|
Die
Groot Trek |
||
|
In
presies duisend woorde*... die verhaal van die groot * Duisend woorde in hoofteks; sluit nie byskrifte by foto's in nie. |
||
IE
Groot Trek, word dit genoem... duisende Boere van die Kaapse oosgrens
wat met ossewaens die trekpad noordwaarts gekies het. Net die nodigste
kon saamgeneem word. Baie wat vir hulle dierbaar was, moes hulle
agterlaat. Oor berge en deur riviere het die wawiele geknars na wat
sekere landsverhuisers romanties as die "Beloofde Land" beskou
het. Die
werklikheid was dikwels veel minder romanties. Dit het selfs honderde se
dood gekos. Maar hoeveel anders Suid-Afrika vandag sou gelyk het as daar
geen Groot Trek was nie, kan geen mens hom werklik indink nie. Daarvoor
lê die spore van hierdie ou pioniers eenvoudig te diep in ons
geskiedenis ingegrif. Soos
’n Afrikaner-geskiedkundige sê: "Alle Afrikaanssprekendes wat
nog hul Afrikanerskap in ere hou, sal nie kan vergeet hoe hul volk sy
eintlike beslag in die Groot Trek gekry het nie." Die
Groot Trek word saaklik beskryf as die georganiseerde verhuising van
tussen tien- en twaalfduisend Afrikaners in die jare dertig van die
1800’s uit die oosgrensdistrikte van die destydse Kaapkolonie na die
binneland. Hulle sou later die Voortrekkers genoem word. Die
Kaap was sedert 1806 onder Britse beheer. Na die noorde is Suid-Afrika
deur verskillende swart stamme bewoon, nie die minste nie die Zoeloes in
die teenswoordige KwaZulu-Natal, wat deur die toedoen van hul koning
Chaka in ’n magtige ryk verenig is. Die
oosgrensdistrikte was die distrikte van Graaff-Reinet, Uitenhage,
Somerset-Oos, Tarka, Grahamstad, Cradock en Colesberg. Oor
die presiese redes waarom die Afrikaner-Boere besluit het om die Britse
juk af te werp, is daar nie eenstemmigheid onder al die geskiedkundiges
nie. Die tradisionele siening is dat die grensboere se griewe, wat oor
die jare heen opgebou het, gesetel het in hul gevoel dat hul
selfstandige geestelike bestaan bedreig is deur ’n doelbewuste
verengelsingsbeleid en hul stoflike bestaan deur ’n reeks verwoestende
grensoorloë teen die Xhosa. Daarom sou die grensboere onder die Britse
gesag uittrek om in die binneland ’n onafhanklike staat volgens eie
aspirasies in die lewe te roep. Hulle
het egter nie net skielik opgepak en getrek nie. Die verhuising is
voorafgegaan deur voorbereiding en beplanning, onder meer deur die
sogenaamde Kommissietrekke. Drie kommissies is uitgestuur om die
binneland te verken en ’n geskikte woongebied uit te soek -- een
verkenningstog na Natal, ’n ander tot aan Soutpansberg en ’n derde
deur Boesmanland tot êrens in Damaraland. Oor hierdie verkenners se
verslae is weinig bekend, maar hul bevindings moet bepaald ’n rol
gespeel om die trekkers te laat besluit watter roetes die wenslikste
was. Verskeie
trekgroepe
het by verskillende geleenthede die Kolonie verlaat. Die
eerste, in 1833, was dié van Louis Trichardt en Johannes Hendrik Janse
van Rensburg ("Lang Hans"). Daarna het die trek van Andries
Hendrik Potgieter gevolg, by wie die vroom geestelike leier Sarel
Arnoldus Cilliers hom aangesluit het. Potgieter
reis na die Soutpansberg om met Trichardt in aanraking te kom, maar
intussen word sy mense by die Vaalrivier aangeval. Daarna word die
Matebele deur die trekkers by Vegkop gestuit (Oktober 1836). Die Van
Rensburg-trek word egter in Junie 1836 uitgemoor en Trichardt bereik in
April 1838 Delagoabaai ná veel ontberinge. Met
die aankoms van die trek van Gerhardus (Gert) Marthinus Maritz word die
eerste Voortrekkerbestuursreëling by Thaba Nchu getref (Desember 1836)
en daarna word ’n strafekspedisie teen Umziligazi (of Moslekatse of
Silkaats), grondlegger van die Matabele-volk, by Mosega onderneem. Toe
die trek van Piet Retief in die binneland aankom, word Retief deur die
trekkers tot goewerneur verkies (April 1837). Intussen
kom ook die trek van Pieter Lafras Uys aan, en saam met Potgieter word
’n tweede ekpedisie onderneem teen Umziligazi, wat oor die Limpopo
gedryf word. Die gevoel sou ontstaan dat die wêreld oorkant die Vaal
met hierdie oorwinning "vir die beskawing verseker is". Soos
so dikwels in die verlede, en tot vandag toe, het onderlinge
leierstwiste die Afrikaner ook tydens die Groot Trek verdeel. Onenigheid
ontstaan naamlik oor waar die Trekkerstaat uiteindelik opgerig moet
word. Retief en sy volgelinge besluit om Natal toe te gaan, waar hy van
die Zoeloe-koning Dingaan ’n woongebied ruil. Maar op 6 Februarie
1838 word Retief met sewentig manskappe en ’n groot getal agterryers
met sy tweede besoek aan Dingaan om die lewe gebring.
BO: 'n Voorstelling van
die moord op Retief en sy manne uit 'n baie ou Hierna
val die Zoeloe-impi’s die laers langs die Bloukrans- en Boesmansrivier
aan en dood ongeveer 350 van die trekkers. Potgieter en Uys kom hul
medetrekkers te hulp, maar word by Italeni in ’n hinderlaag gelok waar
Uys en andere die lewe inskiet (April 1838). Potgieter
verlaat Natal, ruil grond in die latere Vrystaat, maar gaan vestig hom
uiteindelik in Ohrigstad en nog later by Soutpansberg. ’n
Tweede Zoeloe-aanval word in Natal afgeweer, en ná Maritz se sterfte
word die grensboer Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius deur Sarel
Cilliers versoek om na Natal te kom om die trekkers te lei. Pretorius
word tot kommandant-generaal gekies om ’n strafekspedisie teen Dingaan
te lei, wat uitloop op die trekkeroorwinning in die Slag by Bloedrivier
op 16 Desember 1838. In 1840 word ’n tweede ekspedisie, die
Beestehaal-kommando, uitgestuur en Panda tot koning van die Zoeloes
verhef.
(Terloops,
Pretorius sou in Afrikanergeledere as ’n geniale veldheer en staatsman
onthou word -- iemand wat seker meer as al sy tydgenote die wese van die
Groot Trek en die wordende republikeinse ideaal van die Afrikaner
deurgrond het. Pretoria is na hom genoem -- en hierdie feit help om die
groot bohaai oor ons eietydse naamsverandering van Pretoria tot Tswane
te verklaar.) Die
Republiek Natalia, wat intussen uitgeroep is, sluit in 1840 ’n
verbintenis met die trekkers wat by Winburg en Potchefstroom ook ’n
eie bestuur in die lewe geroep het. In 1842 word die Republiek Natalia
deur Britse troepe beset en in 1843 finaal geannekseer. Baie trekkers
trek hierna weer oor die Drakensberg om hulle vry van Britse
oorheersing op die Hoëveld te gaan vestig. Dit
was egter eers met die ondertekening van die Konvensies van Sandrivier
en Bloemfontein dat die Britse agtervolging gestaak en die staatkundige
ideaal van die Groot Trek verwesenlik is... met al die enorme gevolge
wat dit op alle terreine vir Suid-Afrika sou hê.
|
||