|
DIS
die winter se groot beproewing, maar dit kan die weerlose
mens in enige jaargety kniehalter. Voor jy weet, bekruip dit
jou soos ’n dief in die nag. Dan lê jy poegaai in die bed
met ’n knikkende koorspennetje tussen jou tande, want jy
bewe van die kouekoors. En jou kop voel soos muwwe
moerasgrond weens jou verdikte, verstopte neus.
Illustrasiefoto:
CDC
Jy’t
’n regte boereverkoue. Of dalk is dit griep. Maar wat jy
ook al het, dis ’n goeie ding dat jy besluit het om liewer
nie môre te gaan werk of skool toe te gaan nie en eerder in
die bed te bly.
Want
met sulke venynige virusse word werklik nie gespeel nie. As
’n mens ’n ernstige griep of swaar verkoue verwaarloos,
kan dit jou dalk suur bekom. Daar kan selfs baie ernstige
komplikasies wees wat in sekere gevalle tot die dood kan
lei.
Griep
en verkoue was nog altyd met ons, maar wat is nou eintlik
die verskil tussen die twee? Goeie vraag! In die volksmond
het die begrippe immers so vermeng geraak dat daar eintlik
nie meer ’n onderskeid getref word nie. Dan is dit vir die
leek ook baie moeilik om die verskille te diagnoseer.
Albei
ontstaan deur virusse. Maar waar daar meer as honderd
verskillende virusse is wat verkoues veroorsaak, is daar
veel minder soorte wat griep verwek. Dis hoekom ’n mens
inspuitings teen griep kry, maar nie teen verkoues nie.
Die
twee kwale se simptome kom baie ooreen. Maar ’n verkoue is in die reël lig, terwyl griep neig om swaarder te wees.
’n Verkoue begin dikwels met ’n moeë gevoel, ’n
genies, gehoes en ’n loopneus. Jy’t moontlik glad nie
koors nie, of dis dalk net so ietsie hoër as gewoonlik. Jou
spiere kan ook seer wees, jou keel kan seer of krapperig
voel, jou oë kan water en jou kop kan pyn.
Griep
kom vinnig en tref ’n mens soos ’n tienton-vragmotor. Die simptome is baie soos dié van verkoue, net erger. Jy
voel waarskynlik swak en moeg, het ’n hoë koors, jou
hoese is droog, jou neus loop en jou spiere pyn. Boonop het
jy ’n kwaai hoofpyn en keelseer, en jou oë kan ook seer
wees. Dit duur gewoonlik langer om gesond te word van griep as wanneer
jy net ’n verkoue het.
Griep
kan ernstig wees. Duisende Suid-Afrikaners sterf jaarliks
daarvan, meestal ou mense of ander verswaktes, wat dikwels
ook ander gesondheidsprobleme soos byvoorbeeld hartsiektes het.
•••
•• •
• • •
• • •
•
Soorte
griep
GRIEPVIRUSSE
word in groepe A, B en C ingedeel. Tipe A-stamme is die
volopste en word, benewens in mense, ook by baie diere soos
robbe, varke en voëls aangetref. Tipe B- en C-stamme besmet
slegs mense, en uitbrekings van tipe B vind elke twee of
drie jaar plaas. Tipe C veroorsaak ligte verkoue-agtige
siektes.
“Maaggriep”
is ’n verkeerde benaming wat soms gebruik word om siektes
van die spysverteringskanaal te beskryf wat eintlik deur
ander organismes veroorsaak word.
Griepvirusse
kan muteer, met ander woorde só van gedaante verander dat
hulle telkens ’n nuwe gevaar skep waarteen die mens elke
keer opnuut geïmmuniseer moet word. Daar word gereken dat
hulle van diere af na die mens “spring”, veral in
oorbevolkte lande in Asië.
Só
was tipe A-stamme al vir baie wêreldwye griep-epidedies
verantwoordelik. Elke nou en dan doem die spookbeeld weer op
van die sogenaamde Spaanse griep, wat in 1918 minstens
twintig miljoen, sommige meen selfs veertig miljoen, lewens
geëis het—twee tot vier keer meer as die Eerste Wêreldoorlog.
|

LINKS: 'n Veldhospitaal wat met die Spaanse griep
van 1918 iewers in die VSA opgerig is om die groot
getal pasiënte te help hanteer.
Argieffoto
(openbare domein) |
Griepvirusse
word genoem na die streek waar hulle vir die eerste keer in
’n laboratorium geïsoleer is. Die Spaanse griep (wat
vermoedelik eintlik in China ontstaan het) kon besonder
vinnig toeslaan. Daar is verhale van mense wat gesond werk
toe gegaan en dood neergeval het voordat hulle die fabriek
of kantoor bereik het.
In
New York het vier vroue sit en brug speel, en aan die einde
van die aand het slegs een nog gelewe.
Ook
in Suid-Afrika het die griep ongekende verwoesting gesaai.
Gesinne op plase is gelyk getref, met ’n hoë koors,
dermprobleme en ondraaglike spierpyne, maar daar was niemand
om vir hulle te sorg nie. Albei ouers is soms dood, met
verwese klein kindertjies wat dan heeltemal wees gelaat is.
Benewens
die Spaanse griep was daar in die twintigste eeu nog twee
ernstige griepepidemies: die Asiatiese griep in die 50’s
en Hongkong-griep in 1968. Die beskikbaarheid van antibiotika
om sekondêre infeksie teen te werk, en beter gesondheidsorg in die algemeen, het die
dodetal in die laaste twee epidemies baie beperk.
•••
•• •
• • •
• • •
•
Voëlgriep...
die dreigende wêreldramp
BAIE
navorsers reken egter al lank dat dit net ’n kwessie van
tyd is voordat die volgende weergawe van ’n uiters
dodelike griepvirus deur die mensdom woed. Die uitbreking van sars in die Ooste
het reeds beklemtoon dat hul vrese nie ongegrond
is nie (al is sars natuurlik nie ’n griep nie, maar
wel ook ’n aantasting van die lugweë).
En
dan is daar natuurlik die onheilspellende donker wolk van
voëlgriep, wat elke nou en dan weer nuus maak deur êrens
op die horison op te doem.
HIERBY:
’n Elektronmikrograaf van twee voëlgriepvirions wat ’n
verstommende 108.000
keer vergroot is. ’n Virion is ’n enkele volledige en
aansteeklike virusdeeltjie.
Elektronmikrograaf:
Public Health Image Library (PHIL) in VSA (openbare domein)
Mense
word in die reël nie deur voëlgriep aangetas nie. Só het die vrektes van
baie volstruise ’n tyd gelede in ons land (baie is van kant gemaak om die
verspreiding van die siekte te voorkom) gelukkig geen gevaar vir mense ingehou
wat met die voëls gewerk het nie.
Daarteenoor
word deesdae gereken dat die dodelike 1918-griep juis voëlgriep was—’n
gemuteerde variant wat van voëls na die mens oorgespring het.
Dat
só ’n sprong inderdaad moontlik is, is in 1997 die eerste keer ontdek toe
voëlgriep onder pluimvee in Hongkong uitgebreek en die virus agttien mense
aangetas het van wie ses gesterf het. Sedertdien is nog gevalle van
mensebesmetting deur hierdie soort virus aangeteken en wel in Viëtnam,
Thailand, Kambodja (of Kampoetsjea) en Indonesië.
Die
uiteinde? Die uitbraak in 2009 van die sogenaamde varkgriep, wat gelukkig op
die oomblik net as “matig ernstig” ervaar word, het die wêreld nogmaals tot
besinning geskok. Want wat sal gebeur as hierdie nuut gemuteerde griepvirus
nogeens sou muteer om in ’n veel gevaarliker gedaante om die aardbol te
trek? Lees hieronder meer oor varkgriep...
|

Foto: ARS /
U.S. Department of Agriculture
“Varkgriep”: die feite
VARKGRIEP
word dit dikwels in die media genoem. Maar eintlik
moet dit as mens-voël-varkgriep bekend staan. Want
die opspraakwekkende grieppandemie wat in 2009
begin het, word nie net veroorsaak
deur ’n gemuteerde variasie van die virus H1N1,
stam A, nie. Dit is volgens gerekende navorsers
ook kennelik die gevolg van ’n
hergroepering van minstens vier bekende
onderstamme van die genoemde virus:
•
een wat algemeen onder mense voorkom;
•
een wat endemies is by voëls;
• •
en
nog twee wat algemeen by varke aangetref word.
Vier
tipes, dus, wat hul samestellende materiaal
onderling geruil en saamgesmelt het—en toe soos die
saamgeflanste liggaamsdele van ’n
Frankenstein-monster ’n eie, aparte entiteit
gevorm het.
REGS:
’n Laboratoriumtegnikus
werk hier aan ’n projek oor
varkgriepvirusse.
Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of
Agriculture
Hoewel ’n Duitse vervaardiger betreklik gou aangekondig het dat hy ’n entstof
daarteen ontwikkel het, sou die konvensionele
vervaardiging van ’n griepentstof, naamlik deur eierproteïen as basis
te gebruik, veel langer duur. En toe dit
uiteindelik beskikbaar raak, was dit, ten minste
wat Suid-Afrika aanbetref, nie eens vir almal
beskikbaar nie, dog slegs vir hoërisiko-mense
soos bejaardes en hartlyers. Gelukkig is hierdie
soort griep in die reël tans vir betreklik
gesonde mense nie so ernstig nie.
Die klem word egter op die TANS geplaas. Die probleem is
naamlik dat die varkgriepvirus onstabiel is in die
sin dat dit maklik mutasies ondergaan, met die
gevolg dat ’n inenting wat Piet en Petra teen
die griep kan vrywaar, dalk nutteloos kan wees
vir Paul, Klaas en Katrina wat elders woon.
Hoewel dit die eerste keer in die land Mexiko
waargeneem is (waar dit die hoofstad Mexiko-stad
’n ruk lank so te sê tot stilstand gedwing het)
word sterk vermoed dat die virus deur besmette
mense uit Asië na Noord-Amerika gebring is. Dele
van die digbevolkte Asië is immers berug as die
broeiplekke van sulke gemuteerde virusse, omdat
mense, varke en voëls baiemaal daar in die
haglikste
onhigiëniese toestande saamlewe.
Interessant genoeg is daar sekere wetenskaplikes
wat reken dat die virus verwant is aan die een
van 1918 en dat dit die een of ander tyd uit ’n
Russiese of Chinese laboratorium “ontsnap” het,
moontlik weens die nalatigheid van ’n
laboratoriumwerker. Luidens nog ’n onbevestigde
teorie is ’n Amerikaanse laboratorium te blameer
waar die virus deur middel van genetiese
ingryping geskep sou gewees het.
Hoe ook al, die varkgriep was vermoedelik reeds
maande lank in Mexiko aanwesig voordat dit in
April 2009 geïdentifiseer is. Daarna het dit,
ondanks streng voorsorgmaatreëls, dermate oor
die wêreld heen versprei dat die
Wêreldgesondheidsorganisasie die uitbraak vroeg
in Junie 2009 tot ’n wêreldwye pandemie (wêreldwye heersende
siekte) verklaar het.
Daar is veral gevrees vir wat in arm lande sou
kon
gebeur indien die virus sou posvat in
gemeenskappe wat nie oor die nodige
gesondheidsdienste beskik nie.
Die simptome van die nuwe
H1N1-griep is weliswaar meestal maar baie net soos dié van
“gewone” seisoenale griep. Dit word eweneens versprei deur hoes, nies of die
aanraking van die mond of neus nadat daar aan
besmette voorwerpe geraak is. Die H1N1-grieppasiënt kan
koorsig wees en hoes en nies, terwyl hy of
sy ook van keelseer, hoofpyn en spier- en
gewrigspyne kan kla.
Antivirale (viruswerende) middels kan toegedien
word indien die pasiënt ernstig siek raak. Twee
van dié middels wat vir hierdie H1N1-griep aanbeveel word, is oseltamivir (Tamiflu) en
zanamivir (Relenza).
Minder dodelik vir gesonde mense soos dit (nog)
is, kan die gevaarligte egter flikker vir swanger vroue. Die hoofrede is bes moontlik dat
die swanger vrou se immuunstelsel ’n verandering
ondergaan om te verhinder dat haar liggaam die
“vreemde” klein wesentjie binne-in haar verwerp.
Gevolglik raak sy meer vatbaar vir die virus se
verwoestingswerk.
Voorts kan besmetting natuurlik ook veral
gevaarlik wees vir mense met
onderliggende gesondheidsprobleme soos
hartsiekte, obesiteit, asma, diabetes of ’n verswakte
immuunstelsel. Wat die laasgenoemde aanbetref,
kan daar ’n wesenlike gevaar bestaan vir mense
wat HIV-positief is (van wie daar miljoene in
Suid-Afrika en elders in Afrika suid van die
Sahara is).
Die grootste bekommernis van gesondheidsowerhede
is nietemin dat die virus later soseer kan muteer
dat dit nog veel
dodeliker kan word. Die vrees word deels
aangewakker deur wat in 1918 tydens die Spaanse grieppandemie
gebeur het. Aanvanklik was daar ook ’n hele
klomp minder ernstiger gevalle, totdat die virus
onverwags in ’n verwoede monster verander het
wat baie miljoene mense na hul graf gestuur het.
Een genade is wel dat die wêreld nog nooit so
voorbereid op ’n gevaarlike globale pandemie was as tans
nie. Soos almal is ook gelowige Christene baie
dankbaar daarvoor, maar hulle sê dat ons nie
moet ophou om te bid vir ’n wêreld wat in soveel
opsigte in nood verkeer en gebroke is nie.
Opdatering,
Augustus 2010: Op 10 Augustus 2010
het die Wêreldgesondheidsorganisasie amptelik
die einde van die H1N1-varkgrieppandemie
aangekondig, iets meer as ’n jaar nadat dit
begin het. Dit het nie beteken dat die virus
verdwyn het wat die pandemie veroorsaak het nie,
maar bloot dat dit toe so wyd versprei het dat
baie mense van alle ouderdomsgroepe ’n sekere
immuniteit daarteen opgebou het. Kenners het
verwag dat die virus steeds op betreklik lae
vlakke sou sirkuleer, baie soos dit met ’n
seisoenale griep gebeur.
|
Werk
daardie inspuitings?
MAAR
as griepvirusse muteer, het griepinspuitings dan enige nut? Baie mense glo trouens dat sulke inspuitings geen
waarde het nie of, tot oormaat van ramp, dat dit ’n
gesonde mens kan siek maak. Maar kan dit wees? Viroloë sê
nee—én ’n gekwalifiseerde ja. Hulle sê in die
algemeen tref die inenting sy kol en dat dit van 70 tot 90
persent doeltreffend is.
Vir
eers is dit belangrik om te weet dat die regte entstof vir
’n spesifieke virusstam gebruik moet word. Dan moet mense
onthou dat die beskerming wat die entstof bied twee weke
neem om te ontwikkel.
’n
Kenner by ’n groep mediese sentrums verduidelik voorts dat
die entstof mense net teen die griepvirus en nie teen
ontsteking van die boonste lugweë of teen gewone verkoues
beskerm nie. Juis om hierdie rede dink baie mense die
inspuitings werk nie.
Maar
doodveilig soos die entstof is, is daar volgens ’n apteker
tog mense wat ’n effense “grieperigheid” daarvan
kry—en ’n minderheidsgroepie wat hulle liefs glad nie
moet laat inent nie. Onder die laasgenoemdes is dié wat
baie allergies is vir eiers, want eierproteïen word as
basis vir die entstof gebruik.
Daarbewens
moet mense met akute koorssiekte die griepspuitnaald vermy,
asook vroue wat in die eerste drie maande van swangerskap is—net om heeltemal seker te maak, ofskoon dit as veilig
gedurende swangerskap beskou word.

Eierproteïen word as basis vir griepentstof
gebruik. Op die foto BO is ’n mikrobioloog besig
om ’n heel eier se binnekant te ondersoek deur
’n lig daarop te skyn.
Foto: James Gathany
Verskaffer: U.S. Centers for Disease Control and Prevention
(CDC) / Laura R. Zambuto
|