die
gletsers
Foto: Earth as Art / NASA
|
||
NNER water,” sing David Kramer guitig oor die Karoo van die gryse verlede, “hierrie hele droë wêreld onner water, glo vir my.” En hy het natuurlik reg. Daar was ’n tyd toe sowat twee derdes van die huidige Suid-Afrikaanse landoppervlak bedek was deur ’n moerassige binnelandse meer waarin allerhande anderwêreldse kreature in die tropiese swoelte rondgeskarrel het.
Maar hoewel dit op sigself reeds verstommend genoeg klink, is die volle verhaal van die Karoo ons nog lank nie meegedeel nie. Geleerdes vertel verder dat selfs magtige ysriviere in ’n ander prehistoriese epog deur ons veelbewoë binneland gekruip het. Dié massiewe bevrore strome het hul onverbiddelike letsels op die landskap gelaat, waarvan die reste vandag nog in die veld en teen die rante en koppies te sien is.
Magtige ysriviere... die naam daaroor is eintlik gletsers (uit die Nederlandse gletsjer, afgelei van die Switsers-Duitse woord Gletscher, met sy oorsprong in die Latynse woord vir ys, naamlik glacies). Hier en elders ter wêreld het gletsers in die gang van die aardse geskiedenis hul kennelike deel gedoen om berge te laat verbrokkel en valleie uit te kerf.
Wat meer sê, gletsers word steeds in die poolstreke en kol-kol elders op aarde gevind, maar ons planeet is gelukkig vandag ’n goeie entjie warmer as in daardie ystydperk toe die Karoo soos Antarktika gelyk het.
Soos riviere loop baie gletsers in die see, waar die ys aan hul voorpunt afkalwe en in die water wegdryf.
Foto: NASA
Foto: John Bortniak / NOAA Central Libary
Waarom ’n gletser (wat uit ys bestaan) soos ’n trae, taai-vloeibare rivier beweeg
DIE vraag kan wel gestel word waarom gletsers nou eintlik beweeg. Hulle bestaan immers uit sneeu wat tot verdigte ys verhard het, en ys is mos ’n vaste stof, nie ’n vloeistof soos water nie. Die waarheid is dat gletser-ys glad nie so vas is as, sê, die rotse in die berge nie, maar oor ’n sekere plastisiteit beskik wat groot massas daarvan uiters stadig onder swaartekrag kan laat meegee.
As ons hierdie verskynsel van nader beskou, vind ons ewenwel dat daar verskeie faktore is wat ’n rol in die ys se beweging speel. Vir eers word die ys diep binne en onder in die gletser saamgepers deur die massa van die ys en die firn (korrelsneeu) daarbo.
Onder hierdie hoë druk raak die ys plasties (dit smelt en vries gelyktydig) en gevolglik tree dit soos ’n vloeistof op. Die gletser “vloei” dan as ’t ware byna soos ’n rivier.
Boonop glyskuif die verskillende yslae ook betreklik maklik oormekaar, die boonste lae vinniger as dié daaronder. Interne aardhitte help verder om die onderste ys plasties te maak en die verskuiwing makliker te laat gebeur.
Die snelheid waarmee die ys in die gletser beweeg, hang van verskillende faktore af, maar word deels bepaal deur die wrywing as gevolg van verskillende voorwerpe in die pad van die voortstuwende ysmassa. Wrywing veroorsaak dat die ys op die bodem van die gletser stadiger beweeg as die boonste gedeelte.
Die snelhede verskil grootliks van gletser tot gletser. Party beweeg so stadig dat bome hulle kan vestig in die puin wat die gletser op sy harmansdrup-tog versamel, maar ander kan op een enkele dag meters ver aanstryk. Die Byrd-gletser in Antartika kan byvoorbeeld tot omtrent 800 meter in ’n jaar voortworstel.
Kontinentale gletsers en dal-gletsers
IN die ys van die gletsers is die grootste volume varswater gekonsentreer wat op die aardoppervlak bestaan, beduidend meer as in al die varswatermere, panne, damme en riviere op ons planeet.
Twee hoofsoorte gletsers word onderskei, te wete kontinentale gletsers, wat uitgestrek oor wye gebiede kan voorkom, en betreklik klein, smal dal-gletsers met ’n steil helling, wat slegs bestaan in hoë bergstreke waar die bergkruine die hele jaar deur met sneeu bedek is.
Foto: Landsat / NASA
Die groot kontinentale gletsers van Antarktika en Groenland in die poolstreke verteenwoordig die meeste van die wêreld se gletsers. Die dal-gletsers van die hoë berge word op hul beurt op al die vastelande aangetref, Afrika inkluis.
Afrika se gletsers is op die berg Kenia in Kenia, op die Rwenzori-bergreeks aan die grens tussen Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo—en natuurlik op die hoogste Afrika-berg, Kilimandjaro in Tanzanië. Dit is interessant dat Kilimandjaro kwalik drie grade suid van die bedompige warm ewenaar lê, maar so hoog bo die omringende landskap uittroon dat hy gletsers kan hê.
In Australië self is daar weliswaar geen gletsers nie, maar Australië en sy naburige eilande word dikwels saamgegroepeer om die kontinent Oseanië te definieer. Op Oseaniese eilande soos dié van Nieu-Seeland en Nieu-Guinee is daar wel gletsers. Daar is trouens talle gletservalleie in die vrieskoue Suidelike Alpe van Nieu-Seeland.
Ligging is nietemin blykbaar nie die enigste faktor wat gletservorming moontlik maak nie. Volgens een wyd aanvaarde teorie is die periodieke ystydperke, met betreklik ysvrye tydperke tussenin, wat die aarde in sy geskiedenis belewe het, deur siklusse in ons planeet se rotasie om sy eie as en sy omwenteling om die son veroorsaak.
Wisselinge in die skuinste van die aarde se as op sy wentelbaan en die vorm van die wentelbaan self werk op mekaar in, met die gevolg dat ons wêreld in sekere gebiede uiteenlopende hoeveelhede seisoenale sonskyn ontvang. Hierdie veranderings in seisoenale intensiteit kan ’n uitwerking op seestrome hê waardeur die klimaat uiteindelik beïnvloed word.
Gletservorming
WINTERS met baie sneeu en koel somers is die ideale klimaat vir gletservorming. Sneeu wat in die wintermaande gevorm is, gaan in die somermaande nie verlore weens smelting, wegkalwing of verdamping nie, maar pak saam en verdig tot enorme ysmassas wat weens swaartekrag van hoër liggende plekke af sleur-glyend na benede beweeg.
’n Voldoende neerslag of aanvulling, hetsy in die vorm van sneeuval, ysreën, sneeustortings of sneeu wat deur die wind soheentoe gewaai is, is belangrik vir die behoud van ’n gletser.
In gebiede soos Antarktika, waar die lae temperature ideaal vir die aanwassing van gletsers is, groei hulle in die reël baie stadig as gevolg van die karige neerslag.
Hoe gletsers die landskap vervorm
Foto: U.S. Geological Survey
GLETSERS het, soos ons vroeër in hierdie artikel gesien het, ’n dramatiese uitwerking op die omgewing waaroor hulle beweeg. Dit is omdat hulle die onderliggende en aangrensende landskap radikaal vervorm, sowel deur erosie as deur afsetting.
’n Hele dal of laagte kan deur die berge oopgeskraap word deurdat rotse en grond deur abrasie (verwering) weggeskuur en groot rotsblokke en puin eenvoudig opgeraap en met brute krag verskuif word. Die gletser voer die grond en klippe met hom saam, byna soos ’n voerband, en smyt dit onderweg aan die kante uit, of deponeer dit aan die voorpunt (snoet) van die gletser.
Terloops, dit het al selfs gebeur dat die lyke van mense aan die onderkant van gletsers gevind is nadat hulle dekades vroeër hoog op in die berge verongeluk het.
Terreinvoorwerpe wat deur gletserafsetting gevorm is, sluit morene, drumlins en eskers in.
’n Moreen is ’n spul gletserpuin, en kan uit enigiets bestaan wat vanuit die gletserbodem meegevoer is of van die walle van die vallei afgeval het en deur die voortskrydende gletser gebuit is—net om dit as hope of plate puin neer te laat waar die gletser gesmelt het, of aan die kante of voorpunt van die gletser. Die samestelling van morene kan van fyn poeierslik, gruis en klippe tot groot rotsblokke wissel.
’n Drumlin is ’n lang heuwel in die vorm van ’n walvis met sy stomp kant gerig in die rigting van waar die gletser beweeg. Daar word gereken dat dit ’n golfvorm is, soortgelyk aan die sandriffels op die bodem van ’n waterstroom, maar wetenskaplikes is dit nie eens oor presies wat dit veroorsaak nie.
’n Esker is ’n smeltwaterrug, oftewel ’n lang smal strook sydelings aangegroeide sand en gruis wat deur ’n smeltstroom gevorm word.
Wanneer gletsers terugwyk...
DIE gletserverhaal se slothoofstuk word ingelui wanneer die gletser ophou groei en inderdaad agteruit begin beweeg. Sowel met sy aantog as sy terugtog is die ysmassa besig om sy puin in allerhande rigtings neer te laat.
Gletser-terugwyking en -smelting word vanselfsprekend deur ’n verhoging in die temperatuur veroorsaak—soos met die wisseling van die seisoene wanneer die somer nader kom.
Tog het gletsers oor die afgelope sestig tot honderd jaar wêreldwyd begin neig om in elk geval te retireer, buiten en behalwe vanweë die gewone seisoenale temperatuurverhogings. Dit geld veral vir dal-getsers, wat in die reël kleiner is en makliker terugwyk. Of dit die gevolg is van ’n voorspelbare klimaatsverandering, of weens die impak van menslike bedrywighede op die aarde se klimaat, moet nog gesien word.
Maar presies wat gebeur in die gletser in die fase van terugwyking? Die smelting van die ys geskied vanselfsprekend wanneer die temperatuur bokant vriespunt is, maar sneeu en ys sal selfs reeds by temperature onderkant vriespunt geleidelik begin verdamp (sublimeer).
Die stroompies smeltwater vloei oor en deur die gletser en daaronder uit en help om nog meer ys te laat smelt. Hulle voer selfs ys deur erosie in ’n ongesmelte vorm weg.
Al hierdie faktore saam staan bekend as ablasie. Dit vernietig die gletser aan sy voorpunt. Hy kry dit letterlik op sy snoet.
Die formidabele ysreus moet uiteindelik swig—en dan krimp hy voor die aanslag van ander, sterker werkinge in die natuur.
Foto: John Ross / NASA Dryden Flight Research Center Photo Collection
|
||