ALK hou jy van jou
grondboontjies heel. Of miskien verkies jy die botter wat
daarvan gemaak word. Eters van grondboontjiebotter kan dit op
hul beurt óf graag roomglad verorber óf met klein stukkies van
die bone wat daarin versprei is.
Aan die ander kant
kan sekere mense skoon histeries raak wanneer die vetterige
grondboontjiebotter aan hul verhemelte kleef. Dit is ’n vrees
wat aragibutirofobie genoem word—afgelei van die plantkundige
naam van die grondboontjie, Arachis hypogaea, en die
Latynse woord vir botter.
Gelukkig vir die
grondboonboere en die produseerders van die voedselprodukte van
die gewas is daar nie baie mense wat aan aragibutirofobie ly
nie. Tog sal dié boonmense stellig nie hou van ’n heel onlangse
amptelike bevinding in Amerika dat sowat een uit elke 26 kinders
deur verskillende voedselallergieë gepla word nie.
Navorsers sê boonop
dat een uit elke 100 Amerikaners ’n reaksie toon wanneer hulle
grondboontjies geëet het, ’n allergie wat hulle gewoonlik
lewenslank kasty.
Kontak met die bone,
selfs byvoorbeeld ’n smeerseltjie van die botter teen ’n boom by
piekniekplek, kan nare gevolge vir die lyers hê. Dit kan wissel
van ’n minder ernstige teenreaksie soos ’n geringe veluitslag
tot lewensgevaarlike simptome.
Mieliestronk.com het
hoeka vir hierdie artikel ook met ’n nagenoeg sewentigjarige
bejaarde Suid-Afrikaner gepraat wat glo maar onlangs eers
uitgevind het wat die eintlike rede vir die onverklaarbare
periodieke uitslag aan sy buik was. Hy het naamlik iets
vreesliks begin jeuk elke keer nadat sy vrou vir hulle
grondboontjiebotter van die winkels af saamgebring het. Wat ’n
ontnugtering in sy gryse jare toe hy die grond-oorsaak
van sy lang beproewing ontdek!
Na berig word, bly
grondboontjie-allergie ook in Brittanje ’n groot bron van kommer
vir die voedselbedryf daar.
Die probleem van die
produsente sou groter gewees het as dit nie was dat baie ander
dinge wat nie in die menslike maag beland nie, darem ook deels
van hierdie soort bone uit die aarde gemaak word. Belangrike
voorbeelde is sekere soorte ink, linoleum, ghries, seep,
sjampoe, skeerroom, skoenpolitoer, verf en selfs die hoogs
ontplofbare nitrogliserien.
Eetbare kommoditeite,
benewens die heel bone en die botter, is produkte soos sekere
soorte brood, koek, slaai, sop en tot sekere dranke.
Dit alles maak die
grondboontjie steeds ’n baie waardevolle plant. Duisende
variëteite word gekweek, waarvan die Spaanse kutivar en die
Loper, Virginia en Valencia die vier gewildste kultivargroepe
is. Die klein Spaanse soorte word in Suid-Afrika verbou.
Bronne verskil oor
die wêreld se vernaamste produsente van grondboontjies. Volgens
een bron is China, Indië en Amerika boaan die lys, terwyl die
produksie wêreldwyd sowat 30 miljoen metrieke ton per jaar
bedra. Die oorbevolkte China se jaarbydrae van meer as 13
miljoen metrieke ton spreek boekdele. Grondboontjies dra
nietemin jaarliks meer as vier miljard (vierduisend miljoen)
dollar by tot die Amerikaanse ekonomie. En in Afrika is selfs ’n
klein landjie soos Malawi ’n noemenswaardige verskaffer van
grondboontjiebotter.
Lande waarin
grondboontjiebotter baie gewild is, is Amerika, Australië,
Brittanje, Kanada, Nederland en natuurlik Suid-Afrika. Dis
terloops interessant dat die smaak daarvoor blykbaar van kleins
af aangeleer moet word, want dit proe glo alte raar vir mense
wat nie daarmee vertroud is nie!
Daarteenoor het selfs
die Amerikaanse ruimtevaarders op reis na die maan hul
toebroodjies met grondboontjiebotter-en-jellie geniet. Wat meer
sê, voedingkundiges reken dat een
grondboontjiebotter-toebroodjie, ’n glas melk en ’n lemoen ’n
byna volmaak gebalanseerde maaltyd uitmaak, met die
grondboontjies wat groot hoeveelhede proteïen verskaf. Die rede
is dat die grondboontjie tot die proteïenryke peulplantfamilie
behoort, wat ook die groenboontjies en die ertjies insluit.
Grondboontjies en
grondboontjiebotter is in der waarheid ’n goedkoper bron van
proteïen as baie ander kossoorte, soos kaas, vleis en
hamburgers.
Waarop dit verder
neerkom, is dat die grondboontjie nie rêrig ’n neut is nie, maar
’n peulplant. En daar is nogal ’n belangrike verskil. ’n Mens
kan wel vra waarom volhard die Engelse dan so met hul benaming
“peanut”!
Die grondboontjie
bevat voorts talle noodsaaklike vitamiene en minerale en is van
nature vry van cholesterol. Dis boonop ’n goeie bron van
foliensuur, wat so belangrik vir die mens se gesondheid is.