|
Afrikaans, ons unieke
erfenis Is jy ’n remskoen of dalk voor op die wa? Lieg jy soos tandetrekker of is jy straks geneig om soos ’n groot speld te verdwyn? Heel moontlik is jy nie een van die karakters wat in hierdie idiome beskryf word nie, dog ken jy wel ’n klompie mense wat aan een of meer van die genoemde eienskappe beantwoord. Maar weet jy werklik waarom ons in ons taal sekere mense so kleurryk beskrywe soos hierbo? |
|
N ons idiome, lees ons in ’n ander artikel
op die Mieliestronk-werf, “lê die hele wordingsgeskiedenis van
ons geliefde Afrikaans ingebed... en die unieke landelike verlede
van ons voorgeslagte wat deur swaarkry veredel is. Soos ons is, so doen ons. Soos ons doen, so praat
ons." En dit is baie waar. Anders gestel: die ganse karakter van ons taal is deur invloede van die verlede gevorm—invloede waarvan ons baiemaal net vaagweg of miskien glad nie eens meer bewus is nie.
Hoe ook al, die geskiedenis van
idiomatiese uitdrukkings bly een van die interessantste vertakkinge
van die taalkunde—en waar die herkoms van sulke segswyses wel
bekend is, kan dit tot interessante herontdekkings van die
lewenswyse van ons voorouers lei. Hieronder
word vertel hoe en waar sekere van die bekendste uitdrukkings in
Afrikaans in der waarheid ontstaan het. Dis ’n onthullende reis
na vergange eeue—in Suid-Afrika en verder terug in die geskiedenis
in Europa—toe die wêreld nog baie, baie anders was as vandag. Voor
op die wa wees
• In die ou dae moes kinders en ondergeskiktes gesien maar nie gehoor word nie—hulle moes hul plek ken en hulle nie ongevraagd tussen die volwassenes of die gesiene mense inwurm nie. Voor op die wa was die sitplek wat op die trekpad gereserveer is vir die boer en sy vrou, of vir ander uitgelese mense in hul geselskap. Die minderes moes agter op die wa saamry.
Ondergeskiktes wat hulle voor tuis gemaak
het, was dus letterlik "te voor op die wa", en hierdie
uitdrukking word vandag nog oordragtelik gebruik vir vrypostige
mense wat hulle regte toe-eien wat hulle nie toekom nie. ’n Regte remskoen wees • Dit
is nog een van ’n hele aantal idiome wat terug te voer is na die
dae van die wa en osse van ons voorsate. ’n Remskoen was ’n
boogvormige voorwerp wat onder ’n wiel vasgemaak is om ’n wa
langs ’n steil afdraande te laat rem. Mettertyd is dit gebruik
om na konserwatiewe mense te verwys wat alle vordering of
vooruitgang vertraag. ’n Barmhartige Samaritaan • Iemand wat baie mensliewend of hulpvaardig is, word vandag nog baiemaal só betitel. Dit is een van verskeie idiome wat Afrikaans aan die Bybel te danke het.
Die Samaritane was ’n gemengde ras wat gedeeltelik afgestam het van die Israeliete en gedeeltelik van heidene soos die Assiriërs. In die tyd toe Jesus op aarde was, is hulle nie hoog geag nie.
Tog het Jesus in ’n gelykenis vertel hoe
een van hierdie verstotelinge hom juis deur sy barmhartigheid
onderskei het. En as ons wil verwys na iemand wat hom oor sy
medemens se nood ontferm, noem ons hom steeds ’n barmhartige
Samaritaan. Met die maan gepla
• As iemand vir ons nie reg wys lyk nie, sal ons maklik skerts dat hy met die maan gepla is. ’n Klompie geslagte gelede was dit egter niks om grappies oor te maak nie, want sekere mense het werklik gedink dat die maan ’n mens van jou verstand kon beroof.
As jy jou snags te veel aan maanlig blootgestel het—só het hulle geglo—was jy ’n goeie kandidaat vir die sielsiekegestig.
Maar sedertdien het mense selfs op die maan
geland en nie een van hulle het selfs ’n bietjie “snaaks”
geraak weens hul fisieke wandelinge op die aarde se natuurlike
satelliet nie. Wys jou... ’n Klap van die windmeul weghê • Dit beteken natuurlik dieselfde as om met die maan gepla te wees. Maar die uitdrukking het ’n heel ander oorsprong. Dit is terug te voer na ons voorsate in Europa wat veel meer met windmeulens te doen gehad het as ons. En die wieke van ’n windmeul kon ’n onverantwoordelike mens inderdaad met rampspoedige gevolge teen die kop tref! Die idioom is egter bes moontlik lewend gehou deur die wêreldberoemde roman Don Quichot van die Spaanse skrywer Miguel de Cervantes Saavedras (1547-1616). Quichot, ’n maer, middeljarige landheer van die platteland wat hom verbeel dat hy ’n ridder is, loop in die roman ’n windmeul storm onder die indruk dat dit ’n reus is. Maar soos daar in die verhaal staan: "Metdat hy die windmeul nader, begin ’n oggendwindjie waai, wat die wieke laat draai en Quichot ’n hou teen die kant van die kop gee wat hom op die grond laat neerslaan." Toegegee, eintlik was ou don Quichot al hoeka
"in die bol gepik" nog voordat die windmeul hom so
venynig "geklap" het!
Soveel van iets weet as ’n kat
van saffraan
Hierdie feit kan ’n mens maklik mislei om te dink dat die uitdrukking hierbo aan die Kaap ontstaan het en dus so Afrikaans is as biltong. Ene N. Mansvelt maak immers reeds daarvan melding maak in sy Proeve van een Kaaps-Hollandsch Iidioticon uit die Ou-Kaapse bestel. Mansvelt het dit opgeteken as: "Wat weet die kat van saffraan". Maar soek jy verder, kom jy agter dat die idioom ook in Vlaams (die soort Nederlands wat in ’n deel van België gepraat word) bekend is: "Hij weet er zoveel van als de kat van saffraan". Ook in Nederland is dit blykbaar nie heeltemal onbekend nie, ofskoon dit wil voorkom of die Nederlanders eintlik ’n ander variant ken: "Van iets zoveel verstand hebben als een koe van saffraan vreten". Die laasgenoemde maak inderdaad meer sin, as ’n mens daaraan dink dat ’n koei ’n dier is wat wei, maar dat die krokusplant veelal in die Ooste groei. Koeie in Nederland sal dus natuurlik geen kennis van saffraan vreet hê nie! Hoe die kat die koei in die uitdrukking kon vervang het, bly ’n vraag. Maar katte hou wel baie van kattekruid (Nepeta cataria), en dié is mos ook ’n kruie. Om die waarheid te sê, in die ou dae is ’n tee gemaak van kattekruid saam met saffraan geneeskundig aangewend, teen menslike siektes so uiteenlopend as skarlakenkoors en pokke tot verkoue en senuweetoevalle. Waar kattekruid egter aan katte bekend was, moet saffraan vir hulle erg vreemd gewees het. Dit is ’n baie wilde raaiskoot, maar miskien-miskien lê die wortel van die kat-saffraan-uitdrukking dalk daar êrens! Maar kom ons delf net so ’n klein bietjie dieper. Ander Nederlandse uitdrukkings wat opgeteken is en kennelik dieselfde beteken, is om soveel van iets te weet as ’n kalf van die hoogmis (’n Rooms-Katolieke plegtigheid), ’n os van musiek en ’n kat van Hebreeus. Ook: "Hij weet er net zo veel van als de kat van het wafelbakken." In ’n dialek van Nederlands is waargeneem: "Hij weet er zooveel van as ’n katte van de Zeundag". Met al die vorige in ag genome, is die volgende slotsom seker die waarskynlikste: Dit lyk of idiome met dieselfde betekenis in die volksmond so vermeng geraak het (oor die koei-en-saffraan en byvoorbeeld die kat-en-Hebreeus) dat die kat uiteindelik by die saffraan uitgekom het. (’n Proses van kontaminasie dus.) Wie’t gesê ’n mens het nie ’n kat se kans om hierdie raaisel op te los nie?! Lieg
soos ’n tandetrekker
|