Die “malpitte” van die stinkblaar kan ’n mens skrikwekkend laat hallusineer… en die aronskelk se sap kan jou keel laat toeswel.
Ja-nee, glo dit, selfs krismisrose kan jou hond ’n uitslag gee...
  


 
'n Gevaarskedel by 'n gevaarlike selonsroosGiftige
plante in
jou tuin

   
Aronskelk deur Lorinda Geere

BO: ’n Wit aronskelk (“varkoor”) in ongewone kleure. Dit is ironies dat só ’n mooi lelie-agtige blom, wat in die winter in plate op die nat velde van die Wes-Kaap groei, ook sy eie kwota giftigheid in sy stingel het. Moenie aan die stele kou nie, waarsku die kenners!
 

Foto met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com deur
Lorinda Geere
Kyk nog van Lorinda (Lollie-Pop) se indrukwekkende reeks foto’s by hierdie skakel op flickr

Meer as 300 van die nagenoeg 20.000 plantspesies wat in Suid-Afrika voor­kom, is giftig en baie daarvan is tuinplante. Sekeres is boonop uiters gevaarlik vir jou kinders of troeteldiere. En dis nie net bekende gifplante soos die selonsroos en die bessies van die sering nie. Tot aronskelke (“varkore”) se sap kan ’n mens se keel laat toeswel en dan kan jy dalk versmoor. Loop ook maar lig vir die sianied in die appelkoospitte en amandels...
  


 

O

U tante Koba het volgens die lewendige volksliedjie haar koffie met haar groottoon omgeroer. Dit was beslis ’n rare aanwensel wat duidelik nie baie higiënies kon gewees het nie. Maar dit het haar stellig darem nooit in die hospitaal laat beland nie.

As tante Koba*) egter sou besluit het om die roerwerk eerder met ’n takkie oleander te doen, kon ons vandag ’n droewige treurlied oor haar einde gesing het:

Ou tante Koba drink haar boeretroos
toe val sy dood van selon se roos ...

Die selonsroos (of oleander, wetenskaplike naam Nerium oleander) is naamlik so ’n giftig dat dit ’n tyd gelede in ons land deur wetgewing verbied is. Trouens, volgens die Departement van Landbou se lys indringerplante val die selonsroos in die kategorie plante wat onmiddellik uitgehaal en vernietig moet word.

Selonsroossoorte, met wit en rooskleurige blomme

BO: Selonsroossoorte, met wit en rooskleurige blomme.

Foto’s: USDA / NRCS

Nie verniet nie. Dit is een van die giftigste plante wat aan die mens bekend is. Iemand onthou hoe hy as kind by ’n laning selonsrose verbygeloop en hoofpyn gekry het bloot deur aan die geurige blomme te ruik. Van toe af praat hy altyd van die oleander as die “kopseerblom”.

Die mensdom het al van die vroegste tye af geleer hoe gevaarlik die oleander kan wees. Sekere van Alexander die Grote se perde, byvoorbeeld, sou van die blare gevrek het tydens sy verowerings in die Nabye Ooste uit Macedonië. Ook van sy soldate is vergiftig. Hulle het vuur van die selonsrooshout gemaak en het spitte daarvan gesny om hul vleis te braai.

Meer as tweeduisend jaar later sou ons egter eers die groot noodsaak besef (maar ongelukkig nie altyd die daad by die woord voeg nie) om die selonsroos met wortel en tak uit te roei. Dit is een van die min plante waarvan alle bestanddele giftig is. Selfs as jy net een blaar kou, kan jy in jou graf beland.

Vergiftiging het al plaasgevind toe heuning geëet is wat van die blomme gemaak is, rook van brandende selonsrose ingeasem is of—ja werklik, ou tante Koba—toe tee gedrink is wat met ’n selonsroos-takkie omgeroer is!

Mense wat daardeur vergiftig word, ontwikkel dieselfde simptome as by ’n oordosering van digoksien, ’n beproefde middel vir hartversaking. Daar is aptytverlies, naarheid, diarree, stadige pols en hartblok. Dit kan met ’n sekere teenmiddel behandel word.

GevaarskedelMAAR selonsrose is natuurlik lank nie die enigste gifplante in ons tuine nie. Meer as 300 van die nagenoeg 20.000 plantspesies wat in Suid-Afrika voorkom, is giftig en baie daarvan is tuinplante.

Vir talle soorte plantgif is daar geen teenmiddel nie. Soos dr. Jan van Elfen, bekende skrywer van geneeskundige artikels en verskeie Afrikaanse boeke met mediese raad, op ’n keer geskryf het: “Gifmoordenaars soos Daisy de Melker kon beter gevaar het deur produkte van sierbome soos oleander of sering te gebruik pleks van maklik opspoorbare arseen.”

Dr. Van Elfen vertel dat seringbessies, veral die rypes, van die seringboom (Melia azedarach) twee gifstowwe bevat. Die een irriteer die spysverteringskanaal, terwyl die ander een stuiptrekkings veroorsaak.

SeringbessiesLINKS: Seringbessies (Melia azedarach)... hulle bevat twee soorte gifstowwe.

Daar is egter verwarring oor die sering, want blykbaar is daar ’n genetiese verskil tussen bome wat nie ewe giftig is nie. Party mense beweer dat hulle as kinders behoorlik aan die seringbessies weggelê het sonder om iets oor te kom, terwyl ander mense al van net ’n paar bessies dood is.

Die gifeenhede van sekere hospitale sal maagspoeling toepas op ’n kleuter wat so min as twee seringbessies geëet het en groter kinders wat drie of vier ingekry het, volgens dr. Van Elfen.

Hy waarsku ook teen die klein rooi-en-swart saadjies van Abrus precatorius (“geluksbone”) waarvan hangertjies dikwels gemaak word: “Net een gekoude pitjie kan jou lewe kos.”

“Geluksbone”REGS: “Geluksbone” (Abrus precatorius)... selfs een enkele pitjie kan lewensgevaarlik wees as jy dit kou.

Foto: U.S. Department of Agriculture

Die simptome wat op die eet van party giftige plante volg, is baie soos dié ná ’n oordosis hart- of maagmedisyne. Gelukkig word betreklik min mense deur plante vergiftig, omdat ’n mens dit normaalweg sal uitspoeg omdat dit so sleg smaak.

Nog ’n boontjie wat doodonskuldig lyk, maar blykbaar ’n wolf in skaapsklere kan wees, is die wolfsboontjie, ook genoem lupine (of lupien). Die rede hoekom dit ’n wolfsboontjie genoem word, is nie so duidelik nie, maar een verklaring is dat dit soos ’n wolf te kere sou gaan om ’n veld te verwoes wanneer dit daar vervuil het.

Dit is ’n peuldraende jaarplant, waarvan die blou, geel, wit en pers blomme al menige blomtuin verfraai het, en as peulgewas is dit inderdaad nuttig om vry stikstof te bind en sodoende die grond te verryk.

Maar hoewel dit ook as veevoer gebruik word (soos ook in minstens twee Afrikaanse woordeboeke vertel word) het wetenskaplikes reeds in die 1960’s begin besef dat dragtige koeie wat op lupines wei ’n beduidend groter risiko loop om kalwers te kry wat aan die “mismaakte-kalf-sindroom” ly. Hierdie kalwers word gewoonlik op die regte tyd gebore, maar hulle het dan ’n aantal afwykings, soos vervormde skedels en gesplete verhemeltes.

Hoe lupines die mens sou affekteer, is natuurlik ’n ander vraag—en die kans dat die blomme op ooievaarspartytjies geëet sal word, is stellig nul—maar versigtigheid is die moeder van die porseleinkas, sê hulle mos.

Lupines

BO en REGS BO: Lupines of “wolfsboontjies”... wetenskaplikes het vasgestel dat dragtige koeie wat daarop wei, kalwers met gesplete verhemeltes en vervormde skedels kan kry.

Foto links bo van lupines in Alaska: Nancy Heise (“released into the public domain”)
Foto regs bo van tweekleur-lupines elders in die VSA: Will Elder / U.S. National Park Service

WATTER plant sorg dan nou vir die meeste gevalle van plantvergifting? Kenners sonder die olieboom of stinkblaar (Datura stramonium) uit. Hulle wys ook ’n beskuldigende vinger na sekere tradisionele genesers wat dit, volgens hulle, as muti sou gebruik en “vir enige denkbare aandoening” sou voorskryf.

Blare, bloeiwyse en sade van die olieboom of stinkblaarREGS: Die olieboom of stinkblaar (Datura stramonium). Die sade word “malpitte” genoem omdat hulle verskriklike hallusinasies veroorsaak.

Illustrasies uit Koehler’s Medicinal-Plants, 1887; word tot openbare besit (“in the public domain’’) gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

Die stinkblaar bevat atropien, ’n middel wat voor operasies toegedien word om spoeg en slym te laat opdroog wat onder narkose ingeasem kan word. Verwante stowwe het baie geneeskundige gebruike soos in asmapompies of vir dermkrampe.

Dr. Van Elfen vertel: “Die sade (‘malpitte”) word ná uitdaging van maats deur skoolseuns geneem om ‘op ’n trip te gaan’. Die stoutheid word selde herhaal weens die skrikwekkende hallusinasies wat malpitte veroorsaak. Dit kan ook rampspoedige gevolge hê.”

Die eerste sterfte weens stinkbaarvergifting wat in ons land aangemeld is, was waarskynlik in die jare tagtig van die negentiende eeu. ’n Kimberleyse dokter het die owerheid daarvan verwittig.

Stinkblaarvergiftiging lei tot ’n droë mond en vel, die gesig word warm en blosend, die pols klop vinnig en die pasiënt sukkel later om te urineer.  As vermoed word dat iemand deur stinkblaar vergiftig is, moet hy of sy so gou as moontlik by ’n noodeenheid soos vir atropienvergiftiging behandel word.

ALLE dele van plante soos die selonsroos is giftig, maar by sekere ander plante is daar net gif in ’n bepaalde deel van die plant. Só is daar in die blare van die rabarber ’n giftige oksalaat, terwyl mense graag aan die steel smul. Dan is ons giftigste plant die gifblaar, waarvan die vrugte in magou (“veldslaai”) gebruik word. Om nie te praat van ons doodgewone, gesonde, ondergrondse aartappel met sy giftige blare en tamatie-agtige vruggies wat bogronds groei nie.

Lekker appels en smaaklike steenvrugte soos perskes, pruime en appelkose is omtrent so deel van ons lewens soos die belastinggaarder, maar die dood is in die pit! Geweet dat gevaarlike vlakke van sianied in jou bloed kan opbou as jy te veel appelkoos-, pruim-, perske- en appelkoospitte inkry, of selfs ’n oormaat amandels eet? Dan moet jy teen sianiedvergiftiging behandel word.

Amandels en amandelbloeiselLINKS: Wanneer ’n amandelboom in bloei staan—en selfs wanneer ’n mens lekker weglê aan die amandelpitte—is sianied tien teen een die laaste ding waaraan ’n mens sal dink...

 Vanselfsprekend is daar baie verskille in die simptome van plantvergiftigings. Maar die meeste gifplante irriteer die slymvlies van die ingewandskanaal en veroorsaak mislikheid, braking en/of buikkrampe en diarree, skryf dr. Van Elfen. “Dit is juis oor dié hoedanighede dat tradisionele artse dit voorskryf om bose geeste of kwaad uit te dryf.”

Versmoring is nog ’n moontlike gevolg van plantvergiftiging. Het jy al in die winter in die Wes-Kaap in die veld geloop en in ’n vlei op ’n plaat wit aronskelke (ook varkblomme of varkore genoem) afgekom? Dis ’n mooi gesig, maar moenie ’n blom pluk en dan later dalk ingedagte aan die steel daarvan kou nie!

Die Arum-familie, wat die aronskelk en olifantoor insluit, bevat kalsiumoksalaat. As jy dit inkry deur aan die stele te byt, gaan jou mond en tong dadelik brand en opswel. Indien jy van die sap insluk—wat seker darem nie sommer sal gebeur nie—kan jou keel toeswel en dan versmoor jy. Tien teen een sal jy egter net swaar sluk en baie kwyl.  Gelukkig bedaar die simptome gewoonlik binne sowat ’n halfuur tot uur, maar jy kan jouself intussen met melk of koue water laaf.

Maar hoekom sou juis sekere plante dan nou giftig vir mens en dier wees? Dit is natuurlik ’n verdedigingsmeganisme. Plante bevat dikwels gifstowwe om roofvyande van hul blare, stamme, stingels en dinge weg te hou.

Wilde diere weet gewoonlik instinktief of uit dure ondervinding watter plante vir hulle giftig is, maar van hierdie gif beland wel soms in hul pense wanneer hul bietjies-bietjies daarvan vreet. Dan kan dit selfs infeksies doodmaak wat in die pense van die diere voorkom en ’n nuttige mediese doel dien! Wat meer sê, dit lyk partymaal of sekere diere die medisinale waarde van bepaalde plante besef!

Só was daar die geval van die oorlamse wyfiesjampansee van Afrika wat siek geword het maar haarself, volgens een navorser, bewustelik en suksesvol laat gesond word het deur die bas van ’n sekere boom te vreet wat gewoonlik nie deur die ander sjimpansees gevreet word nie. Boonop smaak die bas sleg, het dit geen voedingswaarde nie en is dit giftig as baie daarvan geëet word.

Maar die siek sjimpanseewyfie het gesond geword—danksy die bas van die Vernonia amygdalina, wat volgens navorsers bestanddele bevat wat malaria en diarree beveg. Mense regoor die vasteland van Afrika gebruik dit juis daarvoor.

SELFS plante waarvan ’n mens dit glad nie sou verwag nie, kan giftig wees. Soos ons kosbare broodbome, wat geldgierige of selfsugtige mense so graag uit die natuur gaan stroop in sekere dele van ons land.

Die broodboom Encephalartos lehmanii, algemeen bekend as die Karoo-sikadeeLINKS: Die broodboom Encephalartos lehmanii, algemeen bekend as die Karoo-sikadee, is inheems in die provinsie Oos-Kaap in Suid-Afrika. Broodbome lyk soos palms, maar is nie. Wetenskaplikes reken hulle was die dominante soort plante in die tyd van die dinosourusse.

Foto: U.S. Botanic Garden
 
 

Die vroulike broodboom se keëls lê in die kruin van die plant soos in ’n blarebak, en dié saad is vir die mens baie giftig.

Dog dis interessant dat die naam broodboom eintlik nie afgelei is van die plant se keëls nie, maar te doen het met die stam waarvan sekere swartmense vroeër ’n soort brood gebak het. Hulle het dit veral tydens droogtes gedoen wanneer kos skaars was.

Benewens die giftige saad is die plant self egter ook giftig. Om van sy gif ontslae te raak, is die pit van die stam fyngestamp en gemaal. Daarna is dit in ’n sak gesit en ’n paar weke begrawe om te gis. Uiteindelik kon dit soos ’n deeg geknie en brood daarvan gebak word, en dit is daar waar die volksnaam broodboom vandaan kom.

Daar word vertel dat genl. Jan Smuts en sy kommandolede in die Anglo-Boereoorlog ernstig siek geword het nadat hulle in die Oos-Kaap brood met varsgemaalde, halfryp broodboom-deeg gebak en geëet het. Minstens twee Boerestryders het agterna die verhaal opgeteken van die keer toe die hele kommando byna uitgewis is deur die giftige brood wat Smuts van ’n broodboom gemaak het.

Nog ’n giftige Suid-Afrikaanse plant wat wel geëet kan word, maar eers nadat dit korrek behandel is, is die wilde amandel. Die ou Nederlandse nedersetters aan die Kaap het agtergekom dat die wilde amandel ’n belangrike voedselbron van die Khoi-bevolking was. Tog het ’n Hollander gesterf nadat hy ook daarvan geëet het. Jan van Riebeeck het in sy dagverhaal  geskryf dit was “van te veel bittere amandelen gegeeten”.

Die Hollanders het nie besef dat die Khoi die amandels eers vir ’n paar dae in ’n stroom water laat lê het om van die giftige blousuur ontslae te raak nie.
  

Giftige plante en jou troeteldiere

Wagter die Plantevreter’N KIND sal nog ’n bessie uitspoeg wat sleg smaak, maar jou hond sal dalk niks daarvan dink om ’n boom vol galbitter, giftige vruggies by te dam nie.

As ou Wagter ’n giftige plant gevreet het, en dadelik moet veearts toe, moet jy ook die oorblywende deel van die plant saamneem sodat die veearts kan sien waarvoor hy jou hond moet behandel.

Volgens een verslag is daar meer as honderd binnenshuise- en tuinplante wat giftig vir ons troeteldiere is. Dié gifstowwe tas die niere en kardio-vaskulêre stelsel aan of lei tot depressie en ongewone gedragspatrone. ’n Mens kan gewoonlik dadelik aan ’n dier sien dat hy iets giftigs gevreet het.

Sigbare simptome wat baiemaal deur bepaalde plante veroorsaak word, is naarheid, bewerasie, uitslag, ’n seer tong en lippe en ’n geswelde bek, swakheid, swaar asemhaling en diarree.

  • Plante wat naarheid veroorsaak, is asaleas, paradysvoël, olifant-ore, spinnekopblom, klimop en vingerhoedjies.

  • Plante wat die bek laat opswel, ’n pynlike tong of seer lippe veroorsaak, is klimop en filodendron.

  • Plante wat ’n uitslag meebring, is poinsettias en, glo dit, krismisrose.

’n Mens kan byna wonder of jy dit nog kan waag om jou eie hond in jou eie tuin los te laat rondloop!
 

  
*) Ou Tante Koba
— die woorde van die tradisionele liedjie

Ou Tante Koba dié is so dom,

Sy roer haar koffie met haar groottoon om.

Ou Tante Koba dié is in die nood,

Want haar ou kalkoen is al drie dae dood.

Dis nie myne nie, dis nie joune nie,

Dis ’n ander man se goed waar julle om stry.

Ander man se koffie, ander man se tee,

Ander man se dogter dié dans julle mee.

Lank is die seun en kort is sy pa,

Mooi is die dogter en lelik haar ma.

Dis te ver om te loop en te na om te ry.

Hoe sal ek maak om die blom te kry?

Dis nie myne nie, dis nie joune nie,

Dis ’n ander man se goed waar julle om stry.

Ander man se koffie, ander man se tee,

Ander man se dogter dié dans julle mee.

 

         ...

 

Of ’n ander weergawe wat meer pas by die musiek wat gehoor kan word deur hier te klik:

 

Ou tante Koba, sy was so dom, sy roer haar koffie met haar groottoon om.

Ou tante Koba, sy was so dom, sy roer haar koffie met haar groottoon om.
Tie-rie-rie-ra, die-rie ram-pam-pa! Tie-rie-rie-ra, die-rie-ram-pam-pa!

Tie-rie-rie-ra, die-rie ram-pam-pa! Tie-rie-rie-ra, die-rie-ram-pam-pa!
Ou tante Koba, maak oop die deur; jou man se broek sit vas in die skeur.

Jou man se broek sit vas in die skeur.

Ou tante Koba, maak oop die deur; jou man se broek sit vas in die skeur.
Tie-rie-rie-ra, die-rie ram-pam-pa! Tie-rie-rie-ra, die-rie-ram-pam-pa!
Tie-rie-rie-ra, die-rie ram-pam-pa! Tie-rie-rie-ra, die-rie-ram-pam-pa!


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad