|
LEES OOK reg onderaan hierdie artikel: |
||
|
Hernubare energie
Die
wenpad vorentoe vir
Waarom ek en jy die ontwikkeling van hernubare energiebronne moet steun ’N MENS kan nie anders as om ten gunste van die ontwikkeling van hernubare energiebronne te wees nie. Die eenvoudige rede is dat dit die enigste manier is waarop die planeet Aarde van ’n katastrofale ekologiese ramp gered sal kan word.
Bewaringsbewustes waarsku lankal dat, as ons voorgaan om nie-hernubare energiebronne (steenkool, olie en aardgas) in die huidige tempo te verbrand, ons spoedig gaan sit met ’n verskrompelde węreld wat weens aardverwarming en besoedeling in ’n nagmerrie-planeet verander het.
Gelukkig is verantwoordelike mense besig om iets aan die saak te doen. Dit blyk onder meer uit ’n verslag van die internasionale liggaam vir die bevordering van hernubare energie REN21 (Renewable Energy Policy Network for the 21st Century).
Daarvolgens het die grootste internasionale maatskappye ook ingespring, en in 2007 is meer as honderdduisend miljoen Amerikaanse dollar (“$100 billion”) belę in produksiebates, vervaardiging, navorsing en ontwikkeling rakende hernubare energie.
Volgens REN21 is dit ’n mylpaal en ’n mens moet saamstem—maar hef aan lę natuurlik nog voor en baie meer sal baie vinnig gedoen moet word.
Hernubare energie: Die verskillende bronne HERNUBARE energie is energie wat verkry word van bronne wat hulself gedurig hernu of vir alle praktiese doeleindes nie uitgeput kan word nie. Waterkrag, sonkrag, windkrag, biobrandstof en geotermiese energie word almal as hernubare energiebronne beskou, asook getyekrag en branderkrag.
(Kernenergie is ekologies vriendelik as dit met die grootste omsigtigheid gehanteer word, maar of dit as “hernubaar” beskou moet word, is debatteerbaar. Uraan wat “verbrand” is, kan immers nie “hernubaar” wees nie. En terwyl sekere navorsers reken dat die wesentlike herwinbare uraanvoorrade genoeg is om tot duisend jaar lank benut te word, is daar ander wat te kenne gee dit is slegs sowat vyftig jaar. En wat dan?)
• Maar vir eers kyk ons na waterkrag as ’n herwinbare energiebron. Daar kan wel gevra word hoe dienlik dit vir ons eie węrelddeel is. Waterkragsentrales skakel natuurlik die krag van water—dit wil sę die energie van vloeiende of opgegaarde water—om in elektrisiteit. Die water word deur middel van pype of ’n waterloop na turbines gelei, wat elkeen ’n generator aandryf om elektrisiteit te lewer.
Waterkrag is volhoubaar solank daar water is, maar ons deel van die aarde is ongelukkig baie droog. Hidroëlektriese stelsels (soos dit genoem word) word wel in Suid-Afrika by die Gariep- en Vanderkloofdam bedryf, maar hulle voorsien minder as een persent van Suid-Afrika se elektrisiteit.
Maar die meestal droë Suid-Afrika kan nie juis hoop om sy eie hidroëlektriese kragopwekking verder veel te verhoog nie, behalwe deur projekte in meer waterryke buurstate soos Mosambiek en selfs uit die berge in Lesotho.
• Wat sonkrag aanbetref, is daar op die oomblik hoofsaaklik drie beproefde maniere waarop ons die son se energie tegnologies tot ons voordeel kan gebruik, naamlik deur middel van: 1. sonselle; 2. waterverwarming met die hitte van die son; 3. sonoonde wat water in stoom verander sodat die stoom op sy beurt kragopwekkers aandryf.
Foto: NREL / U.S. Department of Energy
Baie geleerdes stem saam dat al drie hierdie maniere terdeë deur die mens ingespan behoort te word—die eerste twee veral deur huishoudings en sake-ondernemings, en die derde manier deur groot kragverskaffers soos Eskom. Daar is baie son in die Karoo! En die vooruitsigte lyk belowend.
• Wind gaan aanvanklik in ’n beperkte mate vir elektrisiteitsopwekking in Suid-Afrika ingespan word, ná belowende proefnemings op Eskom se eksperimentele windplaas by Klipheuwel naby Kaapstad. ’n Windaanleg by Darling is in aanbou, terwyl Eskom vanjaar (2008) ’n groot lening by ’n Franse ontwikkelaar bekom het om te help met die bou van nog ’n windprojek by Koekenaap aan die Weskus.
Foto: NREL / U.S. Department of Energy
Die benutting van windkrag is niks nuuts nie. Windmeulens is immers sedert die Oudheid gebruik om graan te maal, vroeër ook in ons land. Vandag sorg windkragsentrales internasionaal vir elektrisiteitsopwekking in veral kusgebiede, op eilande en op uitgestrekte vlaktes waar daar genoeg wind is. Dog die moontlikhede bly ongelukkig beperk.
• Biobrandstowwe is vloeibare brandstowwe wat van eietydse organiese materiaal gemaak word (byvoorbeeld mielies, maar ook klapperolie, sonneblomolie, of selfs ontbindende organiese afval). Dit is in teenstelling met fossielbrandstowwe wat die produkte is van plantaardige of dierlike materiaal wat eeue der eeue gelede neergelaat is en gefossileer het.
Vandag se belangrikste biobrandstowwe is etanol en biodiesel. Biobrandstowwe kan die vrystelling van giftige stowwe in die atmosfeer en ons afhanklikheid van olie help verminder.
Teenstanders van die ontwikkeling van biobrandstof wys egter daarop die prys van mielies duidelik verhoog het omdat die gewas vir brandstof aangeplant word pleks daarvan om as kos te dien. En dit het op sy beurt ’n beduidende invloed op die prys van kos in die algemeen, trouens, dit het in die afgelope tyd tot ’n węreldwye voedselpryskrisis gelei.
Dit is sulke besware wat, ten minste tydelik, ’n stokkie gesteek het voor die verbeeldingryke planne van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy om binne afsienbare tyd agt etanolfabrieke—soortgelyk aan sulke aanlegte in Amerika—in die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga op te rig.
• Brandstof uit water! Koddig soos dit ook al vir die leek mag klink, kan ’n motor heel gerieflik met water loop pleks van petrol. Goed, nie water op sigself nie, maar ’n bestanddeel van water. Hierdie stof is waterstof, wat met suurstof verbind om water te vorm. Water kan met behulp van elektrolise (dit beteken om ’n elektriese stroom deur die vloeistof te stuur) in sy twee komponente opgebreek word en die waterstof kan dan in houers geberg word vir gebruik in motors.
As byvoorbeeld sonkrag gebruik word om elektrisiteit op te wek en die elektrisiteit aangewend word om waterstof te verkry, het ons ’n volhoubare, skoon energiebron in die oortreffende trap. Want as waterstof verbrand, vorm dit mos niks anders as, nou ja, water nie!
Die groot probleem is egter nog dat waterstof hoogs plofbaar is en maniere bedink moet word hoe om dit behoorlik te beveilig vir gebruik in motors.
• Lees ook reg onderaan hierdie artikel van Suid-Afrika se eerste waterstof-aangedrewe fiets!
Laat wiel met waterstof!
REGS: Daar’s water in die tenk! Of liewer ’n bestanddeel van water, naamlik die brandbare gas waterstof (Engels “hydrogen”).
Foto: White House / U.S. Gov.
• Geotermiese energiebenutting is die proses waar warm water van diep uit die aarde se “maag” gebruik word om in mense se energiebehoeftes te help voorsien. Sulke installasies word in die reël opgerig op plekke wat aktiewe vulkaanaktiwiteit ondervind of wat naby vulkaniese gebiede lę.
Dit sluit Suid-Afrika uit.
• Getyekrag en branderkrag: Met die styging en daling van die seevlak kan bewegende water net soos in ’n hidroëlektriese kragsentrale gebruik word om turbines vir kragopwekking te laat draai. Hoewel dit nog nie wyd gebruik word nie, hou getyekrag groot moontlikhede in vir toekomstige elektrisiteitsopwekking.
Krediet: MMS / U.S. Dept of Interior
Branderkrag (of golfkrag) verwys weer na die energie van die golwe op die oppervlak van die see en hoe die reëlmatige op- en afbeweging van die water gebruik kan word, onder meer om elektrisiteit op te wek. Geen kommersiële golfkrag-installasie is egter nog opgerig nie.
Hernubare energie se voordeel vir ’N MENS kan jou dit voorstel: weg is die dralende, verstikkende steenkooldampe wat soos wasige smoorkomberse oor die aarde hang. Weg is die uitlaatgasse van petrol wat die vlak van die kooldioksied in die atmosfeer die hoogte injaag. In die plek daarvan is skoon lug of waterdamp of net die koolstofdioksied wat van biobrandstof kom—’n normale komponent van die koolstofkringloop in die natuur.
Met ’n genoegsame hernubare energievoorraad sal ons in staat wees om die kweekhuiseffek en aardverwarming teen te werk, om die brose ewig te herstel in die natuurlike gee-en-neem-prosesse in ons ekologiese omgewings.
En, les bes, sal die mens weer in staat wees om vry asem te haal—in meer as een opsig—in hierdie wonderlike ondermaanse węreld wat aan hom toevertrou is om te vul en te beheers.
|
||