Hoefdiere (4): Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd

 Tak in die hoogte!

Hoog in die takke is ’n bekende Afrikaanse spreekwoord, maar ’n tak in die hoogte is vir ons heelwat minder bekend as dit by diere kom! Herte is immers nie ware boorlinge van ons deel van die węreld nie. Kom ons bekyk dus hulle en van hul rare familielede ’n slag van naderby. Hulle is ook herkouers soos die skape, bokke, beeste en antilope...

BO: Wapiti-herte of Amerikaanse elke. Hierdie subspesie staan bekend as die Tule-elk (Cervus canadensis nannodes).

Foto: Luther C. Goldman / U.S. Fish and Wildlife Service
   

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

“Hardloop, man wat ek liefhet, maak soos die ribbok, soos die takboklam op die kruieberge!”
—Hooglied van Salomo, 8:14.

T

AKBOKKE... herte. Vir verskillende mense beteken hulle verskillende dinge. Die vrou in Hooglied verbind hulle met vlugheid, in die mooi Bybelboek waarin die man en vrou hul liefde vir mekaar besing. Sy gee te kenne dat haar beminde moet hardloop, onder meer soos die jong takbok, om sy liefde aan haar te betoon.

Kinders kan miskien weer aan herte dink as diertjies soos die storieboekkarakter Bambi... wat aan blare en takkies knabbel in ’n verafgeleë, anderlandse sprokieswęreld. Dié met ’n romantiese aard roep op hul beurt miskien troppe elegante geweidiere voor die gees, wat oor Engeland se weides of deur woudlande swerf.

Europese en Amerikaanse jagters herleef miskien die opwinding van ’n jagtog. Boere, weer, kan dalk woedend raak as hulle aan gesaaides dink wat deur takbokke verniel is.

Herte—waarvan daar meer as sestig spesies is—kan daarop roem dat hulle van die volopste en mees verspreide diere op aarde is. Soos die familie Bovidae in ons vorige aflewering, behoort hulle ook tot die ewetonige hoefdiere of Artiodactyla, en is hulle ook herkouende diere.

Maar kom ons beskou hierdie ander herkouers van naderby.

 

 

 

BO: ’n Moes en eende. Die moes is die grootste van die herte

 

Foto: Karen Ward / U.S. National Park Service

 

REGS: ’n Sogenaamde suidelike poedoe. Poedoes is die kleinste van die ware herte.

 

Foto: Adrian Pingstone, wat dit by Wikimedia Commons op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”). Foto ietwat gewysig.

 


Herte

IN baie węrelddele is daar die een of ander soort hert—van die tropiese woude tot die droë woestyne tot die Arktiese toendra. Die meeste hou egter in die gematigde streke.

Baie is vandag ook immigrante waar hulle nie van nature voorgekom het nie, byvoorbeeld in Afrika, Australië en Nieu-Seeland.

Die herte wissel geweldig in grootte. Die moes (die ander Afrikaanse benaming, Amerikaanse eland, is hopeloos misleidend) is die grootste, en die ramme staan omtrent 2,3 m hoog by die skouers. Die moes word in Noord-Amerika en die noordelike dele van Eurasië aangetref.

Die Suid-Amerikaanse poedoe, die kleinste, is skouerhoog omtrent 30 cm.

Die verskillende herte se gewoontes is ook baie verskillend. Party is alleenlopers, ander weer kuddediere.

Kariboes vorm troppe van tot 100 000 diere. Hulle bly nie op een plek nie, maar is meestal aan die swerf op soek na kos. Party trek baie ver met die wisseling van die seisoene. Die kariboes bring byvoorbeeld die somer in die Noordpoolsirkel deur. In die laat somer vorm hulle reuse troppe en trek vir die winter na warmer streke. In die lente trek hulle weer terug.

Die meeste hertbulle (of hertramme by die kleiner diere) het vertakkende “horings”. By alle spesies buiten twee—die muskus- en die Chinese waterhert—het die bulle of ramme geweie. Net by twee—die rendier en kariboe—het die mannetjies sowel as die wyfies geweie. Waar die koeie of ooie van ander spesies wel af en toe geweie het, moet dit aan ’n hormoonwanbalans toegeskryf word.

[Kyk onderaan hierdie artikel wat die verskil tussen horings en geweie is.]

Herte ontsnap maklik aan hul vyande. Hulle het skerp sintuie wat hulle waarsku wanneer gevaar dreig. Hulle sal eers roerloos gaan staan om nie opgemerk te word nie, maar as dit wel gebeur, is hulle so vlugvoetig dat hulle maklik vir die meeste vyande kan weghardloop.

Baie herte kan ’n bars skop. Die moes kap sy vyande van bo af met sy groot hoewe en trap op hulle.

 

 

BO: ’n Bisamhertjie (Tragulus napu).

Foto: Brian Gratwicke,
wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye gebruik en verspreiding word vergun op voorwaarde dat die lisensiehouer erken word.

Bisamhertjie

DIE bisamhertjie word in Engels ’n “mouse deer” genoem omdat hy so klein is (hy moet egter nie met ’n “deer mouse” verwar word nie, wat natuurlik iets heeltemal anders is nie).

 

Die bisamhertjie is trouens ook een van die kleinstes van die ware herkouers—ook maar net so 30 cm hoog by die skouers.

Anders as herte en antilope het hy egter nie horings of ’n gewei nie. Die mannetjies het lang slagtandagtige oogtande, en daar is nege spesies.

Bisamhertjies hou in die tropiese oerwoude van Afrika en Suid-Asië, en vreet meestal blare, gras, saadjies en vrugte, hoewel party tog wel insekte, vis en selfs vleis verorber.

 

Getrou aan die herkouers het hulle ’n vierdelige maag, maar die derde maagkamer is nie waffers ontwikkel nie.

 

BO: ’n Gaffelbok (Antilocapra americana), in Engels bekend as “pronghorn”.

 

Foto deur Nature’s Pics, op die węreldwye web by www.naturespicsonline.com,

wat gebruik vergun ingevolge die Attribution-ShareALike 3.0 Unported-lisensie, soos beskryf deur Creative Commons in hul Openbare Lisensie.
 

Gaffelbokke

HOEWEL die gaffelbok soos ’n antiloop lyk, behoort hy tot ’n afsonderlike familie. Hy het horings, en is die enigste dier ter węreld met egte horings wat dit afwerp.

Gaffelbokke kom slegs voor in Noord-Amerika, waar hulle op die oop grasvlaktes van die Ameri­kaanse Weste wei.

Hulle is die vinnigste soogdiere in die Westelike Halfrond, wat oor kort afstande tot 96 km/h kan haal—gebore hardlopers, met die hart dubbel so groot soos ’n ewe swaar skaap s’n, die lugpyp breed en die longe groot.

Hul snelheid is hul belangrikste wapen teen roofdiere soos wolwe en pręriewolwe. Al weiende word die kop kort-kort opgetel om die horison te bespied. Word ’n vyand gevaar, staan die lang hare by die dier se wit agterstewe orent—’n waarskuwingsteken wat die hele trop laat spore maak.
    

Ou langnek met die knopperige kop

 

LINKS: Die “horings” op kameelperde se koppe is nie ware horings nie, maar word deur vel en hare bedek.

 

Foto: Sergio Cambelo, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”). Foto ietwat gewysig.

 

Kameelperde

KAMEELPERDE is die węreld se langste diere, met die bulle wat gemiddeld 5,2 m hoog rank en die koeie 4,3 m. Hulle hou in troppe met bra losse sosiale strukture, in die boswęrelde van Afrika suid van die Sahara.

 

Hierdie diere het baie koddighede. Die volwassenes slaap baie min—volgens sekere waarnemers net ’n halfuur elke 24 uur—en dan ook net so staan-staan.

En, langeraad soos hy is, het daardie uitgerekte nek slegs sewe nekbene—net soveel soos ’n mens s’n.

Kameelperde is meestal stom, hoewel hulle af en toe sag sal grom of hoes. Tog het hulle tamaai stemkaste.

Die kameelperd het bloedmin vyande. Die kleintjies word wel deur leeus, luiperds, jagluiperds, hiënas en krokodille gevang, maar die grotes net deur leeus. Hul wapens is hul skoppe—partykeer kragtig genoeg om ’n leeu van die gras af te maak!

Die kameelperd se naaste familielid is die okapi, ’n skaars dier van die digte oerwoud rondom die Kongorivier in Midde-Afrika.
 

Horings en geweie
 

WAT is die verskil tussen horings en geweie?

Die vernaamste verskil lę in die samestelling. Die horing het ’n permanente beenkern wat van die skedelbeen af uitstrek, met ’n blywende, harde keratienryke bedekking. Diere soos beeste, skape, bokke en antilope het horings.

Die gewei het ook ’n beenkern, maar hierdie uitgroeisel word jaarliks in die lente afgewerp om vir ’n nuwe plek te maak. Die gewei groei uit twee velbedekte skedelbeenknoppies wat rosestokke genoem word.

Wat is die funksies van horings en geweie?

REGS: Moesgewei op die vlakte.

Foto: Carol Harding / U.S. National Park Service

 

By antilope word horings veral in die paartyd deur die vegtende bulle of ramme gebruik om te bepaal wie van hulle die belangrikste is.

Omdat horings sulke gevaarlike wapens is, krul baie darem agtertoe om nie té veel skade aan te rig nie, terwyl ander só gekronkel is dat hulle aan mekaar vashaak en dit gevolglik eerder ’n groot gestoot afgee as ’n bloederige geveg.

Geweie het ook te doen met seksuele seleksie. Buiten by die rendiere en kariboes, waar albei geslagte geweie het, kom dit slegs by die bulle van die herte voor (of dan wel die ramme van die kleiner hertsoorte).

’n Bykomende funksie van horings is verdediging. Daar is al opgeteken dat swartwitpense luiperds deurboor het en dat gemsbokke selfs leeus só bokveld toe gestuur het.

BO: Die horings van hierdie groothoringskape verskil aanmerklik van die geweie van die takbokke.

Foto: U.S. National Park Service

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad