••• Verkoues en griep •••

Wat jy alles moet weet omtrent jou koorsige ellende

 


Griepvirus

 

REGS: Die griepvirus, geweldig vergroot. Virusse is verskriklik klein mikrobes waarvan die groottes in miljoenstes van millimeters aangedui word. Dog piepklein soos hy is, is die griepvirus se verwoestingskrag enorm. Maar werk daardie veelbesproke griepinspuitings en les bes, wat is die verskil tussen verkoue en griep?


 
BO: Werk daardie griepinspuitings rêrig? Verder ondertoe in hierdie
artikel word vertel...

Foto: James Gathany
Verskaffer: U.S. Centers for Disease Control and
Prevention (CDC) / Judy Schmidt

Ter illustrasieDIS die winter se groot beproewing, maar dit kan die weerlose mens in enige jaargety kniehalter. Voor jy weet, bekruip dit jou soos ’n dief in die nag. Dan lê jy poegaai in die bed met ’n knikkende koorspennetje tussen jou tande, want jy bewe van die kouekoors. En jou kop voel soos muwwe moerasgrond weens jou verdikte, verstopte neus.   Illustrasiefoto: CDC

 

Jy’t ’n regte boereverkoue. Of dalk is dit griep. Maar wat jy ook al het, dis ’n goeie ding dat jy besluit het om liewer nie môre te gaan werk of skool toe te gaan nie en eerder in die bed te bly.

 

Want met sulke venynige virusse word werklik nie gespeel nie. As ’n mens ’n ernstige griep of swaar verkoue verwaarloos, kan dit jou dalk suur bekom. Daar kan selfs baie ernstige komplikasies wees wat in sekere gevalle tot die dood kan lei.

 

Griep en verkoue was nog altyd met ons, maar wat is nou eintlik die verskil tussen die twee? Goeie vraag! In die volksmond het die begrippe immers so vermeng geraak dat daar eintlik nie meer ’n onderskeid getref word nie. Dan is dit vir die leek ook baie moeilik om die verskille te diagnoseer.

 

Albei ontstaan deur virusse. Maar waar daar meer as honderd verskillende virusse is wat verkoues veroorsaak, is daar veel minder soorte wat griep verwek. Dis hoekom ’n mens inspuitings teen griep kry, maar nie teen verkoues nie.

 

Die twee kwale se simptome kom baie ooreen. Maar ’n verkoue is in die reël lig, terwyl griep neig om swaarder te wees. ’n Verkoue begin dikwels met ’n moeë gevoel, ’n genies, gehoes en ’n loopneus. Jy’t moontlik glad nie koors nie, of dis dalk net so ietsie hoër as gewoonlik. Jou spiere kan ook seer wees, jou keel kan seer of krapperig voel, jou oë kan water en jou kop kan pyn.
 

Griep kom vinnig en tref ’n mens soos ’n tienton-vragmotor. Die simptome is baie soos dié van verkoue, net erger. Jy voel waarskynlik swak en moeg, het ’n hoë koors, jou hoese is droog, jou neus loop en jou spiere pyn. Boonop het jy ’n kwaai hoofpyn en keelseer, en jou oë kan ook seer wees. Dit duur gewoonlik langer om gesond te word van griep as wanneer jy net ’n verkoue het.

 

Griep kan ernstig wees. Duisende Suid-Afrikaners sterf jaarliks daarvan, meestal ou mense of ander verswaktes, wat dikwels ook ander gesondheidsprobleme soos byvoorbeeld hartsiektes het.

Soorte griep
 

GRIEPVIRUSSE word in groepe A, B en C ingedeel. Tipe A-stamme is die volopste en word, benewens in mense, ook by baie diere soos robbe, varke en voëls aangetref. Tipe B- en C-stamme besmet slegs mense, en uitbrekings van tipe B vind elke twee of drie jaar plaas. Tipe C veroorsaak ligte verkoue-agtige siektes.
 

“Maaggriep” is ’n verkeerde benaming wat soms gebruik word om siektes van die spysverteringskanaal te beskryf wat eintlik deur ander organismes veroorsaak word.

 

Griepvirusse kan muteer, met ander woorde só van gedaante verander dat hulle telkens ’n nuwe gevaar skep waarteen die mens elke keer opnuut geïmmuniseer moet word. Daar word gereken dat hulle van diere af na die mens “spring”, veral in oorbevolkte lande in Asië.

 

Só was tipe A-stamme al vir baie wêreldwye griep-epidedies verantwoordelik. Elke nou en dan doem die spookbeeld weer op van die sogenaamde Spaanse griep, wat in 1918 minstens twintig miljoen, sommige meen selfs veertig miljoen, lewens geëis het—twee tot vier keer meer as die Eerste Wêreldoorlog.

Veldhospitaal in Amerika ten tyde van die griepepidemie van 1918


LINKS: 'n Veldhospitaal wat met die Spaanse griep van 1918 iewers in die VSA opgerig is om die groot getal pasiënte te help hanteer.

Argieffoto (openbare domein)

Griepvirusse word genoem na die streek waar hulle vir die eerste keer in ’n laboratorium geïsoleer is. Die Spaanse griep (wat vermoedelik eintlik in China ontstaan het) kon besonder vinnig toeslaan. Daar is verhale van mense wat gesond werk toe gegaan en dood neergeval het voordat hulle die fabriek of kantoor bereik het.

 

In New York het vier vroue sit en brug speel, en aan die einde van die aand het slegs een nog gelewe.

 

Ook in Suid-Afrika het die griep ongekende verwoesting gesaai. Gesinne op plase is gelyk getref, met ’n hoë koors, dermprobleme en ondraaglike spierpyne, maar daar was niemand om vir hulle te sorg nie. Albei ouers is soms dood, met verwese klein kindertjies wat dan heeltemal wees gelaat is.

 

Benewens die Spaanse griep was daar in die twintigste eeu nog twee ernstige griepepidemies: die Asiatiese griep in die 50’s en Hongkong-griep in 1968. Die beskikbaarheid van antibiotika om sekondêre infeksie teen te werk, en beter gesondheidsorg in die algemeen, het die dodetal in die laaste twee epidemies baie beperk.


Voëlgriep... die dreigende wêreldramp
 

BAIE navorsers reken egter al lank dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat die volgende weergawe van ’n uiters dodelike griepvirus deur die mensdom woed. Die uitbreking van sars in die Ooste het reeds beklemtoon dat hul vrese nie ongegrond is nie (al is sars natuurlik nie ’n griep nie, maar wel ook ’n aantasting van die lugweë).

 

Elektronmikrograaf van twee voëlgriepvirionsEn dan is daar natuurlik die onheilspellende donker wolk van voëlgriep, wat elke nou en dan weer nuus maak deur êrens op die horison op te doem. 

 

HIERBY: ’n Elektronmikrograaf van twee voëlgriepvirions wat ’n verstommende 108.000 keer vergroot is. ’n Virion is ’n enkele volledige en aansteeklike virusdeeltjie.
  

Elektronmikrograaf: Public Health Image Library (PHIL) in VSA (openbare domein)

 

Mense word in die reël nie deur voëlgriep aangetas nie. Só het die vrektes van baie volstruise ’n tyd gelede in ons land (baie is van kant gemaak om die verspreiding van die siekte te voorkom) gelukkig geen gevaar vir mense ingehou wat met die voëls gewerk het nie.

 

Daarteenoor word deesdae gereken dat die dodelike 1918-griep juis voëlgriep was—’n gemuteerde variant wat van voëls na die mens oorgespring het.

 

Dat só ’n sprong inderdaad moontlik is, is in 1997 die eerste keer ontdek toe voëlgriep onder pluimvee in Hongkong uitgebreek en die virus agttien mense aangetas het van wie ses gesterf het. Sedertdien is nog gevalle van mensebesmetting deur hierdie soort virus aangeteken en wel in Viëtnam, Thailand, Kambodja (of Kampoetsjea) en Indonesië.

 

Die uiteinde? Die uitbraak in 2009 van die sogenaamde varkgriep, wat gelukkig op die oomblik net as “matig ernstig” ervaar word, het die wêreld nogmaals tot besinning geskok. Want wat sal gebeur as hierdie nuut gemuteerde griepvirus nogeens sou muteer om in ’n veel gevaarliker gedaante om die aardbol te trek? Lees hieronder meer oor varkgriep...

 

  
Ter illustrasie: n ma-vark en haar kleintjies

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
 

Varkgriep”: die feite
 

VARKGRIEP word dit dikwels in die media genoem. Maar eintlik moet dit as mens-voël-varkgriep bekend staan. Want die opspraakwekkende grieppandemie wat in 2009 begin het, word nie net veroorsaak deur ’n gemuteerde variasie van die virus H1N1, stam A, nie. Dit is volgens gerekende navorsers ook kennelik die gevolg van ’n hergroepering van minstens vier bekende onderstamme van die genoemde virus:
•  een wat algemeen onder mense voorkom;
•  een wat endemies is by voëls;
• •  en nog twee wat algemeen by varke aangetref word.

 

Vier tipes, dus, wat hul samestellende materiaal onderling geruil en saamgesmelt het—en toe soos die saamgeflanste liggaamsdele van ’n Frankenstein-monster ’n eie, aparte entiteit gevorm het.

 

Laboratoriumtegnikus werk aan ’n projek oor varkgriepvirusseREGS: ’n Laboratoriumtegnikus
werk hier aan ’n projek oor
varkgriepvirusse.

Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture
 

Hoewel ’n Duitse vervaardiger betreklik gou aangekondig het dat hy ’n entstof daarteen ontwikkel het, sou die konvensionele vervaardiging van ’n griepentstof, naamlik deur eierproteïen as basis te gebruik, veel langer duur. En toe dit uiteindelik beskikbaar raak, was dit, ten minste wat Suid-Afrika aanbetref, nie eens vir almal beskikbaar nie, dog slegs vir hoërisiko-mense soos bejaardes en hartlyers. Gelukkig is hierdie soort griep in die reël tans vir betreklik gesonde mense nie so ernstig nie.

Die klem word egter op die TANS geplaas. Die probleem is naamlik dat die varkgriepvirus onstabiel is in die sin dat dit maklik mutasies ondergaan, met die gevolg dat ’n inenting wat Piet en Petra teen die griep kan vrywaar, dalk nutteloos kan wees vir Paul, Klaas en Katrina wat elders woon.

Hoewel dit die eerste keer in die land Mexiko waargeneem is (waar dit die hoofstad Mexiko-stad ’n ruk lank so te sê tot stilstand gedwing het) word sterk vermoed dat die virus deur besmette mense uit Asië na Noord-Amerika gebring is. Dele van die digbevolkte Asië is immers berug as die broeiplekke van sulke gemuteerde virusse, omdat mense, varke en voëls baiemaal daar in die haglikste onhigiëniese toestande saamlewe.

Interessant genoeg is daar sekere wetenskaplikes wat reken dat die virus verwant is aan die een van 1918 en dat dit die een of ander tyd uit ’n Russiese of Chinese laboratorium “ontsnap” het, moontlik weens die nalatigheid van ’n laboratoriumwerker. Luidens nog ’n onbevestigde teorie is ’n Amerikaanse laboratorium te blameer waar die virus deur middel van genetiese ingryping geskep sou gewees het.

Hoe ook al, die varkgriep was vermoedelik reeds maande lank in Mexiko aanwesig voordat dit in April 2009 geïdentifiseer is. Daarna het dit, ondanks streng voorsorgmaatreëls, dermate oor die wêreld heen versprei dat die Wêreldgesondheids­organisasie die uitbraak vroeg in Junie 2009 tot ’n wêreldwye pandemie (wêreldwye heersende siekte) verklaar het.

Daar is veral gevrees vir wat in arm lande sou kon gebeur indien die virus sou posvat in gemeenskappe wat nie oor die nodige gesondheidsdienste beskik nie.

Die simptome van die nuwe H1N1-griep is weliswaar meestal maar baie net soos dié van “gewone” seisoenale griep. Dit word eweneens versprei deur hoes, nies of die aanraking van die mond of neus nadat daar aan besmette voorwerpe geraak is. Die H1N1-grieppasiënt kan koorsig wees en hoes en nies, terwyl hy of sy ook van keelseer, hoofpyn en spier- en gewrigspyne kan kla.

Antivirale (viruswerende) middels kan toegedien word indien die pasiënt ernstig siek raak. Twee van dié middels wat vir hierdie H1N1-griep aanbeveel word, is oseltamivir (Tamiflu) en zanamivir (Relenza).

Minder dodelik vir gesonde mense soos dit (nog) is, kan die gevaarligte egter flikker vir swanger vroue. Die hoofrede is bes moontlik dat die swanger vrou se immuunstelsel ’n verandering  ondergaan om te verhinder dat haar liggaam die “vreemde” klein wesentjie binne-in haar verwerp. Gevolglik raak sy meer vatbaar vir die virus se verwoestingswerk.

Voorts kan besmetting natuurlik ook veral gevaarlik wees vir mense met onderliggende gesondheidsprobleme soos hartsiekte, obesiteit, asma, diabetes of ’n verswakte immuunstelsel. Wat die laasgenoemde aanbetref, kan daar ’n wesenlike gevaar bestaan vir mense wat HIV-positief is (van wie daar miljoene in Suid-Afrika en elders in Afrika suid van die Sahara is).

Die grootste bekommernis van gesondheidsowerhede is nietemin dat die virus later soseer kan muteer dat dit nog veel dodeliker kan word. Die vrees word deels aangewakker deur wat in 1918 tydens die Spaanse grieppandemie gebeur het. Aanvanklik was daar ook ’n hele klomp minder ernstiger gevalle, totdat die virus onverwags in ’n verwoede monster verander het wat baie miljoene mense na hul graf gestuur het.

Een genade is wel dat die wêreld nog nooit so voorbereid op ’n gevaarlike globale pandemie was as tans nie. Soos almal is ook gelowige Christene baie dankbaar daarvoor, maar hulle sê dat ons nie moet ophou om te bid vir ’n wêreld wat in soveel opsigte in nood verkeer en gebroke is nie.

 Opdatering, Augustus 2010:   Op 10 Augustus 2010 het die Wêreldgesondheidsorganisasie amptelik die einde van die H1N1-varkgrieppandemie aangekondig, iets meer as ’n jaar nadat dit begin het. Dit het nie beteken dat die virus verdwyn het wat die pandemie veroorsaak het nie, maar bloot dat dit toe so wyd versprei het dat baie mense van alle ouderdomsgroepe ’n sekere immuniteit daarteen opgebou het. Kenners het verwag dat die virus steeds op betreklik lae vlakke sou sirkuleer, baie soos dit met ’n seisoenale griep gebeur.
 

 


Werk daardie inspuitings?
 

MAAR as griepvirusse muteer, het griepinspuitings dan enige nut? Baie mense glo trouens dat sulke inspuitings geen waarde het nie of, tot oormaat van ramp, dat dit ’n gesonde mens kan siek maak. Maar kan dit wees? Viroloë sê nee—én ’n gekwalifiseerde ja. Hulle sê in die algemeen tref die inenting sy kol en dat dit van 70 tot 90 persent doeltreffend is.
 

Vir eers is dit belangrik om te weet dat die regte entstof vir ’n spesifieke virusstam gebruik moet word. Dan moet mense onthou dat die beskerming wat die entstof bied twee weke neem om te ontwikkel.
 

’n Kenner by ’n groep mediese sentrums verduidelik voorts dat die entstof mense net teen die griepvirus en nie teen ontsteking van die boonste lugweë of teen gewone verkoues beskerm nie. Juis om hierdie rede dink baie mense die inspuitings werk nie.
 

Maar doodveilig soos die entstof is, is daar volgens ’n apteker tog mense wat ’n effense “grieperigheid” daarvan kry—en ’n minderheidsgroepie wat hulle liefs glad nie moet laat inent nie. Onder die laasgenoemdes is dié wat baie allergies is vir eiers, want eierproteïen word as basis vir die entstof gebruik.
 

Daarbewens moet mense met akute koorssiekte die griepspuitnaald vermy, asook vroue wat in die eerste drie maande van swangerskap is—net om heeltemal seker te maak, ofskoon dit as veilig gedurende swangerskap beskou word.

 

mikriobioloog ondersoek ’n eier se binnekant

Eierproteïen word as basis vir griepentstof gebruik. Op die foto BO is ’n mikrobioloog besig om ’n heel eier se binnekant te onder­soek deur ’n lig daarop te skyn.


Foto: James Gathany
Verskaffer: U.S. Centers for Disease Control and Prevention (CDC) / Laura R. Zambuto


 
Raad vir grieppasiënte

    

  • Deur warm stoom in te asem van ’n warm stort, bad of skottel, kan jy verligting kry van ’n toe neus, styfheid en ’n seer keel.

  • Probeer om warm water te drink met suurlemoensap en heuning daarin.

  • Hou jou vlakke van vitamien C en sink op ’n gesonde vlak. Kenners reken dit help jou liggaam om infeksies te beveg.

  • Maak seker dat jy oorgenoeg rus gekry en drink baie vloeistowwe.

  • Onthou dat geen medisyne verkoue en griep kan genees nie.  Jou apteker het egter middels wat wel onaangename simptome soos pyn, ’n hoë koors, ’n genies en gehoes, en ’n toe neus kan verlig. Dit sal jou help om beter te slaap sodat jy liggaam beter in staat sal wees om die infeksies te beveg.


  

En om te keer dat jy griep kry is daar, benewens die griepinspuiting, nog ’n paar gulde reëls:

      

  • Eet goed en gesond.

  • Vermy stres.

  • Was jou hande gereeld, veral in die wintermaande wanneer griep volop is— jy kan virusse kry deurdat jy met jou hande aan grieplyers raak of aan dinge vat waaraan hulle geraak het.


  

Griepvirusdeeltjies op rooi bloedliggaampies

BO: ’n Elektronmikroskopiese beeld van
griepvirusdeeltjies (hier blou gekleur) op
rooi bloedliggaampies.

 

Foto: NIBSC / SCIENCE PHOTO LIBRARY

 

Waarom antibiotika NIE help teen griep en verkoue nie
 

TE veel mense dink dat antibiotika die wondermedisyne teen omtrent elke kwaal of pyn moet wees, terwyl die onoordeelkundige gebruik van dié middels eintlik baie meer kwaad as goed doen.

 

Antibiotika is middels wat bakterieë doodmaak, maar nie virusse nie. Bakterieë is mikroskopies klein eensellige organismes wat siektes soos longontsteking en gonorree veroorsaak. Die eenvoudigste vorms van bakterieë is so klein dat tot 20 000 in ’n ry van een sentimeter kan inpas.

 

Griep en verkoues word egter deur virusse veroorsaak—verskriklik klein mikrobes waarvan die groottes in miljoenstes van millimeters aangedui word. Teen hulle, soos gesê, is antibiotika heeltemal nutteloos.

 

Trouens, die blindelingse gebruik van antibiotika kan beteken dat mutasies van bakterieë ’n algehele weerstand teen alle bekende antibiotika ontwikkel.

 

Nogtans is antibiotika nuttig teen ernstige en gevaarlike komplikasies van griep soos longontsteking of brongitis—en kan dit wel van onskatbare waarde wees as dit met sorg gebruik word.