|
EN
van die koddigste wolhaar-legendes in die Suid-Afrikaanse
geskiedenis is dié van ’n mak bobbejaan wat êrens op ’n
boereplaas in ’n kranige bokwagter sou ontwikkel het. Nog ’n
bogstorie is die verhaal van die afkop hoender.
Daar
is ’n klompie geslagte gelede nogal meermale vir die reine
waarheid vertel dat iemand ’n haan se kop met ’n byl afgekap
het, maar dat die voël hierdie tradisionele soort onthoofding
oorlewe het deurdat die bloeding deur sy nek op ’n manier
gestop is. Die hoender sou nog geruime tyd daarna op die werf
rondgestap en selfs op ’n manier alte grillig deur sy nek
gekraai het.
Ag,
gaan vertel dit aan die hoenders, sal die meeste mense vandag
ewe goedig wil terugkap as iemand hulle só ’n verspotte ding
oor ’n kraaiende koplose kiepie sou probeer wysmaak!
Daarteenoor
sal niemand kan sê jy praat self deur jou nek as jy ons
hoenders se herkoms vir hom uitlê en by ’n wilde rooi
boshoender as die stamvader uitkom nie. Kenners reken naamlik
dis waar al die mak hoenderrasse vandaan kom wat nou die aarde
van hoek tot kant beskrop en alle landstreke buiten die koudstes
bewandel.
Wat
dit egter des te interessanter maak, is dat die einste rooi
boshoender, Gallus gallus, nie uitgesterf het nie, maar
vandag nog lewe. En dít duisende jare nadat sy
nasate werfvoëls by die mens geword het. Daar is nie baie wilde
voorsate van makgemaakte diere waarvan dieselfde gesê kan word
nie.
REGS:
Nog ’n foto van ’n rooi boshoender. Hierdie een lyk glad nie
so indrukwekkend nie.
Foto:
GENOME.GOV (U.S) / Public domain
Die rooi
boshoender se oorspronklike hougebied is die tropiese en
subtropiese woude van Indië, Pakistan en Suidoos-Asië. Die
talle hoenderrasse wat uit hom voortgekom het, is ’n vandag
’n bonte menigte wat wissel van veerpoot-kapokkies tot die
statigste rooi, swart, wit of gespikkelde pluimvee. Amerika se
Rhode Island Reds, Plymouth Rocks, Dominiques, Wyandottes,
Chantecler, Buckeyes, Jersey Giants, Lamonas, New Hampshires,
Hollands en Delawares; Asië se Brahmas, Cochins en Langshans;
Engeland se Dorkings, Redcaps, Cornish, Orpingtons en Sussex;
Australië se Australorps; die Mediterreense wêreld se Leghorns
en nog wat—hulle is maar net ’n aantal van die lede van die
magtige hoenderfamilie.
BO:
Opgeskote kuikers by die dosyne... kort voor lank is hulle reg
om geslag te word...
Foto:
USDA
Daar
word gereken dat mense sowat 5
000 jaar gelede hoenders in Indië begin aanhou het en toe
omtrent 3 500 jaar gelede in China. Hoenderbene is ook al in
baie ou Egiptiese grafkelders gevind.
Met
verloop van die millenniums het die kekkelaars en kraaiers egter
so goed as regoor die wêreld versprei—tot waar hulle vandag
die volopste voëls op ons planeet is. Volgens een gesaghebbende
bron was hul totale populasie betreklik onlangs nie minder nie
as 24 miljard (24 000 miljoen). In
2004 is
8 900 miljoen hoenders net in Amerika geslag.
Maar
daar is natuurlik baie goeie redes hoekom die hoender ook wêreldwyd
so gewild is. Om mee te begin hou mense hulle graag aan om omdat
hulle so goedkoop is—jy
het immers nie ’n plaas se geld nodig om ’n troppie hoenders
aan te skaf nie. Boonop kos hulle ’n mens weinig meer om te
onderhou (indien jy dit self nie breed het nie) as ’n paar van
jou ou broodkorsies en jou oorskiet-graanpap.
En
nadat jy ’n hoender geslag het, kan jy die hele ding in een
nag opeet. Dis nie nodig om jou te bekommer oor vleis wat kan
bederf omdat daar geen yskas is waarin dit bewaar kan word nie.
Om
nie eens te praat van die eiers waarmee ’n klompie henne ’n
mensegesin regdeur die jaar van voedsame ontbyte kan voorsien
nie.
Ook
wetenskaplike navorsers is gek na hoenders omdat hulle sulke
wonderlike gewerwelde diere is. Vir die embrioloë, byvoorbeeld,
is hulle fassinerend omdat hulle binne-in ’n eier ontwikkel
pleks van in ’n ma se uterus. Hulle is boonop belangrik vir navorsing
in verband met virusse en kanker.
Hoenders
is omnivore (plant- sowel as vleisvreters) wat enigiets sal
verorber van saadjies, blare, maaiers en insekte tot selfs klein
soogdiertjies soos muise, as hulle hul snawels op dié kan lê.
Hoenderboere in ontwikkelde gemeenskappe wat dit kan
bekostig, voer hul gemeste voëls spesiale kosse van proteïene
sowel as graan.
Hulle
is inderdaad “maklike” diere, maar soms is maatreëls darem
ook nodig om die hoenderspesie vas te vat. Hoewel hulle nie ver
kan vlieg nie, kan heinings en kampdrade hulle nie altyd inperk
nie, met die gevolg dat die veerpunte van een vlerk baiemaal
afgeknip word. Dit veroorsaak dat hulle ongebalanseerd vlieg en
nie ver in die lug kan vorder nie.
Hoenderboere
weet ook dat hulle tropdiere is met ’n definitiewe rangorde in
hul hoendergemeenskap. Dominante enkelinge eien vir hulle die
voorste plekke by die kosbak toe en die beste plekke om nes te
maak. As hane of henne uit ’n kamp verwyder word, is daar ’n
tydelike sosiale ontwrigting totdat ’n nuwe rangorde gevestig
is.
Henne kan
bevrugte of onvrugbare eiers lê. Hulle kan dag ná dag hul
kosbare, ovale produkte deponeer, selfs sonder dat ’n enkele
haan aanwesig is, maar dié eiers is dan net windeiers, soos die
ou mense dit genoem het. Daar is nietemin geen verskil tussen
die voedingswaarde van ’n bevrugte of onbevrugte eier nie.
|
Die
binnekant van ’n bevrugte eier
(’n kuikentjie
kan binne 21 dae uit die eierkiem ontwikkel)

Mieliestronk.com
|
Op
henne wat “broeis” raak (ophou eiers lê en vas op eiers
begin sit) wag ’n broeityd van gemiddeld 21 dae en daarna nog
’n versorgingstydjie wanneer hulle moederlik om die
kuikentjies sal kloek.
Kuikens
word vandag egter ook dikwels deur broeimasjiene uitgebroei en
die jong hoenders by die honderde in sogenaamde batterye ingehok en vetgevoer tot die dag
wanneer hulle geslag word. Die laasgenoemde is ’n onnatuurlike
praktyk waarteen baie diereliefhebbers reeds lankal in opstand
is, hoewel batteryhoenderboere weer volhou dat hul voëls glad
nie mishandel word nie.
Ten
slotte moet ’n mens darem ook verwys na die groot indruk wat
die hoender op ons landelike voorsate gemaak het. Ons taal is
naamlik deurspek met idiome wat met die hoender te doen het,
party begrypliker as ander as jy die uitdrukkings ontleed.
As
jy vroeg inkruip, is dit duidelik waarom gesê word dat jy met
die hoenders gaan slaap, maar waarom sou ’n dronk mens dan nou
hoenderkop of in die hoenderhemel wees? En vir wat is jy die
hoenders in as iemand jou kwaad maak? Hoekom ervaar jy dan geen
woede wat jou na die ganse of die kalkoene dryf nie?
Foto
van jong kuiken bo: Ken Hammond / USDA
Kamme
en belle... wat het hulle te vertelle?
'N BAIE
opvallende eienskap van hoenders is die vlesige rooi kamme
en belle aan hul koppe. Daar
is al baie gewonder oor die
doel en nut van hierdie bloedrooi en bloedryke aanhangsels,
hoewel hulle die hoenders bes moontlik help om mekaar uit
te ken. Sekere kenners reken dit help ook om hitte weg te
lei, soos wat die groot ore van sekere vosse en konyne
help om dié diere koel te hou.
En die bel en kam kan natuurlik ook 'n seksuele konnotasie
hê. Bel my sodra jou kam rooi word, my dier!
|
En
nou... “geveerde” plastiek
GEDINK die
vere van alle pluimvee, buiten die sagte dons van eende,
is vir niks anders goed as om op die ashope gegooi of
verbrand te word nie?
Nie
noodwendig nie. Wetenskaplikes, wat nuwe gebruike vir die
vere van die baie geslagte hoenders en ander pluimvee
soek, het nou uitgevind hoe om dit in nuttige
plastiekprodukte om te skakel. Die eienskappe van hierdie
“geveerde” plastiek is baie nes dié van plastieksoorte
met ’n petroleum-basis soos poliëtileen en polipropileen.
Amerikaanse wetenskaplikes het reeds hierdie nuwe soort
plastiek gepatenteer.
“Geveerde”
plastiek—word gesê—sal ’n unieke materiaal vir die
verpakkingsbedryf of ander bedrywe wees waar sterkte
vereis word en dit wenslik is dat stowwe biovergaanbaar
moet wees.
|
|