|
’n Deel van die teks hieronder
kom uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld
IT gebeur oral ter węreld: die mens dring
die natuurlike habitat van dierespesies binne totdat die diere so
goed as uitsterf. Maar met sekere geitjies is dit totaal
anders gesteld. Toe die menseras die eerste keer hul ekologiese
ruimte binnegeval het, het sulke geitjies omtrent soos die
Bybelse Rut aan Naomi verklaar: “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u
bly, sal ek bly.”
Verskeie van hierdie soorte het hulle in die omgewing van mense se
woonplekke gevestig en is dikwels spesifiek vir ’n naasbestaan met
die menslike ras toegerus. Omdat hulle aan die teenwoordigheid van
ons adamskinders gewoond geraak het, het hulle in ’n sekere mate hul
vrees vir ons verloor.
Teen die kus en in hawens klouter geitjies soms op skepe om as
verstekelinge tot doer ver in die węreld in te vaar. Só het etlike
soorte al hul hougebiede selfs na afgeleë węrelddele uitgebrei. Een onverbiddelike węreldreisiger is die
tropiese huisgeitjie van ons eie węrelddeel.
Die tropiese huisgeitjie (Hemidactylus mabouia) het oorspronklik regoor Midde-Afrika en
in Suidelike Afrika voorgekom. Van
hier, bes moontlik per skip, het hy onder meer Suid-Amerika
gekoloniseer, waar hy per vissersboot en op ander maniere teen die
Brasiliaanse riviere opbeweeg.
REGS:
Die tropiese huisgeitjie van Midde- en Suidelike Afrika is vandag
selfs ’n
immigrant in die Amerikas.
Foto: U.S. Geological Survey
Dis die einste hierdie geitjie wat meestal langs
die ooskus van die subtropiese Suid-Afrika voorkom, maar bevolkings
het hulle ook al elders in Suidelike Afrika gevestig, tot in Botswana.
En soos alle invallers maak, val tropiese huisgeitjies hul kleiner,
inheemse neefs aan en verdryf hulle. Dit veroorsaak ’n ekologiese
wanbalans, waar inheemse tuingeitjies byvoorbeeld die
termietbevolkings in toom hou, omdat hulle feitlik van niks anders
lewe nie.
GEITJIES is klein tot middelmatig groot
akkedisse wat tot die familie
Gekkonidae
behoort en regoor die węreld in gebiede met ’n warm klimaat voorkom.
Hulle is, sover bekend, die enigste vandag lewende akkedisse wat
geluide maak. Party soorte tjirp en blaf selfs, maar die tropiese
huisgeitjie maak net so ’n tik-tik-geluid.
Die Engelse woord “gecko” en die Nederlandse “gekko” is juis afgelei
van die Indonesies-Javaanse woord “gekok”, wat ’n nabootsing is van
die klanke wat geitjies in daardie węrelddeel voortbring. Die
Maleisiese woord vir ’n geitjie is weer “cicak”.
Dat “gekok” of “cicak” in “geitjie” kon
verander het, klink na ’n moontlikheid, maar dit lyk of ons die
herkoms van die Afrikaans woord eerder moet gaan soek in Khoi-woorde
soos “ghei”, “gheighei” en “ghikghei” vir bepaalde inheemse soorte
van hierdie klein reptiele.

BO: Die
goudstof-daggeitjie (Phelsuma laticauda laticauda)
van die noorde van Madagaskar, die Comoro-eilande en die
eiland Réunion. Hy is egter nou al tot sover as die
Hawaii-eilande versprei. In teenstelling met die meeste
ander geitjiesoorte, is daggeitjies meestal bedags aktief en
nie snags nie.
Krediet:
Detail van foto deur “Dakota Bob”, wat dit tot openbare
besit verklaar het (“released to the public domain”)
Geitjies word in verskillende kleure en
patrone aangetref. Party het subtiele kleure en is enigsins
rubberagtig van voorkoms, terwyl ander weer met flambojante
helderkleurige monderings spog. Sommige verander selfs van kleur
soos wafferse trapsuutjiese om met hul omgewing saam te smelt.
Verskillende soorte geitjies is wonderlik toegerus om in sowel bome as huise te woon,
met pote wat aan die onderkant verbreed is. Dit vorm
gelamelleerde kussings met tallose mikroskopiese haakselletjies wat,
soos die hare van ’n borsel, in die kleinste ongelykhede van ’n
oppervlak indring. Dit stel die geitjie in staat om selfs teen
loodregte glasruite uit te hardloop. Die meganisme waardeur die
haakselletjies gryp en los, werk so vinnig dat die menslike oog dit
nie kan volg nie.
REGS:
Gebou om te klou! Die poot van ’n geitjie, in hierdie geval ’n
Amerikaanse spesie, Coleonyx brevis.
Foto: Yuri
Huta, © 2005 Finding Species
/ Slegs nie-kommersiële opvoedkundige gebruik
vergun / via NBII, U.S. Geological Survey
Die eienaardigste ding by baie van die geitjiespesies is miskien die oog. Die
oë is groot met vertikale pupille. In die skemerte of dowwe lig maak
die pupil wyd oop en vul byna die hele oog. Daar is geen bewegende
ooglede nie. Die lede is deursigtig en vorm ’n biologiese
kontaklens. Ná ’n maaltyd gebruik die geitjie sy tong om sy gesig en
brillense te was.
Geitjies kan uitstekend sien en veral beweging goed waarneem. Sodra
’n insek beweeg, slaan die geitjie blitsvinnig toe.
Die vel is sag en fluweelagtig en die diertjie vervel met gereelde
tussenpose. As ’n geitjie gegryp of selfs net bedreig word, gooi hy
sy stert af (dis ten minste so by baie van die geitjiesoorte). Met behulp van spiersametrekking word die stert op
besondere plekke tussen die werwels afgebreek—’n proses wat
outotomie genoem word. Die stert groei weer, maar die nuwe een kan
nie weer outotomiseer nie. Katte en ander roofdiere se aandag word
deur die bewegende los stert van die prooidier afgetrek sodat hy kan
ontsnap. Dis voorts interessant
dat die verskynsel bekend as partenogenese by sekere soorte geitjies
voorkom. Dit beteken dat die wyfies in staat is om voort te plant
sonder dat hulle met mannetjies hoef te paar.
DIE tropiese huisgeitjie, om een soort uit ons
eie deel van die węreld uit te sonder, is nogal ’n boeiende kalant
om te bestudeer, al is hy vir talle mense so ietwat van ’n
verpesting. Hy is ’n nagdiertjie wat aktief raak wanneer
dit skemer word. Hy gee nie om vir ’n elektriese lig nie, want dié
lok die motte en muskiete wat hy vreet. Geitjies verorber ’n menigte
insekte en daarom word hulle nogal dikwels as huisvriende beskou.
Maar omdat hulle aan mure en plafonne vasklou, mis hulle die węreld
vol. As ’n lank lydende huismens dié misbolletjies as verwerkte
muskiete beskou, kan dit hom of haar darem help om vrede met die
diertjies se teenwoordigheid te maak.
Die mannetjies is baie gebiedsgebonde en waak jaloers oor een kamer
of ’n deel daarvan. Ongelukkig sluit wyfies en babas hulle spoedig
by hulle aan, en spoedig raak die gebied alte oorbevolk en
vuil—dis nou uit ’n menslike oogpunt beskou.
Die wyfies lę twee hardedop-eiers, en partymaal word die eiers van
verskeie wyfies saam-saam in trosse gedeponeer (kyk maar op die
agterkante van skilderye, onderaan tafels, ens.). Dit lyk of die
vroeë lente die paartyd is, en sodra dit warmer raak, skarrel die
klein babatjies rond. Hulle is bra donker van kleur en ’n mens sien
hulle maklik raak.
Omdat geitjies hul eiers in versteekte plekke lę, ook op
verpakkingsmateriaal en bokse, kan van ons landgenote wat na Perth
uitwyk maklik Afrika se resoluutste emigrante met hulle saamsleep.
Arme Australië! Eers die konyn, toe die beesvlieg, daarna die
huiskat wat wild geraak het en nou geitjies! Soos ’n mens in
Australiese Engels sou sę: “Sorry, mates!”

BO: Bibron se
geitjie (Pachydactylus bibronii) is nog ’n bekende boorling
van Suid-Afrika en een van ons land se
grootste soorte geitjies.
Foto deur
Dawson,
wat dit op
hierdie bladsy by
Wikimedia Commons op die węreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom,
vrye gebruik word vergun op voorwaarde dat eienaarskap
behoorlik erken word en dit slegs versprei sal word
ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een.
Amptelike lisensie
|