El Nino en La Nina
EL NIÑO en LA NIÑA
Die warm “wipplank” in die Groot Oseaan

Heen en weer wieg dit in die Stille Oseaan... ’n wipplankryery van warm, tropiese seewater wat herwaarts en derwaarts tussen Suid-Amerika en Indonesië spoel. As die warm water aan die oostekant ophoop, kry ons El Niño; wanneer dit aan die westekant gebeur, word dit La Niña genoem. En hierdie rondslingering van soveel verhitte water kan ’n enorme invloed op weerspatrone oor die aarde hê—ook in Suid-Afrika...

El Niño/La Niña
Kaarte van Stille Oseaan (deur ons gewysig om El Niño en La Niña aan te dui) uit World Factbook van Amerikaanse CIA

E

L NIÑO en La Niña. Elke af en toe lees ons van hulle, maar min mense verstaan rêrig wat hierdie potensiële deugniete met die aarde se weerpatrone aanvang. Wat meer sê, selfs wetenskaplikes ken nog nie al die antwoorde nie. Tog is baie inligting al ingewin oor hierdie verskynsels wat ook die weer in Suid-Afrika kan beïnvloed en byvoorbeeld tot droogtes in ons land kan lei.

 
Die gereelde El Niño/La Niña-gebeurtenisse is al beskryf as ’n wipplankryery van warm water wat in die Stille Oseaan (ook genoem Groot Oseaan) heen en weer tussen die kuste van Suid-Amerika en Indonesië spoel. Die warm water van El Niño bly in die reël sowat vier jaar lank teen die Suid-Amerikaanse kus en beweeg dan stadig oor die Stille Oseaan—terug na Indonesië vir nog vier jaar.

Vissers van Peru in Suid-Amerika het opgemerk dat die koms van die warm seewater met die Kerstyd saamval en dit El Niño genoem, wat “Die Babaseun” beteken, met verwysing na die baba Jesus in die krip in Betlehem. Wanneer die warm water aan die teenoorgestelde kant naby Indonesië is, verwys wetenskaplikes na die gebeurtenis as La Niña of “Die Babameisie”. Stadige golfies voer die warm water tydens die siklus oor die oseaan.

Die verhoging in die temperatuur van die seewater op die bepaalde plekke het ’n waarneembare uitwerking op klimate oor die wêreld heen. Só het klimatoloë oor dekades vasgestel dat ernstige El Niño-toestande sulke dramatiese afwykings van die normale weerspatrone kan veroorsaak soos droogtes in Afrika, Australië en Indië en matige winters in Kanada.

Daarbenewens kan ontwrigtings in die visserybedryf plaasvind weens veranderde patrone in die seelewe in die Stille Oseaan. Die invloed op die koraalriwwe in die Groot Oseaan kan ook enorm wees. Voorts kan die warm water swaar reëns meebring wat die normale atmosferiese toestande deurmekaar krap. Wat meer sê, die seeoppervlak styg met ’n verstommende sowat 18 cm.

 

Vissersbote in die suidoostelike Stille Oseaan

BO: Vissersbote in die suidoostelike Stille Oseaan. Die koms van El Niño het ’n baie groot invloed op die visserybedryf aan die westekant van Suid-Amerika deurdat die warm seewater veranderde patrone in die seelewe meebring. Die eerste keer dat die benaming “El Niño” (Die Babaseun) gebruik is om na klimaatsverandering te verwys, was in 1892, toe ’n sekere kaptein Camilo Carrilo dit genoem het op ’n aardrykskunde-kongres in Lima, Peru. Hy het vertel dat Peruaanse seemanne die warm seestroom só noem omdat dit so opmerklik is rondom die Kerstyd.

Illustrasie deur M. Recabal, NOAA
 

Die oorsaak van El Niño en La Niña word steeds nie ten volle begryp nie, maar ’n belangrike bydraende faktor is die sterkte van die heersende passaatwinde wat van oos na wes oor die ekwatoriale Stille Oseaan waai. Tydens sterk El Niño-verskynsels verflou die passaatwinde of verander hulle van rigting. Die konsentrasie van warm oppervlakwater in die westelike tropiese Stille Oseaan—water wat warmer as 28°C is—word ooswaarts gedwing en veroorsaak stortreëns oor Suid-Amerika aan die oostelike Stille Oseaan. Intussen ondervind Indonesië aan die westelike Stille Oseaan droogtetoestande.

Min of meer die teenoorgestelde gebeur wanneer La Niña voorkom. Die suidoostelike pasaatwinde versterk en water wat selfs warmer as gewoonlik is, word in die westelike Stille Oseaan opgehoop. Dit lei tot oormatige reën in die weste en droë toestande in die oostelike Stille Oseaan.

Argeologiese getuienis dui daarop dat El Niños en La Niñas reeds duisende jare lank op die aarde voorkom, maar presies hoe lank bly ’n ope vraag. Dit is egter slegs sedert die middel van die 1970’s dat daar kennelike internasionale erkenning is van die wydverspreide invloede van hierdie verskynsels op die weerspatrone.

Groot wisselings in die atmosferiese druk word daartydens tussen die Stille Oseaan en die Atlantiese Oseaan ondervind. Terwyl die veranderinge in die Stille Oseaan met die term “El Niño/La Niña” aangedui word, staan die veranderinge in die atmosfeer bekend as die “Suidelike Ossilasie”. Omdat hierdie twee nie geskei kan word nie, word die term ENSO—vir El Niño Suidelike Ossillasie—dikwels gebruik. ENSO verwys egter na sowel El Niño as La Niña.

Die woord ossilasie beteken slingering, soos ’n mens dit ook by ’n pendule sal kry—en raak des te duideliker as ’n mens aan daardie vergelyking van die wipplankryery dink waarna ons in die begin van hierdie artikel verwys het.

 

Klimaatsveranderinge kan selfs welige woude laat verdor

BO: Klimaatsveranderinge kan selfs welige woude laat verdor...

Foto: U.S. National Park Service
  
 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad