Dit bly ironies dat hierdie spesiale administratiewe gebied van China so ’n hoogs kapitalistiese ekonomie het dat dit al jare lank as die mees vrye ekonomie ter wêreld gereken word...

Die 7650 wolkekrabbers van Hongkong

Twaalf jaar onder die Chinese sambreel—woelige en oorbevolkte vrye hawe bly ’n ontmoetingsplek van Oos en Wes

Panoramiese blik op Hongkong-eiland

 

BO: ’n Panoramiese blik op Hongkong-eiland. (Let wel, Hongkong word in Engels Hong Kong geskryf, maar in Afrikaans Hongkong. Ook die Nederlanders en Duitsers verkies blykbaar die laasgenoemde spelwyse.)
 

Foto deur ScubaBeer / Chris van die Verenigde Koninkryk,
wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring en gebruik vergun ingevolge die bepalinge van die Creative Commons
Attribution-Share Alike 2.0-lisensie

Die gedrang in die strate getuig van die groot oorbevolking

BO: Die gedrang in die strate getuig van die groot oorbevolking: sowat sewe miljoen mense op iets meer as duisend vierkante kilometer. Dit verteenwoordig ’n vierkant waarvan elkeen van die sye slegs sowat 32 km lank is.

Foto: Foreign Agricultural Service / U.S. Department of Agriculture

Kaart van Hongkong

Kaart aangepas van ’n kaart in die World Factbook van die Amerikaanse CIA

  Op 1 Julie 1997 is Hongkong deur Brittanje aan China teruggegee—en destyds is wêreldwyd gewonder hoe hierdie klein maar oorbevolkte vesting van die kapitalisme sou regkom onder die sambreel van die wêreld se grootste kommunistiese bewind. China het weliswaar belowe dat hy sy eie ekonomiese stelsel nie op Hongkong sou afdwing nie. Voorts sou dié enklave vir die daaropvolgende vyftig jaar ’n hoë mate van outonomie geniet—in alle aangeleenthede buiten buitelandse sake en verdediging.

  Maar vandag... hoe gaan dit deesdae met hierdie eertydse twisappel aan die Suid-Chinese See?

  ’n Dosyn jare ná die Chinese oorname geld die enigsins rare beleid van “een land, twee stelsels” steeds. Trouens, Hongkong is nog altyd ’n bedrywige kapitalistiese en kosmopolitiese sentrum waar die Ooste en Weste mekaar ontmoet. Westerse kulturele praktyke bly ook gevestig... en gedy sonder wrywing neffens die tradisies en praktyke van die Chinese. Wat meer sê, met sy duiselingwekkende 7650 wolkekrabbers reik Hongkong des te meer na die sterre!

  Die baie stapelgeboue beklemtoon egter eweneens hoe bewegingsvryheid hier weens oorbevolking aan bande gelê word. Die nypende tekort aan lewensruimte is steeds een van die heel grootste probleme. En dan het die wêreldwye resessie wat in 2008 begin het, Hongkong ook baie swaar getref....

Oos en Wes

BO en REGS BO: Oos en Wes. Naas die praktyke van die tradisionele Chinese, word Westerse praktyke ook beoefen in ’n hoogs moderne sakemilieu.

Illustrasie links bo: Histories (“Public Domain Old”)
Foto regs bo: U.S. Commercial Service


K

AMERAS, rekenaars, horlosies, radio’s, TV-stelle, videomasjiene, hoëtrou-toerusting, juwele, sigaretaanstekers, mikroskope, speelgoed, tekstielware, klere… noem maar op, dis vervaardig in Hongkong. Wat meer sê, hierdie artikels is rêrig strate goedkoper as die goedere van baie ander plekke.

En hou jy van paddaboutjies? Of van Peking-eend wat met stokkies geëet word? As jy ja antwoord op hierdie vrae, gaan jy baie tuis voel in Hongkong.
 
Trouens, dié gewese Britse afhanklike gebied (voorheen kolonie genoem) is baie lank reeds ’n gewilde kuierplek vir toeriste en inkopiejagters. Boonop is dit een van die wêreld se groot sentrums vir finansies, vervaardiging en handel—’n mens kan maar sê ’n kapitalistiese enklave in die oortreffende trap.
 
Maar op 1 Julie 1997, kragtens ’n verdrag wat sowat ’n eeu tevore onderteken is, is Hongkong aan China teruggegee. Dit spreek vanself dat baie mense bekommerd was oor wat daarna sou gebeur. Tot dusver gaan dit baie beter as wat vele doemprofete straks verwag het.

Maar hoe het hierdie groot kapitalistiese ekonomie dan op die drumpel van die wêreld se grootste kommunistiese land ontwikkel?

Die vlag van HongkongREGS: Die vlag van Hongkong.

SKAARS ’n eeu en ’n half gelede was Hongkong ’n yl bewoonde eiland aan die suidkus van China. Daar was net enkele vissers- en boeredorpies, en dit was ’n seerowersnes. Europese seevaarders, wat die uitstekende natuurlike hawe aan die noordkus van die eiland raakgesien het, het besef dat die eiland ideaal sou wees as ’n mark vry van die beheer van China.
 
(Die Chinese het natuurlik ook geweet dat die eiland ’n uitstekende hawe het—en dit Hongkong genoem, wat “Geurige Hawe” beteken—maar hulle het gereken dat dit nie nodig is om ’n hawe weg van die Chinese vasteland te ontwikkel nie.)

’n Toneel in Hongkong, omstreeks 1910REGS: ’n Toneel in Hongkong, omstreeks 1910, nagenoeg honderd jaar gelede.

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)


 
Die opium-papawer word reeds sedert die 8ste eeu n.C. in China gekweek. Die gevaarlike en ongesonde gewoonte om opium te rook het naderhand geweldige afmetings aangeneem. In 1839 het Brittanje die Eerste Opium-oorlog begin deurdat hy Indiese opium begin uitvoer het, terwyl die Chinese die invoer van hierdie soort opium in China wou keer.
 
Brittanje het as oorwinnaar uit die stryd getree en het in 1842 Hongkong-eiland en ’n paar omringende rotsriwwe as deel van die Verdrag van Nanjing verkry. Ofskoon dit maar net 17 km lank en tussen 3 en 8 km breed is, het die eiland dadelik begin floreer. Britse kooplui het verskillende produkte, waaronder opium, aan Hongkong verskaf in ruil vir tee, sy en speserye . Binne slegs vier jaar was die eiland se bevolking vyf keer groter. Die meeste immigrante was Chinese wat deur die bloeiende boubedryf aangelok is.

’n Opium-papawerLINKS: ’n Opium-papawer.

Foto deur “TeunSpaans”, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)


 
Maar die ontwikkeling van die Britse kolonie het nie sonder groeipyne plaasgevind nie. Rassehaat het spoedig die oorhand gekry. Die eiland is dikwels deur siektes soos malaria en cholera geteister. Natuurlike rampe soos tifone en modderstortings het hul tol onder die mense geëis. Armoede was algemeen, huisvesting skaars en misdaad het hoogty gevier. Hoewel verreweg die meeste mense hardwerkend en wetsgehoorsaam was, het die klein minderheid kriminele die eiland ’n slegte reputasie gegee.
 
Ondanks alles het die kolonie vinnig gegroei. Die stad Victoria het om die hawe ontwikkel, en pragtige kerke, huise, skole, hospitale en ander mooi geboue het soos paddastoele in die koloniale deel van die stad opgeskiet.
 
Verdere geskille tussen Brittanje en China het daartoe gelei dat China in 1860 die Kowloon-skiereiland as deel van ’n skikking aan Brittanje oorgedra het. Die skiereiland is aan die rand van die Chinese vasteland. Die stad Kowloon, vandag Hongkong se grootste en besigste stad, het aan die punt van die skiereiland ontstaan.
 
Die grondgebied van die kolonietjie is in 1898 verder uitgebrei toe Brittanje 957 vk. km vrugbare plaasgrond noord van Kowloon van China gehuur het. Die streek, bekend as die Nuwe Gebiede, het meer as 90 persent van die kolonie beslaan. Dit is vir ’n tydperk van 99 jaar verhuur.

In die ou hawe van Hongkong...REGS: Die jaar 1903 in die hawe van Hongkong... ’n Chinese jonk vaar verby.

Foto: U.S. Library of Congress
(gewysig)


 
Die bevolking van Hongkong het in die 1900’s vinnig vermeerder weens strome immigrante uit China en Viëtnam. Die groot toestroming van Chinese ná die kommunistiese oorname van China in 1949 het ’n omwenteling in Hongkong se ekonomie veroorsaak. Die Chinese volk was ’n kommunistiese oorname te wagte en baie vlugtelinge kon dus geld en toerusting saamneem na Hongkong en hul eie fabrieke daar begin.
 
In 1950, nadat China troepe gestuur het om in Korea te veg, het Westerse lande ooreengekom om alle Chinees-vervaardigde goedere te boikot. Hongkong se winkels was spoedig sonder goedere om te verkoop en ’n finansiële ramp het die kolonie in die gesig gestaar.
 
Die nuwe immigrante het egter onmiddellik meer mense in hul klein fabriekies in diens geneem en meer goedere vervaardig. Nuwe fabrieke het oral tot stand gekom. Kort voor lank was die leë rakke weer gevul. Binne slegs ’n paar jaar is Hongkong van ’n handelsentrum in ’n vername fabrieksentrum verander. Op sy beurt het dit tot die vestiging van Chinese banke en versekerings- en skeepvaartmaatskappye gelei. Daar word vandag nog na die sogenaamde “Wonderwerk van Hongkong’’ verwys.
 
Die soet van Hongkong se welslae sedert die 1950’s is in die vroeë 1980’s versuur deur die vooruitsig dat China die Nuwe Gebiede sou terugeis. Die boubedryf het begin verbrokkel, die prys van eiendom het gedaal, inflasie het die hoogte ingeskiet en die Hongkongse dollar het in waarde verminder.
 
In 1984 het Brittanje en China ooreengekom dat die Nuwe Gebiede in 1997 aan China oorgedra sou word en die ekonomie is herstel. Ingevolge hul verdrag sou Hongkong ’n vrye hawe bly en sy kapitalistiese status binne China se sosialistiese stelsel behou. Dit sou ’n spesiale administratiewe gebied van China word en die mense van Hongkong sou self oor hul ekonomiese sake en handelsbeleide kon besluit. China se sosialistiese ekonomiese stelsel sou dus nie op Hongkong afgedwing word nie en Hongkong sou boonop vir die volgende vyftig jaar in ’n groot mate selfregerend wees in alle regeringsektore buiten buitelandse sake en verdediging.

En só is die verhouding tussen Hongkong en die moederland China vandag, meer as ’n dekade later, steeds gegrond op ’n enigsins rare beleid van “een land, twee stelsels”.

Hongkong bly ’n kosmopolitiese sentrum waar die Ooste en Weste mekaar ontmoet. Hongkong doen sy eie ding, meestal, en China laat dit toe. In der waarheid bly Hongkong se plaaslike regering heel passief in die finansiële sektor en laat hy in die reël die koers van die ekonomie aan markkragte en die private sektor oor. Dit bly uiters ironies dat hierdie gebied onder die Chinese saambreel  so ’n hoogs kapitalistiese ekonomie het dat dit al jare lank as die mees vrye ekonomie ter wêreld gereken word!

Polities is daar ’n string partye, waarvan die vernaamstes die Demokratiese Alliansie vir die Vooruitgang van Hongkong, die Liberale Party, die Demokratiese Party en die Burgerlike Party is. Dit konstrasteer skerp met China, wat al dekades lank wesenlik ’n eenpartystaat is.

Maar net soos die hoofland reeds jare lank spook om sy reuse-bevolking in toom te hou—China het ’n verbysterende1,3 miljard mense—só spartel Hongkong ook met die groot probleem van genoeg lewensruimte. Die plek het self die reputasie dat dit een van die mees digbevolkte gebiede ter wêreld is.

Nie minder nie as 7650 wolkekrabbers dring hier boontoe deur ’n walm van besoedelde lug. Hongkong wurg behoorlik om vertikaal te probeer plek maak vir sowat sewe miljoen mense, wat bitter moeilik horisontaal op ietsie meer as net duisend vierkante kilometer sou kon oorlewe.

Ons wat in Suid-Afrika woon besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. As jy die volgende keer ’n hanetreetjie ry om êrens op ons wye, wuiwende velde te gaan piekniek maak, dink ’n slag aan die massas mense elders op aarde wat feitlik geen benul van ver, verlate vlaktes het nie...

Hongkong... net ’n aantal van die duisende stapelgeboue

BO: Hongkong... net ’n aantal van die dui­sende stapelgeboue wat werk- en woonruimte in die hoogte moet verskaf weens die knel­lende gebrek aan genoeg plek op die horison­tale vlak.

           Foto “Lewisbot”,
wat dit by die Wikipedia-ensiklopediesop die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)


Nog feite oor Hongkong

•   Ligging: Oos-Asië, aangrensend aan die Suid-Chinese See en die moederland China.
 
•   Oppervlakte: Hongkong beslaan slegs 1092 vk. km, waarvan die landoppervlakte 1 062 vk. km is. Hier is meer as 200 eilande.
 
•   Klimaat: Subtropies: die somers is warm en bedompig en die kwik styg soms tot hoër as 35 grade C. Swaar somerreëns veroorsaak oorstromings en modderstortings. Die winters is koel en droog en die temperatuur daal selde onder 4 grade C.
 
•   Bevolking: 7 055 071 (raming vir Julie 2009). Sowat 95% van die inwoners is Chinese, van wie baie oorspronklik van die kanton Guangzhou in Suid-China kom. Nie-Chinese inwoners sluit Britte, Amerikaners, Australiërs, Indiërs, Japanners en Viëtnamese in.

•   Tale: Chinees (Kantonnees) en Engels; altwee is amptelike tale.
 
•   Godsdienste: Die vernaamste godsdiens is Boeddhisme, maar Confuscianisme, Taoïsme, die Islam, Hindoeïsme en die Christelike godsdiens word ook hier aangetref.

•   Regstelsel: Hongkong se regstelsel is steeds gegrond op die Engelse gemene reg, in teenstelling met die stelsel van siviele reg wat in die hoofland China geld.

•   Behuising: As een van die mees digbevolkte plekke op aarde, kan Hongkong nie naastenby al sy inwoners gerieflik huisves nie. Die groot stroom toeriste uit die Chinese hoofland sedert die Chinese oorname (in 2007 was daar 15,5 miljoen) help ook nie om die behuisingsnood te verlig nie. Die rykes woon hier in pragtige huise of luukse-woonstelblokke. Minder welgesteldes woon in mooi toringgeboue. Die armes het vroeër in hout- en blikpondokke in krotbuurte gewoon, maar ’n enorme behuisingsprojek in die 1950’s het baie in staat gestel om na veelverdiepinggeboue van sement te trek. Hoewel sulke wonings steeds gebou word, groei die bevolking so vinnig dat krotbuurte nog algemeen is. Duisende het die tekort aan woonplek te bowe gekom deur op bote genaamd sampans te woon wat in die hawens geanker lê. Aberdeenhawe, aan die suidwestekant van Hongkong-eiland, is beroemd vir sy drywende gemeenskap. Dit spog selfs met etlike elegante drywende restaurante.
 
•   Werkverskaffing en ekonomiese aangeleenthede: Verreweg die meeste Hongkongers woon in die stad Hongkong, Kowloon en ander stedelike nedersettings. Baie werk in die tekstiel-, skeepsbou en skeepherstel-, staal-, elektroniese en swaar en ligte vervaardigingsbedrywe. Die landbou was vroeër Hongkong se vernaamste bedryf, maar dit het met verloop van tyd minder belangrik geword. Die meeste plase is in die Nuwe Gebiede. Boeregesinne woon in klein, ommuurde dorpies en saai gewasse soos kopkool, seldery en uie en hou diere soos varke en hoenders aan. ’n Bietjie rys word gekweek, maar die meeste word uit China self verkry en uit Thailand ingevoer. Vissery is ook belangrik, veral onder die bootmense, wat ’n bestaan maak deur die varsste vangste van die vissers in die hawens te koop en te verkoop. Hongkong word dikwels tussen die maande Junie en Oktober deur tifone (orkane) geteister. Mense wat op bote woon, moet dan in die hawens in tifoonskuilings vertoef. Die wêreldwye finansiële krisis wat in 2008 begin het, het ’n merkbare verlangsaming in die ekonomie veroorsaak en dit raak ook die gewone Hongkonger se sak. Hongkong hou steeds sy geldeenheid naby gekoppel aan die Amerikaanse dollar, ’n reëling waarmee in 1983 begin is.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad