Adolf
Hitler
|
|||||
|
IT
was ’n vernietigende, komplekse, dodelike oorlog soos die aarde in sy
hele bestaan nie geken het nie. Byna alle nasies was betrokke in die
verwoede gevegte wat oor talle dele van ons planeet versprei het. Die
Tweede Wêreldoorlog (1939-’45) het die mens in al sy veglustigheid
getoon. En
dit is veral aangestig deur ’n man wat geskiedkundiges beskryf as ’n tirannieke
diktator met ’n misplaaste gevoel vir geregtigheid: die
Nazi-Duitser Adolf Hitler. Daar kan tereg gesê word dat hy die wêreldbrand
begin het waarvan die kole nog geslagte lank sou smeul—die inferno
wat die aangesig van die aarde onherroeplik sou verander. Maar aan die einde van die oorlog het hy sy hand aan sy eie lewe geslaan. Sy aanvanklik trotse Duitse leër was ’n patetiese verslane mag. Hitler
(1889-1945) het meer mense se dood veroorsaak as enigiemand anders in
die moderne tyd. Hy was fanatiek anti-Joods en in Duitsland en gebiede
onder Duitse beheer het hy veral die Jode uitgesonder om in
dodekampe in gaskamers of andersins te sterf. Die
Tweede Wêreldoorlog is ontketen deurdat Duitsland op 1 September 1939
Pole binnegeval het. Een van die wrywingspunte in Europa was die
sogenaamde Poolse Korridor, wat ná die Eerste Wêreldoorlog geskep is
om Pole deur Duitsland toegang te gee tot die see by Danzig. Om hierdie
"onreg" uit te wis—maar ook met droombeelde van wêreldoorheersing—het Hitler Tsjeggo-Slowakye oorrrompel en Pole aangeval. Dit was die
vonk in die kruitvat. Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was ook vir Hitler die volmaakte rookskerm... om die "finale oplossing van die Joodse probleem" deur te voer en die miljoene Jode in die Duits-besette Europa stelselmatig te vermoor. Hierdie gepoogde sogenaamde Uitwissing was een van die verskriklikste skanddade van alle tye. Dit is ’n greep uit die mensegeskiedenis waarvan elkeen deeglik moet kennis dra—sodat so iets nooit in enige tyd weer toegelaat sal word om te gebeur nie. Met Hitler
se opkoms in Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog en die stigting van
sy Nazi-party in 1920, is anti-Semitisme tot uiterstes gevoer waarvan
daar voorheen nooit eens gedroom kon word nie. Jodehaat
was ’n kernbegrip in die Nasionaal-sosialistiese
filosofie—en hul doel was om enigiemand en alles wat Joods was uit
te wis. En vir die Nazi’s het Joods enigiets beteken: om Joodse ouers,
net een Joodse ouer of selfs slegs een Joodse grootouer te hê. In sy talle emosionele openbare toesprake het Hitler sy ondersteuners daarvan verseker dat hulle nie die skuld vir Duitsland se teenspoede moes kry nie, maar dat hul probleme deur Jode, Kommuniste en Sosialiste veroorsaak is. In sy boek Mein Kampf, wat in 1925 uitgegee is, het hy selfs Joodse Kommuniste vir Duitsland se nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog geblameer. In die Tweede Wêreldoorlog is elkeen wat die Nazi’s as "ongewens" beskou het in konsentrasiekampe aangehou—Jode, Sigeuners, Jehovasgetuies, Roomse geestelikes wat teen die Nazisme gekant was, geestesversteurdes, Russiese krygsgevangenes, Spaanse republikeine, vakbondlede en ander politieke gevangenes. Uiteindelik
is sowat 12 000 Jode daagliks in ’n dodekamp soos dié by Auschwitz met
gas doodgemaak en die lyke tot as verbrand om die aaklige vergryp
vir die wêreld weg te steek. Teen die einde van die oorlog was hierdie
dodekamp die begraafplaas van sowat twee miljoen Jode. Nog miljoene is
elders om die lewe gebring. Alles
onder die genadelose septer van een man: Adolf Hitler. En
daarby word nie ook nog die baie ander onskuldiges en die miljoene
soldate gereken wat in die oorlog self omgekom het nie. WATTER soort mens was hy dan? Waar het hy vandaan gekom en hoe het so magtig geword? Adolf Hitler is op 20 April 1889 in Braunau am Inn, Oostenryk-Hongarye, gebore as die vierde kind van Klara en Alois Hitler. Volgens sekere bronne was Alois Hitler tot sy veertigste jaar bekend as Schicklgruber, maar hy het sy van toe tot Hitler verander. Miskien is die van selfs Hietdler gespel. (Terloops, ’n mens kan jou hier afvra watter rol ’n naam werklik in ’n mens se lotgevalle speel. Want as die van Schicklgruber gebly het, is dit moeilik om ’n mens in te dink in ’n Adolf Schicklgruber vir wie die Duitse massas later "Heil Schicklgruber!" sou geskreeu het!)
Alois Hitler, Adolf se pa, het hom nogal tot ’n statusryke posisie in die Oostenrykse doeanediens opgewerk, met die gevolg dat Hitler ’n gemaklike kindertyd gehad het. Sy punte op skool was bo-gemiddeld. Maar die dood van sy pa in Januarie 1903 het alles verander. Die gesin se inkomste was onvoldoende om Hitler, sy ma en sy suster te onderhou, terwyl die afwesigheid van ’n dominante vaderfiguur ook Hitler se posisie in die gesin verander het. Hy het die meeste van sy tyd omgespeel en omgedroom, swak op skool gevaar en die skool in 1905 verlaat. Dit kan vir baie mense verrassend wees dat hy aanvanklik ’n groot kunstenaar wou word. Trouens, hy het na raming in sy lewe tussen 2000 en 3000 tekeninge en skilderye (in sowel water- as olieverf) gemaak. Baie van hulle is so landelik en simplisties dat ’n mens hulle moeilik met die latere beeld van ’n hardvogtige en fanatieke politikus kan vereenselwig.
Ondanks
sy eie verwagtinge vir homself was hy egter nie ’n
besonder talentvolle kunstenaar
nie. Hy het ’n kunsskool in München bygewoon, maar kon twee keer nie daarin
slaag om tot die Weense Akademie toegelaat te word nie. In
die Eerste Wêreldoorlog het hy in ’n Beierse regiment gedien en ’n
korporaal geword. Hy is in die laaste stadiums van die oorlog gewond. In 1919 het hy hom by ’n klein werkersparty aangesluit, wat hy in 1920 tot die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty hernoem het. In 1923 het hy tesame met ander verregse faksies die Beierse regering omver probeer werp, maar hy is nege maande lank in die Landsbergse tronk opgesluit. In hierdie tyd het hy sy politieke oortuigings aan Rudolf Hess gedikteer. Dit is as Mein Kampf (My Stryd) gepubliseer.
Hy
het sy party in die laat 1920’s grootliks uitgebrei en, hoewel hy nie
die presidentsverkiesing van 1932 teen Paul Hindenburg kon wen nie, het
Hindenburg hom in 1933 as kanselier aangestel. Daarna sou hy sorg dat
die Nazi-party die septer in Duitsland swaai, met homself aan die spits. Absolute
mag is deur wetgewing aan hom toegeken en hy het elke teenkanting
onderdruk. Verskeie van sy teenstanders binne sy eie party is in 1934
deur sy lyfwag, die SS, in die Nag van die Lang Messe vermoor. Hitler, wat der Führer (die Leier) genoem is, het die mag in Duitsland gegryp in ’n tyd toe die maatskaplike toestande ryp was vir sy soort buitensporige nasionalisme. Hy was twaalf jaar lank die leier van die sogenaamde Derde Reich (ryk). Hy
het sy land openlik herbewapen en, onder die voorwendsel dat Lebensraum
(lewensruimte) nodig was, het hy troepe in die gedemilitariseerde
Rynland ingestuur. In 1936 het hy die sogenaamde Spilverdrag met Benito
Mussolini van Italië gesluit en in 1938 die "Groter
Duitsland" geskep deur Duitsland met Oostenryk te verenig. Ook in
1938 het hy die Duits-bewoonde Sudeten-gebied van Tsjeggo-Slowakye
ingelyf. Vervolgens
het Hitler geëis dat Pole Danzig moes teruggee en dat daar vrye toegang
tot Oos-Pruise moes wees. Pole se weiering het, soos ons hierbo gesien
het, in 1939 tot die Tweede Wêreldoorlog gelei. Hitler
se binnelandse beleid was een van algehele Nazifisering, wat deur die
Gestapo (geheime staatspolisie) afgedwing is. Politieke teenstanders,
Jode en almal wat hy as sosiaal ongewens beskou het, is in
konsentrasiekampe opgesluit, wat tot die moord op meer as ses miljoen
mense gedurende die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Ná
Hitler se vroeë suksesse in die oorlog, het hy ál meer die advies van
militêre kenners geïgnoreer. Sy gewaande onoorwinlike Luftwaffe is in
1940 in die lugslag om Brittanje verslaan. Sy aanval op Rusland, wat sy
troepe na Moskou en Leningrad geneem het, het gewankel ná sy nederlaag
in 1942 by Stalingrad. Boonop is sy groot generaal Erwin Rommel se leër
by El Alamein verslaan. Nadat
Hitler in Julie 1944 ’n bomaanslag van ontnugterde Duitse generaals op
sy lewe wonderbaarlik oorleef het, het hy die leër van alle verdagtes
gesuiwer. Rommel, wat die sameswering goedgekeur het, het selfmoord
gepleeg. Toe
die Geallieerde magte wat in die oorlog teen Duitsland geveg het, die
land binneval, het Hitler in ’n ondergrondse bunker onder die
Kanseliersgebou in Berlyn gaan skuil. Terwyl die Russe net etlike
honderde meter daarvandaan was, is hy seremonieel met sy minnares, Eva
Braun, in die huwelik bevestig.
Dit was in die teenwoordigheid van die Goebbels-gesin, wat hulle toe
self met gif om die lewe gebring het. (Joseph Goebbels was een van
Hitler se groot adjudante.) Alle
beskikbare getuienis dui daarop dat Hitler en sy bruid toe ook selfmoord
gepleeg het (op 30 April 1945) en dat hul lyke verbrand is.
Die
volle verskrikking van Hitler se kampe vir gedwonge arbeid, konsentrasiekampe
en uitwissingsbeleid is onthul toe die Geallieerdes die beheer oor
Duitsland oorgeneem het. Hoe
so iemand dit kon regkry om die gesofistikeerde Duitse volk, wat sulke
onsterflike geeste soos die digter Goethe en die musikale genie Beethoven
opgelewer het, só te oorheers soos hy gedoen het, is stellig iets
waaroor sosioloë tot in lengte van dae sal bly bespiegel. Hitler het Duitsland en ’n groot deel van Europa verwoes agtergelaat. Meer as sestig miljoen mense het wêreldwyd in die oorlog gesterf en nog tien miljoene was hul gesondheid en hul huise kwyt. Hy
was obsessief met sy fantastiese visioene en is tegelykertyd daardeur
verblind, maar hy kon dit reggekry om baie Duitsers in ten minste ’n
deel van daardie lugkastele te laat glo. Die gevolg was ’n uitbarsting
van vernietiging wat miljoene lewens verteer en die beloop van die
wêreldgeskiedenis in
’n heeltemal ander
koers gestuur het.
|
|||||