Word 'n entrepreneurDraaiende muntstukMieliestronk-sterartikel

  • Jou eie spesiale gids vol kennerswenke


HULLE skuil in jou garage, in jou buitekamer, in jou kombuis en in die kinderkamer. Jy sal hulle in tydskrifadvertensies vind, in jou buurman se huis en by jou werk. Hulle is reg voor jou oŽ in die groente uit jou eie tuinakkertjie . . . in die stapels papiere langs jou rekenaar se laserdrukker . . . agterin jou bakkie . . . en iewers in jou kop.

Jy hoef ook nie ’n genie te wees of ’n magistergraad in besigheidsbestuur te hÍ om hulle in winste om te skep nie. Om sakegeleenthede raak te sien, is dikwels so maklik as om probleme in die samelewing te identifiseer en om maniere te kry om dit op te los.

Vindingryke mense wat byvoorbeeld die veilige haakspeld uitgevind het, of die balpuntpen, die kosverwerker en die oopmaak-ringetjie aan die koeldrankblikkie, was almal doodgewone sterfllinge wat op ’n dag ’n briljante idee gekry en werk daarvan gemaak het.

Maar dis natuurlik nie net uitvinders wat briljante idees het nie. Baie mense met hul eie besighede het hul stokperdjies, belangstellings en talente in bevredigende en dikwels winsgewende ondernemings verander -- bloot deur ’n behoefte in die wÍreld om hulle op te merk en ’n manier te vind om daarin te voorsien. Jy kan ook.

Hierdie artikel is ’n samevoeging van die idees van verskeie gerekende sakekenners oor hoe om die bul by die horings te pak en ’n entrepreneur te word. Wie weet, jou heel eerste tree na ’n lewe as jou eie baas begin dalk net hier!

Word entrepreneurs gebore of gemaak?

VOLGENS Mauritz Bekker van die Entrepreneurial Business School (EBS), wat in die onderrig van entrepreneursvaardighede spesialiseer, dink die meeste mense waarskynlik dat daar slegs ’n paar entrepreneurs gebore word. Die rede is dat ons samelewing tot dusver betreklik min ware entrepreneurs opgelewer het.

Die oorsaak hiervan, sÍ Marius, is weer ’n kultuur waarin ons van kleins af gekondisioneer word om werksoekers pleks van werkskeppers te wees -- iets wat in die vroeŽre ekonomiese klimaat nie ’n probleem was nie. Maar in ons veranderende wÍreld hang dit grotendeels van entrepreneurs af om die nypende tekort aan werkgeleenthede hok te slaan.

Hoewel entrepreneurs steeds oor sekere ingebore eienskappe moet beskik op suksesvol te wees, moet ook onthou word dat basiese vaardighede inderdaad aangeleer word.

Kenners wat vir hierdie artikel genader is, stem boonop saam dat ons ons nie moet laat inperk deur ’n houding van ``ek kan nie’’. Die allegoriese verhaaltjie van vlooie in ’n kartonboks illustreer hoe futiel sů ’n lewensuitkyk kan wees.

Vlooisirkus-mense, word vertel, weet van ’n vreemde ding wat gebeur wanneer hulle vlooie ``tem’’. As vlooie in ’n kartonboks geplaas en die deksel op die boks gesit word, spring hulle eers herhaaldelik op en af sodat hulle hul ``koppe’’ keer op keer bo teen die ``plafon’’ stamp. So spring hulle voort totdat hulle geleer het om hul spronge net tot ’n sekere hoogte onderkant die deksel te beperk.

As ’n mens daarna die deksel afhaal, sal die vlooie nie uit die boks spring nie. Hulle het hulself so gekondisioneer, om slegs lae spronge uit te voer, dat hulle om die dood nie meer hoog kan spring nie.

So is dit ook met baie mense. Hulle beperk hulself en bereik nooit hul potensiaal nie. Net soos die vlooie spring hulle nie hoŽr nie, omdat hulle -- jammerlik vasgeval in hul eie ``kartonboks’’ -- vas glo dat hulle tot niks meer in staat is nie.

Vyf sleutels tot sukses as ’n entrepreneur

DAAR is baie vaardighede wat ’n entrepreneur laat slaag, skryf Ken Lawson in sy boek Guide to Managing Your Career (in die beroemde KISS-reeks van Dorling Kindersley). Lawson beskou egter die volgende vyf eienskappe as noodsaaklik:

* VisionÍre denke – jy moet groot en positief kan dink en ’n langtermyn-visie hÍ.

* Die vermoŽ om jou klante te kan gee wat hulle wil hÍ, wat ook al gebeur. As jy dit nie doen nie, sal hulle hulle tot iemand anders wend wat dit wel kan doen.

* ’n Mededingende instink. Jy sal waarskynlik te staan kom teen andere wat soortgelyke produkte of dienste kan verskaf. Jy sal bokant hulle moet uitblink – sommer ver bokant hulle.

* DeursettingsvermoŽ. Die kans is goed dat jou onderneming nie oornag gaan slaag nie. Jy sal lang tye van onsekerheid en vertwyfeling moet kan deurstaan.

* Deeglikheid. Met jou eie besigheid sal jy gedurig ’n oneindige klomp besonderhede moet hanteer. Jy kan sukkel as jy iemand is wat jou nie eintlik aan die klein dingetjies steur nie.

Alle sakekenners stem saam met Lawson dat durf (``guts’’) en deursettingsvermoŽ (``perserverance’’) onontbeerlik vir ’n entrepreneur is. Maar verskeie sou ook enkele ander eienskappe op sy lysie wou sien. Soos om ’n liefde vir die saak te moet hÍ wat ’n mens aanpak. En natuurlik die nugtere sakesin om nie halsoorkop in ’n onderneming in te storm sonder die nodige geld nie.

’n Groot sakewerf op die Internet, BusinessTown.com, stel dit pront: ``Die lewe is te kort om ’n besigheid te begin wat jou nie bevrediging en vreugde gee nie.’’ En wat die geld daarvoor aanbetref: ``Jy moet genoeg aanvangskapitaal hÍ plus voldoende kontant om ’n positiewe kontantvloei vir minstens die eerste jaar te handhaaf.’’

Tien beginsels vir ’n suksesvolle onderneming

REG in die begin reeds, selfs nog voor jy met jou nuwe besigheid begin, sÍ die kenners, moet jy die sekere beproefde sakebeginsels op die punte van jou vingers ken. Hier is ’n samevatting uit verskillende bronne:

* Kennis is mag. Trouens, alle goeie skakemanne sal jou vertel dat die nodige kennis die heel eerste ding is wat jy moet verkry as jy met ’n nuwe onderneming wil slaag. Lees op, studeer, ondersoek eers alles grondig omtrent die rigting waarin jy jou wil begewe. Onthou, dit kan die allerbelangrikste beroepskuif wees wat jy in jou hele lewe maak. Moenie net indons en duim vashou nie.

* Hou die aanvangskostes so laag as moontlik. Talle hoogs geslaagde ondernemings is met minimale kostes begin. Waar administrasiekoste en uitgawes tot die mininium beperk word, veral baie vroeg in die ontwikkeling van die besigheid, kan dit uiteindelik uitstekende vrugte afwerp.

* Maak seker dat jou onderneming voorsien in ’n behoefte wat in die mark bestaan. Ook dat daar ’n volgehoue vraag na jou produk of diens sal wees. Natuurlik is ’n kennis van die bedryf en die mark hier belangrik -- wat weer aansluit by die eerste punt hierbo.

* Beplan om op ’n haalbare wyse te groei. Die besighede wat die suksesvolste is, is diť wat bereikbare teikens nastreef -- gewoonlik nie diť wat vinnig enorme winste wil maak nie.

* Wees aanpasbaar. Geslaagde private besighede wat nie deur burokratiese rompslomp ingeperk word nie, kan hulle vinnig by nuwe modes en tegnologieŽ aanpas en het ’n hegte verbintenis met hul klante.

* Maak seker dat jy ’n geldplan het. Ook ’n begroting en ’n manier waarop jy jou maandelikse resultate kan meet. As jy nie weet hoe dit geldelik met jou besigheid gaan en jy geen spesifieke finansiŽle oogmerke vir die kort of lang termyn het nie, laat jy toe dat die spreekwoordelike noodlot oor jou vordering beslis. Dis geen goeie praktyk nie!

* Sluit diegene in wat na aan jou is. As ’n mens ’n verandering maak,

word jou huweliksmaat en naaste familie ook te nouste geraak. Maak seker dat jy hulle van die heel begin af in jou besluitnemings en beplannings ken. Verandering plaas verhoudings onder spanning. As julle die oorgang saam deurwerk, raak dit soveel makliker vir almal.

* Handhaaf ’n balans tussen werk, speel en jou gesin. Dis uiters belangrik vir langtermyn-sukses. Ons werk ons almal in die begin ’n ruk lank oor ’n mik om dinge op dreef te kry, maar as dit te gereeld en te lank gebeur, is dit ’n gevaarteken dat ’n mens besig is om perspektief te verloor. Jy moet gereeld kan uitspan om jou batterye te herlaai. Bestee ook tyd aan jou gesin, want as hulle swaar kry, is dit byna seker dat jou besigheid ook gaan swaar kry.

* Bly altyd ingestel op die sleutelfaktore wat jou klante uitstekende waarde vir hul geld gee. Moet nooit vergeet dat hulle byna altyd ’n keuse het om van iemand anders se produkte of dienste gebruik te maak nie.

* Les bes, stel ’n sakeplan op. Lees meer daaroor direk hieronder.

Die vyf komponente van ’n sakeplan

DIE MEESTE nuwe entrepreneurs is bra traag om ’n sakeplan op skrif te stel en tog is dit die ruggraat van enige besigheid. Dit moet ’n geskrewe oorsig van alle aspekte van jou nuwe onderneming wees -- van die ekonomiese lewensvatbaarheid daarvan tot ’n ontleding van jou sakevooruitsigte.

Daar is baie verskillende soorte sakeplanne en verskeie boeke wat jou verskillende formate daarvan sal bied. Joseph Anthony, skrywer van Working for Yourself, reken egter dat enige sakeplan die volgende vyf komponente moet bevat:

* Konsep -- ’n opsomming van jou sake-idee, jou ``doelwit-verklaring’’, tesame met ’n kort beskrywing van waar jou besigheid in die mark inpas en hoekom dit sal slaag.

* Detail -- ’n grondige beskrywing van jou besigheid, asook ’n diepgaande verduideliking van die produk of diens wat jy beplan en sy nut vir diegene wat dit sal koop en/of gebruik.

* Markprofiel -- ’n volledige beskrywing van jou klante, jou mededingers, die nodigheid van jou produk of diens, en die welstand en lewenskragtigheid van die mark. Dis nie raaiwerk nie. Dit moet op versigtige, deeglike navorsing berus.

* Strategie -- jou uitvoerige plan om jou produk of diens op die mark te plaas. Dit sluit in wat jy jou onderneming gaan noem, hoe jy dit gaan beskerm en watter tariewestruktuur jy gaan gebruik.

* Operasie/Produksie -- ’n deeglike bespreking van die bemarking van jou produk of diens, met verwysings na onder meer kantoorruimte, produksieskedules, inventarisse, voorrade, verskaffers, lisensies, versekering en hoe gehoor gegee sal word aan enige bestaande besigheidsregulasies.

Die kuns om geld te kry

VRA is vry, het die ou mense altyd gesÍ -- en weier daarby. Maar as jy ’n lening můťt aangaan vir jou onderneming, sorg dat jy jou potensiŽle geldskieters sů imponeer dat hulle kwalik kan weier om met jou sake te doen.

Wees gereed om vrae omtrent jou besigheid te beantwoord, en om om oop kaarte te speel oor jou geldsake soos dit was, is en hopelik nog sal wees. Hoe meer deurdag jou plan is en hoe meer vertroud jy daarmee is, des te indrukwekkender sal jy vertoon. Bring desnoods jou rekenmeester saam.

Berei jou voor om hulle te vertel waarvoor jy die geld wil gebruik. ’n Blote ``ek het die geld nodig’’ wek geen vertroue nie en sal dit laat lyk of jy die saak nie goed deurdink het nie. Verstrek die nodige besonderhede.

Stel ’n plan vir terugbetaling van die geleende geld voor. Baie plekke het ’n sekere buigsaamheid. PotensiŽle geldskieters sal dit waardeer dat jy daaraan dink om hulle terug te betaal en nie net om die geld te kry nie.

En dan is dit seker nie nodig om aan jou te vertel dat netjiese klere ’n veel beter indruk as verslonsdheid maak nie.

Die stig van ’n besigheid in Suid-Afrika

SAKE kan in Suid-Afrika gedoen word deur maatskappye (openbaar en privaat, insluitende filiaal- of dogtermaatskappye), geslote korporasies, vennootskappe, alleen-eienaars, gesamentlike ondernemings en takke van buitelandse maatskappye.

Elkeen van hierdie besighede word op sy eie manier saamgestel. Enige sewe of meer mense kan byvoorbeeld ’n openbare maatskapppy vorm. Daarteenoor kan een of meer mense ’n private maatskappy saamstel.

Wanneer ’n besigheid in ons land gevestig word, moet ’n sakelisensie (onbepaald geldig) van die plaaslike owerheid verkry word. Twee kategorieŽ besighede, diť wat kosprodukte hanteer en diť waar mense vergader, soos plekke vir vermaak, moet egter jaarliks opnuut lisensies van die betrokke munisipaliteit kry.

Soorte besighede wat vanuit die huis bedryf kan word

BAIE mense wat vanuit hul huis werk, sal jou vertel hoe lekker dit is om nie meer elke dag kantoor toe en terug te pendel nie. Hier is maar enkele werke waarvoor die eie huis as kantoor en/of ``fabriek’’gebruik kan word:

* Konstruksie: huisverbeterings, die verf van huise, binnenshuise versiering.

* Persoonlike dienste: haarversorging, massering, onderrig in byvoorbeeld wiskunde of Engels, musieklesse.

* Ander dienste: boekhouding, vertaling, kopieskryf, rekenaarprogrammering, versekering, verkoop van eiendom, motorherstelwerk, spyseniering.

* Vervaardiging en verwerking: die raam van portrette en skilderye, stoffeerwerk, naaldwerk, soetgebak, houtwerk.

BELANGRIK: Voordat jy met ’n tuisbedryf begin, stel net eers vas of jy nie daarmee enige plaaslike regulasies van jou dorp of stad oortree nie.

Ten slotte

OM as ’n nuwe entrepreneur te slaag, verg vasbyt. Baie mense droom daaroor, maar het eenvoudig nie die drif en ywer om te volhard nie. In hierdie artikel het ons egter by die dromers verbygekyk na die daders -- en hulle ’n paar riglyne gegee oor hoe om te begin. As jy tot hier gelees het, is jy bes moontlik een van hulle.

Indien wel, is nog nuttige raad aan jou om nie oorhaastig te wees nie. Wees kalm en rustig -- beplan versigtig. Goeie beplanning is eintlik ’n voorvereiste as ’n mens in vandag se harde sakewÍreld bo wil uitkom met ’n eie besigheid. Ewe belangrik is harde werk, ’n gedurige taksering van waar jy is en waarheen jy op pad is, die voorsiening van produkte van ’n hoŽ gehalte en uitmuntende diens. Natuurlik sal ’n bietjie geluk langs die pad ook help.

Voorts kan dit jou loon om ’n gewoonte van lewenslange leerdery te maak. Jy gaan baie leer as jy van beroep verander om ’n entrepreneur te word, maar die verwerwing van kennis kan nie ophou sodra jou besigheid gevestig is nie.

Verandering gaan vir die voorsienbare toekoms ’n blywende deel van die Suid-Afrikaanse lewenswyse wees. Die sukses van jou besigheid gaan ook afhang van jou vermoŽ om jou by maatskaplike en tegnologiese veranderings aan te pas.

Hou dus aan met lees, skryf jou in vir kursusse en verbreed jou kennis en begrip van die wÍreld om jou.

En baie welkom in die kring van die vooruitstrewendes!