|
OP (Humulus
lupulus) is ’n plant van die hennepfamilie
(Cannabaceae). Dit is verwant aan die brandnetel en, glo
dit, ook aan dagga, maar by uitbreiding selfs aan sulke
plante soos die vyeboom en die Kamdebostinkhout. Sy
blomkegels word veral gebruik in die maak van bier,
waarvan dit ’n vername bestanddeel is.
Daar is wel
baie soorte gegiste dranke wat bier genoem word
(heuningbier, karriebier, gemmerbier, koringbier,
sorghumbier en nog meer), maar as ’n mens na
propperse bier verwys, word tien teen een die
bitterige brousels van Westerse oorsprong bedoel wat
enersyds hop as geursel bevat en andersyds meestal van
gars gebrou word.

BO: ’n Garsland.
Foto: U.S. Departement of Agriculture
Die hopplant
is ’n slingerplant wat van tien tot twintig jaar kan
lewe. Dit is inheems in die Noordelike Halfrond, groei
in plekke met ’n gematigde klimaat en een van die spesie
se vyf natuurlike variante kom in Europa en Wes-Asië
voor. Die ander vier natuurlike variante is van
onderskeidelik Oos-Asië, die ooste van Noord-Amerika,
die midde-weste van Noord-Amerika en die weste van
Noord-Amerika.
Hop word
egter vandag ook wyd buite sy oorspronklike groeigebiede
geweek, te wete in Afrika, Australië en Suid-Amerika. En
daar is talle ander variante wat deur kweking verkry is.
Wat meer sê,
hop is reeds in 1652 aan die Kaap geplant—deur
Jan van Riebeeck in die einste jaar van sy aankoms
uit Nederland. Van Riebeeck was die eerste kommandeur
van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie se
Kaapse verversingspos, en die eerste bier is in 1658
hier gebrou. Maar dinge moet sekerlik êrens skeefgeloop
het, want niks is verder deur ons Jan en alleman oor hop
en bierbrouery hier te lande gerep nie.
Trouens, dit
lyk of die kweek van hop eers in die begin van die
twintigste eeu hier hervat is. Van ’n nederige begin in die
suide van die gewese Kaapland het die verbouing van die gewas
toegeneem en veral momentum gekry in die 1970’s toe
’n plaaslik ontwikkelde variant genaamd Southern
Brewer die lig gesien het. Dié variant aard veral goed in
die omgewing van George.
Wat dit
betref, is hop dan ook vandag die belangrikste
landbougewas van hierdie “hoofstad” van die Tuinroete
met sy meer as 200 000 inwoners,
terwyl die Outeniekwa-Hop ’n bekende bemarkingsroete is
wat toeriste na hopplase en ander plattelandse
besienswaardighede neem.
DIE
hopplant is ’n kruidagtige, meerjarige
slingerplant. In die vroeë lente stoot die plant nuwe
lote uit, wat tot nege meter lank kan word, maar in die
herfs sterf die hopplant terug na die risoom wat goed
teen die winterkoue bestand is.
Manlike en vroulike blomme van die
hopplant ontwikkel afsonderlik op verskillende plante.
Hopplante
is dus sogenaamd tweehuisig,
met ander woorde die individuele plante is óf manlik óf
vroulik. Omdat kiemkragtige sade ongewens is vir die
brou van bier, word slegs vroulike plante in hoplande
geplant waardeur gekeer word dat bestuiwing plaasvind.
Vroulike plante word vegetatief gekweek of manlike
plante word deur uitdunning verwyder indien plante van
sade gekweek word.
Dit is die
kegels of “belle’’ aan die vroulike hopplant—in der waarheid die bloeiskerms—wat hop so gesog by die
mens maak. Daar is naamlik sekere kliere op die kegels
wat ’n olieagtige, bitter stof produseer en dit is dié
bitter stof wat bier sy eiesoortige smaak gee. In Engels
word baiemaal van die hopplant self as hop
gepraat en van die blomkegels wat in die bier gebruik
word as hops, met die “s” agteraan.
Omdat hop ’n
kiemwerende werking het, is dit eers bloot as
preserveermiddel by bier gegooi, maar mettertyd het
bierdrinkers so gewoond geraak aan die bitter smaak dat
dit ’n noodsaaklike komponent van bier geword het.
Sover bekend
dateer die eerste (behoue geblewe) geskrif dat hop as ’n
verbitteringsmiddel gedien het uit die elfde eeu. Hop is
blykbaar reeds in die begin van die veertiende eeu in die
brouerye van Nederland gebruik, maar in Engeland het dit
eers byna twee eeue later ’n bestanddeel van die Engelse
se bier geword.
Die brousel
wat die Engelse ale noem, is van mout
gemaak, oftewel ontkiemde en gedroogde gars (die
graansoort Hordeum vulgare). Die naam ale
is afgelei van die Skandinawiese öl —die drank
van die Wikings. Vir baie Engelse was dit lank byna
ondenkbaar dat hul ale met ’n wicked weed (bose
onkruid) soos hop “bederf” moes word, maar
uiteindelik het dit tog gebeur.
Die meeste
soorte bier—die wêreld se derde gewildste drank ná water
en tee—word vandag met hop gegeur, ter wille van die
bitterheid en om as ’n natuurlike perserveermiddel te
dien.
Hop
(dis nou die blomkegels van die hopplant) word in ’n
hopoond gedroog voordat dit in die brouproses gebruik
word. Tradisioneel was dit ’n plaasgebou van twee of
drie verdiepings waar die hop op dun en geperforeerde
vloere uitgesprei is om gedroog te word deur ’n hout- of
houtskooloond aan die onderkant van die gebou. Vandag word hop egter
in fabrieke gedroog.
Hop se
enigste belangrike kommersiële gebruik is in die brou
van bier. Tog word dit ook volksgeneeskundig as
kruiemedisyne aangewend, terwyl ’n kussing opgestop met
hop glo as ’n middel teen slaaploosheid aanbeveel word.
As jy op hop
slaap, kan ’n mens straks sê, gaan jy snags snork dat jy hop!
BO: Jong hopplante in die eerste jaar van verbouing.
Foto deur “Hollerdauer”,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot
openbare besit
verklaar het (“released into the public
domain”)

BO: Dele van die hopplant, volgens ’n ou illustrasie.
Krediet: Franz Eugen Köhler; illustrasie in
Köhler's Medizinal-Pflanzen,
uitgegee in 1887 (“Public Domain Old”)
MAAR
daar is nog een eienaardigheid van die hopplant wat nie
ongesê kan bly nie. Dit is die manier waarop hy slinger!
Die gewone
regop groeiende plante rondom ons het stewige stingels
waarmee hulle hulself orent hou, maar ons weet
klimplante is slap en moet teen stokke, ander plante of
watter steunplekke ook al omhoog beur.
’n Egte
slingerplant se slanke stingel sal ná die plant se
ontkieming aanvanklik nie penreguit boontoe groei nie,
maar groot sirkels met die punt van die stingel
beskrywe. Sodra hy ’n regop stok of so iets begin
“voel”, kronkel hy onmiddellik om die voorwerp. Dan
stoot hy sy gevoelige groeipunt in ’n lang spiraal al in
die rondte daaromheen om op dié manier al hoe hoër te
kruip.
En nou is dit
so dat die meeste slingerplante sogenaamde
linksdraaiers is. Kyk maar van bo af neer op
byvoorbeeld ’n rankboontjie teen ’n stok en jy sal sien
dat sy spirale links om loop—dat die spirale draai teen
die rigting waarin die horlosieswysers beweeg. Met niks
op aarde sal jy die boontjie sover kan kry om regs om te
draai nie.
Maar die
hopplant is een van die seldsames. Hy draai regs—en
basta!
|
REGS: ’n Voorstelling van
die spiraal van ’n regsdraaiende plant. Die geel pyl
stel die rigting voor waarin die plant groei. Die blou
lyn is die voorwerp waarom die plant kronkel. Die groen
pyl stel ’n waarnemer voor wat van bo afkyk op die plant
se kronkelinge. Hy sien dit beweeg regsom—in dieselfde
rigting waarin die horlosiewysers beweeg.
|
 |
En hier moet
’n mens nou ’n ander interessantheid noem. Sekere
geleerdes het begin wonder of hierdie regs- en
linksgesindheid van slingerplante dalk teenoorgesteld
kan wees in die Noordelike Halfrond en die Suidelike Halfrond—net
soos badwater konsuis in teenoorgestelde rigtings by die
gat van ’n bad sou uitkolk wanneer jy in Engeland bad en
in Suid-Afrika!
Ons weet
hoeka die bewering oor die rotasie van uitvloeiende
badwater is sommer onsin, want daar is geen starre reël
wat bepaal watter koers uitlopende badwater op enige
plek op aarde sal inslaan nie. Feitlik al wat ’n invloed kan hê
op die rigting van die rotasie is sekerlik die vorm van
die gat, asook los of vaste voorwerpies binne-in die gat.
Maar
slingerplante ... slinger hulle omgekeerd links en regs
afhangende daarvan of hulle in die noorde of in die
suide groei? Nee, sê die Australiese plantekenner Angela
Moles, die meeste slingerplante neig beslis teen die
klokwysers in, dit maak geen saak waar op aarde hulle ook al
in die grond gewortel is nie.
Me. Moles,
wat aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis verbonde
is, was betrokke by ’n enorme feitesending oor plante
regoor die wêreld. Sy sê die moontlikheid word ondersoek
dat die wydverspreide verskynsel van linksom-slingering
die gevolg is van die linksgeneigheid van alle
biologiese molekules op aarde.
Kyk maar na
die seeskulpe, sê sy, sowat 94 persent van hulle draai
in dieselfde rigting.
|