Hoefdiere (2): Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir

  Wat verraai
’n renoster se tone?

Pote en tone van witrenoster

Ja, goed, wát presies verraai ’n renoster se tone soos dié van die witrenoster op die foto HIERBO? Lawwe vraag, sê jy waarskynlik. Maar die dierekenners weet beter. As hulle na ’n renoster se poot kyk, weet hulle dadelik dat hy tot die Perissodactyla behoort. Dié is hoefdiere met ’n onewe getal tone, en die renoster het juis drie tone wat in afsonderlike hoewe eindig. Ander diere van hierdie orde is weer letterlik eentonig!

Krediet: Detail van ’n foto deur “Kwh,”, wat dit op hierdie bladsy by  Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye gebruik en afleidings word vergun mits die eienskap behoorlik erken en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

D

IS die Eerste Wêreldoorlog—een aand in die somer van 1918. Tydens die Britse opmars na die Westelike Front beweeg ’n vervoerkolonne op ’n pad.

Skielik steek die muile in die legioen vierpoot vas. Hul militêre base probeer alles om hulle weer aan die loop te kry, maar verniet.

Toe, sowat ’n kilometer vorentoe, vergaan hoor en sien soos die kanonne begin bulder. Dis eers wanneer die skietery ophou dat die muile bereid is om weer te loop. As die diere nie so steeks was nie, sou die hele kolonne reg in die hinderlaag inbeweeg het.

 

LINKS: ’n Muil.

 

Krediet: Detail van foto deur Dario Urruty, wat dit tot openbare besit verklaar het (“releases into the public domain”)

 


Die hardkoppigheid van die muil is—dan ten minste in Engels—spreekwoordelik. Maar dit lyk of dié diere daardie nag getoon het dat hulle ook oor ’n “sesde sintuig” beskik, ’n eienskap waarvoor hulle nie dikwels krediet kry nie.

Die muil, ’n kruising tussen ’n perd en ’n esel, het tegelyk die beste en ergste van altwee sy ouers in sy samestelling. Hoewel hulle weerbarstig is, is muile ook intelligent, robuus en taai, en herstel hulle gou nadat hulle hulle stokflou gewerk net.

Perde, esels en muile word geklassifiseer as hoefdiere—soogdiere met tone wat in hoewe eindig. Hoefdiere is groot landdiere en almal is plantvretend. Alle diere met horings is hoefdiere, maar alle hoefdiere het nie horings nie.

Hoefdiere word in twee hoofgroepe ingedeel: dié met ’n onewe getal tone—of Perissodactyla, en dié met ’n ewe getal tone—of Artiodactyla.

Die “onewes” het óf een óf drie tone aan elke poot. Perde, esels, sebras, renosters en tapirs behoort tot hulle.

 

BO: Individuele perde word gewoonlik onderskei deur die kleur van hul haarkleed, maanhare en stert. Die algemeenste kleure is skimmel (soos die perd hierbo), bruin, vos en swart.

 

Foto: Scott Bauer / ARS / USDA


Perde, esels en sebras

Klik hier vir ’n volledige Mieliestronk-artikel oor perde

DIE diere van die familie Equidae, of dan ten minste perde en esels, het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die mens gespeel.

Die verowerings van Genghis Kahn kon nie sonder perde plaasgevind het nie. Die Spaanse veroweraars in Suid-Amerika was net so vas in die saal, asook Willem die Veroweraar se ridders toe hulle Engeland binnegeval het.

Die Europese pioniers het Noord-Amerika op perde getem, en ook ons eie land se geskiedenis is haas ondenkbaar sonder hierdie ry- en trekdier. Trouens, ’n mens kan omtrent die perd se stert afpraat as jy begin uitwei oor al die Afrikaanse spreekwoorde wat met die perd te doen het!

En moenie die nederige donkie versmaai nie. Die Egiptenare van ouds het reeds esels gebruik toe hulle hul monumente gebou het, en Jesus se intog in Jerusalem was op ’n donkie—“op die vul van ’n pakdier”.

’n Minder gelukkige lot was egter ander lede van hierdie familie beskore. Die kwagga, ’n sebra-subspesie, is byvoorbeeld totaal deur die mens uitgewis. Maar dan is die perd en donkie vandag ook self nie meer so in aanvraag as in die ou dae nie...

DIE perd en die mens kom, soos gesê, ’n lang pad saam. Vandag word perde meestal vir vertoon, sport en ontspanning ge­bruik—soos in sirkusse, by tentoonstellings of vir perdewedrenne—of op plase.

In voorhistoriese tye het troppe wilde perde regoor Eurasië voorgekom, maar hulle het later geleidelik minder geword namate hulle gejag en getem is.

Waarskynlik die enigste ware wilde perd wat vandag nog be­staan, is die Przewalski of Mongoolse wilde perd, wat nou blykbaar in die vrye natuur uitgesterf het en waarvan daar nog net ’n aantal in gevangenskap is. Die Przewalski kan egter met mak perde verbaster en hul nasate is vrugbaar. Daar was dus al vrae oor hoe raseg die oorblywende lede van hierdie ras nog is.

Hoewel Amerika se mustangs wilde perde genoem word, is hulle in werklikheid die nageslag van mak perde van die Spanjaarde wat weggeloop en verwild het.

Deur die eeue heen is perde spesiaal geteel om hul natuurlike eienskappe te verbeter. In die elfde eeu het die Engelse groot, sterk perde nodig gehad wat ’n man met ’n swaar wapenrusting kon dra. In die veertiende eeu, toe buskruit gebruik is, is ligte, vinnige perde weer vir oorlogvoering geteel.

Party perde word geteel vir sowel spoed as krag. Daar is vandag meer as 150 soorte perde, wat baie van mekaar verskil wat hul grootte, vorm en aard betref.

 

’n Mak esel (donkie)

 

BO: ’n Mak esel (donkie).

 

Foto: Adrian Pingstone, wat tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)



ESELS, met die grys jas en donker streep op die rug langs, was eenmaal volop in die steppe, woestyne en halfwoestyne van Noord-Afrika en Asië. Hulle het in troppe van sowat tien gehou en altyd naby watergate gebly.

Hierdie wilde esels is nou al grotendeels deur die mens uitgewis omdat hulle met mak diere om kos en water meeding. Dit tel darem in die guns van die wilde esel van Afrika dat hy baie vinnig van gevaar af kan weghardloop—tot 50 km/h. Maar met die jongste eeuwisseling was daar minder as 3000 van dié Afrika-esels oor. Hoeveel daar nou nog is, is ’n ope vraag.

Die Asiatiese wilde esel, wat in die woestynstreke van Sentraal-Asië leef, is ietwat groter as die Afrika-spesie en sy ore is baie kleiner.

Mak esels, of donkies, word meestal in Afrika, Suid-Asië en Suid-Europa gevind, waar hulle as ry-, pak- en melkdiere aangehou word.

 

Grant se sebra (Equus quagga boehmi)

BO: Een van die sebrasoorte, Grant se sebra (Equus quagga boehmi), waarvan hierdie voorbeeld in Kenia afgeneem is, is die kleinste van die ses subspesies van die vlaktesebra.

Krediet: Detail van foto deur Gary M. Stolz / U.S. Fish and Wildlife Service


SEBRAS is mos diere wat almal ’n streep weg het! Wel, eintlik het hulle heelparty swart en wit strepe, wat patrone vorm wat by elke dier net so uniek is as vingerafdrukke by mense.

Hulle hou in savannes en bergstreke in Afrika suid van die Sahara. Volgens Kaapse Natuurbewaring kom twee sebraspesies in Suid-Afrika voor—die meer algemene vlaktesebras, waarvan verskeie subspesies erken word, en bergsebras, waarvan twee subspesies voorkom.

Hartmannse bergsebras is meer volop, veral in die Noord-Kaap, Namibië en Angola. Kaapse bergsebras was eens suidwaarts verspreid oor die berggebiede van die Roggeveldberge, Cederberge tot die Amatolas, maar het byna uitgesterf weens jag en kompetisie vir weivelde met boere.

Kaapse bergsebras lyk meer gestreep as vlaktesebras omdat hulle smaller strepe het. Hulle het gewoonlik ‘n wit maag, gestreepte bene en ‘n nekvel wat op die keel verskyn. Teen 1950 was minder as 100 van dié pajamaperde oor, maar danksy gefokusde bewaringsinisiatiewe het die getal in 2000 digby 1200 gestaan.

Sebras lewe in groot troppe met familie-eenhede. ’n Familie bestaan uit ’n hings, sowat ses merries en hul vullens. Vir beskerming meng hulle dikwels met ander plantvreters van die grasvelde. Benewens die mens, is die leeu hul grootste vyand.

 

Swartrenosters (Diceros bicornis)

BO: Swartrenosters (Diceros bicornis), wat allermins swart lyk op hierdie foto in ongewone lig! Die benamings wit- en swartrenosters is in elk geval heeltemal misleidend, omdat hierdie twee spesies nie rêrig op grond van hul kleur van mekaar onderskei kan word nie. Die witrenoster (Ceratotherium simum) is dus ook eintlik nie wit nie—die “wit” is glo bloot ’n vervorming van “wijde”, wat na die wye vorm van sy onderlip verwys.

 

 Foto: Gary M. Stolz / U.S. Fish and Wildlife Service


Renosters

DIE renoster is vandag een van die grootste landdiere. Hy is groot en solied, met ’n dik, los, meestal haarlose vel en een of twee neushorings.

Daar is vyf renosterspesies, twee in Afrika en drie in Asië. Die twee Afrika-spesies, die wit- en die swartrenoster, het twee horings.

Renosterhoring verskil van beeshoring deurdat dit uit ’n massa digte, haaragtige vesels bestaan wat van die vel af uitstrek en nie ’n kern van been het nie.

Die horings word vir verdediging gebruik en om bome en bosse te ontwortel sodat die dier die blare kan bykom om te vreet. Asiatiese renosters het ’n ekstra wapen—’n paar groot snytande om mee te baklei.

Die horing het die renoster se grootste kruis geword. Baie Asiate glo dit het magiese kragte, en die diere is al roekeloos gejag. Hoewel daar wette is wat hulle beskerm, is wilddiewery ’n groot probleem.
  

 

’n Foto en ’n illustrasie van die tapir

 

LINKS BO en REGS BO: ’n Foto en ’n illustrasie van die tapir.

 

Foto links bo: WPClipart Public Domain Image

Illustrasie regs bo: www.gutenberg.org (PD Old)


Tapirs

DIE tapir is ’n geheimsinnige, varkagtige dier met ’n kort, beweeglike snoet. Tapirs hou naby water in die woude van Suidoos-Asië en Suid- en Sentraal-Amerika.

Daar is vier spesies. Die Maleise tapir—partykeer die komberstapir genoem vanweë ’n groot wit kol op sy rug wat hom laat lyk soos ’n swart dier onder ’n wit kombers—kom van Thailand tot Sumatra voor.

Die ander drie spesies, wat muisbruin of grys is, lewe in die tropiese streke van die Amerikas.

Die kleintjies van al die spesies het donker haarbedekkings met geel en wit kolle en strepe. Die pels verkleur namate hulle grootword.

Tapirs het twee natuurlike vyande: die kaaiman in die water en die jaguar op land.

Hulle is al roekeloos gejag om hul vleis en vel en dit, saam met die ontbossing van die woud, het hulle op die lys van skaars diere geplaas.
  


  
Uit die perd se bek ...
  

Perd

 

• ’n Manlike donkie = eselhings (Eng. jack).
• ’n Vroulike donkie = eselin (Eng. jenny of jennet).
• ’n Manlike perd = (perde-)hings (Eng. stallion).
• ’n Vroulike perd = (perde-)merrie (Eng. mare)
• Eselhings + perdemerrie = muil (Eng. mule).
• Eselmerrie + perdehings = muilesel (Eng. hinny).
• Sowel muile as muilesels is steriel.

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad