Indiane — die eerste Amerikaners

Hulle stam bes moontlik af van Asiate wat in die vorige Ystyd, miskien reeds van sowat 30 000 jaar gelede af, oor die destyds bevrore Bering-seestraat na Noord-Amerika gekom en toe ál meer suidwaarts beweeg het. Op hul eie was hulle heeltemal selfversorgend en vervuld... totdat die Europeërs gekom en hul eeue-oue kultuur grootliks deur ’n vreemde een verdring is...

Agtergrondmusiek: Lied van die Nagdans (Indiaanse lied)
Tradisionele lied en dus openbare besit, maar dit geld nie die Midi-uitvoering daarvan nie. Bron van Midi is egter onseker. Nietemin, vir ’n opvoedkundige onderneming soos Mieliestronk sou die gebruik daarvan bes moontlik ingevolge die Amerikaanse reg as “fair use” kon kwalifiseer.

Amerikaanse Indiane, 1916
  
BO: ’n Panoramiese historiese foto van Amerikaanse Indiane (geneem in 1916).
 
Foto kan gereken word tot openbare besit (“public domain”) vanweë verstryking van kopiereg weens ouderdom

G

ILLENDE barbare wat op perde agter poskoetse aanstorm en soos wilde diere deur heldhaftige cowboys afgemaai word. Dit is die beeld van die Indiane wat geslagte lank aan die węreld voorgehou is—in rolprente en boeke oor die Amerikaanse Wilde Weste. Hierdie Weste was ’n uitgestrekte en ongerepte gebied wat deur die vroeë Europese setlaars in die VSA “getem” moes word.

Vandag besef baie Amerikaanse filmmakers en andere met skaamte dat die Indiane ’n groot onreg aangedoen is met daardie eensydige voorstellings van destyds. Hul eer is skreiend aangetas, en dit is vir Hollywood niks om op trots te wees nie.

Daarom gee die Amerikaners die Indiane deesdae die erkenning wat hul voorsate nie beskore was nie deur hulle nie meer so dikwels Indiane of Rooihuide te noem nie, maar eerder “first Americans” of “native Americans”.

(Die benaming Indiaan—Engels “Indian”—spruit uit die aanvanklike wanopvatting van die ontdekkingsreisiger Christophorus Columbus dat Amerika ’n deel van die Ooste, oftewel die Indiese węreld, was. Die baie onvleiende naam Rooihuide—of “Redskins”—is weer vanweë hul kenmerkende velkleur aan die Indiane gegee.)

Maar wie en wat was en is die Amerikaanse Indiane?

Hulle was die inheemse volkere wat die Europeërs in Noord- en Suid-Amerika aangetref het toe die witman die Amerikas ’n aantal eeue gelede begin koloniseer het. Daardie inheemse volkere se nasate maak vandag 1,4 persent van die bevolking van die Verenigde State uit—of dis ten minste die persentasie wat hulself as “native Americans” identifiseer.

Slegs sowat 1,8 miljoen van hulle is egter geregistreerde stamlede, van die totale VSA bevolking van byna 296 miljoen, volgens ’n raming vir Julie 2005. ’n Aanmerklike deel van die Verenigde State se “native Americans” woon in Indiaanse reservate.

Die bevolkingspersentasie van die “eerste Amerikaners” in ander lande in Noord- en Suid-Amerika verskil aanmerklik van land tot land, en in ’n land soos Bolivia word dit selfs op 55 persent gestel. Boonop het baie rassevermengings met verloop van tyd plaasgevind. Daar is byvoorbeeld al op ’n keer bereken dat slegs sowat ’n twaalfde van alle Mexikane geen Indiaanse voorsate het nie.

Maar hoewel die Indiane as inboorlinge beskryf word, was die Amerikas blykbaar tog nie altyd hul tuiste nie. Waar het hulle dan oorspronklik vandaan gekom?

Kaart: Hoe die voorouers van die Indiane bes moontlik Noord-Amerika vanuit Asië binnegekom het

Herkoms van die Amerikaanse Indiane

DIE Amerikaanse Indiane lyk liggaamlik die meeste na die volkere van Asië. Hulle stam dan ook bes moontlik af van Asiate wat in die vorige Ystyd, miskien reeds van sowat 30 000 jaar gelede af, oor die Beringstraat na Noord-Amerika gekom en toe ál meer suidwaarts beweeg het.

Hierdie seestraat moet destyds bevrore gewees het, wat ’n droogvoetse oorgang moontlik sou gemaak het. Daar was waarskynlik verskillende klein groepies wat op verskillende tye oor dié soort ysbrug na die Amerikas verhuis het, en dit oor ’n lang tydperk. Hulle het heel moontlik agter voorwęreldlike diere soos mammoete en mastodons aan getrek.

Terwyl baie van hierdie mense die nomadiese of semi-nomadiese lewenswyse (trekkerslewe) van hul Siberiese voorouers tot in moderne tye behou het, het hulle in sekere streke groot gevestigde kapteinskappe en selfs gevorderde state met monumentale bouwerke en groot, georganiseerde stede tot stand gebring.

Dit was sulke ontwikkelde gemeenskappe wat sekere gewasse begin kweek het wat ons vandag so goed ken, soos mielies en aartappels, wat aanvanklik heeltemal onbekend in Europa was. Ook die rook van tabak het by die Indiane begin.

Hoë beskawingspeile is veral bereik deur groepe soos die Asteke van Mexiko, die Majas van Sentraal-Amerika en die Inkas van Peru. In hierdie artikel word egter hoofsaaklik op die stamme noord van Mexiko gekonsentreer—veral op die“tipiese Indiane” met vere op die kop, mokassin-velskoene, totem-pale, kano’s en nog wat.

Aanvanklik moet al die eerste Amerikaners nomadiese jagters gewees het wat met klipwapens gejag het. Nadat hulle met metaal kennis gemaak het, is doeltreffender wapens gemaak. Die meeste stamme het op die pyl en boog, asook op die oorlogsknots en spies staatgemaak, voordat hulle die gewere en ander vuurwapens van die Europeërs leer ken en self begin gebruik het.

Hoewel daar, soos reeds genoem, baie verskillende groepe met hoogs verskillende lewenswyses was, was dit eintlik die nomade van die groot Noord-Amerikaanse Laagvlakte (“Great Plains”) wat as “Indiane” gestereotipeer is. Die Laagvlakte is die grasvelde wat van Sentraal-Kanada na Mexiko in die suide en van die Midde-Weste weswaarts na die Rotsgebergte strek.

Die koptooisel met die lang vere, die tepee of tipi (Indiaanse tentwoning), die seremoniële pyprokery, kostuums en danse—al hierdie kenmerke en nog meer van die inboorlinge van die “Great Plains” het wyd bekend geword toe Europese koloniste hul grondgebied binnegedring en koerante, ander geskrifte en fotografie die voorposte gepopulariseer het.

Tentwonings of tepeesREGS: Tipiese Indiaanse tentwonings of tepees.

Krediet: John Andrew & Son, ca. 1900

Die nomadiese Indiane van die Laagvlakte het met hul stamme kruis en dwars oor die wye vlaktes getrek. Dae of weke lank sou hulle soms die enorme kuddes bisons agtervolg voordat die jag kon begin. Hierdie Amerikaanse buffels was ’n belangrike element, indien nie die belangste nie, vir die voortbestaan van die stamme.

Tydens die jag is die dier sorgvuldig uitgekies. Hulle sou dan ook nooit die mooiste en grootste diere kies nie, maar die swakkeres. Die mooistes moes immers die voortbestaan van die kudde vir die toekoms verseker. Van die diere wat platgetrek is, is alles boonop benut. Die vleis is in klein stukkies gesny, gerook en daarna in leerhouers bewaar. Dit was die Indiane se stapelvoedsel.

Van die velle is klere, skoene, tente, kano’s en skilde gemaak, van die beendere en horings dinge soos naalde en meshewwe en van die senings boogsnare, veters en garing. Selfs die bisons se ingewande is as watersakke of pylkokers gebruik is, en so meer.

Omdat hierdie mense heeltemal van die natuur afhanklik was en moes lewe van wat hulle kon vind, het hulle ’n geweldige respek vir die dinge in hul omgewing gehad. Dit was hul oortuiging dat ’n mens maar net tydelik hier is en alles kan en mag gebruik wat jy nodig het. Dit wat jy nie nodig het nie, laat jy met rus.

Kolonisasie deur Europese setlaars

NIEMAND weet presies hoeveel Indiane daar was toe die blankes van Europa aan die einde van die 1400’s die Amerikas ontdek het nie. Tog reken sekere kenners dat daar, ten tyde van die eerste kontak met die hulle, meer as negentig miljoen mense in Noord- en Suid-Amerika kon gewoon het, met sowat tien miljoen in Noord-Amerika noord van die teenswoordige Mexiko.

Ander kenners meen daar was baie minder. Hoe ook al, teen die tyd dat die Europese koloniste hul getalle begin aanteken het, was die Indiaanse bevolkings reeds drasties uitgedun deur oorloë, hongersnood, gedwonge arbeid en siektes wat uit Europa (die “Ou Węreld”) na die sogenaamde “Nuwe Węreld” gebring is.

Verskillende Indiane het verskillend gereageer by die eerste kennismaking met die witman. Party was vriendelik, ander nuuskierig, nog ander verskrik of dadelik vyandig. Die Indiane het in die reël nie van indringers gehou nie. Daarteenoor was hulle gretig om die blankes se goedere en wapens te bekom en kon hulle gewoonlik oorreed word om van hul eie besittings daarvoor te ruil.

Hoe ook al, die Europese kolonisasie van die Amerikas het die lewens en kultuur van die inheemse volkere vir altyd verander. Om net een skokkende voorbeeld te noem: die eerste groep met wie die ontdekkingsreisiger Columbus kennis gemaak het, was die 250 000 Arawaks van Hispaniola, ’n eiland in die Karibiese See. Hulle is verslaaf. Hul kultuur is vernietig en teen 1550 was daar slegs sowat 500 van hulle oor, hoewel van dié se nasate darem vandag nog lewe.  

Die siektes wat die Europeërs met hulle saamgebring het, selfs waterpokkies wat gewoonlik nie lewensgevaarlik vir die blankes was nie, het onder die inheemse bevolkings gemaai omdat dié geen immuniteit daarteen gehad het nie. Party geskiedkundiges reken dat tot tagtig persent van sekere gemeenskappe weens Europese siektes kon gesterf het.

In die 1800’s het die voortdurende uitbreiding van die Verenigde State na die weste groot getalle Indiane bly dwing om hulle verder weswaarts te vestig. Gevegte, wat as die Indiaanse Oorloë bekend staan, het tussen die VSA magte en baie verskillende stamme uitgebreek.

In die begin van 1876 het die Amerikaanse regering alle oorblywende Indiane beveel om na reservate te beweeg. Dit, tesame met die amperse uitwissing van die bison waarvan hulle gelewe het, het die hele Indiaanse pręrie-kultuur tot in die kern aangetas.

In die laat 1800’s het hervormers, wat die Indiane “beskaaf” wou maak, gesorg dat Indiaanse kinders in sogenaamde Indian Boarding Schools opgevoed word. Daarmee is die vereuropesing van die Indiane dikwels verseël.

Nogtans het hulle nie ten volle in die breë Amerikaanse gemeenskap versmelt nie. Trouens, daar is vandag 563 landwyd erkende Indiaanse stamregerings in die Verenigde State. Die VSA erken die reg van hierdie stamme tot selfregering en ondersteun hul stamsoewereiniteit en selfbeskikking.

Hulle mag dus hul eie plaaslike wette maak, hoewel hulle beperk word deurdat hulle byvoorbeeld nie buitelandse betrekkinge mag aanknoop, oorlog mag verklaar of hul eie geld mag munt nie.

In die begin van die 21ste eeu is die Amerikaanse Indiane nie meer die dappers vegters van weleer van die eindelose grasvlaktes nie, maar bly hulle ’n kennelike deel van die Amerikaanse samelewing.

Die Indiaanse gemeenskap

HOEWEL kulturele kenmerke soos taal, kleding en gebruike enorm van stam tot stam verskil, is daar tog sekere elemente wat deur die baie inheemse volkere van die Amerikas gedeel word.

By die meeste was daar tradisionele geslagsrolle. Landbou was dikwels vrouewerk, terwyl die mans oorlog gemaak en gejag het. Die vroue—die hardste werkers—moes ook die diere wat die mans doodgemaak het, afslag, die vleis berook en die velle brei.

Ma’s het hul babas in kokon-agtige houers (“cradle boards”) rondgedra terwyl hulle gewerk of gereis het. Die Indiane was gewoonlik baie toegeeflik teenoor kinders en het hulle selde gestraf, maar groot moeite gedoen om hulle te leer.

Indiaanse vroue en babasREGS: Twee Indiaanse vroue en twee babas wat soos sywurmpapies lę in hul “kokon-windsels”, waarin hul ma’s hulle rondgedra het.

Foto’s: U.S. National Archives and Records Administration

By baie stamme was afstamming vanuit die moederlike linie die norm en was die kinders lede van die ma se familiegroep. Min onderskeid is gemaak tussen ma en tante, pa en oom, broer en neef of suster en niggie.

Geen van die Indiane het ’n geskrewe taal gehad nie. Hulle het wel prentjies of simbole gebruik om idees uit te druk, maar dit het selde iets beteken buiten vir die mense wat dit geteken het. Op die gebied van die beeldende kunste het die Indiane hulle egter nie onbetuig gelaat nie en hulle in die maak van potte, juwele, weefwerk, beelde en mandjies onderskei.

Tradisionele Indiaanse musiek het dikwels tromspelery ingesluit, en ander kere sou enkelinge op fluite speel. Rammelaars is ook by geleentheid geskud. Daar was baie danse met godsdienstige motiewe, soos die buffeldans, mieliedans en reëndans.
 

Fluitspeler

      BO en REGS: ’n Fluitspeler
      en ’n hoofman by ’n trom.

  

Hoofman by ’n trom

Foto’s: U.S. National Archives and Records Administration (gewysig)
 

Op geestelike gebied sou die Indiane ’n harmonieuse verhouding met die geesteswęreld kon nastreef, wat hulle dikwels—soos hulle geglo het—deur middel seremoniële dade kon bewerkstellig. Die meeste van die stamme het in die magie van die natuurkragte geglo.

Vir hulle was die Groot Gees nie almagtig nie, en die Bose Gees kon selfs ’n deel van hom wees. Ou Man, van een Indiaanse stam, was die skepper, maar hy kon bedrieglik, gemeen en partykeer boos wees, en soms sou slim sy baas vang waardeur hy die onderspit sou delf.

Soortgelyk was Ou Man Pręriewolf van ’n ander stam. Hy het die slinkse aard van die regte pręriewolf gehad, maar kon tog ook die mens se vriend wees. Son, sy vrou Maan en hul seun Môrester was magtige persone, maar hulle het ook swakhede gehad soos die gode in die Griekse mitologie.

Jong krygsmanne het persoonlike hulp gesoek deur lank eenkant te vas en te bid. Hulle kon droom dat ’n dier of voël met hulle gepraat het. Die dier of voël sou dan die persoonlike “medisyne” van die krygsman word. Die Indiane was bang vir spoke, maar het slegs vae begrippe van ’n hiernamaals gehad.

Totemisme—die opvatting dat die stam verwant is aan ’n dier, plant of natuurding—was algemeen by die Noord-Amerikaanse Indiane. ’n Paar Indiaanse stamme aan die noordweskus van Noord-Amerika het vir hulle totem-pale gemaak, houtpale waarin simboliese figure gekerf is.

By ’n totem-paalREGS: By ’n totem-paal.

Foto: Chicago Daily News Inc

In niks het die stamme meer van mekaar verskil as in hul woonplekke nie. Die meeste het in eengesinstuistes soos die tepees gewoon, maar baie het in groot gemeenskapshuise gebly, en altwee soorte is wyd gebruik.

Betreklik bekend is die wigwam, met sy koepel- of kegelvorm—’n raam van pale wat met bas, biesies of takke bedek is. Die kegelvormige wigwam het die tepee geword, wat met die velle van bisons bedek is. Aan die binnekant uitgevoer en met verstelbare rookflappe, was dit ’n gerieflike tuiste, selfs in die winter.

Die Indiane was dus op hul eie heeltemal selfversorgend en vervuld... totdat hul eeue-oue kultuur grootliks deur ’n vreemde een verdring is. Dat baie van hulle gekersten sou raak, is goed, maar die onheilighede wat daarbenewens hul natuurgebonde lewenswyse vervang het, is geen goeie getuigskrif vir die kolonialisme wat eenmaal oor die węreld geseëvier het nie.

Dit laat ’n mens ook onwillekeurig dink aan wat in Suid-Afrika gebeur het...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad