Foto: U.S. Census Bureau
|
||
|
Primêre en sekondêre nywerhede en tersiêre aktiwiteite (dienslewering)
SAKEBEDRYWIGHEDE kan gerieflikheidshalwe in drie kategorieë ingedeel word, te wete:
1. Primêr: sogenaamde ekstraktiewe bedrywe of natuurprodukte-industrieë.
2. Sekondêr: vervaardiging en konstruksie.
3. Tersiêr: dienste.
1. Primêre nywerhede BY primêre nywerhede, soos boerdery, bosbou, visserye en mynbou, word dinge ontgin wat periodiek deur die natuur voortgebring word of reeds in die natuur bestaan.
Boere, byvoorbeeld, kweek gewasse of teel vee. Graan, vrugte en groente word geoes vir plantaardige voedsel, beeste word geslag vir hul vleis en koeie word gemelk. Op hul beurt word skape ook geslag vir hul vleis of van tyd tot tyd geskeer vir hul wol. Hoenders word aangehou vir hul vleis en/of hul eiers.
Foto:
Probert / PD In die bosboubedryf word bome afgekap, waarna hout gelewer word aan wie ook al dit nodig het. Hout het immers baie verskillende gebruike.
In die mynboubedryf haal mynwerkers ertse en ander dinge uit die aarde. Dit kan enigiets wees van ystererts en kopererts tot die ertse van baie kosbare metale soos goud en platinum. Dit kan selfs vuilswart steenkool wees of dan weer glinsterende edelgesteentes soos diamante. Of die gesogte aardolie. Oliebore word op land of ter see gebruik om aardolie in die buik van die aarde te vind, waarna die olie na bo gepomp word.
Ook visserye ressorteer onder primêre nywerhede. Die sardientjie wat ek vanoggend vir ontbyt gehad het, asook die snoek wat ’n Kapenaar taks by vissers op Houtbaai gaan koop om te braai—albei is primêr die produkte van ’n natuurprodukte-industrie.
Foto: U.S. Gov. / Public domain
Foto: © Bank van Swede, wat vrye gebruik vergun
Foto: USAID
2. Sekondêre nywerhede TEENOOR primêre nywerhede is daar sekondêre nywerhede wat dinge maak, bou en aanmekaarsit. Vervaardigers gebruik grondstowwe, dit wil sê onbewerkte, ru materiaal, asook onderdele wat hulle van ander nywerhede kry, om hul produkte te vervaardig. Só maak ’n Suid-Afrikaanse nywerheidsreus soos Sasol petrol uit steenkool wat in die primêre sektor ontgin word.
Ander soorte vervaardigers is legio. Die een maak plakpapier, die ander maak boeke, nog een vervaardig sjokolade en ’n vierde en vyfde vervaardig meubels en motors. Trouens, ’n mens kan maar net om jou kyk, of deur ’n supermark loop, om oral artikels te sien wat danksy sekondêre nywerhede ontstaan het.
Alles op die gebied van vervaardiging, verwerking en konstruksie hoort dus tot die sekondêre sektor. Nog aktiwiteite wat hiermee verband hou, is bouwerk, tekstielproduksie, brouerye en bottelarye, skeepsbouery, chemiese en ingenieursbedrywe, vliegtuigvervaardiging en baie meer.
Die skep van die meeste produkte verg boonop verskillende produksiestadiums. Vir die vervaardiging van byvoorbeeld ’n ingewikkelde masjien is talle samestellende dele nodig en sal verskillende vervaardigers—saam in een onderneming of onafhanklik van mekaar—vir die uiteenlopende aantal onderdele sorg.
BO: Die boubedryf is ’n baie belangrike komponent van die sekondêre sektor.
Foto: U.S. National Park Service
BO: Die wiskundige presiese struktuur van die Parthenon in Athene toon die vlak van sofistikasie wat reeds 2500 jaar gelede bestaan het in ou Griekeland—die wieg van die Westerse beskawing. Vervaardigers in die sekondêre sektor bou vandag steeds spreekwoordelik voort op sekere van die fondamente wat destyds gelê is.
Krediet: Biblepicturegallery.com
AS Só ’N MASJIEN MAAR NET MOONTLIK WAS...
REGS: Masjiene is integrerende dele van die sekondêre sektor—en die feit dat duisende soorte masjiene reeds deur vernuftige mense geprakseer is, hoef niemand te verbaas nie. Maar van die verre verlede af tot vandag toe was en is daar beterweterige “uitvinders” wat hul kop op ’n blok sou sit dat hulle in staat is om die onmoontlike te vermag: om ’n masjien te bou wat ewigdurend met sy eie krag aan die loop sou bly, sonder enige brandstof hoegenaamd. Op die illustrasie hierby is een só ’n patent. Die ontwerper reken tereg dat hy ’n wiel aan die draai kan hou met vallende water—maar dan sou die water weer voortdurend op 'n sekere manier boontoe vloei (dis nie duidelik hoe nie, dog miskien sou dit deur middel van iets soos lugdruk moes geskied) om van daar af steeds onafgebroke op die wiel af te stort. Dis egter ’n hopelose vergissing dat so iets moontlik is. Geen mens kan die natuurwette só omseil nie!
Krediet: Clker.com
3. Tersiêre aktiwiteite (dienslewering) DIENSLEWERING is besonder belangrik in die moderne wêreld. Dienste bied waarde aan mense maar is nie konkrete goedere nie. Voorbeelde van aktiwiteite wat met hierdie sektor geassosieer word, is dié van banke, ondernemings vir openbare vervoer, gesondheidsorg, regsdienste, klerklike dienste en toerisme. Ook die media en vermaaklikheidsbedrywe (rolprente, die televisie, radio, teater en so meer) is vanselfsprekend gemoeid met dienslewering.
In die meeste ontwikkelde en ontwikkelende lande is al hoe meer mense by die tersiêre sektor betrokke.
Dienste word soms ingedeel in regstreekse dienste (dus dienste aan mense, soos verskaf deur die polisie, haarkapperye en dies meer) en kommersiële dienste (byvoorbeeld sakeversekering, die reël van vergaderings namens ondernemings, ensovoorts). Dit kan egter gebeur dat ondernemings dienste sowel aan mense as sakeondernemings aanbied, soos versekeraars wat sowel individue as besighede verseker.
Ten slotte kan een produsent natuurlik by al die aktiwiteite betrokke wees— primêr, sekondêr én tersiêr. Oom Jan op die plaas is hoofsaaklik gemoeid met primêre bedrywighede, maar kan straks ook ’n bietjie vervaardiging doen om vars room, botter of joghurt aan die mense op die dorp te lewer. Oom Jan kan selfs ’n nuttige diens verskaf deur sy produkte met sy bakkie by sy klante se huise of sakeondernemings af te lewer. Praat van ’n Jan wat kán!
|
||