Wandelende geraamte


W
ette van skelette—die wonderlike wêreld van geraamtes

Tot op die been...

      Animasie deur Animation Library (Free Animation)
 

 
 

Skelet van ’n 22 weke oue menslike fetus

LINKS: ’n Afgietsel in brons (en wit geverf) van die “biddende” skelet van ’n 22 weke oue menslike fetus. Wanneer ’n baba gebore word, het hy baie meer beendere as ’n volwasse mens. Namate hy ouer word, groei sekere van sy beendere saam.

 

Foto deur  Angelina

op flickr by hierdie bladsy en gelisensieer ingevolge creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/2.0/deed.en_GB

 

Geweet die liggaam van ’n baba het baie meer beendere as dié van ’n volwassene? Of dat die beendere in jou vingers net soos dié in ’n vlermuis se vlerke lyk? Hier klim ons onder die vel in om ’n paar van die geheime van geraamtes tot op die been oop te vlek...

 

D

IE volwasse menslike liggaam bevat 206 beendere. Verrassend genoeg het ’n pasgebore baba baie meer—omtrent 350! Namate ’n baba groter word, groei sekere van sy beendere saam.

Die menslike skedel is bo groot en rond. Dit bevat en beskerm die brein. Hoewel die grootste deel van die skedel soos een groot been lyk, bestaan dit in der waarheid uit 22 beendere wat dig saamgevoeg is. Spesiale skarniere verbind die onderkaak met die res van die skedel sodat die kaak maklik kan beweeg.

Die ribbe krom van die ruggraat af oor na die borsbeen toe. Ribbe is sterk genoeg om die delikate longe daaronder te beskerm, maar lig genoeg om in- en uitwaarts te beweeg wanneer ons asemhaal.

Die menslike ruggraat bestaan uit talle klein beentjies genaamd werwels—net soos die ruggrate van diere. Maar die menslike ruggraat is ’n vertikale stut, waar dit by kruipende diere ’n horisontale stut is. Aan die einde van die ruggraat is die stuitbeen (kokkiks) of stuitjie.

Die heupbene of pelvis verbind die bene met die torso. Diere wat meestal op vier pote loop, het lang pelvisse. Die mens het ’n meer komvormige pelvis, geskik vir die regop beweging op twee bene, met die bene direk onderkant die torso. Die dybeen of femur is die grootste been in die menslike liggaam.

Die 27 beendere in die mensehand sorg vir groot buigbaarheid. Die vingers en duim kan saamkom, sodat ons selfs die kleinste voorwerpie ferm kan beetkry.

 

X-straalfoto van mens se hand

LINKS: Die vingers en duim wat kan saamkom, maak die menslike hand baie “handig”!
(X-straalfoto.)


Krediet: Sandia National Laboratories / U.S. Department of Energy



Die mensevoet is ’n plat platform wat vir loop ontwerp is—nie om boomtakke mee vas te vat nie. Mense se tone is baie korter as dié van gorillas, en ons kan nie ons groottoon soos ’n duim aan die ander tone laat raak nie. Ons het 26 beendere in elke voet.

Die bene in die menslike liggaam kan op verskillende maniere beskadig raak, soos deur frakture, maar byvoorbeeld ook deur osteoporose. Laasgenoemde, wat veral by ouer vroue voorkom, is ’n broswording van die beendere. Kalsium kan ter voorkoming ingeneem word deur mense wat die risiko loop om dit te kry.

Maar wat is ’n geraamte (of skelet) eintlik?

Die term word gebruik om te verwys na die onbuigsame of stram strukture wat die sagte weefsels van ’n menslike of dierlike liggaam ondersteun en hefvermoë vir die spierwerkinge verskaf. In gewerweldes is die geraamte ’n endoskelet (binne-in die liggaam). Sekere ongewerwelde diere, soos insekte en skaaldiere, het eksoskelette (hul skelette sit aan die buitekant).

’n Klompie skelette van gewelwelde diere word hieronder bekyk. Dit is interessant om te sien hoe hul geraamtes van dié van die mens verskil—of dalk in sekere opsigte daarmee ooreenkom.

 

  
Die geraamte van ’n vlermuis

BO: Die geraamte van ’n vlermuis.

Foto: Kopiereg © dr. S.C. Burnett, met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com. Verkry van webblad by:

http://a-s.clayton.edu/biology/biol3650l/skeletal/bat_skeleton.htm 

 


Vrugtevlermuis: lig van gewig
vir die vlug

 

HOEWEL die vrugtevlermuis se liggaam slegs sowat 40 cm lank is, is sy vlerkspan tot een en ’n halwe meter—omtrent so lank soos die uitgestrekte arms van ’n volwasse mens. Die vlerke is van dun vel, gesteun deur die lang beendere van hul arms en “hande”. Die beendere is lig om die vlermuise in staat te stel om te vlieg.

Alle vlermuise het ’n klou aan die eerste vinger. Vrugtevlermuise het ook ’n klou aan elke tweede vinger. Hulle gebruik die kloue om boom te klim en hul kos vas te hou. Die vingerbene van die vlermuis se “hande” is besonder lank.

Vrugtevlermuise kan uitstekend sien. Daar is groot oogkaste wat die groot oë van hierdie nagdiere huisves.

Die skouerblaaie is groot en sterk. Hulle stut die groot spiere wat nodig is om die vlerke aan te dryf.

Die vlermuis se voete is ontwerp om takke en rotslyste vas te gryp.


Olifant: ’n reuse-dier wat ou bene maak
 

DIE ivoor van die olifant is in werklikheid baie lang voortande. ’n Olifantbul se tande kan tot twee meter lank wees—langer as ’n volwasse mens. Elke tand weeg sowat 60 kg—soveel as twee kinders. Die skedel is groot om die swaar tande en slurp te kan dra.

Die geraamte van ’n Indiese olifantREGS: Die geraamte van ’n Indiese olifant.

Illustrasie: Histories (Royal Natural History, Volume 2, 1896 outeur R.A. Lydekker—“PD Old”)
 

Die dik ruggraat is ongewoon reguit en onbuigbaar. Daar is omtrent 20 groot ribbe. ’n Olifant kan nie buk nie. Hy moet kniel of sy slurp ondertoe uitstrek.

Die olifant se pootbene moet dik en swaar wees om die massiewe liggaam te kan dra. Sy voet is dik en breed. Daar is vyf tone aan elke voet, met naels soos klein hoewe vooraan. Agteraan die voet is ’n dik, veerkragtige velkussing. Dit help om die dier se gewig te versprei.

’n Olifant kan tot sewentig jaar lewe, partykeer selfs langer.

Die geraamte van ’n muisHuismuis: ’n piepende, piepklein pieperigheid—maar eweneens gebou om te hou!

LINKS: Die geraamte van ’n muis.

Foto: ORNL / U.S. Department of Energy

DIE Afrika-bosolifant, een van die olifantspesies en die grootste nog lewende landdier, kan tot 9000 kilogram weeg. Trouens, die grootste olifant wat nog platgetrek is, was ’n bul van 12.274 kilogram wat in 1955 in Angola geskiet.

Die volwasse huismuis, daarenteen, trek sy skaaltjie op ’n skamele sowat 20 tot 40 gram. Kwalik vergelykbare soogdiere, hy en die olifant.

Dog kyk ’n mens so na hul onderskeie geraamtes, lyk dit mos nie of daar ’n beduidende verskil tussen die getal beendere in hul liggame kan wees nie!

Maar sou ’n olifant rêrig bang vir ’n muis wees, soos baiemaal vertel word? Nee, kenners sê dis ’n wolhaarstorie. Vergeleke met ’n olifant is ’n muis so piepklein dat ’n olifant nie eens sal agterkom wanneer ’n muis naby hom is nie. Of, indien wel, sal hy hom skaars aan dié pieperige ou dingetjie steur!

 

Die geraamte van ’n hoender

BO: Die geraamte van ’n hoender.

Foto: © Earlham College, Richmond, Indiana, VSA, www.earlham.edu, wat nie-kommersiële gebruik vergun, maar stipuleer dat foto nie gemodifiseer mag word nie

Voëls: hol van gebeente
 

DIE beendere van voëls is lig van gewig en baie is hol van binne—selfs die beendere van voëls wat nie ver kan vlieg nie, soos die hoender. Voëls het ook minder beendere as reptiele en soogdiere.

En hul skedels is bra dunnerig. Dis interessant dat die gewig van die skedel van ’n hoender net sowat ’n derde is van dié van die skedel van ’n konyn wat nagenoeg dieselfde gewig as die hoender het. Die snawel van ’n voël, wat ’n deel van die skelet uitmaak, is eweneens verbasend lig en dun as ’n mens in ag neem dat die voël soveel harde werk daarmee verrig.

Natuurlik moet die skelette van groot voëls soos volstruise egter sterk genoeg wees om die groot massa van die voëls te dra. Ook die pikkewyn se beendere is swaarder as baie ander voëls s’n om hom te help om onder die seewater in te duik.

Die pikkewyn se vlerke is vir swem gevorm pleks van vir vlieg. Hulle is kleiner as die vlerke van ander voëls van dieselfde grootte, en hulle kan nie teen die liggaam teruggevou word nie. Die beendere het ’n spaan-agtige vorm.

Wetenskaplikes het ooreenkomste in die beenstruktuur van voëls en sekere van die dinosourusse van ouds gevind, wat hulle laat reken dat voëls aan die dinosourusse verwant is.

 

 

Die geraamte van ’n padda


BO: Die geraamte van ’n padda.

Foto: © Earlham College, Richmond, Indiana, VSA, www.earlham.edu, wat nie-kommersiële gebruik vergun, maar stipuleer dat foto nie gemodifiseer mag word nie

Padda: gebeen om te spring
  

JOU eie rugstring het 24 werwels, maar in die rug van ’n padda is daar slegs nege. En dan het die padda, ’n amfibiese dier, ook geen ribbes soos ek en jy nie. Rib-agtige werweluitsteeksels is wel waarneembaar by sekere soorte, maar hulle is bloot ’n deel van die ruggraat.
 

Maar daar is tog ook sekere duidelike ooreenkomste met die menslike skelet, soos by die ledemate. Die padda het boonop byvoorbeeld twee skouerblaaie, of bladbene, en sleutelbene, wat baie soos dieselfde beendere in die menslike liggaam gevorm is.

 

Paddas verskil van die amfibiese salamanders deurdat die volwassenes geen stert het nie. Die werwels aan die onderent van die werwelkolom is tot een been versmelt, die staafvormige stuitbeentjie of urostyl.

Die lang agterpote en lang enkelbene sorg dat die paddas beter kan spring as loop. ’n Padda se bekken kan boonop by die rugstring op en af gly, wat hom verder met die springery help.

Paddas se skedels het ’n plat voorkoms. Maar hulle het geen nekke nie, sodat hulle nie hul koppe kan draai of op en af kan beweeg soos mense dit kan doen nie.

Die tone is uit ’n aantal klein beentjies saamgestel, en daar is meestal vyf tone aan die agterpote en vier tone aan die voorpote.

Die skelet van ’n slang

 

BO: Die skelet van ’n slang.

Illustrasie: The Royal Natural History, 1896, outeur R.A. Lydekker (negatief van oorspronklike)

Slange: lang rugstringe, honderde ribbes
 

’N SLANG het tussen 200 en 400 beendere in sy lang en hoogs buigsame rug, elk met sy eie paar ribbes. Vergelyk dit met die mens se skamele twaalf paar ribbes en jy besef hoeveel ons van hierdie pootlose reptiel verskil.

Die slang se ligte skedeltjie bestaan meestal uit kakebene. Slange is dan ook bekend daarvoor dat hulle hul bekke baie wyd kan oopmaak omdat die bo- en onderkaak net losserig verbind is. Só kan die slang groot prooidiere of yslike eiers insluk.

Slange het nie heupbene, skouerblaaie of pootbene nie.

Eksoskelette: die “geraamtes” aan die buitekant
 

TEENOOR die inwendige skelette van gewerweldes wat hierbo genoem is, is daar ’n menigte diertjies met uitwendige skelette (eksoskelette). Pleks daarvan dat die diereliggaampie van binne deur rigiede beendere gestut word, is daar ’n buitedop wat die liggaam omhul, beskut, teen uitdroging beskerm en in posisie hou.

LiewenheersbesieREGS: In sy dop gekruip en deeglik beskerm, voer die liewenheersbesie (skilpadjie of “ladybird”) ’n hoogs suksesvolle bestaan met sy uitwendige skelet.

Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture

Eksoskelette word by baie ongewerwelde diere aangetref. Die term word meestal gebruik vir die liggaamsbedekking van geleedpotiges. Geleedpotiges is op hul beurt die grootste phylum in die diereryk, met meer as ’n miljoen beskrewe spesies, wat meer as tagtig persent van alle beskrewe lewende spesies uitmaak. Verreweg die meeste diere het dus eksoskelette.

Die eksoskelet bestaan uit ’n stof genaamd chitien, wat deur selle daar onder afgeskei word. Omdat dit nie kan rek nie, moet die dier gereeld die dop afwerp (“vervel”) om vir sy groter wordende liggaam voorsiening te maak.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad