Terugblik   Hansie  Cron

Hansie -- die held was moes sterf vir erkenning

Die uitreiking in 2008 van die rolprent oor Hansie Cronjé het Suid-Afrikaners weer laat onthou van hul gewilde krieketkaptein en die skandaal van wedstrydknoeiery wat hom oornag in vernedering van sy troon laat tuimel het. Maar hy het in sy tyd so oneindig baie vir Suid-Afrikaanse krieket en sport in die algemeen beteken, sê baie mense vandag... en wie is in elk geval so sondeloos dat hy die eerste klip kan gooi?

D

AAR was ’n tyd toe kenners gereken het dat geen ander kaptein in wêreldkrieket by Hansie Cronjé kon kers vashou nie, veral nie in eendag-krieket nie. Toe was die gewilde gentleman van Bloemfontein nog op die kruin van sy golf van voorspoed.  Dit was voordat ons krieketkoning in ’n baie onsmaaklike ding betrokke geraak het. Hansie se selferkende obsessie met geld het hom oornag in vernedering en skande van sy hoë troon laat tuimel.

Suid-Afrikaners het met ongeloof en skok gereageer toe dit bekend word dat hul superheld met wedstrydknoeiery gemoeid was. Dit kon mos nie waar wees nie. Maar dit wás.

Hansie sou tot met sy tragiese dood in ’n vliegtuigongeluk ’n verworpeling in sy eie land bly, al het dit daarna geblyk dat talle mense—van hooggeplaaste krieketadministrateurs en politici tot die gewone man op straat—lankal bereid was om hom te vergewe. Hansie het immers in sy tyd so oneindig baie vir Suid-Afrikaanse sport beteken... en wie is in elk geval so sondeloos dat hy die eerste klip kan gooi?

Hoe ook al, as die lewensverhaal van Hansie Cronjé op ’n grafiek aangedui sou kon word, sou dit soos ’n berg lyk, met die een hang van ’n tweede berg daarnaas. Dit styg vinnig op na die kruin en daal dan blitsvinnig loodreg ondertoe—net om veral met Hansie se sterfte weer die hoogtes in te skiet.

Hansie sal boonop lank onthou was as die enigste krieketspeler nog wat bereid was om oor ’n oortreding soos syne te bieg en gewillig was om die gevolge te dra...

HANSIE CRONJÉ, wat later reeds op ’n jeugdige 24 jaar tot kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan gekies sou word, is op 25 September 1969 in Bloemfontein gebore as Wessel Johannes, die seun van Ewie en San-Marie Cronjé. Hy het aan die beroemde seunskool Grey-kollege skoolgegaan en was aan die einde van sy skoolloopbaan die skool se voorste matrikulant.

 

Omdat pa Ewie ’n bekende krieketpersoonlikheid van Bloemfontein was, is daar altyd krieket in die huis gepraat. Met Hansie se aangebore en aangeleerde vernuf is dit ook nie verbasend dat hy in 1987 sy debuut in die Vrystaatse krieketspan gemaak het en boonop as kaptein van die span gekies is toe hy slegs 21 was nie. Terwyl hy vir die Vrystaat gespeel het, het hy aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein gestudeer.

Hansie het vinnig tot ’n krieketspeler van internasionale gehalte ontwikkel en is in 1991 gekies om Suid-Afrika teen die Wes-Indiërs te verteenwoordig nadat hy die nasionale keurders met sy spel op provinsiale vlak beïndruk het.

In 1994 het Hansie die jongste Suid-Afrikaanse krieketkaptein in meer as ’n eeu geword, en sy opgetekende prestasies daarna op die veld sou nooit van hom weggeneem kon word nie. Hy het Suid-Afrika met groot welslae op die wêreldverhoog gelei—’n bedrewe kolwer en’n doring van ’n bouler wat in sy internasionale krieketloopbaan 68 toetse en 188 internasionale eendagwedstryde gespeel het. Hy het uitstekende taktiese vermoëns gehad en kon sy span tot baie oorwinnings lei teen die beste wat die wêreld kon bied.

Sy geloof aan dissipline was opmerklik. Hy kon dit, volgens kenners, dalk van die gevierde Keppler Wessels geleer het by wie hy destyds as kaptein oorgeneem het. Soos een koerantman vertel het: "Jy kan dit (die dissipline) duidelik by die oefeninge sien. Daar is nie tyd vir grappies as Hansie naby is nie: as die manne werk, dan werk hulle." Feitlik die enigste kritiek teen sy kapteinskap was dat hy te intens was.

Dat só ’n uiters toegewyde en gefokusde leier hom enigsins tot iets soos wedstrydknoeiery kon laat verlei, het vir die groot menigte van sy volgelinge eenvoudig geen sin gemaak nie. Maar in April 2000 bars die bom. Die polisie van Delhi in Indië onthul dat hulle ’n opname het van ’n selfoongesprek wat in Maart gevoer is tydens die eendag-reeks tussen Indië en Suid-Afrika. Daar word beweer dat die stemme op die band dié van Hansie en ’n Indiese weddery-sindikaat is.

Hansie ontken dit eers ten sterkte, maar swig uiteindelik onder die druk van sy gewete en sy Christelike oortuigings. Die sogenaamde King-kommissie wat in Suid-Afrika aangestel is om die wedstrydknoeiery te ondersoek, hoor in Junie hoe Hansie erken dat hy groot bedrae geld ontvang het om inligting aan beroepswedders te gee en dat hy sy spanmaats gevra het om swak te speel. Maar hy ontken dat Suid-Afrika ooit onder sy kapteinskap ’n wedstryd opsetlik"weggegooi" of "beknoei" het. Ná drie dae van kruisondervraging deur ’n paneel van regsgeleerdes, knak hy en erken hy dat hy honderdduisende rande van beroepswedders ontvang het.

Hansie het op ’n keer sy optrede probeer verontskuldig deur te kenne te gee dat dit sy ongesonde liefde vir geld was wat hom verkeerd laat trap het—hy het dit selfs met alkoholisme vergelyk.

Maar dit kon nie anders nie: die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika het hom genoop gevoel om Hansie lewenslank uit krieket te verban. Daarna het Hansie die finansiële bestuurder geword van ’n landboumasjieneriesaak wat in Johannesburg gesetel is.

Sy einde was onverwags en het die land geruk. Hy het op 1 Junie 2002 in reënweer in die Outeniekwaberge naby George in die Wes-Kaap gesterf toe ’n ligte vliegtuig waarin hy gereis het teen die berg vasgevlieg het. Hy was nog nie eens 33 jaar oud nie. Vir sy begrafnis het toonaangewende figure in Suid-Afrikaanse krieket hulle in Bloemfontein by duisende roubeklaers gevoeg.

BerthaREGS: Hansie se treurende weduwee Bertha (nou mev. Du Plessis) op sy begrafnis.

Hansie vorm nou deel van die galery van ander groot krieketlegendes wat hom vooruitgegaan het.  En dit lyk of die wens vervul is van sy weduwee Bertha (nou mev. Du Plessis, die vrou van Jacques du Plessis, 'n ouditeur van George) dat die wêreld Hansie sy foute moet vergewe en hom moet onthou as die kampioen wat hy inderdaad was.

Sy pastoor, die bekende Ray McCauley, lig dan ook die sluier oor die ander, baie meelewende en berustende dele van Hansie se karakter: "Hy was iemand met ’n reusagtige groot hart en wanneer ek hom ook al opgebel het, sou hy weeshuise en skole saam met my besoek. Toe die wedstrydknoeiery op die lappe kom en hy nie weer toegelaat is om krieket te speel nie, het hy die nekslag aanvaar en nooit daaroor gekla nie."