|
Die ekonomiese groei van Suid-Afrika sedert die tye van ruilhandel tot vandag Van koperdraad tot koperskrag
|
|
|
Lees
ook op die Mieliestronk-werf: |
|
OE Jan van Riebeeck in die jaar 1652 uit Nederland in die Kaap aankom om ’n verversingspos te vestig wat kos moet voorsien aan skepe wat tussen Europa en Asië vaar, lewe daar veral drie groepe mense in Suid-Afrika:
• Daar is die San (ook Boesmans genoem), ’n volkie van klein, geel mensies, wat op en van die veld lewe en wie se daaglikse bestaan meestal wentel om die uintjies en ander veldkos wat hulle in hul omswerwinge kan vind en die wild wat hulle in hul jagtogte kan plattrek.
Iets soos geld is baie ver verwyderd van hul leefwêreld—en dit sal in elk geval vir hulle niks beteken nie. Hulle is mense van eenvoud wat in en uit die natuur bestaan. Hulle weet wel van ruilhandel, maar ook hierdie wete is bes moontlik maar baie basies.
• Nog ’n volk wat Van Riebeeck hier aantref, is die Khoi-Khoi. Dié is veeboere wat—volgens die intrekkende blankes se waarneming—so hortend praat dat dit vir hulle klink soos “hot en tot’’. Die Europeërs noem hulle toe die Hottentotte, maar hierdie woord sou later as ’n skeldnaam aangevoel word, soseer dat hulle vandag liefs die Khoi-Khoi genoem word.
Die Khoi-Khoi van Jan van Riebeeck se tyd ken ruilhandel, maar het vanweë hul ongekunstelde agtergrond klaarblyklik nie ’n goeie begrip van die vergelykende waarde van verskillende artikels nie. Hulle kom ruil hul vee by die Nederlanders vir byvoorbeeld, tabak, rookpype en koperdraad. Maar die tabak in die pype brand spoedig alles weg en die koper is blink en mooi, maar kan geen honger maag vul nie. Nie verniet dat lede van die Khoi-Khoi dus maar weer taks hul vee van die Nederlanders gaan “terugsteel” nie. (Om hier van “steel” te praat, is egter miskien om met Westerse oë na die situasie te kyk. In die Khoi-kultuur kon dit maklik beskou gewees het as bloot terugvat wat jy reken jou toekom.)
• Die derde groep mense wat in 1652 in die teenswoordige Suid-Afrika bestaan, is die swart volkere wat oor eeue heen van veel verder noord op die vasteland van Afrika na Suid-Afrika getrek het. Hulle vestig hulle veral in die vrugbare en reënryke ooste van Suid-Afrika, met die gevolg dat Van Riebeeck in die suidweste eintlik nie kontak met hulle het nie. Eers later kom wit en swart in verbinding met mekaar, wat ook tot verskillende konfrontasies lei—skermutselings en selfs oorloë.
Die swartmense se kultuur is veel meer gestruktureerd as dié van die Khoi-Khoi en veral dié van die San. Trouens, die stelsel van ruilhandel is hier reeds op so ’n hoë ontwikkelingsvlak dat daar by hulle selfs iets soos “kommoditeitsgeld” bestaan.
Met hierdie soort “geld” word gehalte-items bedoel soos vee, soutblokke, juwele, gereedskap, katoen en tekstielware. Sulke waardevolle kommoditeite is ten minste hoër op in Afrika gebruik as betaalmiddels in die ruilhandel in belangrike handelsentrums soos Wes- en Sentraal-Soedan, die Guinese kus en die Swahili-kus. Maar die blote feit dat goud blykbaar verhandel is in of vanuit Suider-Afrikaanse sentrums soos Mapungubwe en Groot Zimbabwe, spreek ook boekdele.
By Mapungubwe—naby die plek waar die Shashe-rivier in die Limpopo vloei en die grense van Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe bymekaarkom—is boonop reeds in die tyd van die Europese Middeleeue nie net goud geruil nie. Ook koper, yster, ivoor, diervelle en ander eksotiese artikels is van die hand gesit, dikwels in ruil vir krale, wat in Afrika groot waarde as versiersels en rituele voorwerpe het.
Wat meer sê, handelaars van so ver as Persië, Arabië, Indië en China sou glo na Mapungubwe gekom het om later weer hul aankope op die Oos-Indiese handelsroete te verkwansel.
Foto: JJ van Zyl,
Tog was dit die Europeërs wat geld en ’n omvangryke vryehandelsekonomie na Suid-Afrika gebring het. Ná die vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap het veral Franse, Duitse en Engelse immigrante hulle mettertyd by die Nederlanders gevoeg. Talle plase het ontstaan waar met vee geboer en/of verskillende gewasse gesaai of gekweek is, met die gevolg dat die ekonomie in die destydse Kaapland bowenal om die boerdery gewentel het. In die begin van die 1800’s het Brittanje die beheer van die Kaap oorgeneem.
Ook in die latere Suid-Afrikaanse gebiede van Natal, die Vrystaatse Boererepubliek en Zuid-Afrikaanse Boererepubliek (Transvaal) sou die boerderybedryf aanvanklik die botoon voer nadat daar uit die Brits-beheerde Kaapland na die noorde getrek is (die sogenaamde Groot Trek). Die Afrikaners is immers nie verniet “Boere” (met ’n hoofletter) genoem nie.
Natuurlik is die boedery dikwels net beoefen om self die tering na die nering te kon sit: elke boer het maar basies vir sy eie gesin alleen gesorg en nie soseer veel van sy produkte aan andere verkoop nie. Rondtrekkende smouse wat by die boere aangedoen het, moes ook meermale daarmee vir lief neem om byvoorbeeld vee te neem in ruil vir hul negosiegoed—dus steeds ’n geval van ruilhandel.
DIE eerste gebeurtenisse wat hierdie toedrag van sake (die feitlik totaal landelike lewenswyse in die Suid-Afrikaanse binneland) ingrypend sou begin verander, was die ontdekking van spoeldiamante in die 1860’s in die beddings van riviere, en daarna, in 1870, die eintlike, fabelagtige vonds van diamante in die vulkaangesteentes by Kimberley. Die diamante het gretige fortuinsoekers na ons wêrelddeel laat stroom, en nou het nie net die boerdery nie, maar ook ’n mineraal begin om geld na veral die Kaaplandse staatskoffers te laat stroom.
Maar alles is heeltemal oorskadu deur die ontdekking van die rykste goudrif ter wêreld in 1886 aan die Witwatersrand. Dit het so ’n groot invloed op ons land as geheel en sy staatshuishouding gehad, dat goud jare lank as die ruggraat van die Suid-Afrikaanse ekonomie beskou is en steeds ’n uiters belangrike komponent daarvan vorm. Sowat die helfte van die goud wat nog ooit op aarde geproduseer is, is Suid-Afrikaanse goud.
Tot ’n ekonomie wat deur die landbou oorheers is—wat, soos ons gesê het, merendeels op ’n selfversorgende grondslag beoefen is—het goud ’n nuwe sektor toegevoeg wat die kenmerke sou dra van ’n meer ontwikkelde, geïndustrialiseerde en “kapitalistiese” land met sy grootskaalse finansiële transaksies, maatskappyevorming, spekulasie, kredietskepping, noem maar op.
Welbeskou was dit ook goud wat die tragedie van die Anglo-Boereoorlog veroorsaak het, maar met een gelukkige resultaat, naamlik dat die vier Britse kolonies hier in ons suidland verenig het om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Goud het ons boonop die kragtigste ekonomie op die vasteland van Afrika besorg—die hele Egipte, in die tweede plek, is vandag maar ekonomies min of meer so sterk as Gauteng.
Ons land het wel ’n enorme ekonomiese insinking beleef, veral in die laaste jare van die apartheidsjare van die tweede helfte van die twintigste eeu, toe feitlik die hele wêreld sy rug op die blanke minderheidsregering gedraai het. Maar die wiel het behoorlik gedraai nadat pres. Nelson Mandela in die 1994 die leisels oorgeneem het in ’n regering van nasionale eenheid. Tans is Suid-Afrika weer almal se vriend, hoewel waarnemers reken dat die letsels van apartheid nog geslagte lank in die land gesien sal word.
Tog lyk die breë prentjie rooskleurig. Die mynwese stoom voort—die land is ryklik bedeel met allerhande minerale—en ons is byvoorbeeld die grootste produsent van die metaal platinum op aarde, hoewel ons in ons goudlewering in 2007 deur China verbygesteek is.
Foto: Sotheby's / via MediaClubSouthAfrica.com
Maar ook ons fabriekswese, dienslewering en toeristebedryf is beter ontwikkel as dié in talle ander lande, terwyl ons ou staatmaker, die landboubedryf, ook op sy manier op dreef bly, ondanks allerhande probleme*). Suid-Afrika se vervoerinfrastruktuur is van die beste in Afrika. Trouens, die ekonomie het so gegroei dat die groot verskaffer van elektrisiteit, Eskom, nie kon tred hou met die vraag nie en daar ’n kragkrisis ontstaan het, wat nou dringend aangespreek word.
Lank verby is dus die tyd toe die eerste Nederlanders aan die Kaap dinge soos koperdraad kon gebruik om vee in ruiltransaksies van die Khoi-Khoi te bekom. Vandag kan twee anonieme mense—die een hier in Suid-Afrika, die ander miskien aan die teenoorgestelde kan van die aardbol—’n traksaksie van derduisende rande binne sekondes beklink. En hoogs afgeronde koopmanskap, gesteun deur die moderne tegnologie van rekenaars en satelliete, vorm die grondslag van ons hoogs gesofistikeerde ekonomie.
Die ekonomiese verlangsaming wat die hele wêreld sedert 2008 in sy greep het, met hernieude finansiële storms wat in 2011 oor Europa begin woed het, laat Suid-Afrika weliswaar nie ongeskonde nie.
Tog is daar die ewige optimiste wat sê die potensiaal om in die toekoms nog tot veel groter hoogtes uit te styg, sluimer hoeka in ons land.
Soos een hoopvolle waarnemer dit stel: “ ’n Mens het rede om te sê hou Suid-Afrika dop! Hy is in staat tot groot dinge, nee, sommer baie groot dinge!”
Nou ja, een ding is seker, ons land het inderdaad al ’n hele aantal groot geeste met briljante idees opgelewer. En laat ons onthou dat net een vernuftige entrepreneur uiteindelik vir tienduisende mense kan werk skep. ____________________
*)
In
2005 het die landbou slegs 3,4 persent tot die bruto binnelandse
produk bygedra, maar dienste het op ’n verbysterende 65,1 persent
gestaan.
|
|