Sakeplan:

’n  firma vir “groen” oorsese toere

 

Foto: PD-FOTO BACKGROUNDS ARCHIVE (gewysig)

Jy word vir ’n skooltaak gevra om ’n sakeplan op te stel vir ’n nuwe sakeonderneming in die toerismebedryf, met die klem op kulturele bevordering, omgewingsbewaring en volhoubaarheid. Hoe kan jy te werk gaan? Hier is ’n interessante voorbeeld...

 


My sakeplan vir ’n onderneming in die toerismebedryf

 

a) Naam:

Groen Stamlandtoere

(die “groen” verwys na ekotoerisme en, by uitbreiding, verskillende aspekte van volhoubare toerisme.)

 

b) Doelwitte:

  • Om oorsese toere te reël na die stamlande van Suid-Afrikaners van Europese herkoms ten einde daar kennis te maak met mense wat dieselfde vanne het en nog in dieselfde plekke woon waarvandaan die stamvaders oorspronklik na Suid-Afrika gekom het.
  • Om reisigers sodoende terug te neem na hul “wortels”. Dit lyk vir my of daar in die onsekere wêreld van vandag ’n duidelike behoefte by mense bestaan om vastigheid te vind en ’n groter selfrespek te ontwikkel—iets wat kennelik bevorder kan word deur vas te stel wie hulle eintlik is en waar hulle vandaan kom.
  • Om boonop mense in die stamlande (vernaamlik Nederland, Duitsland, Frankryk, Engeland) bewus te maak van die moontlikheid om op hul beurt vir hul verlore Suid-Afrikaanse “familielede” in Suid-Afrika te kom kuier—om dus ook toere vir hulle hierheen te reël soos die behoefte mag bestaan, hoewel dit stellig op ’n veel kleiner skaal sal wees as die toere van die Suid-Afrikaners na Europa.
  • Om die toere natuurlik tot my eie geldelike voordeel aan te bied... maar om in dié proses ook kulturele bande te help herstel wat deur eeue van skeiding verbreek is en dus my beskeie bydrae te lewer tot die bevordering van interkulturele begrip en verdraagsaamheid.
  • Om hier in Suid-Afrika en oorsee plaaslike ekonomieë te ondersteun deur byvoorbeeld met mense in die hotel- en reisbedryf saam te werk vir verblyf en toeruitstappies (alles binne die konteks van bewaring, omgewingsvriendelikheid en ’n bewusmaking van gedeelde erfenisse).

c) Keuse van diens:

  • Naam van diens: Groen Toere na ons Stamlande.
  • Produksie: Vereis ten minste ’n goed toegeruste kantoor, wat ek aanvanklik in ’n kamer in my eie huis sal inrig, en die basiese benodigdhede daarvoor. Ek sal nodig hê: ’n rekenaar met internet-verbinding, ’n telefoon, faksmasjien, kopieermasjien, drukker en ink, papier en natuurlik ’n stoel of twee, lessenaar en liasseerkabinet.
  • Mededinging: Ek sal nie net met ’n menigte ander toeragentskappe moet meeding nie, maar ook met van die grootste name in die bedryf, dog met my unieke teikenmark hoop ek om my eie plekkie in die son te vind.
  • Prys: Die pryse van my toere sal afhang van verskeie afsonderlike pakkette wat ek met ander rolspelers in die bedryf kan beding—byvoorbeeld van hoeveel lugdienste soos die SAL bereid sal wees om my te betaal vir ’n gegewe aantal passasiers wat ek vir hulle werf. Dit geld ook toeragentskappe in Brittanje en op die Europese vasteland met wie ek kontrakte kan sluit op grond van die getal besoekers en hul spesifieke toerprogramme (dus die hoeveelheid besigheid wat ek kan vir hulle voorsien).

 

d) Vorm van eienaarskap:

Ek sal die onderneming as ’n eenmansaak bedryf. Ek doen dit omdat ek ten beste op my eie opereer en ten minste in die beginstadium nie graag vennote sou wil betrek nie of ’n klompie aandeelhouers sou wil werf vir ’n beslote korporasie nie. Dit sou bloot dinge vir my kompliseer, aanvanklik in elk geval. Ek dink immers dat ek heeltemal opgewasse is om die taak wat ek vir myself uitgestippel het, in ’n bestuurshoedanigheid alleen te verrig.

 

Dit beteken nie dat ek nie hulp van buite sou inroep waar dit nodig sou blyk nie. Bes moontlik sal ek ’n sekretaresse moet aanstel, moontlik op ’n halfdagwerk-basis en net sekere dae in die week, om die kantoor te help beman, veral wanneer ek nie daar is nie.

 

En ek sal ook gereeld deugsame toerleiers moet vind wat toere na die buiteland kan neem (kundige mense soos onderwysers, joernaliste, omroepers, ensovoorts), maar gelukkig is daar baie wat bereid is om die werk te doen in ruil vir ’n gratis toerkaartjie (wat ek vir hulle sal kan beding met die lugdiens en die Europese reisagentskappe met wie ek kontrakte sluit).

 

e) Teikenmark:

My teikenmark is alle Suid-Afrikaners met vanne van Europese herkoms, van wie genealoë en ander navorsers bewyse kon vind dat daar steeds verlangse “familielede” met dieselfde vanne in Europa bestaan (al word die vanne straks effens anders gespel).

 

Waar vind jy byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse familie Kleynhans se waarskynlike Duitse verwante?  In Nedersakse in Noordwes-Duitsland, op ’n dorpie genaamd Wagenfeld in die distrik Diepholz, waarvandaan die Kleynhans-stamvader Theodorus Kleynhans of Kleinhans in 1747 in die Kaap aangekom het. Die familie daar spel dit weliswaar Kleinhans, op die Duitse manier.

 

Nie te ver van hulle nie is die dorpie Barver, waarvandaan die stamvader van die Suid-Afrikaanse familie Ol(le)wage(n) in 1773 na Suid-Afrika gekom het. ’n Voordorpie van Barver heet selfs Oldewage, en dit word steeds deur Oldewages bewoon.

 

En voer ’n mens in die Duitse telefoongids op die internet die van Grünwald en die herkomsoord Köningsberg in (waarvandaan die Duitse Groenewald-stamvader, Christoph Grünwald, omsteeks 1690 Kaap toe gekom het)  vind jy steeds ’n sekere Grünwald se telefoonnommer daar. Nou ja, welkom, ons verlangse neef, sal baie van die Suid-Afrikaanse Groenewalds seker wil sê!

 

So lê die herkomsoorde van die minder bekende tot die bekendste Afrikanerfamilies gesaai oor die Europese landskap. Van die Franse familie Marais is daar vandag tien gelyste Marais’s in die telefoongids vir Parys. (Die Suid-Afrikaanse stamvader Charl Marais, wat in 1687 in die Kaap gearriveer het, was ’n Franse Hugenoot wat van ’n klein entjie wes van Parys gekom het).

 

En so kan ’n mens aanhou. Daar is nog baie Van der Merwes, Bothas, Fouries, Venters, Ferreiras, Jouberts, Van Heerdens, Van der Westhuyzens, Oosthuizens, Smiths, noem maar op, die lys is lank.

 

•   Ouderdom van mense in my teikenmark: ’n Vurige belangstelling in ’n mens se herkoms ontwikkel, soos ek kan aflei, veral by ouer mense anderkant vyftig, miskien omdat daar ’n groter soeke is na waar ’n mens eintlik inpas—en ’n groter bewuswording van jou eie aardse verganklikheid—namate die ouderdom nader kruip. Maar ek is seker daar is ook talle veel jonger mense wat graag hul oorsese “roots” sal wil ontdek. Die visier moet dus gestel word op jonk en oud, op wie ook al in sulke avontuurlike ontdekkingstogte belang sou stel. En, bygesê, natuurlik die geld het om daarvoor te betaal!

 

•   Lewenstyl van mense in my teikenmark: Mense wat na die wêrelde van hul voorgeslagte sal wil terugkeer, is tien teen een romantiese mense—mense met ’n smaak vir die intellektuele eerder as daardie praktiese mense wat veel, veel liewer tuis by hul draaibank sal wil swoeg of, as dit moontlik is, Le Mans in Frankryk sal wil besoek vir die beroemde jaarlikse uithouwedren van 24 uur van die Automobile Club de l'Ouest. Ek sou dus eerder na moontlike kliënte van my onderneming wil gaan soek onder professionele mense soos onderwysers, dokters, aptekers, ens. as onder ambagslui. Dit wel egter nie sê dat daar nie ook “dromers” in die sogenaamde “werkersklas” kan wees nie!

 

•   Grootte van die mark: Soos uit die voorafgaande blyk, kan ’n mens nie verwag dat daar derduisende toerlede sal wees nie. Maar vir ’n terrein wat om dooie mense sentreer, is die genealogie (die studie van stambome) merkwaardig gewild. In ’n bemarkingsopname wat in die jaar 2000 in Amerika gedoen is, is bevind dat tot 60 persent van die Amerikaanse bevolking in hul familiegeskiedenis belang stel. Dit was 15 persent meer as in ’n soortgelyke opname wat in 1996 gedoen is. Daar is rede om te glo dat die persentasie ewe groot kan wees onder die “Europese” komponent van die Suid-Afrikaanse bevolking—indien nie groter nie. Met reg of nie: baie van die laasgenoemde beskou hulself deesdae immers ’n bietjie as vreemdelinge in hul eie land omdat hulle genealogies nie werklik “van Afrika” is nie.

 

Tog knyp die ekonomie al hoe meer en kan daar nie verwag word dat ’n menigte dadelik hul hande sal opsteek vir Europese stamlandtoere nie. Die geld daarvoor bestaan doodeenvoudig nie oral nie.  Maar verslae van geslaagde “familiefeeste” in die buiteland (soos van die Oldewage-fees wat ’n aantal jare gelede by die dorpie Barver, Duitsland, deur sowat twintig Suid-Afrikaanse “Ollies” bygewoon is) laat ’n mens besef dat hierdie heeltemal ontonginde mark beslis groot genoeg is om lewensvatbaar te wees en dat dit boonop baie lonend kan word as dit korrek ontgin word. Die Ol(le)wage(n)-familie in Suid-Afrika is beslis nie baie groot nie, maar kyk net watter  respons het die fees in Duitsland uitgelok—na raming by omtrent een persent van die familie. Een persent van ’n bielie-familie soos ons Van der Merwes op ’n toer na hul neefs in Nederland (wat terloops die familienaam Van de Merwe spel) sal seker honderde Suid-Afrikaanse “Koos vanner Merrels” daar in die Land van Kaas beteken!

 

LINKS: Die Afrikaanse kortverhaalskryfster Babs Redelinghuys (gebore Olwagen) afgeneem tydens 'n familiesaamtrek wat in die voordorp “Oldewage” van die Nedersaksiese dorp Barver in Noordwes-Duitsland gehou is.

 

•   By die voorafgaande kan ’n mens byvoeg dat die strewe na die verstewiging van familiebande inherent ’n aksie verteenwoordig van mense vir wie kultuur, saamhorigheid en maatskaplike orde baie belangrik is—mense wat nie slegs ’n besondere ontsag vir tradisie het nie, maar ook hul voorgeslagte met groot piëteit bejeën en gevolglik ’n passievolle gevoel van eerbied vir hul bakermat koester. Dit is hierdie soort mense wat ek graag deur middel van my advertensieveldtogte sal wil bereik.

 

f) Menslike hulpbronne:

My personeelstruktuur sal aanvanklik heel klein wees, soos reeds in afdeling d) hierbo genoem. Die enkele deeltydse sekretaresse wat ek beoog om in diens te neem, sal nietemin baie vaardig moet wees in die hantering van potensiële kliënte en die verduideliking van die verskillende pakkette wat ons vir hulle kan aanbied. Sy sal persoonlik of per telefoon, slakpos en die internet met die publiek, lugdienste en ander toeroperateurs moet skakel en dit op ’n kundige en professionele wyse moet doen. Sy sal rekeninge moet kan opstel, boeke moet balanseer en reisdokumente flink moet kan voltooi. Dit sluit byvoorbeeld aansoeke vir paspoorte vir kliënte in by die Departement van Binnelandse Sake.

 

Die skoonmaak van die kantoor sal, omdat dit in ’n kamer in my huis sal wees, deel vorm van die pligte van my gewone huishulp en dus nie as ’n onderdeel van die besigheid beskou word nie. Behalwe miskien vir belastingopgawes, waar ek dit as ’n regmatige uitgawe kan aandui! Ek beoog in elk geval om die huishulp maandeliks ’n bietjie meer te betaal, al sou dit nie ’n ekstra plig vir haar wees nie, omdat sy in elk geval op die oomblik my studeerkamer skoonmaak wat dan net as ’n volwaardige kantoor ingerig sal wees.

 

My huishulp is vlytig, maar nie hoogs geskoold nie, en vir die werk wat sy doen, het sy ook nie ’n hoë skoling nodig nie. My deeltydse sekretaresse sal waarskynlik minstens ’n matrieksertifikaat moet hê en hoogs wenslik ook die een of ander diploma in kantoorbestuur. Sy sal deeglik kennis moet dra van—of vooraf opleiding van ’n kundige of desnoods myself moet ontvang oor—die verskillende aspekte van “groen” toerisme, want dit is tog die lees waarop ’n kardinale deel van my onderneming geskoei sal wees. Boonop sal sy iets moet begryp van stamboomkunde sodat voornemende kliënte die korrekte inligting hieroor van haar kan ontvang. Maar, indien nie, sy sal dit ook hopelik sommer kan byleer in die eerste dae van haar werk by “Groen Stamlandtoere”.

 

g) Ligging:

  • Waar geleë: My kantoor in my huis in die Kaapse metropool. Kontak met ander sakelui en die publiek egter meestal elektronies.
  • Grootte en aard van onderneming: Klein gefokusde besigheid wat bedryf word met die uitsluitlike oogmerk om stamlandtoere in Europa vir Suid-Afrikaners te reël en, waar dit moontlik is, Suid-Afrikaanse toere vir Europese belangstellendes gereël te kry.
  • Die beskikbaarheid van die meeste soorte hulpbronne is in my geval nie ter sake nie, maar arbeid en kapitaal is wel. Wat arbeid aanbetref, het ek reeds ’n baie oulike Bolandse nooientjie in die oog (net op besigheidsvlak, natuurlik!) wat ek dink uitstekend in staat sal wees om die sekretariële werk vir my te doen. ’n Sekere hoeveelheid kapitaal (na my raming omtrent R55.000) sal egter nodig wees om die onderneming in die eerste vier maande op die been te bring, kontrakte te sluit en kliënte deur middel van die pers te werf voordat die eerste inkomste uit die georganiseerde toere gegenereer sal kan word. My doelwit is om met koerante en tydskrifte te skakel – die baie publikasies in Kaapstad self maak dit vir my maklik – en hulle te oorreed om vir my publisiteit te verskaf in ruil vir gratis toerkaartjies aan joernaliste wat as toergidse kan optree. Dit is al die verlede baie gedoen. Oor die benodigde neseier van R55.000 se  sal ek met my bankbestuurder moet gaan gesels. ’n Kopie van hierdie sakeplan sal juis gebruik moet word om hom te oorreed...
  • Toeganklikheid: Met my kantoor in my huis, wat nie ver van verskillende sakesentrums geleë is nie—en verdere maklike toegang na my onderneming per telefoon, faks of vonkpos—glo ek nie dat my teikenmark eintlik probleme gaan hê om my te bereik en ek vir hulle nie. Dit is ’n wonder van die moderne tegnologie dat selfs groot besighede vandag as ’t ware uit beknopte motorhuise bedryf kan word. (Selfs Mark Shuttleworth, ons ruimteman, het sy miljoene gemaak nadat hy op 22-jarige leeftyd met ’n saak vir internet-konsultasie in sy ouers se garage in die Kaap begin het.)

 

h) Mededingers:

Ja, besighede kompeteer teen mekaar en ek kan nie eens hoop dat myne ’n uitsondering sal wees nie. My potensiële mededingers is elke toeragentskap wat vir Suid-Afrikaners toere na Europa reël, en daar is baie van hulle. Party is klein en sekerlik iewat nietig, ander is plaaslike komponente van internasionale reuse.

 

Ek sou grootliks naïef wees as ek my mededingers nie as ’n bedreiging sien en reken dat hulle my besigheid nie kan beïnvloed nie. Maar ek sou my mededingers hanteer en my saak probeer uitbrei deur my unieke pakket met alle mag te probeer verkoop en hulle te los om slegs te doen wat hulle nog altyd gedoen het. Hulle sou nie maklik sover kon gaan om mense werklik-werklik by hul Europese “voorvaders” uit te bring soos ek wil doen nie. Daarmee alleen sal ek verseker dat belangstellendes my diens verkies.

 

i) Impak van die onderneming op die maatskaplike en fisiese omgewing:

Die inpak van my besigheid op die maatskaplike en fisiese omgewing lê voor die hand. Ek propageer juis “groen” toerisme omdat dit vir my belangrik is dat daar ’n bewusmaking van gedeelde erfenisse sal wees. Mense wat hierin belang stel, is opgevoede mense wat nie sal droom om mekaar se kultuur- en natuurskatte deur vandalisme te vernietig nie, veel eerder om dit tot elke prys te help bewaar.

 

Sulke toerlede sal bestaande hulpbronne en erfenisse op die verantwoordelikste maniere moontlik gebruik. Hulle sal byvoorbeeld nie besoedelende blikkies en bottels oral rondstrooi (soos so baie toeriste gereeld doen) of ’n voorsaat se familiewapen wat op ou stadshuismuur ingemessel is met ’n knipmes probeer uitgrawe om dit tuis in Suid-Afrika op ’n voorhekkie aan te bring nie!

 

My onderneming sal baie beslis tot ’n volhoubare lewenswyse bydra deur sy klem op die ou leuse om uit die verlede te neem wat goed is en die toekoms daarop te bou. Die omgewing, waar die mense ook al toer, sal in stand gehou word uit respek vir mekaar en vir ’n geëerde voorouer, wat sy eie land en geliefdes verlaat het om ’n nuwe bestaan in die verre suide te vind. Sy destydse groot besluit om te immigreer sou immers ook elke toerlid se eie bestaan as ’n Suid-Afrikaner moontlik gemaak het...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad