|
Te
veel 'krag' in die brein -- die In die ou dae is die naarste dinge geglo van mense wat skielik rukkend op die grond neerval en ’n tydlank hul bewussyn verloor. Vandag weet ons beter—danksy die sofistikasie van die moderne geneeskunde. En dis besonder interessant om te verneem waaraan die dokters epilepsie in der waarheid toeskryf... |
|
|
Hoofbron
vir teks: Dr. Jan van Elfen
PILEPSIE
staan ook bekend as vallende siekte—en met rede. ’n Lyer sal die een
oomblik miskien doodnormaal lyk en optree, net om die volgende oomblik
stuiptrekkend op die grond neer te val en rukkend in ’n beswyming te
bly lê. In die ou dae is gedink daar kan slegs een verklaring vir
hierdie toestand wees: ’n duiwel moet in só mens ingevaar het. En die
enigste moontlik "kuur" was om ’n duiwelbesweerder te
ontbied. Danksy
die sofistikasie van die moderne geneeskunde weet ons vandag dat
epilepsie geen bose besoeking is nie maar ’n liggaamlike oorsaak het.
Geleerdes beskryf dit doodeenvoudig as ’n elektriese
breinversteuring—versteurde motoriese en/of sensoriese funksie van die
brein weens ’n skielike abnormale toename in die elektrisiteit in die
senuselle van die brein. Die
elektriese ontlading kan plaaslik wees en daarna oor die aanliggende
deel van die brein en selfs oor die hele brein versprei. Aanvalle kom
meestal by herhaling voor, telkens met dieselfde simptome, soos
byvoorbeeld bewusteloosheid en
stuiptrekkings. Die
aandoening wat in die spreektaal "vallende siekte" genoem
word, is egter slegs een vorm van epilepsie, te wete idiopatiese
epilepsie. Dit is nie bekend wat dit veroorsaak nie. Idiopatiese epilepsie begin gewoonlik
in die kinderjare, maar tree soms eers in die puberteitsjare in. In die
samelewing is idiopatiese epilepsie op verskillende terreine ’n groot
probleem en daarom word dit later in hierdie artikel breedvoeriger
bespreek. Maar
dit is belangrik dat daar eers na die verskillende soorte epilepsie
gekyk sal word. Wat
bring epilepsie aan?
Soorte
en simptome
AANVALLE
van epilepsie word na gelang van die verskillende simptome in sekere
kategorieë ingedeel, te wete grand mal, petit
mal, fokale en psigomotoriese aanvalle.
Hoe
algemeen is epilepsie?
’n
Groot probleem is dat siekte dikwels nie reg begryp word nie. Daar kan
egter maar net gekyk word na sulke suksesvolle mense soos die
krieketheld Jonty Rhodes om te besef dat die meeste epilepsielyers heel
normale lewens lei en selfs groot welslae kan behaal. Ander beroemde
epileptici was die Romeinse generaal Julius Caesar, die Franse staatsman
Napoleon, die Nederlandse skilder Vincent van Gogh en die Italiaanse
komponis Nicolò Paganini. Daar
moet onthou word dat epilepsie nie ’n teken van geestesversteuring of
die oorsaak of gevolg van verstandelike vertraging is nie. Boonop is dit
hoegenaamd nie aansteeklik nie. Soos
die bekende Afrikaanse doktersboek*) wat as hoofbron vir hierdie artikel
gebruik is, dit stel: "Dit is eenvoudig ’n opbouing van te veel
elektrisiteit tussen die breinselle wat gevolg word deur ontlading wat
’n kortstondige versteuring van die bewussyn veroorsaak." Idiopatiese
epilepsie:
SOOS
gesê, weet dokters nog nie wat die oorsaak van idiopatiese epilepsie is
nie. Een teorie is dat dit veroorsaak kan word deur 'n littekentjie in
die breinweefsel wat te klein is om waar te neem. ’n Ander
moontlikheid is dat party mense ’n laer weerstand het as dit by
breinprikkeling kom.
Die
lyer kan soms deur sekere tekens—soos hoofpyn, duiseligheid,
lomerigheid en ’n gegaap—gewaarsku word dat ’n aanval op pad is.
Dan volg ’n oura (priksensasies) in die ledemate en versteurings van
smaak en reuk, wat die werklike begin van ’n toeval is. ’n
Reeks ernstige aanvalle waar die pasiënt tussen twee aanvalle
bewusteloos bly, staan bekend as Status epilepticus. Hiervoor is
hospitaalbehandeling nodig. Behandeling
van idiopatiese epilepsie
DIE
abnormaal baie elektriese energie in die brein wat epileptiese toevalle
aanbring, word met medisyne soos een of meer soorte pille onderdruk.
Deur die gereelde gebruik van die korrekte dosisse kan ’n epileptikus
help verseker dat sy toevalle in ’n groot mate uitgeskakel word. Dit
stel hom dus in staat om ’n betreklik normale lewe te lei. Die epileptikus mag
ook nooit sy gereelde medikasie onderbreek of verminder nie, selfs al
het hy ’n jaar of langer tevore sy laaste toeval gehad. Moontlike
slegte newe-effekte soos ’n veluitslag of erge lomerigheid moet met
die dokter bespreek word. Dit
is belangrik dat alle epileptici in Suid-Afrika sal weet dat spesiale
hulp tot hul beskikking is. Daar is klinieke by die groter provinsiale
hospitale, spesiale skoolonderrig en opleiding vir beskutte arbeid,
indiensplasing en raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Epilepsieliga
(Sanel). Hoe
toevalle hanteer moet word
BEPLAN
vooruit. As die lyer kla dat hy benoud of eienaardig voel en dit op ’n
komende toeval dui, lei hom na ’n veilige plek, waar daar byvoorbeeld
nie verkeer is nie, en waar omstanders hom nie sal aanstaar nie. Wanneer
hy bewusteloos is, pas die volgende noodhulp toe:
•
Bly
kalm. •
Laat
die pasiënt lê net waar hy is—behalwe as dit op ’n potensieel of
wesentlik gevaarlike plek is, byvoorbeeld waar daar vuur of verkeer is. •
Laat hom op die sy lê,
met die boonste arm en die been as stutte (vergewis jou van die
sogenaamde Herstel-posisie in noodhulp). •
Maak
alle stywe klere aan die pasiënt los. •
Moet
hom nie op die grond vasdruk of harde voorwerpe tussen sy tande indwing
nie. ’n Tong wat stukkend gebyt is, sal gesond word—gebreekte tande
word nie so maklik herstel nie. •
Moenie
die pasiënt alleen laat nie, nie eens nadat die toeval verby is nie.
Omdat hy ’n rukkie lank deurmekaar kan wees, sal jou aandag en
begrip vir hom belangrik wees. Moenie weggaan voordat hy heeltemal
herstel het of ná die toeval normaal aan die slaap geraak het nie. •
As
die toeval erger of anders is as gewoonlik, ontbied dadelik die dokter. •
Indien
die pasiënt nie sy bewussyn verloor nie, bly kalm en hou bloot ’n
ogie oor hom. As hy ’n kind is, sal jou vertroeteling hom beskerm laat
voel. Daaglikse
lewe van ’n epileptiese kind
DIE
volgende belangrike riglyne is meestal woordeliks uit ons vernaamste
bron*) oorgeneem. Daar word aanbeveel dat elke webgebruiker wat met ’n
jong eleptikus te doen het of te doen kan hê, veral hierdie gedeelte
van die artikel op sy of haar rekenaardrukker sal uitdruk om dit ook vir
latere raadpleging te bewaar. Benewens
die hantering van epileptiese toevalle is dit uiters belangrik om ’n
kind met epilepsie ’n gebalanseerde lewe te help lei. Dissipline.
’n Epileptiese kind word op dieselfde wyse as ander kinders
gedissiplineer. Hy moet nie aangemoedig word om homself te bejammer of
oorvertroetel word nie en moet ’n gewone lewe kan lei. Hy sal
moontlik spesiale hulp nodig hê, maar die hele gesin hoef nie daaronder
te ly nie. Identifikasie.
’n
Kind met epilepsie wat toegelaat word om alleen uit te gaan, behoort
'n Medic Alert-armband of -halssnoer te dra. Indien hy dan ’n toeval
kry, kan bystanders onmiddellik weet wat skort. Medisyne
en maaltye.
Dit is baie belangrik dat die kind gereeld eet en medisyne neem. Maak
seker dat hy die regte dosis van die medisyne op die regte tye sluk en
moenie daaraan verander sonder dat sy dokter eers geraadpleeg is nie.
Raadpleeg ook sy dokter as hy meer as net af en toe 'n
oor-die-toonbank-medisyne nodig het, wat sonder voorskrif verkry kan
word (bv. 'n hoesmiddel, pynstiller of verkouetablette, ens.). Sulke middels kan dalk die werking van die stuipweermiddels
belemmer. Selfs
as dit lyk of daar geen probleme is nie, moet die kind die
kliniekverpleegkundige of huisdokter minstens een keer elke ses maande
spreek sodat verseker kan word dat hy die bes moontlike behandeling kry. Skool.
Die
meeste kinders met epilepsie vaar goed in ’n gewone skool. Dit is
belangrik om sy onderwyser oor sy toestand in te lig. Dit is dikwels
’n goeie idee dat die onderwyser die ander kinders daarvan vertel.
Spesiale skole is net nodig as versorging ontbreek, die kind se aanvalle
nie voldoende deur medisyne beheer word nie of hy weens verstandelike
gestremdheid remediërende onderwys nodig het. Slaap.
Om
af en toe laat te gaan slaap, doen geen kwaad nie. In die algemeen tel
’n
goeie slaaproetine en genoeg slaap egter in die kind se guns. Vermy baie
sagte kussings en matrasse om die moontlikheid van versmoring nog
skraler te maak. Die
samelewing.
’n
Kind kan gelukkig wees ondanks sy epilepsie. As hy egter nie met mense
oor die weg kan kom nie, kan hy nie gelukkig wees nie. Help hom dus om
tot ’n verstandige, verantwoordelike volwassene te ontwikkel. Dit
kan moeilik wees om altyd volkome openhartig oor epilepsie te wees,
maar op die duur is openhartigheid die beste om met mense oor die weg te
kom en begrip te bevorder. Spesiale
uitrusting.
Indien nodig, raadpleeg die dokter of Sanel oor spesiale badkamer-
en toiletslotte, beskermende valhelms, broekies en doeke om die bevuiling
van klere te voorkom. Besondere
gevare.
As
die lyer ’n baie jong kind is of die kind geneig is om sy bewussyn te
verloor, moet hy na die badkamer of die toilet vergesel word. Dit is in
die algemeen nie raadsaam dat hy boomklim of op hoë plekke rondklouter
nie. Hy kan fietsry indien hy deur ’n verantwoordelike mens vergesel
word, maar nie op ’n openbare pad nie. Spansport en uitstappies met
betroubare maats kan gerus aangemoedig word, maar vermy
kontaksportsoorte. Werk,
sport en omgang met mense
SAL
epilepsie noodwendig die lyer se lewenswyse verander? In ’n sekere
mate stellig, maar as hy sy voorgeskrewe medikasie gereeld neem, hoef
dit nie veel te wees nie. Sy vermoë om te leer en te werk hoef ook nie
aangetas te word nie. Indien
’n kind probleme op skool ondervind, kan Sanel gevra word om hom in
aanraking bring met die naaste skool vir kinders wat aan epilepsie ly. Vra
maar weer vir krieketheld Jonty—epilepsie hoef ’n mens nie te keer
om aan sport deel te neem nie. Veilige sportsoorte soos tennis en
atletiek kan met ’n geruste hart beoefen word. Kontaksportsoorte soos
rugby, boks en karate asook branderplankry, bergklim en gimnastiek word
nie aanbeveel nie. Sonder verantwoordelike toesig kan swem ook
gevaarlik wees. Die
epileptikus moet kwaai liggaamlike en geestelike inspanning vermy, omdat
dit ’n aanval kan aanbring. Origens moet hy nie skroom om byeenkomste
soos kerkdienste en gesellighede en byvoorbeeld
toneelopvoerings by te woon nie, Kragtens
wet mag ’n persoon wat twee jaar lank geen aanvalle gehad het nie en
sy pille gereeld gebruik, ’n rybewys bekom.
Dit moet jaarliks hersien word. Sanel --
die liga vir hulp
|
|