Suid-Afrika se Reënboogvolkdie Griekwa

Belangrike nota vooraf van Mieliestronk.com
 

Buiteblad van Children of the MistNADAT dit bekend geword dat ’n opsienbarende nuwe boek oor die Griekwavolk sou verskyn, het Mieliestronk.com die skrywer daarvan genader met die versoek dat hy vir ons ’n samevatting van die geskiedenis van die Griekwas skryf. Ons het dit veral gedoen omdat ander inligting hieroor dikwels moeilik bekombaar en selfs gefragmenteerd is.

 

Die skrywer, Scott Balson van Australië, wat in Suid-Afrika gewerk en ’n grondige kennis van die Griekwa-geskiedenis opgedoen het, het die onderstaande samevatting vir ons gestuur waarin hy geen doekies omdraai om die historiese feite te noem presies soos hy reken hulle gebeur het nie. Soos hy self sę: “Good or bad history cannot be changed, in fact just altered by fantasy.”

 

Aangesien daar egter hier en daar duidelik omstrede stellings in die samevatting is, moet Mieliestronk.com dit pertinent hier stel dat ons nie noodwendig saamstem met alles in die geskrif of alles onderskryf wat gesę word nie, maar dit bloot in die vertaling weergee. Dit bevat nietemin belangrike inligting wat van groot geskiedkundige waarde is, en die boek sal na alle waarskynlikheid ook ’n lewendige bespreking uitlok.

 

Meer oor die boek, Children of the Mist, the lost tribe of South Africa, verskyn in Engels op die volgende webblad: http://www.griquas.com  

Om die boek te bestel, gaan na: http://www.griquas.com/orders.htm. Children of the Mist bied ’n dieptebeeld, ’n feitelike maar gedramatiseerde insig in die volledige geskiedenis van die Griekwavolk van voor 1652 af tot vandag. 

 Suid-Afrika se Reënboogvolk—die Griekwa

 

Kopiereg © Scott Balson

 

Kinders van die Mis ek hoor jul voetval in die sand

Oor elke uithoek van dié breë en leë land.

Ek sien jul leed, ek voel jul sug

Van ver geslagte heen, nou ’n gedagtevlug.
Die sagte reent op my gesig, die kolkings van die mis

sal jou verlede nooit uit hierdie plek kan wis.

 

I

N die studie van die wordingsgeskiedenis van die mens word die stamme wat algaande ontwikkel het veelal as afsonderlike individuele entiteite voorgestel—wat nie die waarheid weerspieël dat ons almal een en dieselfde oorsprong het nie, een genetiese kwint wat ons almal bind, om dit so te stel. ’n Volmaakte voorbeeld van die voortgesette ontwikkeling van die mens is die merkwaardige verhaal van die Griekwavolk—’n stam wat eers ontstaan het nadat die Nederlanders hier aangekom en die witman hom in 1652 in Kaapstad gevestig het.

 

Adam Kok III — gesuperponeer op ’n reënboog Trouens, die stam wat ons nou die Griekwavolk noem, is die beliggaming van die Reënboognasie—met ’n verborge bloedlyn wat vandag in een uit elke vier Suid-Afrikaners voorkom, ’n bloedlyn wat in die toekomstige geslagte by so te sę elke Suid-Afrikaner aangetref sal word.

 

Voordat Van Riebeeck hom in Kaapstad gevestig het, het die inheemse volkere van Suid-Afrika betreklik vreedsaam saamgelewe. Oor die sentrale deel van Suid-Afrika van die latere Transvaal, Oranje-Vrystaat en Kaapland het slegs twee vername stamme geheers—die Khoikhoi en die San—beter bekend as die Hottentotte en die Boesmans.

 

Die aankoms van die Nederlanders in die Kaap het algehele verwoesting gebring na die plaaslike inheemse Hottentotvolk met hul veeboer-kultuur, op wie die nuwe setlaars staat gemaak het om vars vleis te voorsien vir die skepe wat na die Verre-Ooste onderweg was.

 

Dit het baiemaal gebeur dat die blanke setlaars die Hottentotvroue misbruik het—selfs onteer het; ander het met die inheemse vroue getrou en ’n ras, die gekleurde ras, het ontwikkel. In daardie dae het die land se nuwe besettingsmag dikwels na hierdie ongewenste nakomelinge as “basters” verwys.

 

Teen die vroeë 1700’s het verskeie uitbrake van pokke wat deur verbygaande matrose hierheen gebring is, die oorspronklike Hottentotvolk bykans uitgewis, en hul gekleurde nasate, wat dikwels deur hul pa’s verstoot is, was ’n ongewenste werklikheid.

 

Oor die volgende honderd jaar het hierdie “basterras”, wat uit die nuwe Nederlandse kolonie uitgeban is, hulle gevestig in die streek noord van die Kaap wat nou as Namakwaland bekend staan, voordat hulle ’n tuiste in ’n afgeleë gebied noord van die Oranjerivier gevind het. Hierdie nedersettinkie, wat hulle aanvanklik Klaarwater genoem het, het die basis geword van ’n nomadiese volk wat steeds vee aangehou het net soos hul Hottentot-voorvaders. Hierdie nuwe ontwikkelde ras het hulle nou as beter beskou as die inheemse mense vanweë hul “wit bloed” en hul gewere, wat hulle die magtigste groep in die streek gemaak het.

 

Hier het hulle in ’n skemerwęreld gelewe waar die geweer die baas was en brandewyn vrylik gevloei het. Om vir hierdie nuutgevonde plesiere van die lewe te betaal, het die manne jag gemaak op die enorme troppe wild wat oor die uitgestrekte binneland geswerf en aan sy lewensaar, die Oranjerivier, gewei het. Hulle het die naam “Bergenaars” aangeneem, ’n volk van perderuiters wie se kordaatstukke en bedrewenhede legendaries was.

 

In die vroeë 1800’s het die Londense Sendinggenootskap sy eerste sendelinge na Suid-Afrika gestuur, juis toe die beroemde natuurkundige en ontdekkingsreisiger William Burchell hom die onbekende in begewe en kennis gemaak het net die gemeenskap by Klaarwater, wat ontwikkel het en die unieke fondament vir vandag se Reënboognasie geword het. Soos die naam aandui, was hier ’n oase van goeie water in ’n andersins dorre land in die middel van die Karoo.

 

Dit was ’n tyd van groot onrus in hierdie nuwe voorposte, met rowers soos Jager Afrikaander wat die inheemse stamme oor ’n wye gebied noord van die Kaap geplunder het. Dit was slegs hul gewere wat die Bergenaars onder hul nuwe leier Adam Kok besit het, wat sou keer dat hulle nogmaals noodgedwonge na nuwe woonplekke moes uitwyk.

 

In 1813 het die sendeling eerw. John Campbell na Klaarwater gereis en, ná samesprekinge met  Adam Kok, die volk oorreed om die naam “Griekwa” te aanvaar, afgelei van die Chariguriqua-Hottentotstam wat by die gekleurde mense kom woon het. Die nedersetting by Klaarwater is tot Griekwastad hernoem om hul nuwe status te vier. In hierdie tyd berig Campbell dat hy blankes, swartes en baie ander rasse gevind het wat vreedsaam saam met die Griekwavolk gewoon het—die eerste opgetekende Reënboognasie waar ook al ter węreld. Campbell vaardig ook in hierdie tyd tien streng wette uit ten einde die gemeenskap te probeer oorhaal om hulle by die witman se beskouing van moraliteit neer te lę.

 

In die volgende tien jaar heers groot onenigheid terwyl die mense probeer regkom met die witmanswette in hul gemeenskap. Die gevolg van die konflik is dat die drie vernaamste familiegroepe uitmekaarspat. Griekwas onder Barend Barends verhuis na Danielskuil noord van Griekwastad, terwyl Adam Kok se seun Cornelius Kok na Klaarwater naby Kimberley uitwyk.  Slegs Andries Waterboer, ’n merkwaardige leier van Boesman-afkoms, bly aan as leier in die oorspronklike nedersetting by Griekwastad. Dit was in hierdie tyd dat die beroemde ontdekkingsreisiger dr. David Livingstone en die sendeling Robert Moffat deur die gebied gereis en met die Griekwas kennis gemaak het.

 

Terwyl Griekwastad ’n spookdorp geword het weens Campbell se ongewilde wette, het die Griekwas under hul nuwe leier Dam Kok, Adam Kok se seun, hulle in die streek tussen die Modder- en Oranjerivier gevestig. Hierdie streek, en die streek wat eenmaal deur die Griekwas van Campbell bewoon is, vorm ’n groot deel van die teenswoordige Vrystaat.

 

Die Griekwas wat hulle in hierdie groot gebied gevestig het, het soos tevore begin lewe, met die Bergenaars wat die plaaslike stamme geplunder, die Boesmans uitgewis en wild vir ivoor en velle gejag het. Die enorme streek wat nou deur die Griekwas beset is, en waarin die nuwe blanke setlaars nie belang gestel het nie, het gestrek van Namakwaland in die weste tot die streek benoorde die Oranjerivier wat tot noord van die Vaal uitgesprei het, en tot by Lesotho in die ooste.

 

Die hoofstad van die nuwe Griekwagebied was Philippolis. Teen hierdie tyd het die oorspronklike Nederlandse setlaars, wat deur Franse en veral Duitse setlaars aangevul is, onderhorig geraak aan hul nuwe Britse meesters en was hulle onder meer ontevrede met die manier waarop die Britte slawerny wou afskaf.

 

Laat in die 1820’s het die eerste Voortrekkers oor die Oranjerivier begin beweeg om onder die Britse invloed uit te vlug en deur die nuwe Griekwa-gebiede beweeg, voordat hul verder noord en toe ooswaarts na die gebied van Natal getrek het. Hier het hulle hulle gevestig en bloedige gevegte met die Zoeloes gevoer, voordat die Britse anneksasie van Natal hulle genoop het om oor die Drakensberg terug te trek na die gebiede noord en suid van die Vaalrivier.

 

Dit was hierdie militante Boere, so anders as die oorspronklike blanke trekboere wat met die Griekwa-gemeenskap by Philippolis geďntegreer het, wat in opstand begin kom het teen ’n gemeenskap wat hulle as knegte beskou het en nie as meesters nie. Die Britse goewerneurs van die Kaap het min belang gestel in die Griekwavolk wat so lojaal teenoor hulle gewees het, en het in die volgende dertig jaar die stigting bevorder van die Boerestaat die Oranje-Vrystaat, ten koste van ’n erkende Griekwastaat.

 

Die grondslag vir hierdie oorname van soewereine grondgebiede was die Griekwa’s se onvermoë om grondbesit te begryp. Die gemeenskap kon nooit die implikasie verstaan van grond aan ’n derdeparty verpag nie—net soos ons vandag geen kwaad daarin sou sien om die lug te “verkoop” wat ons inasem nie. Kan ’n mens jou lug voorstel as iets wat begrens is? Die Griekwas kon nie die konsep begryp van grond wat skielik nie meer vir hulle beskikbaar is vir weiding of om oor te steek nie.

 

Tog is dit wat gebeur het en die verpagting van grond aan die Boere wat hulle nou tussen hulle gevestig het, was die groot rede vir hul ondergang. Die grondbesetting van die Boere het tot die totstandkoming van Oranje-Vrystaat onder pres. Hoffman gelei.

 

Die Griekwas is opsy geskuif en die ultimatum is laat in die 1850’s aan hierdie verworpenes gerig om pad te gee of bediendes te word. Onder hierdie uitsterste toestande het baie eenvoudig hul grond vir ’n bottel brandewyn verkoop om hul verdriet weg te drink of bloot hul grond verlaat en onder hul nuwe leier Adam Kok III na ’n nuwe beloofde land in die skadu’s van die magtige Drakensberg gevlug. In dié tyd het hul erorme ryk veestapel uit tienduisende beeste, skape en bokke bestaan. Om hierdie nuwe beloofde land in die vroeë 1860’s te bereik, moes die Griekwas oor die hoogland van Lesotho reis en teen die hang van die Drakensberg aftrek tot in ’n streek wat destyds Niemandsland genoem is.

 

Die lang trek na Niemandsland het verwoesting gesaai onder die oorblyfsel van die Griekwas se eens legendariese ryk veestapel. Toe hulle hulle in die streek vestig wat vandag as Matatiele bekend staan, was hulle so erg verarmd dat hulle mielies uit die tuine van die plaaslike inheemse stamme moes steel om aan die lewe te bly.

 

Ondanks die ontberings wat hulle moes verduur, is die Griekwavolk, wat as Britse onderdane na die nuwe streek getrek het, toegelaat om hul eie regering, die Raad, tot stand te bring. Hulle kon die gebied bestuur, bewyse van grondbesit uitreik en selfs hul eie geldstelsel deur middel van ’n plaaslike handelswinkelmaatskappy, Strachan and Company, vestig. Die munte van Strachan and Company was trouens Suid-Afrika se eerste eie geld—in omloop van 1874 tot in die 1930’s. Dit was in die 1870’s dat hulle hul hoofstad by Kokstad gevestig het—genoem na hul leier Adam Kok III.

 

In hierdie tyd het die oorspronklike Griekwagemeenskap rondom Griekwastad gevind dat hulle ’n nuttige pion was in die grondbeslaglegging van Cecil Rhodes en die Britte, wat met begerende oë na die rykdom van die diamante by Kinberley se latere groot gat gekyk het. Hul grond is geannekseer en baie, onder wie hul leier Nicolaas Waterboer, het na Kokstad gevlug nadat hulle in die tronk gestop is.

 

In 1878 het die Britse goewerneur van die Kaap Niemandsland geannekseer, wat teen dié tyd as Griekwaland-Oos bekend was. Die nuwe blanke setlaars het gerieflik vergeet van die manier waarop die Griekwa-Raad gehelp het om ’n einde te maak aan die veediefstal in hierdie voorheen gevaarlike streek en hulle toegelaat het om ’n nuwe lewe daar te begin.

 

Vanweë die anneksasie het ’n paar Griekwas gerebelleer en is vinnig op die vlug gejaag. Die ergste sou nog kom. Waar die beendere van die volk oor elke uithoek van Suid-Afrika verstrooi gelę het, het ’n nuwe leier, Andries le Fleur, die volk weer byeen probeer bring.  Le Fleur is opgesluit en die gemeenskap se drome van ’n eie staat het bloot drome gebly.

 

Vandag word klein Griekwa-gemeenskappe regoor Suid-Afrika gevind, van Griekwastad tot Kokstad tot Kranshoek, terwyl verreweg die meeste lede van die volk nou in die gekleurde gemeenskap verlore is. In die tyd van apartheid het duisende Griekwas Kleurlinge geword om hulle die vernedering te spaar om die gevreesde dompas te dra.

 

Die geskiedenis kan nie die feit wegneem dat die Griekwas die fondamentsteen van die Reënboonasie is nie, en hul nakomelinge behoort trots te wees op die pioniersrol wat hulle gespeel het.
 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad