|
Knope en ritssluiters
IE woord
“knoop” lyk en klink byna soos “knop” en niemand hoef
ons te oortuig dat daar ’n verwantskap tussen hierdie
woorde bestaan nie. Of dit taalkundig wel so is, is
moeilik om vas te stel. Maar, om ’n byna absurde
vergelyking te tref, kyk maar na ’n mooi,
bolvormige brons-deurknop en ’n ewe blink, bolvormige
geelkoper-knopie aan ’n swierige jas. Hulle kan straks baie dieselfde
lyk—behalwe natuurlik dat die deurknop veel groter is!
|
Hoekom verskil die rye knope aan die klere vir mans en
vroue?
WAAR
kom die gebruik vandaan dat die rye knope aan mansklere
aan die menere se regterkant moet sit, maar by vrouekere
aan die skones se linkerkant moet wees?
Oor mansklere se knope is daar die ou storie dat dit
terug te voer is na die dae van swaardgevegte. Die mans,
wat meestal hul swaard met hul regterhand sou uitpluk,
kon nie nog die risiko loop dat die swaard se punt in ’n
knoopsgat aan die regterkant vassteek nie. Of so iets.
Omdat die juffers nie swaarde gedra het nie, sou die
knope nie vir hulle hoef te gelê het soos vir die kêrels
nie.
Maar daar is ook ’n ander vertelling. Dit lui dat, toe
knope vir klere uitgevind is, hulle duur was en
hoofsaaklik deur die rykes gedra is. Omdat die meeste
mense regshandig is, is dit makliker om knope aan die
regterkant deur gate aan die linkerkant te druk.
Aangesien welgestelde vroue deur hul diensmeisies
aangetrek is, het kleremakers die knope aan die
diensmeisie se regterkant geplaas. En dis
waar vroue se knope vandag nog is.
Hoeveel waarheid in al die bogenoemde steek, bly egter
’n ope vraag. ’n Mens kan sê dit is nie so maklik om
hierdie knoop te ontwar nie! Maar die konvensie het bes
moontlik wel by die kleremakers ontstaan. Hullle moes darem die
een of ander onderskeid behou tussen
mans- en vroueklere wat oor die jare heen dikwels al hoe
meer dieselfde begin lyk het.
|
In die klere-
en modewêreld is ’n knoop egter gewoonlik nie so
koeëlrond nie, maar meestal ’n
skyfie, wel rond maar platterig. Dit sal dikwels
as versiering
dien, maar word gewoonlik ook gebruik om ’n spleet of
opening in ’n kledingstuk tydelik te heg. Om dit
moontlik te maak om ’n knoop aan materiaal vas te werk,
word twee of meer gaatjies tydens die vervaardiging in
die knoop gemaak.
In die aksie
om “toe te knoop” word die knoop, wat aan die een kant
van die opening aan die materiaal vasgewerk is, deur ’n
langwerpige gaatjie of sogenaamde knoopsgat aan die
ander kant van die opening geskuif. Op daardie plek word
die materiaal dan geheg totdat die knoop later weer uit die
knoopsgat geskuif word.
Knope is
dikwels van plastiek of glas, maar kan ook van baie
ander stowwe gemaak word, soos hout, ivoor, skulp,
eintlik te veel dinge om op te noem.
Die knoop met
knoopsgat soos ons dit vandag ken, het blykbaar maar
eers in die Middeleeue ontstaan, hoewel knoopvormige
voorwerpe al duisende jare te vore bestaan het en
kennelik aanvanklik gebruik moet gewees het om te
versier. Sulke knope is in opgrawings in verskillende
wêrelddele gevind, hoewel ’n mens natuurlik versigtig
moet wees om nie knope en krale te verwar nie. Krale kon
dikwels min of meer bolvormige klippertjies of so iets
gewees het wat in snoere ingeryg is, maar plat skulpies
of stukkies volstruiseierdoppe is ook só ingesnoer.
Knope sou iets moet gewees het wat miskien net so aan ’n
kledingstuk geheg is om dit mooier te laat kyk.
Dit was
nietemin eers in die dertiende eeuse Duitsland dat
die knoopsgat sy verskyning gemaak het, waarna dit spoedig
verder in Europa versprei het vir die hegting van die
knope aan die noupassende klere van daardie tyd. En
vandag lewe ons as ’t ware in ’n heeltemal aanmekaargeknoopte wêreld!
•
NET soos die meeste knope aan klere is die taak van
ritssluiers ook om “toe te hou wat oop is” sover dit die
mens se kledingstukke aangaan. Die ritssluiter hou egter
baie meer toe as ’n ry knope! Ritssluiters hou boonop
ook beursies, handtasse, reistasse en baie ander dinge
dig toe.
|
REGS:
’n Ritssluiter wat al op die maan was. As die beskikbare
inligting korrek geïnterpreteer word, was dit ’n deel
van die lugdrukmeganisme in die ruimtepak wat een van
die Amerikaanse Apollo-ruimtemanne gedra het toe hulle
destyds op die maan rondgeloop het.
Foto: NASA
|
’n
Ritssluiter bestaan uit twee rye plaatjies, van metaal,
harde plastiek of die een of ander sintetiese stof. Aan
die een kant is daar tande en aan die ander kant
inkepings. Hierdie plaatjies kan saamgevoeg of geskei
word deur ’n lippie aan ’n sluitplaatjie te trek.
Wanneer ’n ritssluiter toegetrek word, word die tandjies
telkens oor die bokant van die teenoorliggende plaatjies
gehaak. Die inkepings in die volgende plaatjies hou die
ritssluiter dig (kyk die animasie boaan hierdie
artikel).
Hoewel iets
wat ’n mens aan die ritssluiter herinner in 1851 deur
ene Elias Howe in Amerika gepatenteer is, is die ware
ritssluiter die produk van ’n reeks verbeterings oor
meer as twee dekades deur verskillende mense. Die proses
het begin met ’n “klemsluiter” wat deur die Amerikaner
Whitcomb L. Ludson uitgevind is, maar dit was die
Amerikaner Otto Frederick Gideon Sundback (Gideon genoem
en ’n gebore Sweed) wat in 1914 ’n weergawe met
sluitende tande ontwerp het wat in alle wesenlike
opsigte die moderne metaal-ritssluiter was.
Spykers
REGS: ’n Hamer en spykers.
Illustrasie:
Openclipart.org Public Domain Image
ANNEER ’n
Afrikaanssprekende van “nael” praat, kan een van
verskillende dinge bedoel word. Die spreker kan verwys
na die horingagtige bedekking vooraan ’n mens se vingers
en tone—of na die betreklik klein ronde duik in die
middel van ’n mens se buik. Of, indien dit as ’n
werkwoord gebruik word, beteken dit dat daar besonder
vinnig gehardloop word.
Maar daar is
natuurlik ook nog ’n vierde soort nael en dit is die gewone
ou spyker. Die Engelse praat mos ook van spykers as
“nails”. Die spyker—’n metaalpen met ’n plat kop aan die een
kant en ’n skerp punt aan die ander—is die eenvoudigste
stuk gereedskap om stukke hout en ander minder harde stowwe aan
mekaar te heg. Dit word óf deur die mensehand met veral
’n hamer ingekap óf miskien deur middel van ’n plofaksie
in die hout, of wat ook al, ingeskiet.
Dit is verder
interessant dat waar die Nederlanders nog ’n onderskeid
kan tref tussen “spijkers” (van smeedyster) en
“draadnagels” (meestal van staal gemaak), dit wil lyk of
Afrikaansspekendes ten minste in hul gewone
gesprekvoering geen besonderse verskil in dié verband
maak nie. “Spyker” is verreweg die woord wat die
meeste gebruik word om enige van hierdie soort
hegmiddels aan te dui. Sy sinoniem, “nael”, hoor ’n mens
selde indien ooit—behalwe wanneer dit met “klink”
gekoppel en daar van “klinknaels” gepraat word.
Die
klinknael, ’n familielid van die spyker, is ’n soort
stomp spyker, dikwels met ’n holte aan die binnekant,
wat aan die een kant omgeklink word.
Die spyker op
sigself is ’n horingoue hegmiddel. Wie die eerste ’n dun,
skerp
metaalpen geneem en dit moontlik met ’n klip in ’n stuk
hout ingehamer het, kan niemand op aarde vandag weet
nie. Ons lees wel in die Bybel (I Kronieke 22:3) dat
koning Dawid yster vir spykers gereed gemaak het toe hy
toebereidels gemaak het vir die bou van Salomo se
tempel. Hierdie tempel is in 960 v.C. voltooi, maar in
586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes.
Tot en met die 1700’s n.C. is alle spykers met die hand
gemaak. Hulle is vervaardig deur vakmanne wat gesorg het
dat elk van die ysterstafies, wat deur ander werkers uit
groter ysterstawe gesny is, ’n kop en ’n skerp punt kry.
In die 1800’s, nadat spykersny-masjiene uitgevind was,
is sekere spykers nog met die hand gemaak, maar die met
die hand gemaakte spyker het geleidelik van die toneel
verdwyn totdat dit aan die einde van daardie eeu omtrent
nie meer te kry was nie.
Daar is baie
verskillende soorte spykers, soos stoffeerspykers,
konstruksiespykers, ens.—eintlik ’n ellelange lys. Ons
kan sê spykers is noodsaaklike hegmiddels van wisselende
groottes wat die mens deur sy hele lewe en tot in die
dood vergesel,
van die metaalpenne in die houtbalke van die dak bokant
sy kop in die kraamsaal tot die laaste spykers in die
roef (deksel) van die doodkis.
Kopspelde en haakspelde
OLGENS die
spreekwoord kan dit so stil wees dat jy ’n speld kan
hoor val, wat aandui dat spelde maar klein dingetjies
is. Maar spelde is nie nietige dingetjies nie—en hulle
is beslis nuttige dingetjies!
Kopspelde,
wat sowat 2 cm lank of iewat langer is, is in die meeste gevalle van
staal of yster, maar soms ook van geelkoper. Vroeër dae
is spelde dikwels van geelkoper gemaak. ’n Kopspeld is
eintlik ’n stukkie dun harde draad waarvan die punt verskerp
is, met ’n kop wat aan die ander ent gevorm is—baie soos
vir ’n spyker. Spykers se koppe is egter in die reël
plat (om ingehamer te word), maar speldekoppe is gerond
(om ingesteek te word). Party kopspelde het
plastiekkoppe, lig of donker of selfs in allerhande
verskillende kleure.

Spelde is al voor 2000 v.C. deur die mens
gebruik. Die ou Sumeriërs het spelde van yster en been
gemaak om klere bymekaar te hou. Vandag gebruik
kleremakers nog gereeld kopspelde om stukke
kleremateriaal in posisie te hou terwyl die materiaal
aanmekaargestik word.
’n Baie belangrike gebruik van kopspelde in
ons tyd is om velle papier bymekaar te hou. Die speld word
in die reël in die boonste linkerhoek van die
papierstapeltjie twee maal ’n klein entjie van mekaar
deur die stapeltjie gesteek sodat die kop en skerp punt
altwee aan die bokant van die stapeltjie eindig.
Om kopspelde
maklik te berg maar steeds gou byderhand te hê, kan
hulle in ’n sogenaamde speldekussing ingesteek word.
•
Die haakspeld is ’n hegmiddel wat deels maar net ’n gewone
prikspeld is, met die verskil dat daar aan die kopkant
geen kop is nie maar ’n eenvoudige veermeganisme, gevolg
deur ’n draadverlenging wat parallel met die speld loop
en in ’n hol metaalhakie eindig. Wanneer die punt van
die speld in die metaalhakie ingedruk word, sorg die veer
dat die meganisme gesluit by, terwyl die hakie keer dat
die skerp punt die gebruiker seermaak.
Haakspelde is ontbeerlik vir die vasmaak van die
tradisionele babadoeke en het nog verskillende ander
gebruike, soos om tydelik knope te vervang wat van klere
afgebreek het.
Navorsers reken die Miceners in die Griekse wêreld van
die Oudheid was die eerste mense wat haakspelde gebruik
het. Trouens, hulle het ’n meganisme gehad wat hulle ’n fibula genoem
het en die een wat op die foto hier regs onder verskyn, toon
onweerlegbare ooreenkomste met vandag se haakspeld.
 |
 |
|
REGS:
’n Fibula uit die Oudheid. Dié een is mos ook maar net
’n
haakspeld!
Detail van ’n foto deur
Shawn Michael Caza,
wat die oorspronklike weergawe op
hierdie bladsy in die
Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
uitgeplaas het en dit gelisensieer het
ingevolge die
Creative Commons
Attribution-ShareAlike 2.5-lisensie |
Die
Amerikaanse uitvinder William Hunt (1796–1859) het die
haakspeld heruitgevind en dit in 1849 gepatenteer. Hunt
was ook een van die groot name in die ontwikkeling van
die naaldwerkmasjien.
Hy het die regte van sy veiligheidspeld
(“safety pin”) vir $400 verkoop. Só ’n bedrag was destyds darem
’n goeie entjie meer werd as vandag se vierhonderd
Amerikaanse dollar, maar
dit sou nog honderd keer meer moes gewees het om hom so
ryk te maak as ’n hedendaagse Amerikaanse “miljoenêr”
(van wie daar in 2008 glo 6,7 miljoen in die VSA was,
omdat inflasie natuurlik sy deel gedoen het om ook die
waarde van hierdie geldeenheid te laat krimp).
Hunt het duidelik nie
naastenby besef hoe waardevol sy haakspeld eintlik was nie.

BO:
Haakspelde deur ’n oorlel... ’n deel van
die Punk-kultuur.
Foto deur
“Sand”,
wat dit tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”)
Skroewe en boute
KROEWE se
een baie belangrike funksie is om stukke hout of ander
minder harde stowwe aan mekaar te heg. Anders as ’n
spyker, wat glad en reguit is, het die pen van ’n skroef
’n spiraaldraad aan die buitekant wat sterker hegting
verseker.
Die
bout en moer word weer onder meer gebruik om twee stukke
metaal of twee metaalvoorwerpe dig aan mekaar te koppel.
Die pen van die tipiese bout sal onder die kop ’n
taamlike entjie ver sonder ’n spiraaldraad wees, waarna die
draad begin en by ’n stomp punt eindig. Die moer word in
die spiraaldraad ingedraai en vasgedraai nadat die bout
deur gate in die verskillende metaalstukke gesteek is.

Illustrasie:
Pearson Scott Foresman,
wat dit tot openbare besit verklaar het (“released into
the public domain”)
In die
Oudheid is ’n skroef gebruik as ’n deel van ’n
skroefpomp wat deur Sanherib, koning van Assirië
(705-681 v.C.), vir die waterstelsels by die
Hangende Tuine van Babilon
en Nineve aangewend is.
Teen die eerste eeu
v.C. is houtskroewe regdeur die wêreld aan die
Middellandse See in toestelle soos perse vir olie en
druiwe gebruik. Volgens een bron het metaalskroewe as
hegmiddels eers in die 1400’s hul verskyning in Europa
gemaak. Die eerste handskroewedraaiers het in die 1800’s
in gebruik gekom.


Die
skroefpers
Krediet:
Fromoldbooks.com / Public domain image (gewysig)
LINKS:
Die skroef word nie net as hegmiddel aangewend nie, maar
kan ook gebruik word om krag te kanaliseer, soos in
hierdie skroefpers. Die krag wat toegepas word met die
rotasie van ’n draaihandvatsel, word afwaarts in ’n
groot drukking omgeskakel. Die skroefpers is waarskynlik
eerste deur die ou Romeine uitgevind, en dit is
hoofsaaklik in die produksie van wyn en olyfolie
gebruik. Ook in die
drukpers van Johannes Gutenberg
(in die 1400’s) is die
skroefpers-beginsel toegepas om papier só op geïnkte
letters te druk dat die ink ’n egalige en netjiese
impressie op die papier gelaat het.
•
Die
meganiese domkrag
waarmee ons ons motors ophys om pap bande deur styf
gepomptes te vervang, werk eweneens op hierdie
manier—danksy die skroef.
|
Hoekom is
’n domkrag “dom”?
OP
Engels ken ons die domkrag as ’n jack.
Jack wie? kan ’n mens byna vra. Die
Nederlanders noem dit ’n dommekracht,
dog hulle praat ook van die “domme
verliefheid” van ’n kêrel wat die skoot hoog
deur het. Op Sweeds is ’n domkrag
domkraft, op Duits
is dit ein Wagenheber
en op
Frans is dit cric
(vergelyk ons eie woord krik).
Maar waarom sou ons, die Nederlanders en die
Swede hierdie werktuig
“dom” noem? Dit bly ’n interessante
vraag! Selfs raaiselagtiger is die
Nederlanders se ander name vir die domkrag:
kelderwinch, kelderwijn en ook
keldervijs. Wat op aarde het byvoorbeeld
’n kelder en wyn met ’n domkrag te doen?
Tale se woorde kan soms baie, baie
eienaardig wees...
|
|