Sakebestuur

Inklusiwiteit en

omgewingskwessies

 

Gestremde in rolstoel by rekenaarLINKS: In ’n kultuur van inklusiwiteit sal onder meer al die moontlike gedoen word om gestremdes by te staan en in die uitvoering van hul take te help.

 

Foto: NLM / U.S. National Institutes of Health

 

Wat behels inklusiwiteit in ’n sakeonderneming? En wat word bedoel wanneer byvoorbeeld gesê word dat ’n sakebestuurder sy omgewingskwessies deeglik moet bekyk—om enersyds sy werkers gelukkig te hou en andersyds te sorg dat hy nie probleme vir die gemeenskap daarbuite skep en selfs tot die besoedeling van die aarde bydra nie?

 


S

AKEBESTUURDERS is nie daar om hovaardig hul lywe rond te gooi en net te hiet en gebied nie. Dit is van kardinale belang dat hulle ook hul werkers se belange in ag sal neem en met ’n simpatieke oor sal luister na die menings van selfs die nederigste lid van die personeel.

 

Die bestuurder mag ook nie onregverdig diskrimineer teen werkers wat “anders” is nie—byvoorbeeld gestremd is of “nie die regte velkleur” het nie.

 

Daarby het die sakeman ’n besondere plig teenoor die mense daarbuite om nie sy onderneming op ’n manier te bedryf wat dit ’n doring in die vlees van die gemeenskap sal maak nie. Hy durf allereers nie kwessies ignoreer wat die ekologie rondom die sakeperseel ernstig kan benadeel nie.

 

In ons artikel word hierdie belangrike aspekte van sakebestuur van naderby bekyk.

 

Inklusiwiteit in ’n sakeonderneming—volslae regverdigheid teenoor elkeen in die personeel en waardering van elkeen se betrokkendheid

 

INKLUSIWITEIT in ’n sakeonderneming beteken in die breedste sin van die woord dat daar op ’n gelyke grondslag omgesien sal word na almal wat vir die onderneming werk, sonder onderskeid op grond van kleur, geslag, ouderdom, gestremdhede of wat ook al. Die doel is om onmin te verminder en gelyke geleenthede vir almal te bied, natuurlik binne die kader van die verskillende werkers se onderskeie bevoegdhede.

 

Inklusiwiteit behels byvoorbeeld dat daarvoor voorsiening gemaak sal word dat werkers in rolstoele moeiteloos in staat moet wees om kantore op hoër verdiepings te bereik. Vir werkers wat gesiggestremd is en met rekenaars moet werk, sal byvoorbeeld weer spesiale programme aangekoop word wat in staat is om geskrewe woorde in klank om te skakel.

 

SlavinREGS: Die veelbewoë gesig van ’n slavin van die negentiende-eeuse Amerika. Lank verby is die dae van wanpraktyke soos slawerny in die verhoudings tussen werkgewers en hul werknemers. Só beteken byvoorbeeld inklusiwiteit vandag dat daar in die werkomgewing op ’n gelyke grondslag omgesien sal word na almal, sonder onderskeid op grond van kleur, geslag, ouderdom, gestremdhede of wat ook al.

 

Krediet: U. S. Library of Congress

 

Inklusiwiteit beteken voorts dat almal oor dieselfde kam geskeer sal word sover dit aanstellings, bevorderings en belonings aangaan en dat dinge soos prestasie, fatsoenlikheid, bekwaamheid en leierskapseienskappe die maatstawe sal wees—nie absurde feite soos dat iemand miskien ’n verloopte matroos met Siberiese voorouers is of te veel sproete aan die linkerwang het, of ’n hoepelbeen het soos Ferreira in die volksliedjie nie J .

 

Volgens die gerekende Oxford-woordeboek is inklusiwiteit ’n beleid wat mense insluit wat andersins uitgesluit of gemarginaliseer sou gewees het, soos gestremdes, leergestremdes of rasse- en seksuele minderhede.

 

Inklusiwiteit erken en respekteer dus verskille, en in die besigheidsomgewing weerspieël dit die diversiteit van die werkerskorps. In ’n kultuur van inklusiwiteit neem almal deel, al is dit ook hoe gering. En die bestuur sal doelgerig daarvoor voorsiening maak dat elkeen sy regmatige plekkie in die son ontvang.

 

Hoe kwessies rakende hul onmiddellike omgewing die werkers in ’n sakeonderneming beïnvloed

AANSLUITEND by inklusiwiteit in die werkplek is die omgewing waarin daar gewerk word. Dit het ook alles te doen met menseregte. Net soos die sakebestuurder behoort te sorg dat reg te alle tye sal geskied aan elke enkeling in die groep, só moet hy ook ag slaan op die “omgewingsvriendelikheid” van die perseel waar sy personeel hul dagtake moet verrig.

 

Die invloed wat hul onmiddellike omgewing op werkers en gevolglik ook op produktiwiteit in ’n sakeomgewing kan hê, moet immers nooit onderskat word nie. Die praktyk om, sê maar, tientalle arbeiders in een donker lokaaltjie saam te bondel, is bes moontlik nie net onwettig nie, maar die kans is goed dat hulle mekaar se oë sal wil uitkrap voordat hulle uiteindelik op ’n streep bedank (as hulle hulle nie tot die arbeidshof wend nie).

 

Genoeg werkruimte, genoeg lig en lug, kortom ’n aangename werkomgewing is van kardinale belang in ’n onderneming wat op die duur wil slaag. Doeltreffende lugreëling en verdonkerde vensters, veral aan die snikwarm noordekant van sommige geboue, kan wondere verrig om die werkerskorps gelukkig te hou.

 

Hier moet die noodsaaklikheid van ’n gereelde skoonmaakdiens ook beklemtoon word. As die omgewing nie onberispelik skoon gehou en die rommel daagliks weggekarwei word nie, kan die skoonmakers se laksheid maklik na die ander mense in die kantore of fabrieke deurwerk. Daarteenoor lei netheid tot meer netheid en die aandrang op sindelikheid en dissipline gee aanleiding tot georganiseerde werkpraktyke.

 

Kantoor

BO: Só klinies skoon hoef ’n kantoor sekerlik nie te wees nie, maar dis darem ’n toonbeeld van netheid in ’n soort idilliese werkomgewing!

Krediet: U.S. Federal Bureau of Prisons (U.S. Gov)

 

Om die werkperseel te verfraai, gee werkers ook ’n gevoel van eiewaarde—dat hulle vir ’n onderneming werk vir wie dit belangrik is dat hulle hul arbeidspligte in ’n mooi omgewing vervul. Potplante in gange en kantore (wat gereeld water en kunsmis kry van byvoorbeeld die opsigter van die gebou) verleen ’n rustigheid wat noodwendig tot werkerstevredenheid moet bydra.

 

As daar ook nog ’n kafeteria in of naby die gebou is waar werkers af en toe die innerlike kan versterk, is dit ’n geweldige bonus, om nie te praat van ontspanningslokale in die omgewing waar hulle ’n deel van die etensuur met ’n potjie tafeltennis of iets dergliks kan verwyl nie.

 

Dit is ook belangrik dat werkers veilig en geborge sal voel—dat daar onder meer ’n noodtrap sal wees en brandblussers wat gereeld nagesien word en binne maklike bereik sal wees in die geval ’n brand. Sekuriteitswagte en veiligheidshekke sal eweneens vir groot gemoedsrus sorg, veral in onveilige omgewings.

 

Ten slotte kan dit ’n bietjie koddig klink om werkers se toerusting—soos rekenaars en telefone in kantore—as ’n deel van hul “omgewing” te bestempel. Op die keper beskou, is dit egter presies wat dit is. Werkers sal nie net verwag om betroubare rekenaars en telefone te hê nie, maar ook vrye toegang tot menslike spesialiste wat as ’t ware binne reikafstand is om hulle te hulp te snel as en wanneer die toestelle probleme ontwikkel.

 

Die teendeel kan tot massiewe frustrasie in die werkplek lei.

 

Breër omgewingskwessies en die bestuur van ’n sakeonderneming

DIE entrepreneur wat ’n nuwe onderneming wil vestig, sal altyd bewus moet bly van breër omgewingskwessies wat sy besigheid kan raak. As hy byvoorbeeld ’n braairestaurant in ’n groot sakekompleks wil open, gaan die groot vuur wat gereeld in sy oond gestook sal moet word nie dalk probleme skep vir die boekwinkel op die verdieping reg onder hom nie?

 

Of as hy ’n saak wil bedryf wat mense se matte gaan skoonmaak, gaan die verstikkende dampe van die skoonmaakmiddels nie straks die hele buurt in die harnas jaag nie?

 

Versuim om vooraf die nodige navorsing te doen oor die impak van hul bedrywighede op die omgewing, het al tot duur hofsake en die ondergang van talle ondernemende jong sakelui gelei. Dit is in weerwil daarvan dat elke sakeonderneming verplig word om aan wetlike vereistes te voldoen wat juis daargestel is om die omgewing te beskerm.

 

Rokende skoorsteen

BO: Die rokende skoorsteen van ’n onderneming wat beslis nie sy volle deel doen om sy omgewing teen lugbesoedeling te beskerm nie.

Foto: NREL / U.S. Department of Energy

 

Iedere firma het immers ’n invloed op die wêreldjie rondom hom en die bestaande wette moet verseker dat hierdie uitwerking binne aanvaarbare perke is.

 

Vir party ondernemings kan die vrees vir vervolging inderdaad die hoofrede wees waarom hulle enigsins die omgewing in ag neem.

 

Tog vertel kenners dat sakelui op verskillende maniere kan baat vind by die beskerming van die omgewing—dat doeltreffende praktyke vir omgewingsbewaring as ’t ware vir hulself betaal. Deur omgewingskwessies aan te spreek, kan hulle byvoorbeeld hul reputasie by alle belanghebbendes verhoog—hul klandisie, die plaaslike gemeenskap, hul aandeelhouers en hul verskaffers. Dit kan ook wees dat hulle in die omskakelingsproses beter masjiene aankoop wat tot groter produksie lei.

 

Omgewingsbewaring is ongelukkig nie altyd hoog op die lys van sakeondernemings nie. In ’n opname wat ’n tyd gelede in Brittanje gedoen is, is gevind dat een uit drie Britse firmas steeds nie oor ’n stelsel vir omgewingsbestuur beskik nie.

 

Die opname het getoon dat soveel as 70 persent van die maatskappye bekommerd is oor die stygende koste van energie, byna die helfte (45 persent) kwel hulle oor al die afval wat gegenereer word en amper ’n derde (30 dertig) word gepla deur die koolstof wat in die atmosfeer uitgepomp word. Nogtans het byna ’n derde (29 persent) van dié wat in die opname betrek is, nog geen stelsel vir omgewingsbestuur in plek gehad nie.

 

Maar kenners waarsku dat sakelui wêreldwyd in ’n steeds toenemende mate omgewingskwessies eenvoudig nie sal kan ignoreer nie. ’n Geweldige aanwas in mensegetalle en enorme ekonomiese groei in die tweede helfte van die twintigste eeu het ’n toestand geskep wat die gesondheid van die ganse aarde bedreig—aardverwarming, klimaatsverandering, die uitputting van natuurlike hulpbronne en ’n aansienlike verlies in biodiversiteit.

 

Selfs die kleinsakeman met die fabriekie in sy garage sal ernstig moet gaan sit en besin hoe hy op sy eie beskeie manier kan help om sy omgewing skoner te kry.

 

[] OMGEWINGSKWESSIES waarmee sakeondernemings dikwels te kampe het, sluit in:

 

•   Terreinbeskerming: Dit is veral iets waaraan aandag geskenk behoort te word wanneer die gebou(e) of ander strukture vir die onderneming opgerig word. Hoe word die natuurlike omgewing daardeur geraak? Is daar nie dalk skaars plantesoorte, amfibieë of ander natuurlewe op die perseel wat hervestig moet word nie? Hoe kan gesorg word dat vragmotors en ander voertuie die minimum-skade aan die omgewing aanrig wanneer die bouwerk plaasvind? En as die geboue eers opgerig is, watter stappe kan gedoen word om sekere van die gedane verliese te herstel en te verseker dat geen verdere skade aan die terrein berokken word nadat die onderneming in bedryf gekom het nie?

 

•   Dreinering en riole: Hoe doeltreffend is die onderneming se latrines en rioolstelsel en hoe lyk die geute en pype wat reënwater moet wegvoer? Word gevaarlike chemikalieë nie dalk in die riool gestort waar dit spruite, riviere of die grondwater kan besoedel nie?

 

•   Rommelverwydering: Wat doen die firma om te sorg dat sy afval en rommel spoedig en sindelik van die perseel verwyder word en waar word hierdie rommel gestort (of hersirkuleer)?

 

•   Berging van potensieel gevaarlike stowwe of chemikalieë: Is die kamers waarin dit geberg word nie dalk so naby aan die kafeteria se kombuis dat dit die brandgevaar verhoog nie? Is die chemikalieë nie sodanig dat dit kan verdamp en dodelike dampe afgee nie? Is die vloer van die verdieping waarin swaar toerusting geberg word sterk genoeg om só ’n vrag te dra?  Daar is talle moontlike scenario’s.

 

•   Die vrystelling van gasse in die lug weens vervaardigingsprosesse: In watter mate word die lug deur die werksaamhede besoedel en wat kan gedoen word om die besoedeling te keer?

 

•   Vervoer: Hoe word goedere na en van die onderneming vervoer? Is die voertuie wat gebruik word skoon en padwaardig of word olie en brandstof en gebruikte voertuigonderdele onverskillig in die omgewing gestort? Word vragte op die voertuie stewig beskerm of behoorlik verpak of waai dit die wêreld vol as die voertuie by die hekke uitry?

 

Om hierdie artikel af te sluit, kan ons volstaan met die volgende veelseggende opmerking van ’n kenner: “Sakebestuurders het groot verantwoordelikhede, nie net teenoor hul direksies nie, maar ook teenoor hul werknemers, om nie te praat van die mensdom in die algemeen nie.

 

“Dit is dan ook gebiedend dat hulle die menings sal vra van alle werkers, en soms ook van die gemeenskap, telkens wanneer daar oor iets belangriks in die sakeonderneming besluit moet word.”


AAN DIE LEERDER: As jy vir ’n skooltaak gevra sou word om ’n sakeonderneming te besoek en te verneem hoe goed of sleg die firma inklusiwiteit, menseregte en omgewingskwessies hanteer, kan jy vooraf jou vrae aan die onderneming opstel aan die hand van die artikel hierbo (en natuurlik enige ander artikel oor die onderwerp wat jy dalk kon raakloop).


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad