Die Grondwet
van Suid-Afrika

“Grondwet-rol” — slegs ter illustrasieOp die televisie, oor die radio en in koerante word dikwels daarna verwys... die Grondwet van Suid-Afrika en hoe dié of daardie bepaling of beplande regeringsoptrede dalk in stryd daarmee sou kon wees. Want vandag is die Grondwet selfs verhewe bo die Parlement en is dit die maatstaf waarmee alle wette en owerheidsdade gemeet word. Maar dit was nie altyd so nie...

Ø       Die artikel hieronder (uit die Engels vertaal) word hergebruik met vergunning van die webwerf van MediaClubSouthAfrica.com

Ø       Enige navrae en kommentaar hieromtrent kan per e-pos gerig word aan Mary Alexander,

Ø       Kyk ook Grondwet van Suid-Afrika (Aanhef en Grondliggende bepalings) in Mieliestronk se Laslappie-afdeling
  

Konstitusionele Hof

BO: ’n Nagfoto van Suid-Afrika se Konstitusionele Hof in Hillbrow, Johannesburg, ons land se hoogste hof sover dit grondwetlike aangeleenthede aangaan. As die oppermagtigste wet van die land bind die Grondwet alle staatsorgane—wetgewend, uitvoerend en regterlik—op alle regeringsvlakke.

Foto: Chris Kirchhoff / MediaClubSouthAfrica.com

S

UID-AFRIKA se Grondwet, wat regoor die wêreld bewonder en gerespekteer word vanweë sy baanbrekende benadering tot menseregte, is die simbool van ’n merkwaardige onderhandelde oorgang—iets wat ’n land wat erg deur apartheid en onderdrukking benadeel is, verander het in een wat demokrasie en vryheid in ere hou.

Die tussentydse Grondwet, wat in 1994 van krag geword het, het nie net die weg vir Suid-Afrika se eerste demokatiese verkiesing berei nie, maar was—soos die dokument dit self verduidelik het — “ ’n geskiedkundige brug tussen die verlede van ’n diep verdeelde gemeenskap wat deur tweedrag, konflik, namelose lyding en onreg gekenmerk is, en ’n toekoms gegrond op die erkenning van menseregte, demokrasie en vreedsame naasbestaan en ontwikkelingsgeleenthede vir alle Suid-Afrikaners, ongeag kleur, ras, klas, geloof of geslag”.

Agtergrond tot die Grondwet

DIE tussentydse Grondwet is opgestel in onderhandelinge tussen  verteenwoordigers van organisasies wat met die vryheidstryd gemoeid was, politieke partye en ander groepe. Ná die eerste demokratiese verkiesing van 27 April 1994 het die verkose verteenwoordigers, wat as ’n liggaam genaamd die Grondwetlike Vergadering byeengekom het, ’n nuwe grondwet geformuleer. In 1996, ná twee jaar van openbare oorlegpleging en baie beraadslagings, is die finale Grondwet uiteindelik aanvaar.

Op die Konstitusionele Hof se webwerf kan meer oor die geskiedenis van die Grondwet gelees word.

Grondwetlike oppergesag

ARTIKEL 2 van Hoofstuk 1—getiteld “Oppergesag van Grondwet”—lui: “Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.”

Hoewel Suid-Afrika wel ’n grondwet gehad het voor die tussentydse Grondwet van 1994 en die finale Grondwet van 1996, was die hoogste reg nie gesetel in die “driekamer”-grondwet nie (waarkragtens drie afsonderlike parlemente vir blankes, bruinmense en Indiërs in die lewe geroep is). Pleks daarvan was ’n stelsel van parlementêre soewereiniteit in swang—wat beteken het dat die wetgewende mag enige wette na willekeur kon aanneem, solank die korrekte prosedure gevolg is.

Vandag is die Grondwet egter verhewe bo die Parlement en is dit die maatstaf waarmee alle wette en owerheidsdade gemeet word. Dit geld vir alle regeringsorgane—insluitende die Parlement, die presidentskap, die polisiemag, die leër en die staatsdiens. Dit beteken dat enige wet wat strydig met die Grondwet is, of enige optrede wat daarteen indruis, nou aangeveg en deur die howe ongedaan gemaak kan word—vernaamlik deur die Konstitusionele Hof, wat die land se hoogste hof is sover dit grondwetlike aangeleenthede aangaan.

Grondwetlike verskansing

DIE Grondwet is op sigself beskerm, wat beteken dat dit vir die wetgewende mag moeiliker is om te verander as wat met gewone wetgewing die geval is.

Artikel 74(2) lui dat wetsontwerpe wat wysigings in die Grondwet aanbring ’n meerderheid van twee derde in die Nasionale Vergadering vereis, asook die ja-stemme van ses van die nege provinsies wat in die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig word.

’n Wetsontwerp wat Artikel 1 van die Grondwet wysig, wat die stigtingskriteria uiteensit, verg egter ’n meerderheid van 75 persent.

Grondwetlike regte

MENSEREGTE neem in die Grondwet die ereplek in. Die Aanhef verwys na basiese menseregte en die eerste artikel van Hoofstuk 1 (“Grondliggende bepalings”) lui dat Suid-Afrika grond is op: “Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede”.

Hoofstuk 2 bevat Suid-Afrika se Handves van Regte. Dit is hierdie deel van die Grondwet wat in die afgelope aantal jare die grootste belangstelling gewek—en die grootste impak op Suid-Afrikaners gehad het.

Die eerste woorde in hoofstuk stel die Handves van Regte bekend as ’n “hoeksteen van die demokrasie” en sê dit “verskans die regte van alle mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid”.

Onder die regte wat in die Handves van Regte beskerm word, is die reg tot lewe, gelykheid, menswaardigheid, vryheid van uitdrukking, vryheid van godsdiens, vryheid van assosiasie, politieke regte en die reg om vreedsaam te vergader en te betoog. Hierdie regte is die gewone “eerste-generasie”-regte wat in die meeste demokratiese lande gewaarborg word.

’n Onderskeidende kenmerk van ons reg tot gelykheid is egter dat dit ’n verbod bevat op onbillike diskriminasie gegrond op seksuele oriëntasie—wat Suid-Afrika die eerste land ter wêreld maak wat só ’n klousule ingevoeg het.

Ons Handves van Regte bevat ook sosiaal-ekonomiese regte of  “tweede-generasie”-regte. Hulle verplig die regering tot optrede in die verskaffing van opvoeding, gesondheidsdienste, water en behuising.

Die laaste groep regte in die Handves van Regte—die “derde-generasie”-regte—lei dikwels tot lof vir ons Grondwet. Hulle sluit in die reg tot omgewingsbeskerming, die reg tot toegang tot inligting en die reg tot regverdige administratiewe optrede.

Die regte wat deur die Grondwet verleen word, was al die grondslag van ’n aantal baanbrekende sake. Voorbeelde van Suid-Afrika se onlangse regspleging ten opsigte van menseregte, is te kry op die webwerf van die Konstitusionele Hof in die besprekings van die regte van vroue, kinders, werkers en gays en lesbiërs.

Instellings ter ondersteuning van demokrasie

’N BETEKENISVOLLE kenmerk van ons Grondwet is dat dit verskeie onafhanklike liggame daarstel om demokrasie te ondersteun en te beveilig. Hierna word dikwels as die “Hoofstuk 9”-instellings verwys, omdat hulle hul oorsprong in daardie deel van die Grondwet het. Hulle is:
 

·         Die Ouditeur-generaal. (Van die Ouditeur-generaal word verwag om verslag te doen oor die finansies van al die regeringsadministrasies op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak; die Ouditeur-generaal het die reg om enige instelling se boeke te kontroleer wat geld vir ’n openbare doel ontvang.)
 

·         Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.
 

·         Die Kommissie vir Geslagsgelykheid.
 

·         Die Menseregtekommissie. (Dié kommissie moet skendings van menseregte monitor en sulke skendings probeer regstel.)
 

·         Die Onafhanklike Verkiesingskommissie, wat sedert die eerste veelrassige verkiesing op 27 April 1994 al Suid-Afrika se verkiesings op landwye en plaaslike vlak bestuur het.
 

·         Die Openbare Beskermer. (Dié persoon kan, op grond van ’n klagte of op eie inisiatief, enige openbare ampsdraer op enige regeringsvlak ondersoek.)
 

·         ’n Onafhanklike Owerheid om die Uitsaaiwese te Reguleer.
 

Struktuur en ander inhoud

BENEWENS die Aanhef vooraan en sewe bylaes aan die einde is die Grondwet in veertien hoofstukke ingedeel, te wete:

  • Hoofstuk 1: Grondliggende (artikels 1-6)
  • Hoofstuk 2: Handves van Regte (artikels 7-39)
  • Hoofstuk 3: Regering van Samewerking (artikels 40-41)
  • Hoofstuk 4: Die Parlement (artikels 42-82)
  • Hoofstuk 5: Die President en Nasionale Uitvoerende Gesag (artikels 83-102)
  • Hoofstuk 6: Provinsies (artikels 103-150)
  • Hoofstuk 7: Plaaslike Regering (artikels 151-164)
  • Hoofstuk 8: Howe en Regspleging (artikels 165-180)
  • Hoofstuk 9: Staatsinstellings ter ondersteuning van Grondwetlike Demokrasie (artikels 181-194)
  • Hoofstuk 10: Openbare Administrasie (artikels 195-197)
  • Hoofstuk 11: Veiligheidsdienste (artikels 198-210)
  • Hoofstuk 12: Tradisionele Leiers (artikels 211-212)
  • Hoofstuk 13: Finansies (artikels 213-230A)
  • Hoofstuk 14: Algemene Bepalings  (artikels 231-243)

 

Die nasionale vlagDie vlag
 

REGS: Die nasionale vlag
(
landsvlag ) van Suid-Afrika is swart, goud, groen, wit, rooi en blou, soos in Bylae 1 van die Grondwet beskryf.

 

Hoofstukke 3 tot 7 verwys in besonderhede na die land se demokratiese regeringstelsel, waarvan een kenmerk die beklemtoning is van die wisselwerking tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike vlakke van regering deur die meganisme van koöperatiewe bestuur.

Ander belangrike aspekte is dié wat in die reël as noodsaaklik vir demokrasie beskou word, soos die spesifisering van die manier waarop verteenwoordigers verkies word, beperkings op ampstermyne en die meerderhede wat vereis word om wetgewing deur te voer.

Die Grondwet skenk voorts aandag aan die howe en regspleging, openbare administrasie, veiligheidsdienste (verdediging, polisie en intelligensiediens), die rol van tradisionele leiers en finansies.

Die laaste hoofstuk dek algemene bepalings, waaronder internasionale ooreenkomste en die volkereg. Die hoofstuk vereis onder meer dat alle grondwetlike verpligtinge “getrou en sonder versuim nagekom” moet word.

Omdat demokrasie vir hom so laat gekom het, kon Suid-Afrika vir die skepping van sy Grondwet uit die kollektiewe wysheid van die demokratiese lande van die wêreld put. Nadat die pad van stryd en pyn bewandel was, het die land die proses diep ter harte geneem—en is hy baie trots op die resultaat.

Die Appèlhof in Bloemfontein

BO: Die Appèlhof in Bloemfontein is die hoogste hof sover dit nie-grondwetlike sake aangaan. Hoofstuk 8 van die Grondwet handel oor die howe en regspleging.

Foto: Graeme Williams / MediaClubSouthAfrica.com

Nuttige webskakels vir nog inligting (in Engels) soos verskaf deur MediaClubSouthAfrica.com:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad