|
Ruimte-skouspel: |
|
DIE wentelende ruimte-teleskoop Hubble het al deur die jare fantastiese foto’s van die ruimte geneem—en hierdie een van woelinge in die Klein Magellaanse Wolk in die sterrehemel is geen uitsondering nie. Sterrekundiges sê dit lyk nie net of daar hier ’n magtige konsensentrasie van materie is wat nog kol-kol genoegsaam moet kondenseer om kernreaksies aan die gang te sit nie (kenmerkend van sterre)—maar dat dit in der waarheid op die punt is om te gebeur. Dit is met ander woorde ’n besonderse blik op die geboorte van sterre. Effens
eenvoudiger gestel: ’n Ster word gebore uit ’n newelvlek wat begin
krimp. Die stof en gas in die newel word deur swaartekrag saamgetrek om
’n bal te vorm wat in die kern verdig en uiters warm word. Uiteindelik
word kernreaksies in die kern aan die gang gesit en die gas begin gloei.
Lig en hitte word uitgestraal. ’n Ster is gebore. Die Klein en Groot Magellaanse Wolke is twee kleinerige satelliet-sterrestelsels van die Melkweg, waarvan ons eie sonnestelsel, en natuurlik die aarde, ’n deel is. Ons in die Suidelike Halfrond is gelukkig om die Magellaanse Wolke met die blote oog te kan sien. Nogtans is die beeld wat Hubble hierbo so skouspelagtig vasgelê het, ’n duiselingwekkende meer as 200 000 ligjare ver. Foto: NASA / ESA |