Die noodsaaklikheid van herwinning: Ou buitebande, plastiekgoed, bottels, papier en stukke metaal word nog te dikwels net traak-my-nieagtig weggegooi...

Bande-loos

weggesmyt!

 

Talle ou buitebande saamgegooi

 

Foto: U.S. Department of Transportation

    

’n Hele werf vol ou buitebande is al erg genoeg, maar die berge weggooigoed regom die aardbol is om van te huil. Want waar die mens is, is daar gemors, en dié gemors is meer as net ’n aanslag op die sintuie. Wanneer vullis verbrand word, gee dit gasse af wat die omgewing en atmosfeer besoedel en vergiftig. Vullis is ’n ál groter wordende probleem, maar daar is hoop—as ek en jy net sal uitspring en betrokke raak by herwinning...

 

Die tegnologie is wel beskikhaar om die rubber in ou buitebande te herbenut

BO: Die tegnologie is wel beskikhaar om die rubber in ou buitebande te herbenut (kyk ook die ander foto’s hieroor in hierdie artikel).

Foto: Pacific Norhtwest National Laboratory / U.S. Department of Energy.
  


DIE kreef is darem ’n netjiese kêrel! Kyk net hoe herbenut hy sy dop elke keer wanneer hy "vervel".

 

KreefNamate die jong larwe groei, werp hy van tyd tot tyd die harde skelet aan sy buitekant af. Sodra hy só afgedop het, ontwikkel hy ’n lus vir kalsiumkarbonaat—wat hy inkry deur sy eie versmade dop te verslind, asook die skulpe van ander diere soos molluske of seekastaiings.

 

In die natuur word niks vermors nie. Die produkte van enige natuurproses word in ander natuurprosesse opgeneem. Die blare wat in die herfs van die bome val, verander in voedingstowwe vir Spinnekop en webdie plante. Spinnekoppe vreet dikwels hul eie webbe op en herwin só die proteïen daarin en maak hul omgewing skoon.

 

Dis net die mens wat met sy bedrywighede oortollige stowwe skep wat nie slegs nutteloos is nie, maar baiemaal ook skadelik. Dit word afval genoem.

 

Van die vroegste tye af is die mens ’n rommelmaker. Die beskawing het feitlik sinoniem geraak met die vullishoop. Maar dit is net in die afgelope aantal dekades, en veral sedert die ontwikkeling van die "weggooi"-gemeenskap, dat afval werklik ’n reuse-probleem geword het.

 

Baie mense dink jy kan maar papier weggooi omdat dit gou in die natuur vergaan, en dat plastiek sleg is omdat dit nooit ontbind nie. Navorsing wat in Amerika gedoen is, het egter ’n aantal verbasende feite opgelewer oor wat werklik gebeur met die dinge wat ons weggooi.

 

Ondersoeke by ou vullishope het getoon dat telefoongidse partykeer so te sê onvernietigbaar is. Selfs koerante kan nog gelees word nadat hulle twintig jaar op ’n hoop gelê het.

 

Papier, wat organies is, skep boonop metaangas wanneer dit verrot. Dié is hoogs vlambaar en kan ’n vullishoop selfs laat ontplof. Weggooi-plastiek, daarenteen, hoe onooglik dit ook al is, vorm darem nie gifstowwe wanneer reën daarop val nie. Maar dan weer: die vergaanbare soort plastiek breek wel af tot ’n poeierige stof wat na die watertafel deursypel en dit besoedel.

 

Boonop is water en sonskyn vir die plastiek nodig om te kan vergaan—wat dit nie maklik kan bereik wanneer die plastiekvoorwerpe diep begrawe lê op stortingsterreine nie.

 

Vullis is werklik ’n toenemende probleem. Wat gaan ons dan doen om die lelike vullishope kleiner te maak sonder om die omgewing te benadeel? Een van die beste oplossings lê in herwinning: Om nuttelose afval tot bruikbare produkte te omskep.

 

Só word vandag se koerante môre se ontbytgraanbokse. Vandag se koeldrankbottel word die stopsel in môre se slaapsak.

 

Herwinning help nie net om besoedeling te bestry nie, maar dra ook by tot die bewaring van natuurlike hulpbronne. Dit kan op die koop toe tot groot besparings vir die verbruiker lei.

 

Geskiedenis van herwinning

DIE tegnologie van herwinning bestaan al ’n stuk of 3000 jaar. Glasmakers het glasbottels gesmelt en vervorm sedert hul ambag ontstaan het. Papier was eenmaal skaars én duur, en word reeds honderde jare herbenut. Afvalmetaal word sedert die laat 1800’s hergebruik.

 

In die jare sestig van die twintigste eeu was daar ’n hernieude belangstelling in herwinning. Die mens het terdeë begin besef dat hy besig is om sy natuurlike hulpbronne uit te put en dat van sy fabrieke die omgewing besoedel.

 

Beter georganiseerde metodes vir die sortering en verwerking van herwinbare stowwe het hul beslag gekry. Glasmakers het byvoorbeeld versamelpunte begin vestig waar mense leë bottels en ander glasprodukte kon inlewer.

 

Later het die probleem van weggooiplastiek die bewaringsbewustes aan die dink gesit. Soorte plastiek is toe ontwikkel wat chemies in sonlig kan afbreek of deur die werking van bakterieë.

 

En, betreklik onlangs in Suid-Afrika, het die regering streng maatreëls aangekondig om die gewraakte plastieksakke te verminder wat wyd en syd aan heinings langs die paaie gewapper het.

 

Maar kom ons bekyk die jongste herwinningstegnologie van naderby. Eers kyk ons hoe rubberbuitebande (soos dié op die hooffoto bo-aan hierdie bladsy) herbenut kan word en daarna plaas ons ander herwinbare dinge soos metale, papier, glas, ens. onder die vergrootglas.

 

“Verkrummelde” ou buitebande

BO: Ou buitebande kan “verkrummel” word, waarna dit vir verskeie dinge gebruik kan word— selfs in teerpaaie en (soos HIERONDER gewys word) in tuinslange vir die landbou.

Tuinslange gemaak van ou buitebande

 

Foto’s: NASA

 

Metale

DIE herbenutting van metale bespaar baie geld. Die metaal is immers byderhand en die erts hoef nie nog ten duurste gemyn en verwerk te word nie. Onder die metale wat só hergebruik kan word, is aluminium, staal, koper, goud en platinum.

 

Die volopste bronne van herwinbare aluminium is drankblikkies, tinfoelie-borde, tuinmeubels, geute en deur- en vensterrame.

 

Die aluminium word eers platgedruk om makliker vervoer te word en dan na ’n versmeltingsentrum gebring waar dit versnipper word.

 

Die gedrukte etikette of verf aan die buitekant en die vernis aan die binnekant word met hitte verwyder, en die aluminium in ’n smeltoond gesmelt. Hierna is dit gereed om weer gebruik te word.

 

Metale is baie nuttig deurdat dit oor en oor gebruik kan word.

 

Papier

DAAR is ’n aantal jare gelede al bereken dat Suid-Afrikaners jaarliks 50 kg papier per kop gebruik. Hoeveel Snippermandjie bome nodig is om in die land se geweldige verbruik te voorsien, is ’n goeie vraag. Tog word slegs ’n kleinerige persentasie van ons koerante en tydskrifte herbenut terwyl die res op vullishope regoor die land beland—’n groot skade om die minste te sê.

 

Wanneer papier vir hergebruik bewerk word, word dit in ’n groot vat water geplaas en tot ’n pulp geklop.

 

Reinigingsmiddels word bygevoeg om die drukkersink op te los. Die ink word daarop met water weggespoel, terwyl vreemde voorwerpe soos skuifspelde en vullis deur ’n filtreerskerm verwyder word.

 

Die pulp word dan net soos die oorspronklike houtpap gebruik—nie net om papier te maak nie, maar ook liggewig-karton vir, sê, ontbytgraanbokse, toiletpapier en snesies, papierhanddoeke, bruinpapiersakke, eierhouers en boustowwe soos isolasiemateriaal, pleisterborde en dakbedekking.

 

Hoe ons wen deur papier te herwin
 

Energiebesparing met herwinning van papier
Illustrasie: LBL / U.S. Department of Energy


 

Glas 

VAN  afvalglas  word ’n hele reeks goed gemaak—glashouers, padboumateriaal, noem maar op.

 

Gesmelte glasGebruikte glashouers word eers volgens kleur met die hand gesorteer. Staalvoorwerpe soos deksels word met ’n staalmagneet verwyder. Die glas word dan in ’n breekmasjien vergruis. Papieretikette kom gewoonlik los in die proses en word deur suiging verwyder.

 

Die vergruisde glas word daarop in ’n smeltoond met sand, kalksteen en soda-as versmelt. Die gesmelte glas kan nou in vorms gegiet word vir nuwe houers.

 

Glas is baie geskik vir herbenutting omdat dit nie weens gebruik of ouderdom bederf nie.

 

Bottels

NIE alle glas hoef gebreek te word om herbenut te word nie. Koeldrank- en wynbottels en sekere bottels vir bier en spiritualieë kan vir geld aan supermarkte en drankwinkels terugbesorg word.

 

Daar’s geld in sekere bottels... maar gewoonlik darem nie letterlik soos hier nie!REGS: Daar’s geld in sekere bottels... maar gewoonlik darem nie letterlik soos hier nie!

 

 

 

Plastiek

  

Kyk ook uitgebreide artikel oor plastiek: klik hier

  

DAAR is ’n aantal probleme verbonde aan die hergebruik van plastiek. Eerstens kan nie alle soorte plastiek herbenut word nie. Die harde stof in elektriese muurproppe, om een voorbeeld te noem, kan nie weer gesmelt word nie.

 

Tweedens spesialiseer baie herwinners net in sekere soorte plastiek. Dit beteken dat plastiek voor hergebruik gesorteer moet word—’n arbeidsintensiewe praktyk.

 

PlastiekhouersEn dan moet plastiek ook nog skoon wees om vir hergebruik verwerk te word. Besmetting met ou kos kan ’n gesondheidsgevaar inhou, en klippertjies en sand beskadig die lemme wat in die herwinningsproses gebruik word. Plastiek van munisipale stortingsterreine is dikwels so erg besoedel dat dit nie gebruik kan word nie.

 

Probleme soos dié maak herwinning duur. Nogtans kom plastiekherwinners vorendag met merkwaardige produkte wat van blompotte tot videokassethouers en stortbadgordyne wissel.

Hoe kan jy omgewingsbesoedeling help bestry en toesien dat afval herbenut word?

 

  Probeer om, waar moontlik, nie "rommel" te koop nie. Gebruik jou eie houers as jy kan en koop dinge soos koeldrank in bottels wat weer ingelewer kan word.
 

  Deel jou afval op. Hou die glas, papier, plastiek en metale apart van mekaar en neem dit na versamelpunte of herwinningsdepots.

 
  
Hoor by jou winkelbestuurder vir watter bottels hy jou sal betaal en neem dit soontoe.
 

  Moedig jou skool aan om aan herwinningsbedrywighede deel te neem.

 
  
Koop produkte wat van herbenutte stowwe gemaak is.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad