|
Die aarde bring baie dinge voort wat die mens ruim kan benut, maar al hierdie middele is tog nie onuitputlik nie. Daarom lê dit voor die hand dat die mens sy planeet se hulpbronne soos kosbare kleinode moet koester. En dit kan wel gebeur sonder dat die mens homself te kort hoef te doen... Foto: BRUCE FRITZ / USDA / ARS |
||||
|
’N
HULPBRON
is iets nuttigs—’n middel wat in ’n menslike behoefte help voorsien. Die skoen aan jou voet is
op ’n manier ’n hulpbron, want dit help keer
dat die klippe en dorings jou voet verinneweer. Die kraan is ’n
hulpbron, want as jy dors het, kan jy maklik vir jou ’n glas water
gaan tap. Hulpbronne
is trouens enige dinge wat vir die mens van waarde is, veral met
betrekking tot sy bestaansmiddele. Selfs mense kan hulpbronne wees,
wanneer hulle welkome steun verleen waar dit in hul gemeenskappe nodig is. Daar
word dus gewoonlik tusssen natuurlike, menslike en ander soorte hulpbronne onderskei,
wat elk ook verskillende onderafdelings het. Hieronder bekyk ons van die
verskillende tipes van naderby. Natuurlike
hulpbronne NATUURLIKE hulpbronne is stowwe of dinge wat vry in die natuur voorkom en in hul betreklik onverwerkte (natuurlike) vorm as waardevol beskou word. ’n Kommoditeit word gewoonlik tot ’n natuurlike hulpbron gereken wanneer dit in sy ruwe vorm gemyn of gedelf (uit die aarde gehaal) word, soos byvoorbeeld goud, diamante, olie en aardgas, of uit die vrye natuur gewin word. Tog
is byvoorbeeld die aartappel, wat nes diamante uit grond kom, eerder
’n “vervaardigde” kommoditeit, omdat dit spesiaal deur mense
gekweek word. Ook die landbou in die breë word in die reël nie as ’n natuurlike
hulpbron geklassifiseer nie, maar sektore soos visserye en bosbou wel. Suid-Afrika
is besonder ryk bedeel met natuurlike hulpbronne. Die belangrikste
hiervan is goud (die meeste goud op aarde), chroom, antimoon, steenkool,
ystererts, mangaan, nikkel, fosfate, tin, uraan, diamante, platinum,
koper, vanadium, sout en aardgas.
’n
Land se natuurlike hulpbronne bepaal dikwels sy rykdom en status in die
internasionale ekonomiese bestel en gevolglik ook sy politieke invloed
Olie is byvoorbeeld vandag die spil waarom die hele wêreld
draai. Van die armste lande op aarde het, danksy olie, in skatryk
oliestate ontwikkel toe dit geblyk het dat hulle groot hoeveelhede van die
“swart goud” in hul bodems het (soos dié onder die barre woestynsande in die Midde-Ooste). Menslike
hulpbronne MET
menslike hulpbronne word tradisioneel ’n
land of onderneming se werkerskorps bedoel—die gesamentlike menslike arbeidskragte wat beskikbaar is
en die mate waarin hulle in staat is om uitvoering te gee aan enige
uitdagings waarmee hulle in die werksomgewing te doen mag hê.
Foto: NASA Die
begrip menslike hulpbronne hang egter vandag nou saam met die begrip
menseregte, met ander woorde die regte van elke mens om geregtigheid en
vryheid te geniet. In ons tyd word immers algemeen aanvaar dat mense nie
“artikels” is wat soos masjiene gebruik kan word om allerhande take
te verrig nie, maar dat hulle denkende, skeppende en sosiale wesens is
wat veel groter bydraes tot die samelewing en die beskawing lewer as
blote arbeid. Daar is
nie altyd só oor
alle mense
gedink nie. Trouens, baie
mense van Afrika voel steeds dat die ontwikkelde lande soos Amerika hul
ontwikkeling onder meer te danke het aan die slawe wat hulle uit Afrika
ingevoer word—dat hulle as’t ware Afrika se “menslike hulpbronne”
gesteel het en dat hulle Afrika dus vandag daarvoor moet vergoed. Vervaardigde
hulpbronne VERVAARDIGDE hulpbronne het veelal te doen met fabrieke—met die vermoë van gemeenskappe om hul grondstowwe te neem en dit tot produkte te verwerk. Afrika het byvoorbeeld baie metale en minerale. Die vasteland het egter nie naastenby die nodige aantal fabrieke om dit in produkte om te skakel nie. Die
gevolg is dat Afrika baie van sy grondstowwe betreklik goedkoop moet
verkoop aan lande in die ontwikkelde wêreld—wat die grondstowwe deur
middel van fabrieke in produkte verander wat weer ten duurste aan Afrika
verkoop word. Suid-Afrika
voer byvoorbeeld baie yster uit na die groot nywerheidslande, wat die
yster in masjinerie omskakel, waarvoor ons uiteindelik baie geld moet
opdok. As ons meer van ons eie masjienfabrieke gehad het, sou ons nie so
baie daarvoor hoef te betaal het nie. Ook
’n land se landbousektor word as die vervaardiger van kommoditeite beskou
en boere is dus in ’n sekere sin ook fabrieksbase. Hoe
ook al, die ontwikkeling van sy vervaardigde hulpbronne is uiters
belangrik vir enige land wat daarna streef om ’n beter lewenstandaard
vir sy mense daar te stel. Hernubare
hulpbronne NATUURLIKE
hulpbronne word dikwels in hernubare en nie-hernubare bronne ingedeel.
’n Hernubare hulpbron is enige natuurlike hulpbron wat in ’n
stadiger tempo verbruik word as die tempo waarin dit weer gevorm word. ’n
Hulpbron moet ’n manier hê om homself te regenereer om as hernubaar
te kwalifiseer. Hernubare hulpbronne is baiemaal lewende hulpbronne
(byvoorbeeld visse en woude) wat hulself in nagenoeg dieselfde
tempo kan aanvul of hernieu as waarin hulle verbruik word, indien hulle
nie oorbenut word nie. Hout
en houtprodukte is klassieke hernubare hulpbronne. Hout is ’n
organiese stof wat (anders as, sê, plastiek) mettertyd in die grond
vergaan en weer deel word van die goeie aarde waaruit dit gekom het. Met verloop
van tyd sal nuwe bome daaruit spruit wat nuwe hout sal lewer.
Daar
is egter ook nie-lewende hernubare hulpbronne, dinge soos water en wind,
selfs die getye van die see en sonskyn. Al die genoemde dinge kan
gebruik word om elektrisiteit op te wek—onuitputlike bronne van krag,
wat boonop nie die wêreld besoedel soos kragsentrales wat steenkool of
olie verbrand nie. Nie-hernubare
hulpbronne OLIE,
steenkool en aardgas, asook plastiek en ander stowwe wat van
fossielbrandstowwe gemaak word, is nie-hernubaar, omdat daar geen
meganismes bestaan wat hulle weer kan aanvul in die mate waarin hulle
verbruik word nie. Trouens,
latere geslagte kan dalk nog met ’n fel beskuldigende vinger na die
huidige geslagte wys omdat ons binne iets meer as ’n eeu byna al die
fossielbrandstowwe verbrand het wat oor haas onmeetlike tydperke
binne-in die aarde gevorm is.
Foto: USGOV Eintlik
is alle minerale hulpbronne as ’n reël nie hernubaar nie en, as ’n
myn of ander plek se nie-hernubare hulpbronne eers uitgeput is, is die perseel vanselfsprekend nutteloos—tensy ander nuttige produkte onttrek kan
word uit die residu van die oorspronklik ontginde stof. Dit is wat
gebeur het met die mynhope van die Witwatersrand, waar vasgestel is dat
kosbare uraan verkry kan word uit die dooie grond wat diep onder uit die
aarde uitgehaal is om ons goud te ontgin. Bewaring
van ons hulpbronne OMDAT
die aarde se milde gawes tog nie onuitputlik is nie, lê dit voor die
hand dat die mens sy kosbare hulpbronne jaloers moet vertroetel en
bewaar. Dit kan gebeur sonder dat hy homself te kort hoef te doen. Dit is dan ook wat die kenners eintlik bedoel wanneer hulle van “volhoubare ontwikkeling” praat. Volhoubare ontwikkeling is ’n proses van ontwikkeling (van die grond, stede, sakeondernemings, gemeenskappe, ensovoorts) wat aan die behoeftes van die huidige geslag voldoen sonder dat die vermoë van toekomstige geslagte om dieselfde te doen daardeur aangetas word. As
jy byvoorbeeld vandag ’n kernkragsentrale bou en nie omgee dat dit die
hele omgewing vergiftig en stadig maar seker onbewoonbaar maak nie, het
jy vandag elektrisiteit, maar jou nageslag sal jou verwyt as hulle ’n nuwe woonplek moet
vind. Volhoubare toerisme is ook belangrik in vandag se wêreld. Dit kan op sy beurt beskryf word as ’n proses waarin die toerismepotensiaal ontwikkel word sonder dat die hulpbronne geskend of uitgeput raak wat daardie ontwikkeling moontlik gemaak het. Daar is
byvoorbeeld groot kommer oor die toestand van die Kangogrotte, naby
Oudtshoorn, waar baie druipstene oor die jare deur besoekers verniel en
selfs verwyder is. Sulke druipstene kan nie vervang word nie, omdat dit
die natuur honderde, selfs duisende jare moet gekos het om hulle te
vorm. As ons nie ons hulpbronne bewaar nie, is ons baie selfsugtig. Dit kom daarop neer dat ons slegs vir vandag lewe en geen snars omgee wat met die wêreld gebeur as ons môre nie meer hier is nie.
|
||||