Hoefdiere (3): Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope

Dall-skaap

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

T

OE die Verenigde State van Amerika nog baie jonger was, het mense van oral na die land van beloftes gestroom. Hierdie immigrante het regoor die Noord-Amerikaanse vasteland begin versprei en, namate hulle weswaarts getrek het, enorme troppe diere met ruie hare en bultende skowwe teëgekom.

Dié diere, wat dreunend oor die uitgestrekte vlaktes beweeg het, was bisons. Die Amerikaners het hulle (verkeerdelik) buffels genoem.

Die troppe was so groot dat treine selfs teen wil en dank moes stilhou wanneer hulle die treinspore in hul massas oorgesteek het.

 

Bisons in die veldREGS: Bisons in die veld. Van ver af gesien, sou jy maklik kon dink dis ’n trop beeste.

 

Foto: U.S. Fish and Wildlife Service
 


Eeue lank was die Amerikaanse Indiane vir veral vleis en velle van hierdie bisons afhanklik. Van die velle is klere, beddegoed, tente en kano’s gemaak en, saam met die bene en senings, ook wapens en gereedskap. Die diere se mis was brandstof vir die Indiane.

Kort voor lank het die setlaars ook die bisons begin jag—aanvanklik vir hul vleis en velle, en toe vir hul bene, wat vergruis is om as kunsmis vir die mielielande op die grasvlaktes gebruik te word.

Spoedig is hulle jammerlik vir die pret afgemaai. Onbesonne jagters het gekyk hoeveel diere hulle in ’n dag kon plattrek. Die karkasse is net so gelaat om te verrot.

Teen 1889 was daar net 551 bisons oor. Hulle is nie net byna deur die mens uitgewis nie, maar die Indiane se groot lewensonderhoud was boonop daarmee heen. Vandag word die bison in wild- en dieretuine beskerm.

 

BisonbulREGS: ’n Bisonbul in Nebraska.

 

Foto deur “Mongo”, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)



Bisons, soos die diere in ons vorige aflewering, word as hoefdiere geklassifiseer. Anders as perde, sebras, esels, renosters en tapirs, behoort hulle tot die hoefdiere met ’n ewe getal tone, oftewel die Artiodactyla.

Die diere van hierdie orde word gekenmerk deur twee of vier tone aan elke poot, en staan ook bekend as spleethoewige soogdiere. Skape, bokke, beeste, antilope, herte, wildebeeste, kameelperde, varke en seekoeie is almal lede van hierdie groot en uiteenlopende orde.
• Kyk ook die Mieliestronk-artikel oor rooi vleis waarin verskillende plaasdiere behandel word.

Baie van die ewetonige hoefdiere is herkouers, wat in hierdie en ons volgende aflewering behandel word. Ons begin met stellig die bekendste familie van herkouers, die sogenaamde Bovidae (herkouers met hol horings).

[As jy wil weet wat ’n herkouer is, lees eers die kort beskrywing van herkouers aan die einde van hierdie artikel.]


Bovidae

TOT die familie Bovidae behoort ’n aantal diere wat ’n enorme rol in die geskiedenis van die mens gespeel het. Skape, bokke en beeste is mettertyd getem vir hul vleis, melk, velle en wol.

Skape is naderhand boonop gebruik om vragte te dra en koeie en osse om karre, ploeë en waens te sleep. Suiwel is vandag een van die grootste bedrywe.

Die antilope is ook lede van hierdie familie.


Beeste
 

•  Kyk ook die kort artikel oor beeste in Mieliestronk se Laslappie-afdeling

 

BAIE diere word as beeste geklassifiseer, waaronder mak beeste, waterbuffels, bisons, muskusbeeste en jakke. Almal word gekenmerk deur ’n stewige liggaam, spleethoewe, krom horings en lang sterte. Almal is ook herkouers.

Die uitgestorwe oeros (Bos tarurus primigenius) was waarskynlik die eerste beesagtige dier wat deur die mens getem is. Op ’n ou rotstekening op ’n muur in ’n grot in die suide van Frankryk ding oerosse en ander diere om ruimte mee.

 

Die uitgestorwe oeros

 

BO: ’n Voorstelling van die uitgestorwe oeros (Bos taurus primigenius).

 

Uit: Brehms Tierleben, 1927, swart-wit illustrasie digitaal verkleur

 


 

Volgens navorsers van ’n genetiese studie waarvan die uitslag in 2012 bekend gemaak is, stam al vandag se mak beeste af van so min as tagtig diere wat sowat 10 500 jaar gelede in die Midde-Ooste uit wildes getem is.

Wetenskaplikes wat die University College London as basis gebruik het, het DNS onttrek uit die beendere van mak beeste wat by argeologiese opgraafplekke in Iran gevind is. Met behulp van rekenaar-berekeninge het hulle tot die slotsom gekom dat die oerkudde waaruit vandag se beeste spruit nie waffers groot kon gewees het nie.


Tans is daar egter baie verskillende beesrasse. Party word vir hul vleis geteel, ander vir hul melk en nog ander vir albei. Al behoort hulle ook tot die sogenaamde holhoring-herkouers, het sekeres, die poenskoppe, nie eens horings nie!

Baie het swart, wit of rooi haarbedekkings, ander ’n kombinasie van hierdie kleure. Die meeste se hare is kort; ’n paar het lang, wollerige hare.

Mak beeste word feitlik oral gevind waar die mens is. Hulle floreer in die koue Skandinawiese lande sowel as in die warm, bedompige trope.

 

Sybokke

BO: Sybokhaar (die vag van die Angorabok) is baie gesog.

 

Foto: NRCS / U.S. Department of Agriculture


Skape en bokke
 

•  Kyk ook die Mieliestronk-artikel oor skape en hul wol
 

DIE skaap en bok is naby familie en lyk in baie opsigte eenders. Daar is egter ook kenmerkende verskille.

Albei het spleethoewe, hoewel die skaap ’n klier tussen die twee tone het wat by die bok ontbreek. Die skaap se horings groei uitwaarts, die bok s’n opwaarts en agtertoe.

By sekere skape het net die ramme horings, by ander albei die geslagte. By ’n paar is sowel die ramme as die ooie horingloos. Albei bokgeslagte het horings. By skape is die voorkop konkaaf (holrond), by bokke konveks (bolrond).

Skape het lang, afhangende sterte, bokke meestal kort sterte wat boontoe wys.

Bokramme het ook baarde en skei in die paarseisoen ’n sterk, muskusagtige reuk af.

Ons mak skape het waarskynlik ontstaan uit twee verskillende soorte wilde skape wat vandag nog lewe: die steppeskaap van Suid-Asië en die moeflon van Suid-Europa. Sowat ’n halfdosyn ander wilde skape kom op die hoë berge en plato’s van Sentraal-Asië voor.

Daar is vandag nagenoeg agthonderd mak skaapsoorte wat veral vir hul vleis en wol geteel word.


Die mak bokke kom waarskynlik van die wilde bok Capra hircus van die heuwelagtige streke van die Egeïese eilande, Turkye, Iran en die provinsie Sind in Pakistan. Daar is vandag ongeveer vyf spesies wilde bokke.

Bokke word meestal eerder vir hul melk geteel as vir hul vleis en hare, hoewel die beroemde Angora en Kasjmir pragtige bokhaar lewer.

Bokke verskaf ook groot hoeveelhede bemesting.
 

 

Reuse-eland

BO: ’n Reuse-eland (Taurotragus derbianus). Hierdie bielie onder die antilope word in Afrika in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Soedan, die Kameroen en Senegal aangetref.

 

Foto: Greyson Orlando, wat dit openbare besit verklaar het  (“released into the public domain”). Foto effens gewysig.


Antilope

HOEWEL antilope soos herte lyk, is hulle nader familie van skape, bokke en beeste.

Daar is 72 spesies, waarvan die meeste in die woude of aan die berghange of savannes van Afrika voorkom. ’n Paar is in Asië. Baie verskillende soorte antilope kan in dieselfde gebied wei, want hulle het uiteenlopende eetgewoontes en plantvoorkeure wat die kompetisie verminder.

Daar is grotes en kleines onder die antilope. Die grootste is die reuse-eland (meer as 1,8 m by die skouer) en die kleinstes die klipspringer, oorbietjie, dik-dik en soeni, wat maar net 30 cm hoog in hul hoefies kan staan.

 

Iets om aan te herkou...

BAIE ewetonige hoefdiere soos beeste, skape, kamele, lamas, herte, bokke, antilope en kameelperde is herkouers. Die kos wat hulle insluk, is net gedeeltelik gekou, want hulle moet hulself op die weiveld volprop sonder om nog tyd met kouwerk te verspil. Later word die kos dan op ’n veilige plek opgebring en behoorlik gekou sodat dit reg kan verteer.

Die pens van ’n egte herkouer het vier kamers. By die meeste herkouers gaan die kos na die eerste kamer, ’n “spens” wat die grootpens genoem word, hoewel ’n deel daarvan wel regstreeks na die tweede kamer, of netpens, beweeg. Die kos beweeg geleidelik van die grootpens na die netpens, waar bakterieë dit tot pulp of herkoutjie afbreek, wat later na die bek opgebring word. Die dier kou dan die herkoutjie en sluk dit in.

Die herkoude kos gaan weer na die grootpens en netpens en van daar na die derde kamer, die blaarpens, wat soos ’n filter werk en slegs goed gekoude, taamlik vloeibare voedsel deurlaat na die melkpens, waar die eintlike spysverteringsprosesse begin. Die kos beweeg nou na die dunderm waar die vertering voltooi en voedingstowwe in die liggaam opgeneem word.

 

Dele van die maag van ’n herkouer

1. Grootpens (’n groot “spens”).
2. Netpens (of retikulum—ook genoem klein­pensie of ruitjiespens—’n heuningkoek­agtige struktuur waar die kos tot pulp of her­koutjie af­ge­breek word om weer deur die dier opge­bring en herkou te word).
3. Blaarpens (of omasum, die “filtreerder”).
4. Melkpens (of abomasum, die ware maag waar kosdeeltjies deur maagsuur verteer word).

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad