Goeiste, party kan selfs blaf soos honde!

Grillerige geitjies...
hul grille en geite

Tokajgeitjie

BO: Die Tokajgeitjie van onder meer Suidoos-Asië wat nou ook ’n indringer in ander węrelddele geword het. Hy lawaai asof hy betaal word wanneer hy ’n maat soek (maar dit klink darem nie soos ’n geblaf soos sekere ander geitjies glo maak nie). Die Tokajgeitjie is egter ’n omgekrapte kęrel, wat jou hand summier sal byt as jy met hom sukkel. Tot oormaat van ramp—word vertel—sal hy nie laat los  voordat jy hom en jou hand in die water gedompel het nie!

Foto: Kopiereg © 1998 Richard Ling / GFDL
 


Om met die geite van ’n oorbevolking van geitjies saam te lewe—daarmee moet baie huisbewoners maar vir lief neem. En gelukkig hou hierdie grillerige klein kalante darem die insekte weg. Maar wat sal jy doen as jy skielik een in jou agterplaas hoor blaf of tjirp, soos sekere soorte geneig is om te doen? Of as ’n geitjie jou bevlieg en byt en ure lank weier om sy kake se greep te verslap?


            

D

 ’n Deel van die teks hieronder kom uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld

IT gebeur oral ter węreld: die mens dring die natuurlike habitat van dierespesies binne totdat die diere so goed as uitsterf. Maar met sekere geitjies is dit totaal anders gesteld. Toe die menseras die eerste keer hul ekologiese ruimte binnegeval het, het sulke geitjies omtrent soos die Bybelse Rut aan Naomi verklaar: “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly.”
 
Verskeie van hierdie soorte het hulle in die omgewing van mense se woonplekke gevestig en is dikwels spesifiek vir ’n naasbestaan met die menslike ras toegerus. Omdat hulle aan die teenwoordigheid van ons adamskinders gewoond geraak het, het hulle in ’n sekere mate hul vrees vir ons verloor.
 
Teen die kus en in hawens klouter geitjies soms op skepe om as verstekelinge tot doer ver in die węreld in te vaar. Só het etlike soorte al hul hougebiede selfs na afgeleë węrelddele uitgebrei. Een onverbiddelike węreldreisiger is die tropiese huisgeitjie van ons eie węrelddeel.
 
Die tropiese huisgeitjie (Hemidactylus mabouia) het oorspronklik regoor Midde-Afrika en in Suidelike Afrika voorgekom. Van hier, bes moontlik per skip, het hy onder meer Suid-Amerika gekoloniseer, waar hy per vissersboot en op ander maniere teen die Brasiliaanse riviere opbeweeg.

Die tropiese huisgeitjieREGS: Die tropiese huisgeitjie van Midde- en Suidelike Afrika is vandag selfs ’n immigrant in die Amerikas.

 Foto: U.S. Geological Survey

 

Dis die einste hierdie geitjie wat meestal langs die ooskus van die subtropiese Suid-Afrika voorkom, maar bevolkings het hulle ook al elders in Suidelike Afrika gevestig, tot in Botswana.
 
En soos alle invallers maak, val tropiese huisgeitjies hul kleiner, inheemse neefs aan en verdryf hulle. Dit veroorsaak ’n ekologiese wanbalans, waar inheemse tuingeitjies byvoorbeeld die termietbevolkings in toom hou, omdat hulle feitlik van niks anders lewe nie.
 
GEITJIES is klein tot middelmatig groot akkedisse wat tot die familie
Gekkonidae behoort en regoor die węreld in gebiede met ’n warm klimaat voorkom. Hulle is, sover bekend, die enigste vandag lewende akkedisse wat geluide maak. Party soorte tjirp en blaf selfs, maar die tropiese huisgeitjie maak net so ’n tik-tik-geluid.

Die Engelse woord “gecko” en die Nederlandse “gekko” is juis afgelei van die Indonesies-Javaanse woord “gekok”, wat ’n nabootsing is van die klanke wat geitjies in daardie węrelddeel voortbring. Die Maleisiese woord vir ’n geitjie is weer “cicak”.

Dat “gekok”  of “cicak” in “geitjie” kon verander het, klink na ’n moontlikheid, maar dit lyk of ons die herkoms van die Afrikaans woord eerder moet gaan soek in Khoi-woorde soos “ghei”, “gheighei” en “ghikghei” vir bepaalde inheemse soorte van hierdie klein reptiele.

Die goudstof-daggeitjie

BO: Die goudstof-daggeitjie (Phelsuma laticauda laticauda) van die noorde van Madagaskar, die Comoro-eilande en die eiland Réunion. Hy is egter nou al tot sover as die Hawaii-eilande versprei. In teenstelling met die meeste ander geitjiesoorte, is daggeitjies meestal bedags aktief en nie snags nie.

 Krediet: Detail van foto deur “Dakota Bob”, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

Geitjies word in verskillende kleure en patrone aangetref. Party het subtiele kleure en is enigsins rubberagtig van voorkoms, terwyl ander weer met flambojante helderkleurige monderings spog. Sommige verander selfs van kleur soos wafferse trapsuutjiese om met hul omgewing saam te smelt.

Verskillende soorte geitjies is wonderlik toegerus om in sowel bome as huise te woon, met pote wat aan die onderkant verbreed is. Dit vorm gelamelleerde kussings met tallose mikroskopiese haakselletjies wat, soos die hare van ’n borsel, in die kleinste ongelykhede van ’n oppervlak indring. Dit stel die geitjie in staat om selfs teen loodregte glasruite uit te hardloop. Die meganisme waardeur die haakselletjies gryp en los, werk so vinnig dat die menslike oog dit nie kan volg nie.

Die poot van ’n geitjieREGS: Gebou om te klou! Die poot van ’n geitjie, in hierdie geval ’n Amerikaanse spesie, Coleonyx brevis.

Foto: Yuri Huta, © 2005 Finding Species / Slegs nie-kommersiële opvoedkundige gebruik vergun / via NBII, U.S. Geological Survey

  
Die eienaardigste ding by baie van die geitjiespesies is miskien die oog. Die oë is groot met vertikale pupille. In die skemerte of dowwe lig maak die pupil wyd oop en vul byna die hele oog. Daar is geen bewegende ooglede nie. Die lede is deursigtig en vorm ’n biologiese kontaklens. Ná ’n maaltyd gebruik die geitjie sy tong om sy gesig en brillense te was.
 
Geitjies kan uitstekend sien en veral beweging goed waarneem. Sodra ’n insek beweeg, slaan die geitjie blitsvinnig toe.
 
Die vel is sag en fluweelagtig en die diertjie vervel met gereelde tussenpose. As ’n geitjie gegryp of selfs net bedreig word, gooi hy sy stert af (dis ten minste so by baie van die geitjiesoorte). Met behulp van spiersametrekking word die stert op besondere plekke tussen die werwels afgebreek—’n proses wat outotomie genoem word. Die stert groei weer, maar die nuwe een kan nie weer outotomiseer nie. Katte en ander roofdiere se aandag word deur die bewegende los stert van die prooidier afgetrek sodat hy kan ontsnap.

Dis voorts interessant dat die verskynsel bekend as partenogenese by sekere soorte geitjies voorkom. Dit beteken dat die wyfies in staat is om voort te plant sonder dat hulle met mannetjies hoef te paar.
 
DIE tropiese huisgeitjie, om een soort uit ons eie deel van die węreld uit te sonder, is nogal ’n boeiende kalant om te bestudeer, al is hy vir talle mense so ietwat van ’n verpesting.

Hy is ’n nagdiertjie wat aktief raak wanneer dit skemer word. Hy gee nie om vir ’n elektriese lig nie, want dié lok die motte en muskiete wat hy vreet. Geitjies verorber ’n menigte insekte en daarom word hulle nogal dikwels as huisvriende beskou. Maar omdat hulle aan mure en plafonne vasklou, mis hulle die węreld vol. As ’n lank lydende huismens dié misbolletjies as verwerkte muskiete beskou, kan dit hom of haar darem help om vrede met die diertjies se teenwoordigheid te maak.
 
Die mannetjies is baie gebiedsgebonde en waak jaloers oor een kamer of ’n deel daarvan. Ongelukkig sluit wyfies en babas hulle spoedig by hulle aan, en spoedig raak die gebied alte oorbevolk en vuil—dis nou uit ’n menslike oogpunt beskou.
 
Die wyfies lę twee hardedop-eiers, en partymaal word die eiers van verskeie wyfies saam-saam in trosse gedeponeer (kyk maar op die agterkante van skilderye, onderaan tafels, ens.). Dit lyk of die vroeë lente die paartyd is, en sodra dit warmer raak, skarrel die klein babatjies rond. Hulle is bra donker van kleur en ’n mens sien hulle maklik raak.
 
Omdat geitjies hul eiers in versteekte plekke lę, ook op verpakkingsmateriaal en bokse, kan van ons landgenote wat na Perth uitwyk maklik Afrika se resoluutste emigrante met hulle saamsleep. Arme Australië! Eers die konyn, toe die beesvlieg, daarna die huiskat wat wild geraak het en nou geitjies! Soos ’n mens in Australiese Engels sou sę: “Sorry, mates!”

Bibron se geitjie

BO: Bibron se geitjie (Pachydactylus bibronii) is nog ’n bekende boorling van Suid-Afrika en een van ons land se  grootste soorte geitjies.

Foto deur Dawson, wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye gebruik word vergun op voorwaarde dat eienaarskap behoorlik erken word en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad