Albert Einstein

Merkwaardige denker se lewende nalatenskap

Albert Einstein
— relatief uitmuntend!

Die wêreld ken hom as die vader van die Relatiwiteitsteorie—’n ingewikkelde wetenskaplike begrip wat deur betreklik min mense verstaan word. Ook as die pa van die vergelyking E = mc2, wat stipuleer dat massa en energie in werklikheid slegs twee vorms van dieselfde ding is. Maar wie was hierdie kleurryke Albert Einstein eintlik—die aartsgenie wat in April 2005 reeds vyftig jaar oorlede was? Interessant genoeg was dit in 2005 ook presies honderd jaar vantevore dat hy sy "wonderjaar" belewe het wat ons denke oor tyd en materie vir altyd sou verander...

"W

AARMEE hou jy jou besig, jou bevrore walvis, jou gerookte, gedroogde, ingelegde stukkie siel?" het ’n jong Albert Einstein in 1905 skertsend aan ’n vriend van hom geskryf. Wat die vriend aan die doen was, is nie juis ter sake nie. Wat van wesenlike belang vir die moderne wetenskap geblyk het, was die monumentale projek waarmee Einstein self in daardie jaar doenig was.

Want in 2005 was dit presies honderd jaar vantevore dat hierdie aartsgenie sy sogenaamde "wonderjaar" belewe het wat ons denke oor tyd en materie vir altyd sou verander. En om dit te vier, is ’n rits konferensies, boeke, konserte, kompetisies, lesings, webwerwe en wat nog alles beplan deur fisici, universiteite en regeringsliggame op verskillende plekke.

Einstein was ’n verpersoonliking van suiwer intellek, die verbete kampvegter vir menseregte, die peuterende professor met die Duitse aksent, ’n komiese cliché in duisend rolprente—geen wonder hy word as een van die heel groot geeste van die twintigste eeu beskou nie. Trouens, die gevierde tydskrif Time het hom met die eeuwisseling selfs tot dié Persoon van die Eeu benoem.

Want Einstein het nie maar net die wêreld aanvaar soos hy is nie, hy het dieper gedink oor die sin van alle dinge. As die groot genie onder die geniale denkers van sy tyd het hy—bloot deur daaraan te dink—ontdek dat ons wonderbaarlike geskape heelal glad nie is soos dit lyk nie.

Terselfdertyd het Einstein met ’n eenvoudige, ongekunstelde hartstog geglo dat mense wat anders is met menswaardigheid behandel moes word. Dit was moontlik omdat hy self as kind soveel van ander kinders verskil het en daar so teen hom gediskrimineer is.

“Ons moet nie net verskille tussen individue en tussen groepe verdra nie,” het hy op ’n keer geskryf, “maar ons behoort dit inderdaad te verwelkom en hulle as ’n verryking van ons te bestaan te beskou. Sonder verdraagsaamheid in hierdie breedste sin, kan daar geen kwessie van ware moraliteit wees nie.”

Einstein was ’n baanbreker op sy eie terrein wat die filosofie en wetenskap op ’n verstommend wonderbaarlike manier met mekaar probeer versoen het. Maar boonop was hy iemand wat die sinloosheid van geweld besef het. Dit iets wat ons vandag nog tot diepe nadenke kan stem in ons gewelddadige land met sy baie hoë misdaadsyfer....

ALBERT EINSTEIN (gebore op 14 Maart 1879 te Ulm, Württemberg, Duitsland, en oorlede op 18 April 1955 in Princeton, New Jersey, in die VSA) sal natuurlik allereers onthou word as die vader van die sogenaamde Relatiwiteitsteorie, waaroor later in hierdie artikel meer vertel word.

Die Duitser van Joodse afkoms wat na Amerika uitgewyk en Newton se teorie van swaartekrag op sy kop omgekeer het, is op verskeie manier vir sy bydraes tot die wetenskap vereer. ’n Eenheid in die fotochemie, die einstein, is na hom genoem, asook die chemiese element einsteinium en die asteroïde 2001 Einstein.

En tog het alles vir hom so nederig begin. Hy was die seun van ’n taamlik onsuksesvolle sakeman wat van Ulm na München verhuis het, waar die jong Albert aanvanklik een van die swakste leerlinge in die klas was. Toe die gesin daarna weer na Milaan in Italië versit, was pappa Einstein reeds so diep in die geldelike verknorsing dat hy nie meer kon betaal om sy seun op skool te hou nie.

Gelukkig vir Albert het van die familielede en vriende hom te hulp gekom. Hulle het hom in staat gestel om aan die Federale Instituut vir Tegnologie in Zürich, Switserland, te gaan studeer.

In Zürich het Albert onder leiding van die geniale wiskundige Minkofski tot ’n briljante student in die wiskunde ontwikkel. In 1900 het hy sy graad met die hoogste onderskeiding behaal en daarna gaan onderwys gee. Twee jaar later het hy egter die onderwys laat vaar en ’n pos in die Switserse patentekantoor in Bern aanvaar.

Einstein het sy werk, die ondersoek van patente, uiters vervelend en ver benede sy vermoëns gevind, maar dié werk het hom met genoeg vrye tyd gelaat sodat hy sy aandag aan belangriker probleme kon bestee. In die loop van sy verblyf in Bern het hy dan ook belangrike wetenskaplike verhandelinge geskryf.

Die Spesiale Relatiwiteitsteorie

DIE bekendste van Einstein se vroeë werke is in 1905 in die Annalen der Physik onder die opskrif Die elektro-dinamika van bewegende liggame gepubliseer. In hierdie verhandeling het Einstein sy Spesiale Relatiwiteitsteorie in besonderhede uitgewerk.

Hierdie wiskundige werk het tot die gevolgtrekking gelei dat nóg lengte nóg massa nóg tyd absoluut is. Waarop dit neerkom, is dat die grootte van hierdie hoeveelhede relatief is en van die posisie en die bewegingsnelheid van die waarnemer afhang. Die snelheid van lig is egter ’n uitsondering: lig se snelheid is altyd dieselfde ongeag wat die bewegingsnelheid van die waarnemer is.

Kort ná die publikasie van hierdie verhandeling is ’n doktorsgraad in die filosofie aan Einstein toegeken, en in 1908 is hy as dosent aan die Universiteit van Bern aangestel. ’n Rukkie later is hy tot professor in Zürich bevorder, en in 1911 het hy hoogleraar aan die Universiteit van Praag geword. Verdere eerbetoon het die groot wetenskaplike te beurt geval toe hy in 1913 tot lid van die Pruisiese Akademie vir Wetenskap gekies en as hoogleraar in fisika aan die Universiteit van Berlyn aangestel is.

Die Algemene Relatiwiteitsteorie

EINSTEIN se tweede groot werk, Die Grondslag van die Algemene Relatiwiteitsteorie, is in 1916 gepubliseer. In hierdie werk het hy sy idee van die Spesiale Relatiwiteitsteorie uitgebrei tot situasies waarin liggame nie slegs relatief tot mekaar beweeg nie, maar ook versnel as sou hulle in ’n gravitasieveld wees.

Die korrektheid van hierdie teorie kon met behulp van verskeie natuurverskynsels getoets word, en in elke geval het die eksperimentele resultate Einstein se voorspellings bewys.

In 1921 het Einstein op grond van hierdie twee werke die Nobelprys vir Fisika ontvang.

Einstein in Amerika

IN 1921 het Einstein Amerika vir die eerste keer besoek. Sy besoek daar het met groot feestelikhede gepaard gegaan, wat veral verbasend was as ’n mens in gedagte hou dat hy van ’n land gekom het wat kort tevore in die Eerste Wêreldoorlog nog teen Amerika geveg het en dat waarskynlik slegs een mens in ’n duisend van dié wat hom toegejuig het, enigsins iets van sy werk kon verstaan.

Met Einstein se tweede besoek aan Amerika in 1933 het Adolf Hitler in Duitsland juis aan die bewind gekom. Vanweë sy Joodse afkoms het Einstein besluit om liewer nie na Berlyn terug te keer nie, en hy het na België gegaan, waar hy ’n tyd lank as gas van koning Albert vertoef het.

Verskeie pogings is aangewend om ’n geskikte pos vir die beroemde wetenskaplike in Frankryk te vind, maar dit was tevergeefs. Daarom het Einstein reeds in 1933 na Amerika teruggekeer, waar hy aan die Instituut vir Gevorderde Studie in Princeton, New Jersey, aangestel is.

In sy nuwe pos het Einstein die geleentheid gehad om onderrig te gee sowel as om navorsing te doen. Hy het lesings aan voor- en nagraadse studente gegee, en terselfdertyd aan sy Eenheidsveldteorie gewerk. Hy het gehoop om met hierdie werk ’n allesomvattende wiskundige teorie te verskaf vir die begrippe swaartekrag en elektromagnetisme.

In die loop van sy verblyf in Amerika het Einstein by die politiek betrokke geraak. Hierdie groot geleerde, wat ’n pasifis in murg en been was, was uiters bekommerd dat sy wiskundige teorieë die wetenskaplikes in Duitsland in staat sou stel om ’n atoombom te vervaardig en sodoende die Nasionaal-Sosialiste die regeerders van die wêreld te maak. Dit was hierdie gevaar wat hom op 2 Augustus 1939 sy beroemde brief aan Amerika se pres. Roosevelt laat skryf het waarin hy die moontlikheid van die vervaardiging van ’n atoombom uiteengesit het.

Ná die oorlog het Einstein Brittanje en Amerika aangemoedig om hul atoomgeheime met Rusland te deel, met die gevolg dat hy deur baie mense as ’n instrument van die Kommunisme beskou is. Sy laaste jare het hy in ’n eenvoudige huis in Princeton deurgebring. Hy is op 18 April 1955 oorlede.

* * *

Sêgoed van Einstein

·      •    Toe aan hom gevra is om in ’n paar woorde die wese van sy relatiwiteitsteorie uiteen te sit sodat almal dit kan verstaan, het Einstein só geantwoord:

As u die antwoord nie te ernstig sal opneem nie en dit as ’n soort grap beskou, kan ek dit as volg verduidelik: vroeër is geglo dat as alle materiële dinge uit die heelal moet verdwyn, slegs nog tyd en ruimte sou oorbly. Volgens die Relatiwiteitsteorie verdwyn tyd en ruimte saam met hierdie dinge.

·      •    Daar bestaan ’n hartstog om dinge te verstaan, net soos daar ’n hartstog vir musiek bestaan. Hierdie hartstog kom meer algemeen by kinders voor, en die mens verloor dit gewoonlik namate hy ouer word. Sonder hierdie hartstog kan daar geen wiskunde of wetenskap wees nie. Die hartstog in my het nooit sy vonkeling verloor nie.  

·       •    Besorgdheid vir die mens en sy lot behoort altyd die belangrikste oorweging by alle tegniese prestasies te wees. Moet dit nooit vergeet te midde van al jou diagramme en vergelykings nie.

·       •    Die ewig onverstaanbare in die natuur is dat ’n mens dit wel kan verstaan.

·       •    Die lewe is altyd ’n wordingsproses, nooit ’n is-toestand nie.

·       •    Einstein oor sy veragting van oorlog: Iedereen wat genot daaruit put om onder luide geskal van marsmusiek in aaneengeslote geledere te marsjeer, is vir my ’n voorwerp van veragting. Sy verstand het hy bloot per toeval bekom, aangesien sy rugmurg heeltemal voldoende sou gewees het. Hierdie vlek op die beskawing moet so spoedig moontlik onderdruk word. Heldemoed op bevel—sinnelose geweld en patetiese vaderlandsliefde—met watter vurige haat verafsku ek nie hierdie dinge nie; hoe snood en veragtelik is oorlog nie. Ek sou my eerder in stukke laat opsny voordat ek aan sulke verwerplike bedrywighede deelneem.

·       •    Na sy vrou Mileva, gebore Maric, ’n Serwiese klasmaat met wie hy op 6 Januarie 1903 getrou het, het Einstein liefderyk verwys as “ ’n skepsel wat my gelyke is en wat so sterk en onafhanklik as ek is.

Hoofbron vir teks vanaf Spesiale Relatiwiteitsteorie tot die einde: Kennis-ensiklopedie, met dank

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad