|
Ons
hawens
BO: Die Kaapstadse middestad soos gesien vanuit die Kaapse hawe. Foto: Walter Knirr © South African Tourism / SA Toerisme |
|
|
Maar
hoe het al hierdie dinge vanuit die buitewęreld hier in Suid-Afrika
gekom? Die armhorlosie het ’n ryk familielid miskien op ’n besoek aan
Switserland vir jou gekoop en dit per vliegtuig die land binnegebring.
Maar die ander goedere moes per skip hierheen vervoer word. Dog
as ons nie hawens gehad het waar die skepe kon aandoen nie, sou dit mos
bitter moeilik gewees om al hul vragte aan land te kry! En
hoe sou ons andersyds sonder ons hawens ons land se menigte
uitvoerprodukte na die buiteland kon verskeep het? Suid-Afrika
se ses belangrikste kommersiële hawens is dié van Durban,
Richardsbaai, Kaapstad, Saldanhabaai, Port Elizabeth en Oos-Londen. Dan
is daar ook nog die hawe van Mosselbaai met sy aardgas-bedrywighede en
die hawe van die vissersdorp Port Nolloth, wat voorrade vir die
diamantdelwerye by Oranjemund hanteer. Simonstad,
suid van Kaapstad, is ’n vlootbasis en -opleidingsentrum wat ook
vermeldingswaardige hawegeriewe het. ’n Belangrike nuwe Suid-Afrikaanse diepwater-hawe, Ngqura, word tans 20 kilometer noordoos van die Port Elizabethse hawe aangelę—aan die mond van die Coega-rivier in Algoabaai. In die begin van Oktober 2009 het Ngqura sy eerste kommersiële besoeker verwelkom toe die vragskip MSC Catania daar vasgemeer het. (MSC staan vir die Mediterranean Shipping Company, een van die węreld se toonaangewende houerskip-rederye, wat aan die Italiaanse sakeman Gianluigi Aponte en sy familie behoort.) Groot verwagtinge word gekoester oor die uitwerking van dié nuwe hawe op die grootliks arm en onderontwikkelde Oos-Kaap. Watter gevolge dit vir die naby geleë Port Elizabethse hawe sal hę, sal egter nog gesien moet word. Daar word darem gesę dat die twee hawens sal saamwerk om vrag te hanteer. Wat
die bestaande groot hawens aanbetref, is dié van Saldanha, Durban en
Richardsbaai beskutte
hawens. Die Oos-Londense hawe lę aan die mond van die Buffelsrivier in
die Oos-Kaap, terwyl die hawens van Kaapstad en Port Elizabeth in oop
baaie gebou is. Die
vaargeule van Suid-Afrika se hawens moet voortdurend of periodiek
gebagger word (dit beteken dat modder met ’n baggermasjien onder die
water uithaal moet word). Daar is ook seewerings en seebrekers. Die
kaaie in die hawens (gemesselde aanlęplekke vir skepe) is altesame
sowat 36 kilometers lank en akkomodeer minstens 170 ankerplekke vir
skepe van alle groottes. Elke
groot hawe het tradisioneel ’n belangrike gespesialiseerde rol in
Suid-Afrikaanse uitvoere gespeel. Durban hanteer byvoorbeeld algemene
vrag, veral graanuitvoere. Kaapstad spesialiseer in die uitvoer van
sagte vrugte, wyn en groente. En Saldanhabaai is spesifiek gebou vir die
uitvoer van mineraalerts wat van die Noord-Kaap kom. Suid-Afrikaanse
hawens het ook ’n belangrike
rol in ons geskiedenis gespeel. Die Tweede Węreldoorlog het nogmaals
die belangrikheid van die Kaapse seeroete beklemtoon en die getal skepe
wat ons hawens tydens die oorlog besoek het, het dramaties gestyg.
Die
Suid-Afrikaanse hawens is nou in ’n oorgangsfase vanweë
privatiseringsmaatreëls wat op doeltreffender vraghantering en die
skepping van broodnodige infrastruktuur gemik is. Terselfdertyd
bly elke hawe die eiendom van korporasies wat deur die staat besit word.
Dit skep op sy beurt ’n sin van stabiliteit en sekerheid. Die verskillende hawens word hieronder kortliks besoek...
BO: Skepe in die Durbanse hawe. Foto: Walter Knirr © South African Tourism / SA Toerisme
Durban DIE plan om ’n hawe by Durban aan te lę, het in 1824 ontstaan
toe die eerste Europese setlaars hier geland het met die doel om ’n
handelspos te vestig. Durban se eerste hawemeester is in 1839 of 1840
aangestel (ons is vandag nie meer seker presies wanneer nie) en dit is
waarskynlik korrek om dit as die hawe se geboorte te beskou. Die
Durbanse hawe dra vandag die grootste volume van seeverkeer in Suidelike
Afrika. In die boekjaar
2006/07 is
altesame 4 545 seeskepe gehanteer—sowat ’n derde van al die skepe wat by
Suid-Afrikaanse hawens aangedoen het. Die Durbanse motor-skeepsterminus is die grootste invoer- en uitvoerfasiliteit vir die motorbedryf in die land. In die begrotingsjaar 2005/06 het dit 386 062 motoreenhede gehanteer. Die hawe is heeldag, heelnag en die hele jaar deur in bedryf. Die ingangskanaal word tans verdiep en verbreed om dit veiliger te maak en groter skepe toe te laat. Die oorspronklike diepte en breedte—12,7 meter met laagwater en 122 meter—word tot ’n minimum van 16 meter en 220 meter onderskeidelik uitbrei. Die mikpunt vir die voltooing van die werk is die einde van 2009. Durban
het vyf diepsee- en twee kus-houeraanlęplekke en bied 15195 meter
kaairuimte vir handelskepe. Hier is ook herstelgeriewe, waaronder ’n drywende droogdok.
BO: Die hawe van Richardsbaai. Foto: Stephen Pryke © South African Tourism / SA Toerisme
Richardsbaai
RICHARDSBAAI is Suid-Afrika se voorste hawe vir massavraghantering en is baie modern. Dit is in 1976 vir die uitvoer van steenkool gebou en is sedertdien vir ander massavragte uitgebrei. In die boekjaar 2005/06 het Richardsbaai 1735 skepe gehanteer. Altesaam 89.256.108 ton vrag is in hierdie tyd verwerk. Die
hawe kan massavragkarweiers van tot 250 000 ton hanteer en het vyf aanlęplekke
vir algemene en massavragte, asook ’n aanlęplek vir steenkool. Dié
hawe word ook dag en nag bedryf.
Kaapstad
KAAPSTAD as nedersetting dateer van 6 April 1652 toe die
Nederlander Jan van Riebeeck in Tafelbaai aan wal gestap het om ’n verversingspos vir skepe na en van Nederlands-Oos-Indië te vestig. Die
hawe het met die eeue saam voortdurend ontwikkel. Die
Kaapse hawe is die beroemdste hawe in Afrika, en die Kaap is natuurlik
een van die mooiste plekke op aarde. Passasiersvaartuie raak dan ook ál
belangriker namate al hoe meer toeriste die Skoonste Kaap besoek. Baie
van die passasiersvaartuie wat nie te groot is nie, maak van die
Waterfront met sy bykomende toeriste-attraksies gebruik. Die
Kaap het een van die grootste droogdokke in die Suidelike Halfrond, met
vyf aanlęplekke vir houervaartuie en karweiers van gewone vrag, asook ’n
pier vir kusverkeer en uitgebreide skeepsherstelgeriewe. Die hawe in
Kaapstad het ’n wateroppervlakte van 112,7 hektaar. Die hawe is dag en nag oop, maar sterk winde kan die bedrywighede kortwiek. In die boekjaar 2005/06 is 3 400 vaartuie gehanteer. Die gehanteerde vrag (houers inbegrepe) was ’n geraamde 13 666 735 ton.
Port
Elizabeth
DAAR was
’n tyd, in 1877, toe Port Elizabeth tot die belangrikste
hawe in Suid-Afrika ontwikkel het. Dit was sowat ’n halfeeu nadat dit
hawestatus gekry het met die aanstelling van ’n hawemeester in 1825 (ná
die aankoms van die Britse setlaars in 1820). Die
landbou het nog altyd ’n belangrike rol in die hawe se bedrywighede
gespeel, veral wat die hantering van sagte vrugte en sitrusvrugte en die
jaarlikse wolskeersel aanbetref. Vandag
bevat die ingeslote oppervlakte van Port Elizabeth se hawe—sowat 115
hektaar—meer as 3400 meter kaairuimte vir handelsvaartuie en ’n houerterminaal met twee aanlęplekke. Geriewe by die hawe sluit in
’n meganiese ertshanteringsinstallasie wat tot 1500 ton per uur kan hanteer
en ’n voorkoelruim van 7500 kubieke meter. Die
hawe het in die boekjaar
2005/06 altesame
1 390
skepe gehanteer. Die vrag wat gehanteer is, het ’n geraamde
8.122.735
ton
beloop Die
hawe se dienste is 24 uur per dag beskikbaar. SaldanhabaaiSALDANHABAAI, 110 kilometer noordwes van Kaapstad, het die
grootste hawe aan die weskus van Afrika en een van die beste natuurlike
hawens ter węreld. Met ’n hawe-oppervlakte van sowat 5000 hektaar is
Saldanhabaai se hawe groter as die gesamentlike oppervlaktes van die
hawens van Durban, Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen. Saldanabaai
is reeds eeue lank bekend as ’n aandoenplek vir skepe, maar die
vasmeerplek is sowat ’n kwarteeu gelede eers in ’n moderne hawe
omgeskep. Die eerste ystererts is so onlangs as in 1976 uitgevoer, maar
sedertdien is ’n paar honderd miljoen ton erts hiervandaan verskeep. Die
erts word per spoor van myne naby Sishen in die Noord-Kaap na Saldana
gebring. Die hawe kan ertskarweiers van 350 000 ton hanteer. In die boekjaar 2005/06 was die hawe van Saldanhabaai met altesame 537 skepe gemoeid. Die gehanteerde vrag het altesame 36.664.303 ton beloop, insluitende olie. Die hawe word 24 uur per dag beheer.
BO: Skepe en bote in die Oos-Londense hawe. Foto: Hein Von Hörsten © South African Tourism / SA Toerisme Oos-Londen
HOEWEL die Oos-Londense hawe die kleinste van die groot hawens
is, het dit ’n massiewe graan-hystoestel met ’n kapasiteit van 76 000 ton. Oos-Londen behartig landbou-uitvoere en is die
hoofuitvoerder van koper uit ander Afrika-lande soos Zambië en die
Demokratiese Republiek van die Kongo (Kinshasa). Oos-Londen se
oorspronklike naam was Port Rex. In die boekjaar 2005/06 is altesame 399 skepe hier gehanteer. Die vrag (raming vir houers ingegrepe) het 2.337.166 ton beloop. In dieselfde tyd is 55 480 motoreenhede deur die motor-skeepsterminus gehanteer. Marinedienste
is tussen 06h00 en 22h 00 beskikbaar.
Mosselbaai
DIE Mosselbaaise hawe is meestal vir visvangste en hanteer weinig ander kommersiële vrag, hoewel die visbedryf ekonomies belangrik vir die Suid-Kaap is. Al hoe meer skepe vir die ontluikende Mossgas-oliebedryf doen egter hier aan. In die boekjaar 2005/06 is 2323 vaartuie, meestal vissersbote, hier gehanteer. Die gehanteerde vrag was altesame 1.483.234 ton. Mosselbaai
se geskiedenis as vasmeerplek het reeds in 1488 begin toe die Portugese
ontdekkingsreisiger Bartholomeu Dias hier aan land gekom het. (’n
Interessante syspoortjie: Dias, die eerste seevaarder wat die lang
gesogte suidpunt van Afrika omseil het, se kennismaking met die
Khoi-Khoi het ’n ongelukkige voorval tot gevolg gehad. Omdat die
Portugese en inboorlinge nie mekaar se tale kon verstaan nie, was die
ontmoeting gewelddadig: die Khoi-Khoi het die Dias-manne wat by ’n stroom kom water skep het, onder die klippe gesteek. Dias het uit
selfverdediging een met ’n kruisboog doodgeskiet en die ander het toe
gevlug.) Mossgas het in die laat 1980’s in Mosselbaai tot stand gekom ná die ontdekking van ontginbare aardgas-reserwes onder die see.
Port
Nolloth MET sy smal, vlak ingang—en aanvanklik in die 1850's aangelę
vir die uitvoer van koper van die myne naby O'Kiep—hanteer die Port
Nollothse hawe vandag net dinge soos visvangste, maar daarbewens ook
diamante en die verskaffing van olie vir die diamantdelwerye by
Oranjemund. Die hawe het ’n enkele, 67 meter lange kaai. |
|