|
 |
|
Prente
en kort beskryings van die hidrofiete, mesofiete en xerofiete onder
die wêreld se plante
Dors,
dorser,
dorsste...
Die een soort het baie vog nodig, die ander soort minder, terwyl
’n derde tipe in die droogste plekke op aarde kan oorleef...
|
|
HIDROFIETE
’N
HIDROFIET
(of waterplant) is ’n plant wat in ’n uiters waterryke bodem groei.
Sulke plante lewe op of onder water en aard gevolglik nêrens anders
as in water of in grond wat permanent deurweek is nie. Hulle het dan
ook spesiale eienskappe eie aan hul waterbestaan.
Die blare het byvoorbeeld nie nodig om verdamping teen te werk,
reënwater op te vang en na die wortels te gelei of selfs dou deur
die blare te absorbeer nie—dis immers vir hierdie soort plante
totaal onnodig om water te bewaar, want daar is water oral om hulle. Baie
waterplante het hoogs verdeelde blare, wat hulle bestand maak teen
lopende water omdat dié soort blare die weerstand verminder. Hulle
het egter nie so ’n uitgebreide wortelstelsel nie, omdat hulle
drywend regop bly in die water.

BO: Die waterblommetjie van die Kaap (Aponogeton distachyos),
waarvan daardie bekende bredie gemaak word, is ’n hidrofiet.
Dit groei in waterpoele en vleie wat in die droë somermaande
opdroog, maar die dormante waterblommetjies (ook “vleikos”
genoem) ontluik weer wanneer die herfsreëns die poele vul. Die
wasagtige blomme ruik soet. Daar is verskeie ander spesies van
Aponogeton in Suidelike Afrika, maar A. distachyos
is die bekendste.
Foto:
J.F. Gaffard
—soos
gepubliseer
in die Wikipedia-ensiklopedie op die
wêreldwye web. Toestemming word verleen tot
die kopiëring, verspreiding en/of wysiging
van hierdie
hierdie dokument
ingevolge
die bepalinge van die
GNU Free Documentation license,
weergawe 1.2 of
enige latere weergawes soos gepubliseer deur
die
Free Software Foundation;
sonder invariante seksies, sonder
omslagtekste vir die voorkant en sonder
omslagtekste vir die agterkant. ’n Kopie van
die lisensie word vervat in die seksie
getiteld
"GNU
Free Documentation license".
•
Nog ’n tipiese hidrofiet is die
Europese waterlelie (Nymphaea alba). ’n Foto van die blom
van hierdie waterlelie sal in
’n aparte venster verskyn as jy
hier klik.
Die foto is deur “lorsh”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op
die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released
into the public domain”).

BO: Die waterduisendblad (Myriophyllum spicatum) se verdeelde blare keer dat sterk strome hom meevoer,
want sy blare bied nie soveel weerstand teen lopende
water nie.
Illustrasie uit historiese boek Flora von Deutschland,
Österreich und der Schweiz 1885 deur prof. dr. Otto
Wilhelm Thomé. Openbare besit vanweë die verval van
kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

BO: Die waterhiasint (Eichhornia crassipes) van die
Suid-Amerikaanse trope is ’n waterplant wat onbeheers kan
vermenigvuldig en waterweë kan verstop buite sy habitat waar
hy nie sy natuurlike vyande het wat hom in toom hou nie.
Sonlig word boonop van inheemse waterplante weggekeer en die
suurstof in die water word uitgeput, wat tot visvrektes lei.
Dit het ’n groot hoofpyn vir baie bewaringsbewustes geword.
Onnadenkendes het ook die waterhiasint na Afrika gebring,
waar dit ’n geweldige ekologiese plaag in die Victoriameer
geword het. Dit is ook ’n ongewenste vreemde onkruid in
Suid-Afrika.
’n Mate van sukses is wel al met beheer behaal, maar kenners
vestig nou hul hoop op ’n natuurlike vyand van die
waterhisaint—’n klein Amasone-vliegie van 1,5 millimeter,
wat die plante se blaarstingels van die binnekant af rysmier
en verswak, sodat hulle nie so geil aanteel nie. Baie van
hierdie soort vlieë sal egter geteel en by varswatermassas
met boskasies van waterhiasinte losgelaat moet word.
Biologiese beheer soos dié is noodwendig ’n
langtermyn-oplossing, maar die oorlog met die behulp van die
vlieg sal met belangstelling gevolg word.
Foto:
Ted Center
/ U.S. Department of Agriculture |
|
MESOFIETE
MESOFIETE
is landplante wat in nóg ’n besonder droë nóg ’n besonder nat
omgewing (dus in middelmatige vogtoestande) voorkom. Hulle het wel
’n min of meer konstante watervoorraad nodig, verloor vinnig water
indien hulle aan uiterste toestande blootgestel word en is nie
bestand teen droogtes nie.

BO: Die klawer wat op weilande groei, is ’n goeie voorbeeld van
’n mesofiet.
Foto:
AS Heagle
/ ARS / U.S. Department of Agriculture
|
|
XEROFIETE
XEROFIETE
is landplante wat in uiters droë omgewings en bodems groei.
Voorbeelde is die kaktusse en ander vetpante, wat in woestyne en
ander gebiede voorkom waar dit baie min reën. Prakseersels van
hierdie plante om die skaars watervoorraad te bewaar, sluit geswolle
stamme, blare en wortels in.

BO: Kaktusse is tipiese xerofiete.
Foto:
Larry Cannataro
/ U.S. National Park Service

BO: Ook ander vetplante, soos aalwyne, gaar water in hul
vlesige blare op. Die voorbeeld op hierdie foto, die
treffende spiraalaalwyn (Aloe polyphylla), is ’n
skaars en bedreigde boorling van die Malutiberge in Lesotho.
Dit groei hoog in die berge in rotsskeure en word bestuif
deur ’n kromsnawel-voëltjie, die jangroentjie. Die
spiraalaalwyn se skaarste word gewyt aan oorbeweiding,
geesdriftige maar onbedagsame planteversamelaars wat dit
uitgrawe, verwydering deur lede van die plaaslike bevolking
wat dit as medisyne gebruik, asook die feit dat die
bestuiwende jangroentjies ál skaarser raak.
Foto: U.S. Botanic Garden

BO: Die rare,
eintlik bisarre Welwitschia mirabilis van die
Namibwoestyn is botanies geen ware vetplant nie, maar is
miskien die mees klassieke voorbeeld van ’n droogteplant in ons
wêrelddeel. Die
Welwitschia
is spesiaal toegerus om in kurkdroë omgewings te oorleef
waar daar baie mis voorkom. Sulke oorvloedige newels word juis gevorm
wanneer die koue, noordvloeiende Benguela-seestroom met die
koue lug in aanraking kom wat van die Namib af kom. Die mis
vorm snags, kondenseer op die groot, breë blare van die
Welwitschia en die druppeltjies
rol dan ondertoe om die plant se wortels te bevog. Daar is
ook talle stomata (huidmondjies) op die blaaroppervlakke
waardeur die gekonsenseerde water van die mis regstreeks
opgeneem word. Boonop het die Welwitschia 'n lang
penwortel waarmee hy ondergrondse water kan bereik. Sommige
bronne sê hierdie plant se lewenstyd is dekades of geslagte
lank, ander stel dit op eeue of selfs duisend jaar of meer!
Hoe ook al, in sy lang lewe ontwikkel die Welwitschia
slegs twee blare, wat naderhand erg verweer deur die sand en
wind om hom verstrengel lê. Nietemin verskaf hy kos aan die
min mense en verskillende wilde diere wat die woestyn met
hom deel. Hy staan dan ook plaaslik bekend as n’tumbo,
oftewel die “ui van die woestyn.”
Foto: U.S. Botanic Garden
|
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |