|
By-gedagtes
in ’n hoogs geordende samelewing...
Die
stad
van die
heuningbye
|
|||||||||||||||
|
.,,
Hul
oertuiste, sê die geleerdes, was die tropiese Midde-Afrika, waarvandaan
hulle deur die eeue heen suidwaarts na Suid-Afrika, noordwaarts tot in
Noord-Europa, en selfs na Indië en China in die Ooste versprei het. ’n
Bekende Bybelverhaal is dié van die sterke Simson wat heuning geëet het
van ’n swerm bye wat hulle tuisgemaak het in die dooie liggaam van ’n
jong leeu wat hy vroeër kaalhand doodgemaak het. Maar die heuningby wat vandag in Amerika voorkom, is ’n veel meer onlangse immigrant as die bye wat uit Afrika na die Midde- en die Verre-Ooste en Europa verhuis het. Om die waarheid te sê, die heuningby is eers ná Columbus deur die Europese koloniste na Amerika gebring, waarna die ou Indiane dit “die witman se vlieg” genoem het. Dit
beteken nie dat die inheemse volkere van die Nuwe Wêreld voor dit nooit
die dowwe dreuning van vlieënde bye geken het nie. Noord-Amerika alleen
is die tuiste van sowat 3500 ander byespesies, wat voor die koms van
die witman self lustig in die berge, die canyons en op die prêries gegons
het. Die heuningby is ingevoer as bestuiwer vir die Ou Wêreldse plantespesies wat die Europeërs saam met hulle na Amerika gebring het.
Daar
is natuurlik nog duisende ander soorte bye. Trouens, wêreldwyd is reeds
meer as ’n ontsaglike sowat 16 000 byespesies opgeteken, terwyl miskien
nog soveel wag om beskrywe te word. Die waardevolste van almal bly egter
maar die heuningby. Dis ’n ope vraag wat ons sou gedoen het sonder
hom—of liewer haar, want die ywerige werkers in elke heuningbyenes is
almal steriele wyfies. Kan
jy jou ’n wêreld sonder blomme of bome voorstel? Bye bestuif blomme en
bestuifde blomme maak sade. En baie soorte sade bevat ’n vlesige
omhulsel wat ons ’n vrug noem. Sê dus baie dankie vir die by! In
sy breë betekenis is die heuningby enige insek van die familie Apidae,
orde Hymenoptera, en sluit dit alle bye in wat heuning vervaardig. In die
enger sin het dit egter net betrekking op vier lede van die geslag Apis,
maar gewoonlik word dit tot die gewone heuningby, Apis mellifera,
beperk. Die ander Apis-spesies kom slegs in Asië voor, en sluit
gonsende “dwergies” en “reuse” onder die bye in. Daar
is ook ’n aantal variante en subspesies, of rasse, van die Apis-spesies. Benewens
heuningbye het ons hier in Suid-Afrika ook ander interessante byesoorte wat
klein, primitiewe kolonies vorm, soos die angellose klein mokka- en
mopaniebye. Nog ander is volslae alleenlopers. Een voorbeeld is die
houtkapperbye, wat hul neste in stompe en pale maak. Ons gewone heuningby het,
soos alle insekte, ses pote, ’n drieledige lyf (kop, toraks en agterlyf)
en ’n harde buiteskelet. Die werker-heuningby is ’n rapsie langer as
een sentimeter, hoewel die groottes van verskillende variante van hierdie
spesie wissel. Die kop en toraks (bors) is iewat stekelig en verskil in
kleur na gelang van die variant. Daar is twee groot samegestelde oë en
drie enkelvoudige oë, wat besonder goed kan sien, asook twee sensitiewe
voelhorings wat reuke waarneem. Heuningbye woon saam in byeneste of
byekorwe. Hulle kan met ’n snelheid
van nagenoeg 25 km/h vlieg en verorber nektar (’n soet vloeistof in
blomme) wat hulle in heuning omskakel. In die proses waarin van blom tot
blom gevlieg word, versamel die stuifmeel van baie plante in die
stuifmeelmandjies (holtetjies) aan die by se agterpote en word stuifmeel
ook versprei waardeur plante bestuif word.
Die
drie kastes in ’n byenes—en hoe SAMELINSEKTE
soos bye, miere, termiete en wespe het in hul samelewings sogenaamde
kastes of groepe, dit wil sê daar is verskillende soorte individue in
dieselfde nes wat verskillend lyk en elk hul eie besondere take het. Só is daar in die stad van die heuningbye ook ’n hoogs verwikkelende maatskappy van drie soorte individue wat wesenlik soos ’n enkele organisme fungeer. Dit bestaan uit die vrugbare en bevrugte koningin en steriele wyfie-werkers (wat almal saam uit bevrugte eiers ontwikkel het) en die mannetjies of hommels (wat uit onbevrugte eiers ontstaan het). Van nader beskou, lyk die bye in hierdie drie kastes só:
1)
Die koningin: Sy is ’n bevrugte wyfie wat in staat is om meer as
duisend eiers per dag te lê—elke dag gedurende haar hele
lewe van een tot sewe jaar. Sy word van haar larwestadium af saam met
’n klompie ander larwes vir haar koninklike rol “gekweek”—anders opgevoed en gevoed as die res van die larwes.
Potensiële koninginne ontvang meer van ’n sekere stof, genaamd
koninginjellie, van die werkers wat hulle voed. Die eerste gebore “kroonprinses” maak die ander
“prinsessies” dood nadat
sy uitgebroei het en word die nuwe koningin van die korf. 2)
Die werkers: Hulle vorm ’n groep van ’n paar tot sowat 60.000
onderontwikkelde en steriele wyfies. Pleks van ’n lêboor—’n orgaan
waarmee eiers gelê word—soos by die koningin, het ’n werkerby ’n venynige gifangel aan die agterlyf, waarmee sy die nes tot die dood toe sal verdedig. Die werkers versorg
ook die koningin en haar eiers en larwes. Daarbenewens is hulle
nektarversamelaars en het hulle ’n stuifmeelmandjie aan die agterpote
wat nie by die koningin voorkom nie. 3)
Die hommels of darre: Hulle is ’n groep van nul tot sowat duisend
mannetjies, wat uit onbevrugte eiers ontwikkel. Darre is vroeër ook
verkeerdelik waterdraers genoem, maar hulle is opperste luilakke wat nooit
’n greintjie werk in hul lewe doen nie, wat nog te sê water na die
byekorf toe aandra! Hulle kan trouens glad nie vir hulself
sorg nie en moet deur die werkers versorg word. ’n
Dar se enigste taak en doel in die lewe is om met ’n koningin te paar
indien hy sy menigte mededingers van ander korwe kan uitstof—’n
onderskeiding wat dan ook die
(on)gelukkige drommel van ’n hommel se
lewe kos. Boonop word darre ook nie te alle tye in die nes
geduld nie. In die winter word hulle ongenadig uit die korf geskop om
buite te vrek. Hulle het ook nie angels nie. Die
bevrugte eiers wat deur ’n koningin gelê word, word bevrug deur die
sowat 90 miljoen sperma wat sy haar lewe lank in haar liggaam bewaar ná
haar bruidsvlug. Die bruidsvlug volg ’n bepaalde patroon waartydens sy
met ’n aantal verskillende hommels paar. Die
maagdelike “kroonprinses” vlieg na ’n versamelplek waar
honderde, selfs duisende, hoopvolle bruidegomme uit die omgewing se
byeneste op haar wag. Net ’n klompie kry dit reg om die een ná die
ander met haar te paar, waartydens elkeen agteroorval in sy passie en sy
penetrerende deel of endofallus letterlik uit sy lyf geruk word. Elke
agtergeblewe endofallus word om die beurt deur die volgende mannetjie voor paring uit die
koningin se liggaam verwyder. Al die bruidegomme sterf ’n vroeë dood
weens hul verminkte agterlywe. Die lewe van ’n nuwe
heuningby begin op die oomblik wanneer die koningin in eiertjie in ’n
sel van ’n heuningkoek lê. Drie dae nadat 'n eier gelê is, verskyn die
larwe, wat dan drie dae lank deur werkers met koninginjellie gevoed word.
Van die vierde dag af is daar slegs heuning en stuifmeel op die werker- en
hommellarwes se spyskaart. As ’n werkerlarwe hierna steeds met
koninginjellie verwen word, ontwikkel ’n koningin. Dit duur sowat agt dae
voordat die larwes volgroeid is. In hierdie tyd vervel die larwe ’n
aantal kere totdat hy hom in ’n sykokon toespin en ’n papie word,
waarvan die sel met ’n dekseltjie bedek word.
Ná hierdie russtadium, wat nog ’n aantal dae duur, maak die
volwasse by sy verskyning. En as die nuweling ’n werker is, wag ’n hiperbedrywige lewe van miskien 20 tot 40 dae op haar waarin sy haar letterlik gaan doodwerk. Net in die winter, wanneer sy nie soveel werk nie omdat daar min of geen blomme is nie, kan sy sowat 140 dae lank lewe. Werkers
doen eintlik al die werk in die byenes. In die eerste drie dae van hul
lewe hou hulle die nes skoon. Daama voer hulle al die larwes tot die
tiende dag. Hierna word hul wasproduserende organe aktief en begin hulle
met die bou van nuwe wasselle. Die sestiende tot die twintigste dag word
aan die versamel van nektar en stuifmeel bestee wat deur terugkerende
werkers na die byekorf gebring word. Omstreeks
die twintigste dag staan hul wag voor die ingang van die byekorf voordat
hulle uiteindelik hul vlerke sprei na die blommeland om nektar en
stuifmeel te versamel. Intussen bly die koningin
steeds die middelpunt van die byekorf. Sy moet die voortbestaan van haar
spesie help verseker en in die proses boonop aanhoudend keer dat geen van
haar steriele wyfie-onderdane ooit rooi hakskeentjies ontwikkel en dalk
begin flikkers gooi vir die hommels in die nes nie. Maar hoe doen sy dit?
Die sleutel tot haar leidende
posisie is ’n spesiale geurstof, of feromoon, wat sy produseer en deur
die hele korf versprei om die werksters se geslagsontwikkeling te
onderdruk. Maar mettertyd word sy te
oud om genoeg van haar inhiberende doepa uit te strooi. Die werkers begin
dadelik ’n klompie nuwe koninginne kweek. Die uiteinde is meestal dat
’n heersende koningin die nes met ’n deel van die bevolking—miskien
van 5.000 tot 25.000
bye—verlaat en uitswerm om ’n nuwe kolonie elders te vestig. Haar plek
in die ou nes word dan deur die eerste aankomeling onder die jong aspirant-koninginne
ingeneem.
Foto van
PDPhoto.org,
Nut
en produkte van die heuningby
DIS
maklik reeds vierduisend jaar, dalk selfs langer, dat mense bye vir hul
heuning en vir byewas benut. Tot taamlik onlangs in die mensegeskiedenis
was heuning immers die enigste vorm van suiker wat betreklik maklik
bekombaar was. Byewas was boonop ook eeue lank gesog vir die maak van
salwe, kerse en baie ander produkte.
|
|||||||||||||||
|
Insekdoder en bye-vrektes Brokkie inligting bygevoeg in April 2012
’N INSEKDODER wat
baie algemeen gebruik word, is waarskynlik die oorsaak van
die skerp wêreldwye vrekte van bye-kolonies, volgens ’n
studie deur die Harvard School of Public Health in Boston,
Massachusetts, in die VSA. Die bevinding is in April 2012
bekend gemaak. |
|
||
|
Alles wat soos ’n heuningkoek lyk, is nie noodwendig ’n heuningkoek nie. Glo dit, die “koek” REGS is polio-virusse onder die elektron-mikroskoop—dit het hoegenaamd niks met bye te doen nie. ONDER is wel ’n elektronmikrograaf van ’n klompie van ’n by se oogeenhede. Is dit omdat haar baie ogies seshoekig is dat die by niks anders as seshoekige was-selle kan bou nie?
|
![]() Foto bo: CDC / Dr. Fred Murphy Foto links: CDC / PHIL |
|
REGS:
En dié? Baie mense sou seker sê dis die karton- of papieragtige
nessie van ’n soort perdeby, soos ’n mens dit aan takke of oorhangende dakke
vind. Verkeerd! Dis ’n mikrosfeertjie van kristalliete van
die verbinding titaandioksied, soos vergroot deur hipermoderne
tegnologie. Wetenskaplikes sê daar kan van só ’n
kristalstruktuur verwag word om lig baie doeltreffend te versprei.
Foto bo: Sascha Klein, Fred Lange and David Pine, Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara / Met vergunning van National Science Foundation |
||
REGS:
’n
Werklike papieragtige perdebynes. Die boustof vir sulke soorte neste
bestaan uit verrotte en fyngemaakte hout en speeksel. Baie perdeby-
en bysoorte maak egter ook hul nessies of die kweekkamertjies vir
hul toekomstige larwes van modder of klei. Die bepaalde perdeby op
hierdie foto is, sover vasgestel kan word, nie van ons wêrelddeel
nie, maar in vergelyking met ander wêrelddele is Afrika tog
betreklik ryk aan by- en perdebysoorte. In Suider-Afrika alleen is
honderde inheemse soorte wat nie eens in ander dele van Afrika
voorkom nie.
Foto: CEPOLINA.COM / FREEPHOTO |
||
LINKS:
Seskantigheid (die sogenaamde sesvlak of heksagoon) het ook sy
besliste plek in die tegnologie. Hier ondersoek ’n navorser van
die Amerikaanse ruimteagentkap NASA ’n reeks sonspieëls vir ’n
nuwe soort meganiese werktuig. Die
mens het by die heuningby afgekyk om die waarde van die sesvlak
beter te verstaan. Sesvlakke skakel ineen en vul al die beskikbare
ruimte, waardeur ’n sterk struktuur sonder enige gapings tussenin
gevorm word. Vierkante sal ook die ruimte vul, maar nie so ’n
stewige struktuur bied nie. Driehoeke sal ook al die ruimte in
beslag neem en ’n stewige struktuur vorm, maar wat die bye
aanbetref, sou dit vir hulle moeilik gewees het om heuning uit die
skerp hoeke van driehoekige heuningselle te verwyder.Foto: NASA |
||
MAAR
hoe weet bye in ’n korf so presies waar hulle die geilste voorraad
nektar kan kry? Vertel die een dalk vir die ander waar die beste blomme
is? Inderdaad.
Byeboere
was lank dronkgeslaan deur ’n geheimsinnige ritueeltjie wat bye voor
ander bye in die nes uitvoer nadat hulle op ’n versameltog was om nektar
in die hande te kry. Nadat ’n werker ná haar uittog weer in die korf
aangekom het, dans sy in die
vorm van ’n syfer 8 terwyl sy haar agterlyfie swaai. Al die ander bye
versamel om haar asof hulle haar aksies noukeurig bestudeer.
Eers
in die jare sestig van die twintigste eeu het die Oostenrykse Nobelpryswenner en
insektekundige prof. Karl von Frisch ’n aanneemlike verduideliking vir
hierdie rare seremonie aangebied. Hy het gereken dat bye met hierdie dans
’n ingewikkelde stel instruksies aan hul medebye oordra oor hoe om ’n
ryk bron van nektar te vind. Prof. Von Frisch het gespekuleer dat die
rigting waarin die syfer 8 lê die rigting van die voedselbron aandui (met
inagneming van die stand van die son),
terwyl die intensiteit van die waggelings aandui hoe ver dit is.
Die
teorie is egter deur sekere ander geleerdes bevraagteken, deels omdat
hulle nie kon glo dat bye in staat kan wees om só ’n ingewikkelde
boodskap te ontsyfer nie. Daar is gereken dat ’n werker eintlik haar
geur met die dansery versprei sodat die ander haar op die spoor van haar
geur na die nektarbron kan volg.
Maar
onlangs het nuwe proefnemings met radar-opsporing bewys dat die prof. Von
Frisch tog in die
kol was. Die beroemde waggeldans bevat inderdaad inligting oor waar die
nektar is, net soos die professor in die jare sestig gereken het.
Die
dans in die vorm van ’n
8
Hoe
vertel ’n werkerby wat van ’n nektarbron af in die byekorf terugkom
vir haar medebye waar sy die blomme gekry het? Die Oostenryker Karl von
Frisch is met die Nobelprys beloon nadat hy die fantasiese antwoord gevind
het. Hy het vasgestel dat sy dit doen deur vir hulle op ’n heuningkoek
wat ondertoe hang in die vorm van ’n
8 te dans! Sy vertel vir hulle hoe ver die blomme is deur middel van die
aantal swaaie van haar lyf in die reguit deel van die dans. Om die rigting
aan te dui, word die hoek
tussen die kos en die son voorgestel deur die hoek wat die by ten opsigte
van die swaartekrag (of die loodregte lyn) aanneem. Hoewel die son se hoek
voortdurend verander, “weet” die by hoe om haar dans daarby aan
te pas, hoewel sy nie meer die son in die donker korf kan sien nie.