’n Laslappie van Mieliestronk

Hoe lyk jy vir ’n insek? Dalk só?INSEKTE:

Hoe lyk ons vir hulle?

 

Hoe lyk jy vir ’n vlieg, ’n mot of ’n by? Die mens sal seker nooit werklik weet nie, maar dis fassinerend om daaroor te wonder...

Illustrasiefoto: MSKARG

 

DIS uiters moeilik om aan iemand wat nog nooit kon sien nie te verduidelik wat kleur is. Maar dit is selfs baie moeiliker om te begryp wat kleur, of selfs die vermoë om te sien, vir ’n insek beteken. Insekte het akute sintuie wat mense nie het nie.

 

Baie soorte insekte kan bepaalde reuke oor groot afstande ruik. Ander kan trillings waarneem en geluide hoor wat vir mense onhoorbaar is. Maar ons kan nie weet watter soort beeld insekte deur hul oë van die wêreld het nie.

 

Ons weet ’n groot by wat op ’n paal sit, kan ’n mens etlike meter ver van hom af sien beweeg—maar sien hy slegs ’n bewegende vorm of kan hy waarneem dat die bewegende voorwerp ’n mens en nie ’n perd is nie?

 

Ons weet ook sekere kewers kan ultraviolet lig sien of word besonderlik daardeur en deur die kleur geel aangelok, maar nie deur blou of rooi nie. Maar sien hulle kleure of skakerings van wit en swart?

 

Verskillende insekte het oplossings vir verskillende probleme. Naaldekokers kan in die aandskemering vlieënde muskiete vang, wanneer dit te donker is vir mense om hierdie klein  insekte te sien; maar sien die naaldekoker hulle, of reageer hy op hul geluid en beweging? Die studie van insekte se sintuie is vol sulke vrae.  

 

Ou Grootoog, die vlieë se tier!

LINKS: Hy’t yslike oë, maar presies hoe sien hierdie kalant sy slagoffers? Want, glo dit, hy is eintlik lastige huisvlieë en stalvlieë se tier! Dis ’n parasitiese wesp van Brasilië wat eiers in vlieglarwes lê... en blykbaar belofte toon as ’n plaasvervanger vir skadelike insektedoders. (Foto is egter van ’n mannetjie van dié spesie.)

 

Foto deur Eric Erbe;  digitale verkleuring deur Chris Pooley / ARS / USDA

     

Beslis nie BY-siende nie!

Foto van by: Scot Bauer / ARS / USDA
Elektronmikrograaf: CDC / PHIL

LINKS: Hoe kan ’n by ooit BY-siende wees met sulke oë?
ONDER: ’n Elektronmikrograaf van ’n klompie van ’n by se oogeenhede.
 
Elektronmikrograaf van ’n klompie van ’n by se oogeenhede

   

Die oë van baie insekte registreer dinge wat mense nie kan sien nie. Straks vorm die samegestelde oë eintlik ’n mosaïekbeeld van die voorwerpe wat waargeneem word, maar dit kan ook wees dat die insek se brein alles op ’n sekere manier tot een beeld reduseer.

 

Baie soorte blomme wat deur insekte bestuif word, maak van insekte se ultraviolet sig gebruik om bestuiwende bye aan te lok. Die posisie van die nektar binne-in die blom word aangedui deur lyne (sogenaamde heuningwysers) wat slegs in ultraviolet lig sigbaar is.

 

Die kop van ’n tipiese insek het ’n paar groot samegestelde oë, asook drie enkelvoudige oë bo-op.  Elke samegestelde oog bestaan uit ’n magdom oogeenhede (ommatidia) wat dikwels heksagonaal (seskantig) ineenskakel.

 

Elke ommatidium vorm ’n beeld van die voorwerp wat gesien word en samegestelde oë is dus baie geskik om beweging raak te sien. Die kornealens is deursigtig en laat lig deur. Die kristalkeël daaronder bevat ’n straalbrekingsvloeistof. Lang retinaselle omring ’n sentrale liggaam, die rabdoom, wat visuele pigment bevat wat ligsensitief is. Ligprikkels word tot chemiese prikkels omgeskep en dié bereik die brein via die optiese senuwees.

 

HottentotsgotAs jy na die gesig van ’n hottentotsgot kyk, lyk hy gedurig op en wakker. Die afsonderlike oogeenhede in elke samegestelde oog is baie klein, en ’n hottentotsgot sal blitsig op klein beweginkies reageer. Hy beweeg sy kop op en af en heen en weer terwyl hy sy potensiële prooi opsom en bereken hoe ver hy van hom af is.

 

Maar alles is nie altyd soos dit lyk nie. Die ''oë'' op die vlerke van sekere skoenlappers is pure oëverblindery—hulle is nie rêrig oë nie, laat staan nog iets waarmee die insekte hoegenaamd enigiets kan waarneem!

 

Vals oë op die vlerke van ’n skoenlapperREGS: Vals oë op die vlerke van ’n skoenlapper.

 

Foto: U.S. National Park Service

 

Vlinders is trouens meesters van vorm en kleur en van illusie en kamoeflering. Deur die oë van, sê maar, uile op hul vlerke uit te beeld, word roofvyande afgeskrik en die voortbestaan van die insek verseker.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad