|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
HILLARY, SIR EDMUND PERCIVAL: Baanbreker-veroweraar
van Everest
Foto: William McTigue / NOAA
EVEREST
is die wêreld se hoogste berg. Nadat die Noord- en Suidpool bereik is,
het ontdekkingsreisigers hul oë opwaarts gehef—na die formidabele kruin
van die natuur se laaste vesting. Een van hierdie avontuursoekers was
Edmund Hillary.
Edmund
Percival Hillary is op 20 Julie 1919 in Auckland, Nieu-Seeland, gebore.
Nadat hy die skool verlaat het, het hy ’n byeboer geword. In die Tweede
Wêreldoorlog was hy ’n tyd lank in die lugmag. Hy was ’n ywerige
bergklimmer en het dikwels in die Nieu-Seelandse Alpe geklim. In
1951 is hy genooi om hom by ’n Nieu-Seelande ekspedisie na die sentrale
Himalaja aan te sluit. Hy het tóé en ook die volgende jaar Everest deels
aan die suidekant bestyg. Everest
(8848 m)
lê in die Himalaja tussen Nepal en Tibet. Baie klimmers het die berg
probeer uitklim sedert die Britte dit vir die eerste keer in die 1850's
onder oë gekry het. Maar die hoogte, steilte, sneeu- en ysstortings, diep
skeure, kragtige winde en koue, dun lug het hulle erg gekortwiek. By die Sjerpas staan Everest bekend as Sagarmatha, of "Lugkop". Vir die Tibetane is dit Tsjomoloengma, of "Godin-moeder van die Wêreld".
Foto: EARTHOBSERVATORY / NASA In
1953 het Hillary hom by die Britse Everest-ekspedisie onder leiding van
kol. John Hunt aangesluit as een van die hoofklimmers. Namate
die groep bergklimmers teen die berg opbeweeg het, het hulle plek-plek
kampe opgerig (altesaam agt) waar hulle voorrade en van die klimmers
agtergelaat het. Die laaste kamp was op ’n hoogte van 8504 m. Op
29 Mei 1953, om
11.30 vm.,
het Hillary die spits van Everest alleen bereik, saam met die Nepalese
Sjerpa Tenzing Norkay. Tenzing
het agterna vertel dat hulle ’n kwartier daar gebly, foto's geneem en
koek geëet het. Hillary
sou sy belewenis só beskryf: "Terwyl
ek daar gelê en hyg het, het ek ’n gloed van triomf ervaar... Ons het
voortbeweeg... Toe sien ek hoe die bergrug voor my na die noorde wegval,
en regs bokant my was ’n ronde sneeukoepel. Nog ’n paar kappe met my
ysbyl, en toe staan ek en Tenzing op die spits van Everest ..." Op
16 Julie het koningin Elizabeth vir Hillary vanweë sy
prestasie
tot ridder geslaan. In 1955 het hy High
Adventure
geskryf, ’n verslag oor die klimekspedisie van
1953. Hillary
is in 1955 as leier aangestel van die Nieu-Seelandse geselskap van die
Britse Statebond se Trans-Antaktiese Ekspedisie onder leiding van Vivian
E. Fuchs. Hy het Antartika per sneeutrekker oorgesteek en die Suidpool op
4 Januarie 1958 bereik. Hy
het daarna verskeie ekspedisies na die Himalaja gelei en tydens ’n
ekspedisie in 1967 na Antartika was hy die eerste wat die berg Herschel
bestyg het. Hillary
se outobiografie, Nothing Venture, Nothing Win, het in 1975
verskyn. Van 1984 tot 1988 was hy die Nieu-Seelandse hoë kommissaris in
Indië. |