|
||
|
SETH DOWELL, toe 21 jaar oud, het op 23 Augustus 2000 begin hik nadat hy n gekoopte toebroodjie vir aandete te vinnig weggesluk het. Sowat n jaar later was Seth n enigsins onwillige volksheld in Amerika—n land waar hulle mos altyd die beste, langste, hoogste en vreemdste dinge ophemel. Dié farmaseutiese tegnikus van Salt Lake City in die staat Utah was eers net verbaas omdat sy hikkery nie wou endkry nie. Maar die ure het dae geword, en toe weke en maande, met elke dertig sekondes daardie volgehoue, onbeheerbare ge-jiek uit sy keel. Selfs wanneer hy slaap. Dit kan vir sekere mense lagwekkend klink, maar vir Seth was sy beproewing nooit snaaks nie. En nadat ons destyds oor hom berig het, het Mieliestronk.com lank probeer vasstel wanneer—en of—sy repeterende spasmodiese hyggeluide toe uiteindelik bedaar het. Hy het allerhande soorte mediese raad en al die bekende boererate beproef, maar selfs die dokters, wat hoeveel toetse op hom gedoen het, was dronkgeslaan. Uiteindelik, ná ’n hele paar jaar, het ons darem ons verneem dat Seth vroeg in 2007 vertel het sy hik is destyds uiteindelik hokgeslaan. Hy het dit gedoen deur ’n spierverslapper te gebruik asook deur sy lewenstyl te verander, het hy vertel in dieselfde apteek waar hy nog altyd werk. Ondanks sy lyding daar pas ná die eeuwisseling hou Seth natuurlik lank nie die wêreldrekord vir n marathon-hikkery nie. Dié is glo opgestel deur n man van Iowa, ook in Amerika (waar anders?). Hierdie arme kêrel, word vertel, het sowat 65 jaar lank aanmekaar gehik. En dan was daar die Amerikaner van Missoula, Montana, wat homself n aantal jare gelede met n vuurwapen die ewigheid ingeblaas het ná vier jaar van aanhoudende gehik. Sy treurende vrou het agterna vertel: Die dokters het net gesê: Moenie oor hikkery praat nie. Daar is niks wat ons kan doen nie. Hulle het gesê hy het ’n buitengewone kwaal. Die slagoffer het sy familie herhaaldelik versoek om ander mense ná sy dood te laat weet hoe hy gely het. Vertel hulle ek het gehik, het hy gesê. N GEHIK. Spasmas in die diafragma en asemhalingsorgane, met die stemspleet wat skielik sluit en dan daardie tipiese geluid maak wat soos ’n hoesie klink. Dis hoe die woordeboek dit saaklik beskryf. Maar om die oorsake en nut—indien enige—van n hikkery te ontleed, is nogal n hele studie op sigself. n Dokter stel dit vir ons in eenvoudiger taal: n Hik is eintlik n vinnige sametrekking van daardie spier (die diafragma genoem) wat jou borsholte van jou maagholte skei. Die diafragma speel n belangrike rol in jou asemhaling. As jy inasem, verplat die diafragma om jou borsholte te vergroot en lug te laat invloei in die gedeeltelike lugleegte wat so veroorsaak word. Lug word uitgeasem sodra jou diafragma ontspan en na sy rusposisie terugkeer. Wanneer jy hik, veroorsaak n skielike sametrekking van die diafragma dat jy meteens n klomp lug intrek. n Breukdeel van n sekonde later klap die opening tussen die stembande in jou keel toe. Die vertraging tussen die instroming van die vinnige vlagie wind en die sluiting van die opening ontketen dan daardie kenmerkende gesnak. Om te hik is n integrerende deel van die menslike samestelling, vertel die dokter verder. ``Die meeste van ons ondervind dit die eerste keer in die baarmoeder, sowat ses maande voor ons geboorte. Alle soogdiere het n diafragma en sekeres, soos honde, ly soms vreeslik aan hikkery. Maar terwyl ons die meganika van hikke taamlik goed begryp, bly die rede waarom dit moet gebeur steeds so ietwat van ’n geheim. Omdat die stemspleet so vinnig sluit en die asemhaling onderbreek, is navorsers redelik seker dat n gehik nie deur dieselfde sentrums in die brein beheer word wat die asemhaling beheer nie. Party navorsers vermoed nou dat hik n reaksie is wat nader verwant is aan die refleks om te vomeer, en dat dit n manier is waarop die ingewande van ongewenste lug ontslae raak. Dit sou ook verklaar waarom hik soms deur die drink van gasdranke of ooretery veroorsaak word. Een dokter wat n spesiale studie van hik gemaak het, reken weer daar is n hiksentrum in die brein wat die hik-spasma laat plaasvind. Hy meen dit is n beskermingsmeganisme wat keer dat n mens aan kos of drank stik. DIS EGTER nie van vandag af dat hik se oorsake—en rate daarteen—die gedagtes van wetenskaplikes en selfs filosowe besig hou nie. Meer as 2 000 jaar gelede was dit reeds n besprekingspunt in ou Griekeland. Plato haal byvoorbeeld n tweegesprek aan wat omstreeks 400 vC tussen n dramaturg en geneesheer gevoer sou gewees het. Die dramaturg het die dokter gevra om sy hikkery te genees. Laat my toe om aan te beveel dat jy jou asem ophou, het die dokter gesê, en as dit nie help nie, gorrel met n bietjie water; en as die hikkery steeds aanhou, kielie jou neus met iets en nies, en as jy een of twee keer nies, sal selfs die ergste gehik beslis ophou. Hippokrates, vader van die geneeskunde, het blykbaar self gehou van die raat aan hikkers om te nies. Gelukkig is daar vandag nog n swetterjoel sulke rate vir hik en, wonder bo wonder, dit lyk of die meeste daarvan werk—hoewel party moeilik wetenskaplik verklaar kan word. Die New England Journal of Medicine vertel byvoorbeeld van navorsing waarin bevind is dat een teelepel suiker, droog ingesluk, die hikkery van negentien uit twintig mense onmiddellik genees het. As dit nie dadelik help nie, word aanbeveel dat die suiker-dosis drie maal met tussenpose van twee minute herhaal word. Ander gewilde rate is onder meer:
Wat die behandeling ook al is, n gehik hou gewoonlik binne minute op. As dit egter langer as n dag aanhou. moet jy jou dokter of n ander kundige medikus gaan spreek. Sonder om enigeen op hol te wil jaag, moet dit gesê word: die hikkery kan dalk net die simptoom wees van die een of ander ernstige kwaal. Maar as jy andersins blakend gesond is en dit bloot n hikkery is wat nie wil ophou nie, is n operasie straks jou laaste uitweg. Volgehoue ernstige hikkery word chirurgies behandel deur die middelrifsenuwee buite aksie te stel wat die diafragma prikkel. N OPERASIE sou dan dalk ook Seth Dowell se voorland kon gewees het as hy nie met sy hikkery opgehou het nie. Hoe ook al, hy het beslis al die simpatie verdien wat hy ontvang het. Sy liefdeslewe het onder meer daaronder gely. Seth het gesê sy gehik skrik die meisies af. Een keer moes hy selfs n bioskoop verlaat omdat hy nie die ander mense wou steur met sy hortende geluide regdeur die fliek nie. Volgens sy dokter, destyds, was Seth se lyding darem nie gevaarlik of pynlik nie, net ongemaklik en hinderlik. Party dae is makliker as ander, het Seth gesê, terwyl hy kliphard probeer het om homself nie in sak en as te hik nie. Ek weet in elk geval nie wat ek sal doen as ek ophou hik nie, het hy bygevoeg . Vir my is dit al net so natuurlik (hik) as om soggens op te staan. Maar in
sy veel later onderhoud in 2007 het hy darem
duidelik gesê hy wil sy belewenis nie oorhê nie. |
||
Al die raad en rate hierbo moet nie beskou word as kennersraad wat vir iedereen gaan help nie. Mieliestronk.com aanvaar ook geen aanspreeklikheid vir wat ook al met iemand gebeur wat enigeen daarvan beproef nie. Elke mens is uniek en slegs jou dokter of ’n ander mediese kundige kan werklik diagnoses omtrent jou gesondheidstoestand maak. |
||