totaal dronkgeslaan. Sy
krimp en sy rek asof sy ’n konsertina is. Dan weet die
Rusper nog vir haar te vertel dat dit niks is om
verbysterd oor te wees nie!
Waarop Alice vir die Rusper in die beroemde boek
teregwys: “Wel, miskien het jy dit nog nie so ondervind
nie, maar wanneer jy in ’n papie moet verander—eendag
sal jy, weet jy?—en daarna in ’n skoenlapper, reken ek
dit sal vir jou ’n bietjie eienaardig wees, of hoe?”
Net ’n bietjie eienaardig?
Dis darem baie sag gestel, Alice! Die metamorfose van ’n insek het die mens
immers deur alle eeue verwonder.
Meer as twintig eeue gelede het die Griekse filosoof
Aristoteles verklaar dat “die larwe in sy groeistadium
’n sagte eier is”. In die Middeleeue het die geleerde
monnik Albertus Magnus vir geen oomblik gedink dat
ruspers enigiets met skoenlappers te doen het nie.
En in die sewentiende eeu het die skrywer Izaak Walton
die geloof van vroeëre natuurkundiges gesteun dat “baie
ruspers gebore word... uit die dou wat in die lente op
die blare van bome val”.
Dit was maar slegs in die afgelope aantal dekades dat
die mens die verskynsel van metamorfose beter begin
begryp het. En tog is daar nog baie geheimenisse omtrent
hierdie ingewikkelde proses.
Daar is twee hoofvorms van metamorfose: volledig en
onvolledig. By volledige metamorfose ontwikkel die eiers
tot larwes wat kennelik anders as die volwasse insek
lyk. Verskillende soorte larwes het verskillende name:
dié van skoenlappers word byvoorbeeld ruspers genoem en
dié van brommers is maaiers.
Die larwe gaan deur ’n tussenstadium waarin hy ’n papie
word. Die woord papie kom van die Latynse woord vir ’n
pop (die papie lyk mos ook ręrig soos ’n baba wat in sy
kombersies toegewikkel is). Uiteindelik bars die papie
oop en die volwasse insek maak sy verskyning.
By onvolledige metamorfose verskyn jong larwes wat nimfe
genoem word, of voetgangers soos by sprinkane, uit die
eiers. Die nimfe lyk in baie opsigte soos die
volwassenes, maar is tog ietwat anders. Hulle vervel
verskeie kere totdat hulle uiteindelik volwasse is.
Volledige
metamorfose by die skoenlapper

• Die meeste
vlinder-eiers is aanvanklik wit, groen of geel, maar
verander namate die larwe binne-in ontwikkel. Eiers se
vorms verskil en word enkel, in rye of in trosse gelę,
afhangende van die soort skoenlapper. Uit die eier kom ’n rusper
(larwe).
• Die rusper (larwe) het net een doel in sy
wriemelende lewe en dit is om genoeg te vreet en vet op
te gaar vir die papiestadium. Hy vervel vier of vyf
keer. Wanneer hy reg is om ’n papie te word, heg hy hom
aan ’n stewige oppervlak vas.
• Hormone in die papie lei tot veranderings
en volwasse eienskappe soos vlerke, pote en ander
organe. Eindelik bars die papie uit sy dop en die
vlinder kom te voorskyn.
• Die volwasse vlinder is nie eensklaps in
staat om sy vlerke te sprei en weg te vlieg nie; hy is broos en hulpeloos. Die vlerke
is klein en gevou. Hy hang soos ’n stuk wasgoed terwyl
sy vlerke uitsprei en verhard. Ná sowat ’n uur is hy reg
vir sy nuwe lewe.
Onvolledige metamorfose
by die sprinkaan
• Alle
veldsprinkane (“grasshoppers”) en treksprinkane
(“locusts”) lę hul eiers in grond. Die wyfie boor ’n gat
met haar agterlyf.
REGS:
’n Woestynsprinkaan (Schistocerca gregaria) boor
haar eierboor of agterlyf in die grond om haar eiers te
lę tydens die sprinkaanplaag van 1994 in Mauritanië.
Foto:
Christiaan Kooyman,
wat dit by
Wikimedia Commons op die węreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released to the public domain”)
• Die piesangvormige eiers word onder in die
gat in ’n eierpakkie gelę en is eers bleekgeel, maar
word later bruin. Die bodeel van die gat word met ’n
skuimerige uitskeiding gevul. Die eiers het vog nodig om
uit te broei.
• Jong nimfe (“voetgangers”) kom uit die
eiers en vreet plante net soos die volwasse sprinkane.

BO: Kyk so ’n snuiter van ’n opgroeiende
sprinkaan! Die voetgangers lyk baie soos die
volwassenes, maar nie heeltemal nie. By hierdie
voorbeeld van die treksprinkaan-spesie
Schistocera americana is daar maar net ’n
beduidenis van die vlerke wat nog moet kom.
• Voetgangers vervel vier tot tien keer,
afhangende van die bepaalde soort sprinkaan. Om
volwassenheid te bereik duur van een tot verskeie
maande.
• Kyk
ook die ontwikkeling van die sywurmmot—nog ’n volledige
metamorfose—in die Mieliestronk-artikel oor
sywurms en sy.
Gogga-gedoentes
• ’n Insek waarvan die
kop afgesny is, kan tot ’n jaar lank leef voor hy van
honger vrek.
• Die warrelkewer of waterhondjie se
samegestelde oë is tweevlakkig: die boonste helfte
verken die lugwęreld en die onderste helfte die
waterwęreld.
• Insekte sien nie dieselfde reeks kleure as
mense nie. Daarteenoor sal baie kleure wat vir die mens
gedemp lyk, vir insekte in pragtige ultraviolet tinte
gloei.
• Die langhoringsprinkaan Is ’n ware
langasem-musikant. In die loop van ’n enkele somer kan
hy sy vlerke vyftig miljoen keer saamvryf.
• Die voelhorings van sekere mannetjiesmotte
is so kragtig dat hulle ’n wyfie verder as 1,5 km kan
opspoor.
• By talle soorte miere, bye, wespe en ander
insekte is geen mannetjies nodig nie—die eiers broei
sonder bevrugting uit.
• ’n Skoenlapperwyfie, wat maar enkele weke
leef, kan van een tot 1700 eiers lę.
• Die teelkragtige termietkoningin kan tot
500 miljoen eiers in haar lewe lę.
• Die nimf van die sewentienjaar-sprinkaan
van Amerika, wat die periodieke sikade genoem word,
bring tot sewentien jaar ondergronds deur voordat hy bo
uitkom en vervel om ’n volwasse sprinkaan te word.
Na hoofstuk 2: Insekte
se taktieke vir oorlewing
>
|