|
NDER
“Erfenis” word enigiets verstaan wat uit die verlede
na die huidige geslag oorgedra is, hetsy iets van
ekonomiese, staatkundige of kulturele waarde. In die
geskille hieroor, ook in openbare debatte, gaan dit
baiemaal oor hoe die begrip Erfenis
geïnterpreteer word. Op die keper beskou, is daar
twee groepe mense wat dit totaal verskillend
definieer.
Die een
groep sien dit omtrent net as die vaste, konkrete
dinge wat ons van ons voorgeslagte geërf het. Dié
kan dinge soos grond of ander eiendom wees, miskien
’n antieke bouwerk soos by Groot Zimbabwe of selfs
die koperwasbeker van ’n oumagrootjie (kortom,
nalatenskappe uit die strakke openbare of private
geskiedenis).
Ander
bemerk egter die spore van ons voorouers in ons hele
mens-wees en baie van ons handelinge... in hoe ons
is en hoe ons dink, tot in die taal wat ons praat en
selfs hoekom ons dalk meer van rugby hou as van
sokker. Hulle sien dit in ons kunsvlyt en in ons
ambagte, in wat ons dramatiseer en hoe ons sing.
Dit is
ons lewende erfenis.
Maar
debatvoerders verskil ook onderling waar albei
partye erken dat ons lewende erfenis inderdaad
belangrik is. Enersyds is daar die voorstanders van
globalisering wat voortdurend hamer op die
droombeeld van ’n “wêreldkultuur” met sy “menslike
ras”—met die implikasie dat verskille tussen mense
sover as moontlik uitgewis moet word en dat ons
almal gesamentlik één mense-erfenis deel. Andersyds
is daar diegene wat die klem sterk plaas op
afsonderlike kulture en hul eiendomlikhede, en op
die kosbare oorgelewerde kleinode binne daardie
gemeenskappe wat tot elke prys vir die huidige
geslag en vir die nageslag bewaar moet word.
Daarby is
Erfenis—of dit as ’n bate vir die ganse
mensdom of as eksklusief vir afsonderlike
gemeenskappe beskou moet word—deesdae kennelik ook
die prooi van private belange. Die geldgierige
eiendomsontwikkelaar wat ’n gholfbaan op ’n landgoed
langs die see wil oprig, toon byvoorbeeld min begrip
vir ’n gemeenskap wat die perseel beskou as “gewyde
grond waar ons voorvaders begrawe lê”.
Ook in
ander debatte rondom Erfenis is ’n tweespalt
duidelik, soos waar historiese gebiede deur mense
van verskillende gelowe as heilig beskou word (sê
maar die Tempelberg in Jerusalem, wat om totaal
verskillende redes deur die Jode sowel as die
Moslems eerbiedig word).
Die twis
oor “wie die verlede besit”, raak veral warm waar
een groep mense besluite neem oor die oorgelewerde
besittings van ander mense wat nie in die
besluitneming geken is of wie se wense nie in ag
geneem is nie. Is die San-gemeenskap geken toe die
rotskuns in die Drakensberg vir besoekers oopgestel
is as deel van ’n Wêrelderfenisgebied? En vind hulle
enigsins baat daarby? Uiteindelik gaan alles dus
oor die vraag: Wie se eiendom is Erfenis en
wie besluit daaroor?
Erfenis
is duidelik ’n baie kontroversiële en debatteerbare
onderwerp. Maar wat is dan die ooreenkomste en
verskille tussen monumente of gedenktekens en
tradisies of rituele?
TRADISIES
en rituele is deel van die lewende erfenis. Volgens
UNESCO, die Verenigde Nasies se Opvoedkundige,
Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, manifesteer
die lewende erfenis hom in onder meer mondelinge
tradisies en uitinge, asook in maatskaplike praktyke
en rituele. Ook in taal, musiek en drama en ander
uitvoerende kunste. En in tradisionele kunsvlyt en
in die kennis en praktyke aangaande die natuur en
die heelal.
Baie
monumente en gedenktekens is aanvanklik nie
erfenisse uit die verlede nie, maar bouwerke wat
juis opgerig is om erkenning aan sulke erfenisse te
gee. Die Voortrekkermonument in Pretoria is een
voorbeeld, omdat dit die Groot Trek van die 1830’s
gedenk. Daarteenoor is ’n bouwerk soos die Kasteel
in die Kaap ’n monument wat ’n onmiskenbare deel
is van die geskiedenis en die tradisies wat aan die
Kaap geheers het in die tyd van die Verenigde
Oos-Indiese Kompanjie. Dit is eintlik ’n oorblyfsel
uit die dae toe die Kaap nog Hollands was.
Dat
monumente sowel as tradisies met Erfenis te
make het, lê dus voor die hand, maar ’n monument
huldig
iets uit die verlede terwyl ’n tradisie iets uit die
verlede
voortsit.
Daar is ’n duidelike onderskeid.
Monumente
gedenk dus in die reël ’n persoon of gebeurtenis,
maar waar monumente relikte (oorblyfsels van ’n
vroeër tyd) is, is hulle wel beskou bloot konkrete
gedenkwaardighede wat ons herinner aan dit wat was,
soos die vertoonstukke in museums. Daar is egter ook
ander soorte monumente. Só is die Afrikaanse
Taalmonument op Paarlberg in die Paarl, wat in 1975
amptelik onthul is, eintlik uniek omdat dit geen
relik is en ook geen persoon of gebeurtenis vereer
nie (tensy die ontstaan van Afrikaans as ’n
“gebeurtenis” beskou kan word!). Dit is in die
klassieke sin van die woord ’n monument vir die
lewende erfenis!
LINKS:
Die Afrikaanse Taalmonument. Dit gee erkenning aan
die kleurryke wortels van Afrikaans en die mense wat
die taal praat. Die opmerklikste is die suile. Hulle
simboliseer ’n visie deur die ou skrywer en
taalstryder C.J. Langenhoven van die opgang van
Afrikaans as skryftaal—in die vorm van ’n ry pale
wat ’n snelstygende boog beskryf.
Foto met vergunning van
public.fotki.com/SAgenealogie
Omdat die
Taalmonument eksklusief Afrikaans is, kan weliswaar
geredeneer word dat mense wat ander tale besig nie
deel daaraan kan hê nie. Tog word in die simboliek
van die monument erkenning gegee aan die rol van die
inheemse mense van Afrika, en ander uit Asië, in die
totstandkoming van die enigste Europese taal wat
buite Europa ontstaan het.
’n Mens
moet dit nietemin hier noem dat
Afrikaner-nasionalisme in die tyd van apartheid ’n
onmiskenbare rol moet gespeel het in die besluit om
so ’n massiewe gedenkteken aan slegs een van ons
land se lewende tale te wy. Nie dat ons die monument
vandag as betekenisloos moet afmaak nie. Allermins.
Afrikaans is en bly immers vir baie van ons dierbaar
en mag nooit weer ’n deel van die politieke bestel
word nie.
Soos
iemand dit al gestel het: “Ons moet die Afrikaanse
Taalmonument hou soos hy is, sou ek dink, maar ons
ook beywer vir ’n nuwe gedenkteken êrens wat hulde
bring aan die taaldiversiteit in Suid-Afrika met sy
elf amptelike tongvalle. Só ’n monument sal nou
werklik iets baie besonders wees vir ons
reënboognasie!”
MAAR
presies wat word met tradisies of rituele bedoel?
Baie daarvan lê voor die hand, soos die eiesoortige
stamdanse van, sê, die Zoeloes of Vendas of die
kleurryke versierings aan tradisionele Ndebele-huise
in plattelandse gebiede. Tog dink Westerlinge nie
altyd daaraan dat hulle self aan talle rituele en
tradisies gebonde is nie.
Die doop
bly byvoorbeeld vir miljoene Christene wêreldwyd ’n
“tradisie of ritueel”, hoewel hulle dit nie só sal
noem nie, maar eerder ’n sakrament of ’n kerklik
gewyde instelling.
LINKS: Ouers by die doop van ’n babatjie—’n kerklike
sakrament soos dit steeds deur baie Christene
eerbiedig word. Maar daar is ook talle ander
Christene wat glo dat babatjies nie gedoop moet word
nie, dog slegs volwassenes nadat hulle gelowig
geword het.
Detail van ’n groter foto deur
Tom Adriaenssen,
wat dit op
hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web
uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution-Non-Commercial-Share
Alike 2.0-lisensie
’n
Lidmaat van een van die sogenaamde tradisionele
Afrikaanse kerke vertel as volg oor die doop wat in
die lidmaat se eie lewe nie net ’n deel van ’n
diepe godsdienstige oortuiging vorm nie, maar ook
kenbaar ’n lewende erfenis verteenwoordig:
“In my
familie is Christelike handelinge en gebruike reeds
geslagte lank belangrik. En rondom die doop self is
daar sekere gebruike wat wel sekerlik ’n
familietradisie genoem kan word, hoewel dit
natuurlik ook by baie ander families voorkom wat tot
dieselfde kerk as ons behoort. Dit is egter nie ’n
tradisie in ons hele gemeenskap nie, omdat baie
mense hier tot kerke behoort wat nie babas sal doop
nie, maar slegs gelowige grootmense.
“By ons
behels die doop die besprinkeling van babatjies met
water uit ’n doopbak. Dit word behartig deur ’n
dominee op ’n spesifieke ‘doopdiens’ in ons
plaaslike kerkgebou en het ten doel om die
kindertjies tot die Kerk van Christus te wy. Dit is
ook die dag wanneer ’n baba sy ‘naam ontvang’,
hoewel hy dit vanselfsprekend reeds ontvang het toe
sy geboorte amptelik geregistreer is.
“Babas
word tradisioneel in ’n dooprok gedoop, wat nuut
gemaak is of selfs dieselfde dooprok kan wees wat
jare tevore deur ’n voorsaat van die kindjie gedra
is. Ná die diens vergader familie en vriende by die
huis van die klein dopeling en word hulle op tee en
koek of ander versnaperinge getrakteer. As daar deur die geslagte
heen enige veranderinge in die rituele rondom die
doop by ons familie was, is ek nie daarvan bewus
nie. Volgens ouer lede van die familie is dit nog
maar altyd so gedoen as wat dit vandag gedoen word,”
aldus die kerklidmaat.
Ons
lewende erfenis rig duidelik ons handel en wandel
van geslag tot geslag... |