Die verskillende gelowe en geloofsgroepe in Suid-Afrika

Godsdienste
van die reënboog-nasie

In die sogenaamde "reënboog-nasie" van Suid-Afrika is daar nie net ’n bonte verskeidenheid van mensegroepe nie, maar ook ’n hele aantal verskillende gelowe. Opvoedkundiges van die nuwe bedeling meen dat dit beter begrip vir mekaar in die hand kan werk as ons weet waarin ons medeburgers alles glo. Op hierdie webwerf word in ’n neutedop daarna gekyk...

Soorte gelowe in Suid-Afrika

  • Christelik
  • Islam (Moslems)
  • Hindoeïsme
  • Judaïsme (Jode)
  • Inheemse gelowe en animisme
  • Boeddhisme en ander uitheemse gelowe

Wie glo wat in ons land? 

VOLGENS die gesaghebbende The Word Factbook 2004 van die Amerikaanse CIA is 68% van die Suid-Afrikaners Christene (dit sluit die meeste blankes en bruinmense, sowat 60% van die swartmense en ongeveer 40% van die Indiërs in).

Ander presentasies sou wees: Moslems 2%; Hindoes 1,5% (60% van die Indiërs); inheemse gelowe en animiste 28,5%.

The Word Factbook dui nie Jode aan nie, stellig omdat hul persentasie nie beduidend groot is nie, maar hulle is tog ook ’n belangrike minderheidsgroep. 

Die Suid-Afrikaanse amptelike sensus van 2001 maak ander verdelings, waarvolgens 35 750 641 (79,77%) van die land se 44 819 774 mense tot verskillende Christelike kerke sou behoort, met die volgende verdere indelings:
Tradisionele Afrika-geloof 125 898 (0,28%); 
Judaïsme 75 549 (0,17%); 
Hindoeïsme 551 668 (1,23%); 
Islam 654 064 (1,46%); 
Ander gelowe 283 815 (0,63%); 
Geen godsdiens 6 767 165 (15,1%); 
Nie vasgestel nie 610 974 (1,36%).
Die persentasies is by benadering.

Verskillende gelowe en wat hulle behels

Die Christelike geloof

CHRISTENE glo in die drie-enige God -- Vader, Seun en Heilige Gees -- Skepper van die hemel en die aarde en die Onderhouer van alle dinge. Hulle glo dat Jesus Christus, die Seun, sowat 2000 jaar gelede aan die kruis gesterf het om die sondige mens van sy sondes te verlos, opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en op ’n dag sal terugkeer om die mensheid te oordeel.

Christene beskou die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Hulle glo voorts in verlossing deur genade, met ander woorde dat ’n mens nooit die ewige lewe op grond van goeie werke deelagtig kan word nie, maar suiwer deur God se genadige redding (jou "wedergeboorte").
Piëta van Michelangelo in die Sint Pieterskerk in Rome. Die met sterre belaaide agtergrond is hier vir die effek aangebring, maar is in werklikheid nie agter die beeld nie

 

Links: Michelangelo se bekende beeld van Maria, moeder van Jesus, met die gekruisigde Jesus se liggaam op haar skoot.

 

Wedergebore Christene verklaar met ’n absolute sekerheid dat hulle geredde kinders van God is wat tot in alle ewigheid deel sal hê in Sy koninkryk -- en in dié opsig verskil die Christendom radikaal van ander godsdienste.

In Suid-Afrika, soos wêreldwyd, is die Christendom egter in talle kerkgenootskappe en sektes versplinter. Dikwels is die skismas (kerkskeuringe) die gevolg van verskillende interpretasies van minder kardinale sienings wat tog nie die hoofboodskap van die Christendom aantas nie.

Islam

HIERDIE godsdiens is, volgens sy volgelinge, gegrond op God se openbaringe aan die profeet Mohammed. Dié is omstreeks 571 in die stad Mekka in Arabië gebore en het op sowat veertigjarige leeftyd met sy predikings begin.

Moslems glo dat die profeet Mohammed God se woorde in die Koran van die aartsengel Gabriël ontvang het. Die Koran is die godsdienshandboek van die Islam. Die aartsengel Gabriël sou in ’n menslike gedaante aan Mohammed verskyn het terwyl hy in ’n grot naby Mekka gemediteer het.

Moslems glo ook dat die mens in die Laaste Oordeel geoordeel sal word op grond van sy handelinge en dienooreenkomstig na die paradys of die hel gestuur sal word. Vir hulle is daar geen ander god as Allah nie, en Mohammed is sy profeet. 

Gebedemat met 'n kompas om vir die bidder aan te dui in watter rigting Mekka geleë isRegs: ’n Moslemse gebedemat. Moslems kniel gereeld op só ’n mat om vyf keer per dag in die rigting van Mekka te bid. Baie matte, soos hierdie een, het deesdae ook ’n spesiale kompas om vir die bidder aan te dui in watter rigting Mekka is.

Die groot moskee in Mekka is om die Ka'bah gebou. In die muur van die Ka'bah is die Swart Steen, wat volgens die Moslems uit die hemel geval het as ’n teken van die eerste verbond tussen God en die mensdom.

Die Ka'bab is Islam se heiligste plek. Elke Moslem wat gesond en vry van skuld is en die reis kan bekostig, moet die pelgrimstog na Mekka minstens een keer in sy lewe onderneem, om die Ka'bah en ander heilige plekke te besoek.

Hindoeïsme

HINDOEïSME het oor 3000 jaar in Indië ontstaan en is soos ’n rivier waarin baie strome gevloei het. Die strome is die gelowe en praktyke van talle rasse, etniese groepe en kulture op die Indiese subkontinent. 

Hindoeïsme het baie gode, en tog is daar vir party Hindoes ’n onpersoonlike "Absoluut" agter hulle almal, genaamd Brahma, die skepper van die heelal. Hy sou een van die gode van die Hindoese Trimurti (drie-eenheid) wees. 

Hindoes oral glo in reïnkarnasie, met ander woorde dat die siel van die individu weer in ’n ander liggaam gebore word. As jy in een lewe goed is, glo hulle, sal jy in die volgende lewe beloon word.

Onder: Vroue by ’n Hindoe-feestelikheid.

Hindoevroue by 'n tradisionele feestelikheid

Judaïsme

SENTRAAL in die Joodse religie is die Tora, of "die Wet", wat in die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel opgeteken staan. ’n Godsdienstige Jood sal daarna streef om die Tora te gehoorsaam en sodoende God se leiding in sy hele lewe te aanvaar en na te volg. Die lees van die Tora is ’n belangrike deel van die seremonie in die sinagoge.

Die Jode sien uit na die tyd wanneer God Sy Messias (Gesalfde) sal stuur om Sy koninkryk op die aarde te vestig. (Die Christene glo dat hierdie Messias reeds gekom het in die persoon van Jesus Christus.)

Onder: ’n Geskrif uit die Middeleeue, gemaak van skaapvel. Só word die Tora ook steeds oopgerol en toegerol wanneer dit in die sinagoges gelees word.

'n Boekrol -- 'n geskrif wat in silindervorm opgerol is.

Boeddhisme

DIE stigter van die Boeddhisme, Siddharta Gautama, het in die sesde eeu vC in Noord-Indië gewoon. Daar word vertel dat hy grootgemaak is om ’n koning te word en met ’n pragtige prinses getrou het. As ’n jong prins sou sy pa hom teen al die hartseer van die wêreld buite die paleise beskerm het, maar op ’n keer het hy uitgeglip en die lyding daarbuite aanskou. Hy het toe sy gesin en lewe van beskerming en groot gerief verlaat om die antwoorde vir hierdie lyding te vind. 

Boeddhistiese monnik
Links
: ’n Boeddhistiese monnik.

Ses jaar lank het Siddharta Gautama getrag en gefaal in sy soeke na antwoorde, totdat hy onder ’n boom gaan sit en mediteer en sy "Groot Verligting" (opklaring) ontvang het. Hy het toe Boeddha geword, wat "die verligte een" beteken.

Boeddhisme benadruk ’n lewe van meditasie en neig na die standpunt dat mense wesenlik op hul eie in die heelal is en slegs op eie houtjie Nirvana (’n "hiernamaals" van redding en seën) kan ontvang. 

Inheemse gelowe en animisme


BAIE Suid-Afrikaanse swartmense glo steeds aan voorvaderlike geeste, hoewel hul geloof sterk vermeng geraak het met Christelike en ander gelowe. Hoewel hulle dus aan ’n Oppergod glo, word steeds gedink dat gestorwenes ’n invloed op hul lewens kan uitoefen.

Die sangoma of tradisionele heler speel ook ’n kardinale rol in hul religie. Die sogenaamde tokkelossie is weer vir hulle die verpersoonliking van ’n kwaadwillige gees. Animisme is die geloof dat daar ’n siel in alle dinge sit, wat verklaar hoe ’n mens "getoor" sou kon word deur byvoorbeeld ’n klossie hare wat op jou werf begrawe is. 

Dit is nie korrek om die tradisionele helers toordokters te noem nie. Onder die Afrikane is daar sowel towenaars as tradisionele helers. Die towenaars is—só glo die tradisievastes—kwaadwillige mense wat deur middel van hul toormedisyne kwaad doen. Hulle kan mense siek maak en selfs laat doodgaan. Teenoor hulle is daar dan die sangomas en inyangas, wat met behulp van hul dolosgooiery of waarsêery en hul kennis van plantemedisyne die vyande van die towenaars is.

Tog fokus Afrika-religie op mense eerder as op natuurverskynsels of bonatuurlike wesens. Dit het ten doel om menslike waardes in die gemeenskap te bevorder.

Hul reeds genoemde kultus van voorvadergeeste bly nietemin ’n vreemde konsep vir baie Westerlinge. Baie Afrikane glo dat God dit aanvanklik beplan het dat mense vir ewig sou lewe, maar weens een of ander misverstand, ongeluk of mislukking, het die dood op die toneel verskyn. Die dood word beslis nie verwelkom nie. Maar daar is tog ’n wyse waarop die dood die vervulling van die lewe moontlik kan maak. Deur te sterf, word ’n mens ’n "voorvader" wat in die doderyk woon.

Daar word gewoonlik geglo dat dié ryk ondergronds is, of aan die ander kant van die wêreld, ’n land wat ’n spieëlbeeld van ons s’n is. Nie alle dooies word voorvaders nie; slegs diegene wat kinders het, op ’n gepaste wyse gesterf het en korrek begrawe is. Die geeste van die kinderlose dooies, of diegene wat weens sekere soorte siektes of ongelukke, of ver van die huis af, dood is, en dié van hekse, kan swerwende, ontevrede geeste word wat die lewendes op verskillende maniere pla en skade doen.  

'n Tradisionele dans word uitgevoer Links : ’n Tradisionele danser. Hierdie een is van Zimbabwe, maar stamtradisies, ook religieuse tradisies, toon baie ooreenkomste onder die swart volke in die hele Afrika suid van die Sahara. 

 

'n Swartman in tradisionele dragRegs: In die lewe van die tradisionele swartmense is daar sekere seremonies, waar hul toorgeloof, hul geloof in die voorvadergeeste en godsgeloof almal saamwerk. Trouens, daar is geen enkele aspek van hul lewe wat nie deur een van of al drie hierdie gelowe beheers word nie.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad