|
IE
volwasse menslike liggaam bevat 206 beendere. Verrassend genoeg het
’n pasgebore baba baie meer—omtrent 350! Namate ’n baba groter word,
groei sekere van sy beendere saam.
Die menslike skedel is bo groot en rond. Dit bevat en beskerm die
brein. Hoewel die grootste deel van die skedel soos een groot been
lyk, bestaan dit in der waarheid uit 22 beendere wat dig saamgevoeg
is. Spesiale skarniere verbind die onderkaak met die res van die
skedel sodat die kaak maklik kan beweeg.
Die ribbe krom van die ruggraat af oor na die borsbeen toe. Ribbe is
sterk genoeg om die delikate longe daaronder te beskerm, maar lig
genoeg om in- en uitwaarts te beweeg wanneer ons asemhaal.
Die menslike ruggraat bestaan uit talle klein beentjies genaamd
werwels—net soos die ruggrate van diere. Maar die menslike ruggraat
is ’n vertikale stut, waar dit by kruipende diere ’n horisontale
stut is. Aan die einde van die ruggraat is die stuitbeen (kokkiks)
of stuitjie.
Die heupbene of pelvis verbind die bene met die torso. Diere wat
meestal op vier pote loop, het lang pelvisse. Die mens het ’n meer
komvormige pelvis, geskik vir die regop beweging op twee bene, met
die bene direk onderkant die torso. Die dybeen of femur is die
grootste been in die menslike liggaam.
Die 27 beendere in die mensehand sorg vir groot buigbaarheid. Die
vingers en duim kan saamkom, sodat ons selfs die kleinste voorwerpie
ferm kan beetkry.

LINKS: Die vingers en
duim wat kan saamkom, maak die menslike hand baie “handig”!
(X-straalfoto.)
Krediet: Sandia National Laboratories /
U.S. Department of Energy
Die mensevoet is ’n plat platform wat vir loop ontwerp is—nie om
boomtakke mee vas te vat nie. Mense se tone is baie korter as dié
van gorillas, en ons kan nie ons groottoon soos ’n duim aan die
ander tone laat raak nie. Ons het 26 beendere in elke voet.
Die bene in die menslike liggaam kan op verskillende maniere
beskadig raak, soos deur frakture, maar byvoorbeeld ook deur
osteoporose. Laasgenoemde, wat veral by ouer vroue voorkom, is ’n
broswording van die beendere. Kalsium kan ter voorkoming ingeneem
word deur mense wat die risiko loop om dit te kry.
Maar wat is ’n geraamte (of skelet) eintlik?
Die term word gebruik om te verwys na die onbuigsame of stram
strukture wat die sagte weefsels van ’n menslike of dierlike liggaam
ondersteun en hefvermoë vir die spierwerkinge verskaf. In
gewerweldes is die geraamte ’n endoskelet (binne-in die liggaam).
Sekere ongewerwelde diere, soos insekte en skaaldiere, het
eksoskelette (hul skelette sit aan die buitekant).
’n Klompie skelette van gewelwelde diere word hieronder bekyk. Dit
is interessant om te sien hoe hul geraamtes van dié van die mens
verskil—of dalk in sekere opsigte daarmee ooreenkom.
|

BO: Die
geraamte van ’n vlermuis.
Foto: Kopiereg
© dr. S.C. Burnett,
met
spesiale vergunning aan Mieliestronk.com. Verkry
van webblad by:
http://a-s.clayton.edu/biology/biol3650l/skeletal/bat_skeleton.htm
Vrugtevlermuis: lig van
gewig
vir die vlug
HOEWEL
die vrugtevlermuis se liggaam slegs sowat 40 cm lank is,
is sy vlerkspan tot een en ’n halwe meter—omtrent so
lank soos die uitgestrekte arms van ’n volwasse mens.
Die vlerke is van dun vel, gesteun deur die lang
beendere van hul arms en “hande”. Die beendere is lig om
die vlermuise in staat te stel om te vlieg.
Alle vlermuise het ’n klou aan die
eerste vinger. Vrugtevlermuise het ook ’n klou aan elke
tweede vinger. Hulle gebruik die kloue om boom te klim
en hul kos vas te hou. Die vingerbene van die vlermuis
se “hande” is besonder lank.
Vrugtevlermuise kan uitstekend sien. Daar is groot
oogkaste wat die groot oë van hierdie nagdiere huisves.
Die skouerblaaie is groot en sterk. Hulle stut die groot
spiere wat nodig is om die vlerke aan te dryf.
Die vlermuis se voete is ontwerp om takke en rotslyste
vas te gryp. |
Olifant: ’n reuse-dier wat ou bene
maak
DIE ivoor van die olifant is in werklikheid
baie lang voortande. ’n Olifantbul se tande kan tot twee meter lank
wees—langer as ’n volwasse mens. Elke tand weeg sowat 60 kg—soveel
as twee kinders. Die skedel is groot om die swaar tande en slurp te
kan dra.
REGS:
Die geraamte van ’n Indiese olifant.
Illustrasie:
Histories (Royal Natural History, Volume 2, 1896 outeur R.A.
Lydekker—“PD Old”)
Die dik ruggraat is ongewoon reguit en
onbuigbaar. Daar is omtrent 20 groot ribbe. ’n Olifant kan nie buk
nie. Hy moet kniel of sy slurp ondertoe uitstrek.
Die olifant se pootbene moet dik en swaar wees om die massiewe
liggaam te kan dra. Sy voet is dik en breed. Daar is vyf tone aan
elke voet, met naels soos klein hoewe vooraan. Agteraan die voet is
’n dik, veerkragtige velkussing. Dit help om die dier se gewig te
versprei.
’n Olifant kan tot sewentig jaar lewe,
partykeer selfs langer.
Huismuis:
’n piepende, piepklein pieperigheid—maar eweneens gebou om te hou!
LINKS:
Die geraamte van ’n muis.
Foto: ORNL / U.S. Department of
Energy
DIE Afrika-bosolifant,
een van die olifantspesies en die grootste nog lewende landdier, kan
tot 9000 kilogram weeg. Trouens, die grootste olifant wat nog
platgetrek is, was ’n bul van 12.274
kilogram wat in 1955 in Angola geskiet.
Die volwasse
huismuis, daarenteen, trek sy skaaltjie op ’n skamele sowat 20 tot 40 gram.
Kwalik vergelykbare soogdiere, hy en die olifant.
Dog
kyk ’n mens so na hul onderskeie geraamtes, lyk dit mos nie of daar
’n beduidende verskil tussen die getal beendere in hul liggame kan
wees nie!
Maar sou ’n olifant rêrig bang
vir ’n muis wees, soos baiemaal vertel word? Nee, kenners sê dis ’n
wolhaarstorie. Vergeleke met ’n olifant is ’n muis so piepklein dat
’n olifant nie eens sal agterkom wanneer ’n muis naby hom is nie.
Of, indien wel, sal hy hom skaars aan dié pieperige ou dingetjie
steur!
|

BO: Die
geraamte van ’n hoender.
Foto:
© Earlham College,
Richmond, Indiana,
VSA,
www.earlham.edu,
wat nie-kommersiële gebruik vergun, maar
stipuleer dat foto nie gemodifiseer mag word nie
Voëls:
hol van gebeente
DIE
beendere van voëls is lig van gewig en baie is hol van
binne—selfs die beendere van voëls wat nie ver kan vlieg
nie, soos die hoender. Voëls het ook minder beendere as
reptiele en soogdiere.
En hul skedels
is bra dunnerig. Dis interessant dat die gewig van die
skedel van ’n hoender net sowat ’n derde is van dié van
die skedel van ’n konyn wat nagenoeg dieselfde gewig as
die hoender het. Die snawel van ’n voël, wat ’n deel van
die skelet uitmaak, is eweneens verbasend lig en dun as
’n mens in ag neem dat die voël soveel harde werk
daarmee verrig.
Natuurlik
moet die skelette van groot voëls soos volstruise egter
sterk genoeg wees om die groot massa van die voëls te
dra. Ook die pikkewyn se beendere is swaarder as baie
ander voëls s’n om hom te help om onder die seewater in
te duik.
Die pikkewyn se vlerke is vir swem gevorm pleks van vir
vlieg. Hulle is kleiner as die vlerke van ander voëls
van dieselfde grootte, en hulle kan nie teen die liggaam
teruggevou word nie. Die beendere het ’n spaan-agtige
vorm.
Wetenskaplikes
het ooreenkomste in die beenstruktuur van voëls en
sekere van die dinosourusse van ouds gevind, wat hulle
laat reken dat voëls aan die dinosourusse verwant is. |

BO: Die geraamte van ’n padda.
Foto:
© Earlham College,
Richmond, Indiana, VSA,
www.earlham.edu, wat nie-kommersiële gebruik vergun,
maar stipuleer dat foto nie gemodifiseer mag word nie
Padda: gebeen om te
spring
JOU eie rugstring het 24
werwels, maar in die rug van ’n padda is daar slegs nege. En dan het
die padda, ’n amfibiese dier, ook geen ribbes soos ek en jy nie.
Rib-agtige werweluitsteeksels is wel waarneembaar by sekere soorte,
maar hulle is bloot ’n deel van die ruggraat.
Maar daar is tog ook sekere duidelike
ooreenkomste met die menslike skelet, soos by die ledemate.
Die padda het boonop byvoorbeeld twee
skouerblaaie, of bladbene, en sleutelbene, wat baie soos dieselfde
beendere in die menslike liggaam gevorm is.
Paddas verskil van die amfibiese salamanders
deurdat die volwassenes geen stert het nie. Die werwels aan die
onderent van die werwelkolom is tot een been versmelt, die
staafvormige stuitbeentjie of urostyl.
Die lang agterpote en lang enkelbene sorg
dat die paddas beter kan spring as loop. ’n Padda se bekken kan
boonop by die rugstring op en af gly, wat hom verder met die
springery help.
Paddas se skedels het ’n plat voorkoms.
Maar hulle het geen nekke nie, sodat hulle nie hul koppe kan draai
of op en af kan beweeg soos mense dit kan doen nie.
Die tone is uit ’n aantal klein beentjies
saamgestel, en daar is meestal vyf tone aan die agterpote en vier
tone aan die voorpote.
|

BO: Die
skelet van ’n slang.
Illustrasie: The Royal Natural History, 1896,
outeur R.A. Lydekker (negatief van
oorspronklike)
Slange: lang rugstringe, honderde ribbes
’N
SLANG het tussen 200 en 400
beendere in sy lang en hoogs buigsame rug, elk met sy
eie paar ribbes.
Vergelyk dit met die mens se skamele twaalf paar ribbes
en jy besef hoeveel ons van hierdie pootlose reptiel
verskil.
Die slang se
ligte skedeltjie bestaan meestal uit kakebene. Slange is
dan ook bekend daarvoor dat hulle hul bekke baie wyd kan
oopmaak omdat die bo- en onderkaak net losserig verbind
is. Só kan die slang groot prooidiere of yslike eiers
insluk.
Slange het nie heupbene, skouerblaaie of pootbene nie. |
|
|
Eksoskelette: die
“geraamtes” aan die buitekant
TEENOOR die inwendige
skelette van gewerweldes wat hierbo genoem is, is daar ’n menigte
diertjies met uitwendige skelette (eksoskelette). Pleks daarvan dat
die diereliggaampie van binne deur rigiede beendere gestut word, is
daar ’n buitedop wat die liggaam omhul, beskut, teen uitdroging
beskerm en in posisie hou.
REGS:
In sy dop gekruip en deeglik beskerm, voer die liewenheersbesie
(skilpadjie of “ladybird”) ’n hoogs suksesvolle bestaan met sy
uitwendige skelet.
Foto:
Scott Bauer
/ ARS / U.S. Department of Agriculture
Eksoskelette word by baie ongewerwelde
diere aangetref. Die term word meestal gebruik vir die
liggaamsbedekking van geleedpotiges. Geleedpotiges is op hul beurt
die grootste phylum in die diereryk, met meer as ’n miljoen beskrewe
spesies, wat meer as tagtig persent van alle beskrewe lewende
spesies uitmaak. Verreweg die meeste diere het dus eksoskelette.
Die eksoskelet bestaan uit ’n stof genaamd
chitien, wat deur selle daar onder afgeskei word. Omdat dit nie kan
rek nie, moet die dier gereeld die dop afwerp (“vervel”) om vir sy
groter wordende liggaam voorsiening te maak. |