|
Afrikaans, ons unieke
erfenis Ons sê ’n ding heeltemal anders as ’n Chinees, maar ook glad nie presies dieselfde as ’n Engelssprekende of selfs ’n Nederlander nie. In die forse seggingskrag van ons woordeskat en ons eiendomlike grammatika lê die hele wordingsgeskiedenis van ons geliefde Afrikaans ingebed... en die unieke landelike verlede van ons voorgeslagte wat deur swaarkry veredel is... |
|
YK
mooi na die volgende stukkie beskrywende Afrikaans: "Ja-nee,
ou swaer, kom ons grawe dan maar die ou koeie uit die sloot. Ek gaan nie
doekies omdraai nie, want ek gaan vir jou een ding sê wat nie twee is
nie: Vanslewe se snuiters was omgesukkelde latte, maar hulle was nie
voor op die wa nie. Hulle sou jou gou-gou wys waar Dawid die wortels
gegrawe het as jy hulle slinks sou probeer rysmier, maar hulle het
geweet eielof is uielof -- dit stink, man, dit stink. Vandag se
bloedjies het weer geen murg in hul pype nie, maar van bek rek en
beterweterigheid kan jy hulle hoegenaamd niks leer nie. Maar van die os
op die jas, ou swaer, waar sleep jou dinges-kind -- watsenaam -- ou
Pietertjie -- deesdae vlerk? Toe ek laas gehoor het, was hy nog besig om
die prentjiemooi Bettie Booysen in te katrol, net nadat sy hand in die
as geslaan is toe hy Marie Moller wou naderhark. Of dink jy hy gaan
eerder afhaak met daardie minder aansienlike oujongnooi wat reeds so vol
plooie is dat sy elke oggend haar hoed moet opskroef?" As
ons die grafiese paragraaf hierbo presies in Engels moet vertaal,
struikel ons dalk drie maal net in die eerste sin: "Yes-no, old
brother-in-law, let us then but go dig up the old cows from the
ditch..." Eerder:
"Sure, old chap, let's rake up those old stories then." Maar
jy voel sommer ook dadelik aan dat selfs die laasgenoemde Engelse
vertaling nie die volle kleur en inhoud van die Afrikaanse sin weergee
nie, dat dit ten beste die betekenis net so min of meer oordra. Wat nog
te sê Engelse weergawes probeer vind vir "omgesukkelde
latte", "eielof is uielof", "jou dinges-kind",
"die meisie inkatrol" en
’n hele paar ander van die Afrikaanse woorde of frases in die betrokke
passasie. Dit
bly maar ’n feit dat ’n mens in verskillende tale nagenoeg dieselfde
dinge op verskillende maniere sê en dat selfs die beste vertalings
baiemaal nie die gees van die oorspronklike honderd persent kan verwoord
nie. Daardie
eiesoortigheid en eiendomlikheid, ’n mens kan byna sê die inherente
hebbelikhede, van ’n taal word die taaleie genoem. In die taaleie lê
nie net die wordingsgeskiedenis en ontwikkeling van die betrokke taal
ingebed nie, maar ook die unieke verlede van die sprekers en van hul
voorgeslagte. Soos ons is, so doen ons. Soos ons doen, so praat ons. Idiome, of idiomatiese uitdrukkings, is verskillende uitdrukkings in die taaleie, daardie afsonderlike sêgoed wat in ons mond pas soos moedersmelk. Tiermelk
drink is byvoorbeeld
’n idiomatiese uitdrukking vir sterk drank gebruik. As ons dit in
enige ander taal vertaal, gaan die betekenis verlore net soos hierbo met
die "ingeslote" ou koeie gebeur het. Idiomatiese
uitdrukkings is ook baiemaal totaal onlogies. Of dikwels beteken hulle
iets wat glad nie af te lei is van die woorde waaruit hulle saamgestel
is nie. Dink maar aan: die kloutjie by die oor kry; die kat in die
donker knyp; of aan daardie einste een oor die raaiselagtige Dawid
wat die wortels gegrawe het. In dieselfde klas is selfs die Engelse by the way (wat "terloops" beteken en natuurlik niks met "teen die pad" te doen het nie). ’n
Franse voorbeeld is weer Il n'y a pas de quoi, wat beteken
"nie te danke nie", as ’n antwoord op "dankie".
Maar as ’n mens die sinsnede letterlik vertaal, is dit vir ons
heeltemal sinloos. "Dit het nie daar of wat nie," is wat die
Fransman keuwel wanneer hy so niksseggend deur sy neus praat net om
hoflik te wees! Natuurlik is dit so dat daar, weens die noodwendige kontakte en die wisselwerkings en die verwantskappe tussen tale, baie idiome bestaan wat deur twee of selfs veel meer tale gedeel word. Só het die bekende Afrikaanse spreekwoord
Alle paaie lei na Rome -- wat beteken dat ’n mens op verskillende maniere jou doel kan bereik -- sy presiese eweknieë in wie weet hoeveel ander Europese tale: Maar taalsuiweraars is ook tereg
bekommerd wanneer dit lyk of een taal ’n ander te veel in sy maniere
van uitdrukking binnedring. Raar
maar waar, ’n bekende Afrikaanse uitdrukking soos ’n perd van
’n ander kleur is eintlik ’n oorgeneemde Engelse idioom of ’n
Anglisisme. Daarteenoor word baie leenwoorde wat as Anglisismes beskou
word, soos tendens, kontaminasie, punktualiteit, rigied, noem
maar op, in werklikheid nie tot onbetaamlike Engelshede gereken nie.
Trouens, hulle verryk Afrikaans sonder om ons taaleie tot in sy kern aan
te tas. Idiome
neem vanselfsprekend verskillende vorms aan, soseer dat daar al
baiemaal gepoog is om tussen spreekwoorde, segswyses, gesegdes en
spreuke te onderskei. Dit is egter nie altyd moontlik om rigiede grense
af te baken nie, want sekere uitdrukkings kan in twee of meer van
hierdie kategorieë inpas en verskillende taalkenners sal boonop nie
altyd oor die kategoriserings saamstem nie. Om dus net basiese riglyne
te probeer neerlê oor presies wat ’n spreekwoord anders maak as ’n
segswyse, ’n gesegde of ’n spreuk, is miskien om meer te probeer
doen as wat etlike woordeboekmakers al ooit kon regkry. Wat
ons wel kan sê, is dat daar uitdrukkings is wat gewoonlik in samehang
met ander woorde in sinne ingespan word, terwyl daar ander is wat
meestal onaantasbaar op hul eie staan. Ons skryftaal en gesprekke is byvoorbeeld deurspek van allerhande uitdrukkings soos hieronder in rooi op geel aangedui: Hoekom
hamer jy altyd
op
dieselfde aambeeld, kan jy dan aan niks nuuts dink om te sê nie? Veel
minder algemeen is daardie gewoonlik alleenstaande vaste uitdrukkings
wat nie maklik in samehang met ander woorde in uitgebreide sinne gebruik
word nie. Dit is miskien nodig om hulle wel ’n naam te gee en hulle as
tipiese spreekwoorde te groepeer. Omdat hulle as onverbeterlike, oorgelewerde lewenswyshede
beskou word, word hulle onveranderd en onaangedik aangewend om klem op
ons eie waarnemings van situasies te lê:
Die
môrestond het goud in die mond. Die grootste probleem wat met alle vaste uitdrukkings ontstaan, is egter dat hulle deur skrywers en sprekers holrug gery kan word. Joernaliste kan baie verhale vertel van hoe bepaalde uitdrukkings (soos, sê, dit gaan klopdisselboom) in sekere stadiums so geil deur ’n publikasie se span skrywers gebruik is dat die hoofde naderhand ’n taboe daarop moes plaas! Die taaleie sal natuurlik altyd met clichés oorlaai wees. Tale is immers almal op eiesoortige patrone gegrond. Dit is mos vir die doeltreffendste kommunikasie nodig dat dinge op herkenbare maniere gesê word en daarom is die herhaling van segswyses die kern van duidelike gesprekvoering en geskrifte. Die uitdaging van formele taalgebruikers is om afgesaagde uitdrukkings tot die minimum te beperk en sover as moontlik na die formulering van vars en pittige sêgoed te streef. Ons moet gedurig nuwe styleffekte skep wat soos goeie saad op ons taalakker sal val en ons geliefde Afrikaans lewend en bloemryk sal help hou in die aangesig van ’n dikwels onsimpatieke wêreld wat vere voel of ons taal sal ondergaan of nie. |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |