GOU!
Steek weg die skêr! Gooi ’n doek oor die spieël! Gaan sit op ’n
verebed! Of, as jy buite is, bly weg van nat honde en perde!
Klink dalk na wolhaarstories, maar nie baie jare gelede nie is dit
presies wat mense tydens ’n donderstorm gedoen het.
In alle kulture, regdeur die geskiedenis, is donderweer met die
grootste vrees en ontsag bejeën. Vir party was dit die manifestasie
van ’n god, vir ander die verpersoonliking van ’n godheid.
Vir die antieke Grieke was donder en blitse ’n openbaring van Zeus,
vir die ou Romeine ’n bekendmaking van Jupiter.
In die Ou Testament word dit in verband gebring met God. Elihu, een
van die orators in Job, verwonder hom blykbaar aan die donder en
weerlig. “Hoor hoe bulder die stem van God,” sê hy, “hoe dreun dit
uit sy mond! Hy laat dit losbreek in die hemelruim, Hy laat dit
blits tot by die uithoeke van die wêreld, en dan kom die donderslag.
God laat sy magtige stem hoor. Hy stuur die onweer in volle krag
wanneer Hy sy stem laat hoor. Met sy stem laat God magtige dinge
gebeur.” (Job 37: 3-5.)
’n Mens kan maklik verstaan waarom die mense van die ou tyd, wat nie
eens ’n basiese begrip van elektrisiteit gehad het nie, die donder
en weerlig as iets bonatuurliks beskou het.
Elektrisiteit is ’n vorm van energie. Dit kan nie gesien, gehoor of
geruik word nie, maar ons weet dat dit bestaan vanweë dit wat dit
doen. Dit is die kragbron van ons TV-stelle, radio’s, koelkaste,
stowe, persoonlike rekenaars en hoeveel ander dinge.
Draagbare apparate soos flitsligte, radio’s en sakrekenaars werk met
elektrisiteit wat van batterye (of selle) kom.
Elektrisiteit kan in ander vorms van energie soos hitte en lig
omgeskep word en verwarm en verlig ons huise, skole en kantore.
Wanneer jy oor die telefoon praat, word jou stem in die vorm van
elektriese seine in kabels voortgedra.
Elektriese treine vervoer passasiers vinnig van die een plek na die
ander. Verskillende dele van ’n motor werk met elektrisiteit.
Fabrieke kan nie daarsonder nie—die lys is eindeloos.
|
Statiese elektrisiteit en stroomelektrisiteit |
ELEKTRISITEIT kan óf
“staties” wees óf in ’n stroom vloei.
Alle materie bestaan uit uiters klein eenhede wat atome genoem word.
Die atome bestaan op hul beurt uit elektrone, protone en neutrone.
Elektrone het ’n negatiewe lading; die lading van protone is
positief. Neutrone het geen lading nie.
Die volgende vergelyking gee ’n
mens ’n idee van hoe verskriklik klein die atoomdeeltjies is: As jy
’n miljoen elektrone langs mekaar in ’n reguit lyn oor die kop van
’n kopspeld sou kon span, sou hulle skaars die afstand dek.
Hoe ook al, alle
materie is dus saamgestel uit enorme hoeveelhede positiewe lading en
negatiewe lading in volmaakte ewewig.
Anders gestel: atome het in
die reël ewe veel elektrone as protone en is dus
elektries neutraal, of die netto elektriese lading staan gelyk aan
nul, aangesien die ladings mekaar uitkanselleer. As ’n atoom egter sekere elektrone bykry, raak
dit negatief gelaai. Indien dit elektrone verloor, raak dit
positief gelaai. (In albei gevalle is die atoom geïoniseer).
Wanneer teenoorgestelde
ladings in dieselfde rigting vloei, het ons
fisiese beweging. Sodra die teenoorgestelde
hoeveelhede lading gedwing word om in twee verskillende rigtings te
vloei, het ons ’n elektriese stroom.
Wanneer die teenoorgestelde hoeveelhede lading van mekaar geskei
word, is die netto elektriese lading nie langer nul nie en
manifesteer die verskynsel wat bekend staan as statiese
elektrisiteit.
Die
elektrisiteit wat ons daagliks vir ons ligte, masjiene, rekenaars en
baie ander dinge gebruik, is stroomelektrisiteit.
Tog moet ons nie aan
elektrisiteit dink as twee soorte, te wete stroom- en statiese
elektrisiteit nie. Elektrisiteit is immers elektrisiteit. Dit is
maar net in die manifestasies waarin die verskil lê.
|
Statiese elektrisiteit in ballonne |
DIE klein, blou vonkies wat jy partymaal sien wanneer jy jou hare
in die donker kam, of die dowwe gekraak wat jy kan hoor wanneer jy
jou nylon-trui uittrek, is vanweë statiese elektrisiteit.
In sekere omstandighede kan negatiewe ladings op die oppervlak van
’n voorwerp opbou. As hierdie ladings skielik wegvloei, is daar ’n
vonk. Dit word ontlading genoem.
Jy kan statiese elektrisiteit laat opbou deur ’n ballon teen jou
trui te vryf. Die elektrone in jou trui word versteur en sekere van
hulle kleef aan die oppervlak van die ballon.
As jy die ballon teen die muur hou, word hierdie ekstra ladings
aangetrek na teenoorgestelde ladings aan die muur, en die ballon bly
daar sit. Die ladings sal uiteindelik geneutraliseer word en die
ballon sal afval.
Net soos stowwe met teenoorgestelde ladings mekaar aantrek, stoot
dié met dieselfde lading mekaar af. Jy kan dit sien gebeur deur ’n
ballon te laai en dit agter aan ’n stoel vas te maak. Laai nog ’n
ballon en hou dit naby die eerste een. Die eerste sal van die ander
een af wegspring.
|
 |
|
Statiese
elektrisiteit laat jou hare orent staan, omdat jou hare
en die gelaaide ballon mekaar aantrek. |
Statiese
elektrisisiteit laat ’n gelaaide ballon van ’n ander
gelaaide een af wegspring. |
|
Foto’s: NASA |
|
Elektrisiteit in die natuur |
BENEWENS weerlig is daar baie ander vorms van elektrisiteit in die
natuur.
Dit is byvoorbeeld betrokke by baie van ons liggaamsprosesse.
Elektriese impulse laat die hart ritmies klop, en die "boodskappe"
wat in ons senuwees beweeg, word deur elektriese strome oorgedra.
Die krag wat plantwortels in staat stel om voedingstowwe uit die
grond te onttrek, is ook elektries.
Sekere diere gebruik elektrisiteit as ’n navigasiehulp, om hul prooi
te vang en hulself te verdedig. Die sidderaal van Suid-Amerika kan
byvoorbeeld ladings van tot 650 volt opwek—genoeg om ’n mens
katswink te skok, maar hy gebruik dit darem eintlik om visse en
paddas dood te maak.
 |
LINKS
Suid-Amerika se sidderaal (Engels “electric eel”),
Electrophorus electricus, is ’n skokkende vis in die
letterlikste sin van die woord. Hy kan venynige
elektriese skokke toedien, wat hy sowel vir jag as
selfverdediging gebruik. Die spanning neem toe
namate die vis groei en bereik ’n maksimum (tot 650 volt
is al gemeet) wanneer hy sowat ’n meter lank is. Party
sidderale raak nagenoeg drie meter lank.
Foto:
NOAA |
•
Lees ook die
Mieliestronk-artikel oor weerlig:
klik hier
WEERLIG is ’n reuse-vonk in die lug. Donderwolke bevat ’n menigte
klein waterdruppeltjies en ysdeeltjies. Tydens ’n donderstorm bots
dié teen mekaar en kry elektrone by of verloor dit. Hulle raak dus
elektries gelaai.
Die ligter druppeltjies en deeltjies verkry ’n positiewe lading en
styg na bo in die wolk. Dié wat swaarder is, raak negatief gelaai en
val na onder in die wolk. Die onderkant van die wolk is dus negatief
gelaai bokant die grond. As ’n baie sterk lading daar opbou, vind
dit ’n pad ondertoe deur die lug en ontlaai as weerlig. Dit staan
bekend as wolk-tot-grond-weerlig.
Weerlig kan ook binne-in ’n wolk voorkom, tussen twee wolke en
tussen ’n wolk en die lug.
Maar waarom is daar ’n donderslag? Weerlig is baie warm en verwarm
die omringende lug, sodat dit skielik en kragtig uitsit en teen die
koel lug daarnaas bots. Dit veroorsaak klankgolwe wat ons as ’n
donderslag hoor.
WANNEER ’n stroom deur ’n gloeilamp vloei, word sekere van die
elektriese energie in hitte-energie omgeskakel en die gloeilamp
gloei witwarm. Dit is omdat die wolframdraad in die gloeilamp teen
die kragstroom weerstand bied.
Alle elektriese komponente bied ’n sekere mate van weerstand,
afhangende van hul lengte en breedte en die stof waarvan hulle
gemaak is. Hoe dunner en langer ’n geleier is, des te hoër is sy
weerstand.
Stowwe wat min weerstand bied, word geleiers genoem; dié met groot
weerstand is isolators.
Weerstand word in eenhede genaamd ohms (R) gemeet, genoem na die
negentiende-eeuse fisikus Georg Simon Ohm.
Sekere kringe het ’n weerstand-komponent, waarmee die stroom wat
daardeur vloei, beheer word. Party apparate het ’n verstelbare
weerstand-komponent, waarmee ’n mens die weerstand na willekeur kan
wysig.
Die snelheid van ’n elektriese trein word byvoorbeeld met ’n
verstelbare weerstand verander.
SELLE en batterye is ’n gerieflike bron van elektrisiteit. Die
krag wat hulle verskaf, kom van ’n chemiese reaksie tussen
verskillende stowwe daarin. Word slegs een hoeveelheid stowwe
gebruik, noem ons dit ’n sel. ’n Battery is ’n reeks
aaneengeskakelde selle. (Dit is dus meer korrek om van byvoorbeeld
’n flits-sel te praat as van ’n flitsbattery.)
Die droë sel is die volopste opwekker en word in honderde dinge van
wekkers tot persoonlike stereo’s gebruik. Daar is verskillende
soorte droë selle, elk met ietwat verskillende bestanddele. Een van
die mees algemene soorte bevat sink, ’n metaalgeleier en ’n
elektroliet soos kaliumhidroksied.
Elektroliete is stowwe wat onder die invloed van ’n elektriese veld
in beweging kom sodat dit geleidend word.
|

BO:
’n Battery is ’n verskuifbare energiebron. Dit
bestaan uit ’n aantal individuele selle wat
verbind is. Daar is drie basiese elemente in ’n
sel, te wete die positiewe terminaal, negatiewe
terminaal en elektroliet. Sodra krag uit die sel
onttrek word, vloei elektrone deur die
elektroliet en ondergaan die positiewe en
negatiewe terminale elektrochemiese veranderings
wat met verloop van tyd tot ’n verswakking lei totdat die sel “dood”
raak.
Illustrasie:
NREL / U.S. Department of Energy
|
|
Maak jou eie
battery-sel
HOEWEL
jong kinders nooit eksperimente moet doen met die
gevaarlike elektrisiteit wat in ons huise gebruik word
nie—en ouer kinders en studente uiters, uiters versigtig
daarmee te werk moet gaan as dit dan nou moet—kan elkeen
steeds pret hê met elektrisiteit deur self klein
batteryselle te maak.
Om gou-gou jou eie sel saam te flans, het jy nodig: twee
stukke draad van omtrent 15 cm, ’n klompie blink
kopermuntstukke, tinfoelie, kladpapier en soutwater.
1. Sny die foelie en kladpapier in klein vierkantjies
wat net so groot soos die muntstukke is.
2. Gooi oorgenoeg sout in ’n beker water en laat die
kladpapier ’n ruk daarin week.
3. Plaas ’n vierkantjie van foelie versigtig bo-op een
muntstuk, met ’n stuk sout kladpapier bo-op die foelie.
4. Herhaal hierdie drie lae in dieselfde volgorde totdat
jy ’n stapeltjie daarvan gemaak het.
5. Plaas die punt van die een draad onder die stapeltjie
en die punt van die ander draad bo-op die stapeltjie.
6. Raak nou liggies met jou tong aan die oop punte van
albei drade. Kan jy die prikkeling van elektrisiteit
voel?
|
|
Laat weet ons as jy enigsins kon lig maak met
suurlemoene!
KAN
’n mens werklik met ’n suurlemoen ’n eenvoudige
battery-sel maak wat ’n flits se gloeilampie sal laat
brand? Hoewel daar wyd beweer word dat dit moontlik is,
is die krag wat opgewek word eenvoudig te min vir ’n
flitslampie. Maar ’n LED (lig-emissie-diode
of kortweg ligdiode) werk glo
blykbaar, veral as ’n klompie suurlemoene aaneengekoppel
sou word. Of selfs aartappels of tamaties.
Nou ja, teoreties is dit haalbaar, maar hoe lyk die
sakie in die praktyk? Mieliestronk.com kon dié aanspraak
nie self toets nie, maar moet hom verlaat op die
onderstaande inligting uit ’n gewoonlik betroubare bron.
Ons hoor egter graag van leerders of die eksperiment vir
hulle gewerk het!
Suurlemoen-lig:
In ’n sel is daar ’n sentrale chemikalie wat die
elektroliet genoem word, wat in verbinding gebring word
met twee ander stowwe, die sogenaamde elektrodes, wat
gewoonlik van metaal is. As ’n draad en gloeilamp aan
die elektrodes geheg word om ’n stroomkring te skep, wek
die chemiese reaksie tussen die elektroliet en die
elektrodes elektrisiteit op, wat dan ’n liggie sou kon
laat gloei.
Om ’n suurlemoen-sel te maak het jy nodig: ’n
brons-drukspyker, ’n skuifspeld van staal, ’n groot vars
suurlemoen, ’n ligdiode en kragdraad.
Druk die drukspyker en skuifspeld aan weerskante in die
suurlemoen in. Heg twee stukkies kragdraad
onderskeidelik aan die drukspyker en skuifspeld en
verbind albei met ’n ligdiode—wat ’n baie lae
spanning het. Die sap in die suurlemoen is die
elektroliet en die drukspyker en skuifspeld is die
elektrodes. En siedaar, ’n liggie uit ’n vruggie!
|
WANNEER jy ook al elektrisiteit gebruik—of jy nou ’n
battery-aangedrewe kassetspeler aanskakel of met ’n rekenaar werk
wat by die kragnetwerk ingeprop is—is jy besig om ’n stroomkring te
voltooi.
Illustrasie:
NASA
’n Kring is ’n pad vir elektrisiteit, of elektriese stroom, wat
begin en eindig by die kragbron. Die kragtoevoer het twee eindpunte,
genaamd pole of terminale. Elektrisiteit vloei tussen hulle deur
middel van drade van ’n metaal soos koper. Stowwe soos dié wat
elektrisiteit “dra”, word geleiers genoem.
Hoewel dikwels gesê word dat ’n stroom deur ’n kring “vloei”, vloei
dit nie werklik nie, want die werkinge is blitsvinnig. ’n Stroom is
ook onsigbaar. ’n Draad lyk dieselfde en het dieselfde massa of dit
nou ’n stroom dra of nie. Die enigste manier waarop ’n mens dus kan
agterkom of daar ’n stroom is, is om na sy uitwerkinge te kyk.
Dit is eintlik baie
interessant om te let op die wyse waarop die elektrone in ’n
elektriese stroom beweeg. Hulle nael nie rêrig soos naellopers deur
die kragdraad waarin hulle voorkom nie, maar hulle maak eerder soos
die deelnemers aan ’n afloswedren. Hulle spring naamlik van
die een atoom af na die volgende, en in die proses stoot hulle ander
elektrone voor hulle uit.
Dis asof hulle die stok
(elektriese energie) van die een atoom na die ander aangee. Die
elektrone beweeg self nie so vinnig nie, maar die elektriese
energie wat hulle aangee, blits voort met die snelheid van lig!
|
Serieskakeling en parallelle skakeling |
AS jy lig met, sê, ’n flits-sel opwek, maar nog ’n gloeilamp by ’n
eenvoudige stroomkring voeg, word die weerstand verdubbel. Dit
beteken
dat die beskikbare energie vir elke gloeilamp gehalveer
word, wat die lig dowwer maak. Hoe meer gloeilampe jy byvoeg, hoe
flouer sal die liggies wees. As een van die lampies breek, word die
stroom verbreek en die ander lampies gaan ook dood. Hierdie soort
stroomkring word serieskakeling genoem.
DIE ligte in die huis bly helder, selfs al skakel jy almal
gelyktydig aan. Dit is omdat hulle van ’n ander soort stroomkring
gebruik maak, naamlik parallelle skakeling. ’n Parallelle baan
bestaan uit twee of meer afsonderlike stroomkringe wat van hul
geleiers deel. By parallelle skakeling skyn twee gloeilampe ewe helder, maar
jou flits-sel sal twee keer so vinnig gedaan raak as met die
seriebaan.
•
In Suid-Afrika kom weerlig die meeste voor in die bergagtige dele
van Lesotho, KwaZulu-Natal en die suidelike gedeeltes van
Mpumalanga. Weerlig kom selde in die westelike kusgebiede voor.
•
Die meeste weerligstrale is wolkstrale wat nie die grond tref nie.
Gemiddeld tref slegs een uit elke ses strale die grond.
•
’n Mens kan ’n goeie idee kry hoe ver ’n donderstorm van jou af is
deur die sekondes te tel vandat jy die weerligstraal sien totdat jy
die donderweer hoor. Elke drie sekondes is gelyk aan een kilometer.
•
Indien jy tydens ’n donderstorm heeltemal alleen op ’n oop stuk
veld staan en jou hare staan regop en jou vel begin tintel—’n teken
dat weerlig gaan slaan—staan op jou knieë, buig vooroor en sit jou
hande op jou knieë. Moenie plat op die grond gaan lê nie.
|