Bekende mense
van die afgelope eeu

Die afgelope sowat honderd jaar was die mees gebeurtenisryke tydperk tot nog toe in die bestaan van die mens. Die mensegeslag het in dié epogale tydperk op die maan geland, maar ook twee wêreldoorloë in die geskiedenisboeke geplaas; ons het siektes soos pokke oorwin, maar dan ook die atoombom vervolmaak. Hier is ’n lys mense wat elk op sy of haar eie manier in hierdie tydsgewrig ’n onwisbare stempel op die wêreld afgedruk het—ten goede, ten kwade of hoe ook al ’n mens elke persoonlikheid sal wil beskou...

Let wel: Die leser kan miskien vind dat belangrike persoonlikhede uitgelaat is wat werklik vermelding verdien het. Ons gee toe. Natuurlik kan ’n lys soos hierdie nooit volledig wees nie.

•   Klik op enige skakel of mini-foto’tjie (“thumbnail”) vir ’n groter prent wat dan in ’n aparte venster sal verskyn

 

Bekende manne

 

•   ALI, Muhammad, legendariese Amerikaanse bokser

Hy het homself nie net “the Greatest” genoem nie, maar dit ook bewys deur tussen die jare 1964 en 1979 die swaargewig-toneel van die wêreld te oorheers.
Ali (1942-   ) is as Cassius Clay gebore, maar het sy naam verander toe hy hom by die sogenaamde “Black Muslims” aangesluit het. Hy was ’n uitgesproke vegter wat gespog het dat hy kon “float like a butterfly and sting like a bee”. Ali het in 1981 uitgetree, waarna dit bekend geword het dat hy aan Parkinson se siekte ly.

 

Groot foto van Muhammad Ali: U.S. Libary of Congress / PD

 

 

•   ARAFAT, Jasser, Palestynse leier

As voorsitter van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van 1969 af, het Arafat (1929-2004) ’n vername rol in die Arabies-Israeliese stryd gespeel. Hy het in die jare sestig en sewentig ’n guerrilla-oorlog gevoer om Israel te probeer vernietig, maar later Israel se reg erken om saam met ’n onafhanklike Palestynse staat te bestaan. Hy het ongewild geraak by jonger, militanter leiers van die PBO. Arafat is in November 2004 in dramatiese omstandighede in Frankryk oorlede en die presiese oorsaak van sy dood is steeds onbekend.

 

Groot foto van Jasser Arafat: Foto van die Franse departement van buitelandse sake waarop daar buite Frankryk geen kopiereg is nie, maar die volgende krediet is nietemin verpligtend: French Ministry of Foreign Affairs—Photographic Service

 

 

•   ARMSTRONG, Neil, Amerikaanse ruimteman en eerste maanwandelaar

Armstrong (1930-   ) was die eerste mens wat op die maan geloop het (op 21 Julie 1969). Hy was bevelvoerder van die Apollo 11-ruimtesending. Sy eerste woorde toe hy op die maan uitstap was: “That's one small step for (a) man, one giant leap for mankind.” Edwin (”Buzz”) Aldrin, wat Armstrong op die sending vergesel het, het die tweede maanloper geword. Michael Collins, die derde lid van die bemanning, het in die moederskip gebly wat om die maan bly wentel het. Nog vyf geslaagde Amerikaanse maanlandings het gevolg.

 

Groot foto van Neil Armstrong: NASA

 

 

•   BARNARD, Christiaan [Chris] Neethling, baanbreker-hartchirurg van Suid-Afrika

Hierdie Suid-Afrikaanse hoogleraar en hartchirurg (1922-2001), het op 3 Desember 1967 die wêreld se eerste hartoorplanting gedoen. Dit was in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad en die ontvanger was Louis Washkansky, ’n 55-jarige kruidenier. Die pasiënt is agttien dae later aan longontsteking oorlede, maar hierna is talle hartoorplantings wêreldwyd gedoen, mettertyd met groot sukses, veral ná die ontwikkeling van doeltreffender middels teen verwerping. Prof. Barnard is op 2 September 2001 aan ’n hewige asma-aanval oorlede in sy hotelkamer op die kusdorp Phapos, Ciprus, waar hy met vakansie was.

 

Groot foto van Chris Barnard: Algemeen gesirkuleerde foto, presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)

 

 

•   BEATLES, musikale fenomene

Paul McCartney, John Lennon, George Harrison en Ringo Starr was die lede van die Britse pop-groep die Beatles, wat gegroei het uit ’n groep wat in 1956 deur Lennon gestig is. McCartney en Harrison sluit hulle in 1957 aan en Starr in 1962. Lennon (1940-1980) en McCartney (1942-   ) bewys hulle as van die mees geslaagde span liedjieskrywers in die geskiedenis. Die Beatles ontbind in 1970 en bewonderaars hoop tevergeefs op ’n hereniging totdat Lennon in Desember 1980 voor sy woonstel in New York deur ’n geestesversteurde doodgeskiet word.

 

Groot foto van al vier die Beatles: United Press International 1964, U.S. Library of Congress (no copyright found); this is a retouched version from Wikipedia Free Encyclopedia

 

 

•   BEN-GURION, David, Isrealiese staatsman

Ben-Gurion (1886-1973) was die “vader” van die staat Israel. Hy was die dryfkrag agter die veldtog vir ’n onafhanklike Joodse staat wat op 14 Mei 1948 as die staat Israel tot stand gekom het. Ben-Gurion word die eerste Israeliese premier.

 

Groot foto van Ben-Gurion: Word tot openbare besit (“in the public domain”) gereken in Israel

 

 

•   CASTRO, Fidel, Kubaanse leier

Castro (1927-    ) was die premier van Kuba sedert 1959 en is die president sedert 1976. Hy het in sy land aan die bewind gekom toe hy diktatuur van Fulgencio Batista omvergewerp het. Hy maak sy land ’n kommunistiese staat, tot groot onsteltenis van Amerika, maar word geïsoleer ná die ineenstorting van die kommunisme in die Sowjet-Unie en Oos-Europa. Castro het Afrika-bevrydingsbewegings, veral in Angola, ondersteun en Kubane in regstreekse konfrontasie met Suid-Afrikaanse troepe gebring.

 

Groot foto van Fidel Castro: Foto deur Ricardo Stuckert, beskikbaar gestel deur Agencia Brasil, ’n openbare Brasiliaanse nuusagentskap, ingevolge die Creative Commons-lisensie, weergawe 2.5

 

  

•   CHURCHILL, sir Winston, Britse staatsman

Churchill (1874-1965) het sy land as premier deur die Tweede Wêreldoorlog gelei. Hy was in die Tweede Vryheidsoorlog ’n oorlogskorrespondent in Suid-Afrika. Hier word hy in Natal deur die Boere gevang, maar in Pretoria ontsnap hy uit sy gevangenskap. Hy begin sy lang parlementêre loopbaan in 1900. Churchill sien die bedreiging van die Hitlerisme raak voor die meeste van sy tydgenote. Hy was ’n besielende spreker, wat sy land in die laaste wêreldoorlog nuwe hoop en krag gegee het. Het ook bekendheid as biograaf en geskiedskrywer verwerf.

 

Groot foto van Churchill: U.S. Library of Congress (cropped)

 

 

•   DALÍ, Salvador, Spaanse kunstenaar

Dalí (1904-1989) was ’n surrealistiese skilder wat die wêreld behoorlik aan die praat gehad het. Dié eksentrieke kunstenaar is deur die psigoanalitiese teorieë van die onbewuste beïnvloed en het droomtonele in ’n oorpresiese, fotografiese styl geskilder. Van sy bekendste beelde is van sakhorlosies wat slap oor voorwerpe hang en bonormale groot miere in fel verligte landskappe. Dalí het eenmaal die helfte van sy met was gestyfde snor afgeskeer, net om sy eksentrisiteit te beklemtoon.

 

Groot foto van Dalí: Foto deur Carl van Vechten, 29 November,1939; word aangedui as openbare besit (“in the public domain”), maar met die bepaling dat dit nie verkleur of dele daarvan weggesny mag word nie (“don’t colour or crop”)

 

 

•   DEBUSSY, Claude, Franse komponis

As invloedryke komponis en musikale revolusionêr, het Debussy (1862-1918) hom ten doel gestel het om musiek te bevry van die “barre tradisies” wat volgens hom besig was om dit te versmoor. Sy bedwelmende gebruik van harmonieë het ’n sensuele musikale droomwêreld geskep en ’n diepgaande invloed op moderne Westerse musiek gehad. Hy het dikwels alle konvensionele formules omvergegooi en ’n onmiskenbare styl ontwikkel wat talle navolgers geïnspireer het.

 

Groot foto van Debussy: Foto deur Félix Nadar, omstreeks 1908; word tot openbare besit (“in the public domain”) gereken vanweë die verval van die kopiereg weens ouderdom

 

•   DE GAULLE, Charles, Franse generaal en staatsman

De Gaulle (1890-1970) is, ná die val van Frankryk in 1940 tydens die Tweede Wêreldoorlog, as die leier van die “Vrye Franse”- opposisie teen Nazi-Duitsland erken. Hy word ná die bevryding van Parys in 1944 president in 1945, maar bedank in 1946. In 1958 word hy uit sy aftrede teruggeroep met die versoek om ’n regering met spesiale magte saam te stel in ’n poging om Frankryk uit sy ontwrigte politieke toestand te red en om die opstand in Nigerië te besleg. Hy gee Frankryk ’n nuwe grondwet.

 

Groot foto van De Gaulle: U.S. Office of War, omstreeks 1942

 

 

•   DIOR, Christian, Franse mode-ontwerper

Dior (1905-1957) was ’n vermaarde mode-ontwerper, wat in 1947 die sogenaamde “New Look” geskep het. Sy rokke en uitrustings met smal skouers en lang, uitklokkende rompe het ’n romantiese era van glans vir Westerse vroue ingelui.

 

Groot foto van Christian Dior: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)

 

•   DISNEY, Walt, Amerikaanse tekenprent-genie

Disney (1901-1966), was die skepper van bekende tekenprent-karaktertjies soos Mickey Mouse, Donald Duck, Pluto en vele meer. Disney se Hollywood-loopbaan begin in die jare twintig. In 1928 maak hy die eerste kort tekenprent met klank en musiek en in 1937 die eerste vollengte-tekenprent. Benewens vir sy films sal hy onthou word as innoveerder van die pretpark Disneyland in Kalifornië.

 

Groot foto van Walt Disney: NASA

 

 

•   EINSTEIN, Albert, Duits-Amerikaanse vader van die relatiwiteitsteorie

Einstein (1879-1955) was een van die grootste wetenskaplikes van alle tye. Sy relatiwiteitsteorie het ’n omwenteling in die wetenskap van die twintigste eeu teweeggebring en tot die gebruik van atoomkrag gelei. Einstein se vergelyking E=mc2, wat toon dat massa in energie omgeskakel kan word, verander die hele menslike begrip van die fisieke heelal. Einstein is as Jood in Duitsland gebore, maar emigreer in 1934 na Amerika nadat die Nazi’s die bewind in sy geboorteland oorgeneem het. Hy ontvang in 1921 die Nobelprys vir fisika.

 

Groot foto van Einstein: Geneem in 1947; U.S. Library of Congress (copyright not renewed)

 

 

•   EISENHOWER, Dwight D., Amerikaanse strateeg en staatsman

Eisenhower (1890-1969) was opperbevelhebber van die Geallieerde magte in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Amerikaanse president van 1953 tot 1961. Hy ontwerp en bestuur die skitterend geslaagde inval in Europa wat tot die nederlaag van Nazi-Duitsland in 1945 lei. As president voer hy die sogenaamde Koue Oorlog, die langdurige vete tussen Amerika en die Sowjet-Unie wat die wêreldpolitiek tussen 1945 en die laat jare tagtig oorheers het. Eisenhower was ’n verbete teenstander van die Kommunisme.

 

Groot foto van Dwight D. Eisenhower: Geneem in Februarie 1959; U.S. White House Photo Portrait

 

 

•   FLEMING, Alexander, Britse ontdekker van penisillien

Hierdie dokter en bakterioloog (1881-1955) het penisillien in 1928 ontdek. Penisillien, wat afkomstig is van ’n gewone skimmel wat byvoorbeeld op vrugte groei, kan ’n hele horde verskillende bakterieë doodmaak. Ofskoon Fleming die ontdekker was, was dit die patoloog Howard Florey en die biochemikus Ernst Chain wat werklik die waarde van penisillien in die stryd teen infeksie besef het. Duisende lewens is gered nadat hulle vroeg in die Tweede Wêreldoorlog die aktiewe bestanddeel van die skimmel geïsoleer het.

 

Groot foto van Alexander Fleming: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

•   FORD, Henry, motorpionier

Henry Ford (1863-1947) was ’n Amerikaanse nyweraar, wat sy naam in die geskiedenisboeke verewig het met sy baanbrekerswerk in die vervaardiging van motors. Hy het 1893 sy eerste motor klaar gebou nadat hy etlike jare lank in sy vrye tyd geëksperimenteer het, en in 1903 het hy die Ford-motormaatskappy gestig. ’n Verstommende prestasie in die beginjare was die Model T, waarvan meer as vyftien miljoen tussen 1908 en 1928 vervaardig is.
 

Groot foto van Henry Ford: Ford in 1943; U.S. Library of Congress (copyright not renewed)
 

 

•   FREUD, Sigmund, Oostenrykse neuroloog en grondlegger van die psigoanalise

Die psigoanalise is die wetenskaplike studie van sekere senu-afwykings van die brein deur ’n ondersoek van alles wat die pasiënt uit sy verlede, sy drome, ens. kan onthou om só vergete angste op te spoor. Freud  (1856-1939) het aangevoer dat mense aangedryf word deur libido, ’n mengsel van hul seksdrang en oorlewingsinstink. Hoewel baie van sy teorieë vandag bevraagteken word, bly hy steeds een van die invloedrykste figure van die twintigste eeu.

 

Groot foto van Freud: Geneem in 1938; U.S Library of Congress

 

 

•   GAGARIN, Joeri, Russiese ruimteman

Gagarin (1934-1968) het op 12 April 1961 die eerste mens in die ruimte geword het toe hy een omwenteling om die aarde in die ruimtetuig Wostok I voltooi het. Daar is later beweer dat die vlug byna in ’n ramp geëindig het met die terugkeer aarde toe. Twee dele van die ruimtetuig sou nie van mekaar geskei het soos beplan is nie—pleks daarvan dat die skeiding tien sekondes moes duur, het tien minute glo verbygesleep voordat dit gebeur het en Gagarin veilig kon land. Hy is, na berig is, in ’n vliegongeluk oorlede.

 

Groot foto van Gagarin: Fotobron onbekend (waarsk. Virtuele Ruimtemuseum in Rusland), maar foto word vry algemeen gesirkuleer

 

 

•   GANDHI, Mohandas Karamchand, Indiese leier

Gandhi (1869-1948), bekend as die Mahatma [Groot Siel], was ’n stryder vir menseregte in Indië en voorstander van geweldlose verset. Hy studeer in Londen. Van 1893-1914 is hy in Suid-Afrika waar hy as leier van die Indiërs optree. As nasionalistiese leier in Indië, tot 1947 nog onder Britse bestuur, oefen hy ’n geweldige invloed uit: hy is beskou as ’n heilige en sy eerlikheid is nooit in twyfel getrek nie. Hy word in Januarie 1948 deur ’n fanatieke sluipmoordenaar om die lewe gebring.

 

Groot foto van Gandhi: Portret van 1931; sal in Suid-Afrika tot openbare besit gereken kan word vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

•   GRAHAM, Billy, Amerikaanse evangelis

Billy Graham, volle name William Franklin Graham (1918-   ), is ’n toonaangewende woordvoerder vir die Christelike Evangeliese leer.  Hy het in 1943 pastoor van die First Baptist Church van  Western Springs, Illinois, geword, en in 1949 met grootskeepse evangelisasie begin deurdat hy ’n reeks toere in die VSA en Europa onderneem het. Altesaam miljoene mense het na die byeenkomste van hierdie welsprekende, kragtige en charismatiese prediker gestroom.

 

Groot foto van Billy Graham: Foto in 1966 deur Warren K. Leffler, U.S. Library of Congress

 

  

•   HEMINGWAY, Ernest, Amerikaanse romanskrywer

Hemingway (1899-1961) was bekend vir die invoering van ’n nuwe prosastyl in die romanskryfkuns; feitelik, op die man af, met opset doodgewoon. Van sy bekendste romans is A Farewell to Arms (1929), Death in the Afternoon (1932) en For Whom the Bells Tolls (1940). Hy skryf ook bundels kortverhale soos Men without Women (1927) en werk as oorlogsverslaggewer. Hy verwerf in 1954 die Nobelprys (letterkunde) vir sy roman The Old Man and the Sea (1952). Hy skiet homself in 1961 ná ’n lang siekte.

 

Groot foto van Hemingway: Foto in 1950 deur A.E. Hotchner; A.E. Hotchner collection; U.S. Library of Congress

 

 

•   HITLER, Adolf, Duitse diktator

Hitler (1889-1945) was Duitsland se Führer (leier), wie se drome van wêreldoorheersing tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Gebore in Oostenryk, neem hy in 1921 beheer oor van die Duitse Werkersparty en hernoem dit die Nasionaal-Sosialistiese (Nazi-)Party. Hy word in 1933 die kanselier van Duitsland. Oorrompel Tsjeggo-Slowakye en val Pole in 1939 aan wat die wêreldoorlog laat uitbreek. Pleeg in 1945 selfmoord saam met sy vrou, Eva Braun, in sy Berlynse bunker toe Duitsland nie meer weerstand teen sy vyande kon bied nie.

 

Groot foto van Hitler: Presiese bron onseker, maar vry algemeen gesirkleerde foto, dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

 

•   KENNEDY, John F., Amerikaanse president

Kennedy (1917-1963) was van 1961 tot 1963 die president van die VSA. Sy elegante vrou, Jacqueline (Jackie), het destyds meegehelp om ’n haas ongeëwenaarde charisma aan die Amerikaanse Wit Huis te verleen. Kennedy se presidentskap het tot ’n einde gekom toe hy op ’n toer in Dallas, Texas, deur ’n sluipmoordenaar, Lee Harvey Oswald, in ’n oop motor langs sy vrou doodgeskiet is. Jackie is later weer getroud, met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis.

 

Groot foto van John F. Kennedy: Geneem in 1961, U.S. Library of Congress

 

 

•   KOCH, Robert, Duitse bakterioloog

Koch (1843-1910) het die organismes ontdek wat tuberkulose en cholera veroorsaak. Hy het ook bewys dat ’n sekere bakterie die oorsaak van miltsiekte by beeste is. Die kennis wat baanbrekers soos Koch aan die mensdom toevertrou het, het gelei tot merkwaardige welslae in die stryd teen siektes en tot metodes om siektes te voorkom, soos byvoorbeeld die middels om bakterieë te vernietig en hul bedrywighede te beperk. Koch ontvang in 1905 die Nobelprys vir geneeskunde.

 

Groot foto van Robert Koch: Foto tot openbare besit (“in the public domain”) gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

•   LENIN, Wladimir Ilitsj, Russiese revolusionêr

Lenin (1870-1924) word as die vader van die (nou ontbinde) Sowjet-Unie beskou. Hy was vroeg reeds ’n dissipel van Karl Marx, wie se kommunistiese ideale hy so gou moontlik ten uitvoer wou bring. Hy sweep voortdurend die Russiese werkers met sy propaganda op en lei hulle om plaaslike sowjets (rade) te stig. Lenin sit saam met Trotski die Revolusie van November 1917 op tou en word diktator van die nuwe unie van sowjets, waardeur ’n eeue-oue stelsel in Rusland vernietig word. Hy is dood aan geleidelike verlamming.

 

Groot foto van Lenin: Soyuzfoto (ca. 1920) (PD Old); U.S. Library of Congress

 

 

•   MANDELA, Nelson Rolihlahla [Madiba], internasionale legende in sy eie leeftyd, en DE KLERK, F.W., wat apartheid beëindig het

Mandela (1918-   ) en F.W. de Klerk [Frederik Willem] (1936-    ) was die hooffiggure in die Suid-Afrikaanse oorgang na ’n volledig demokratiese regering in die jare negentig van die twintigste eeu. Hulle het in 1993 saam die Nobelprys vir vrede ontvang. De Klerk was die laaste president van Suid-Afrika onder die apartheidsbewind. Hy is ná die verkiesing van April 1994 as staatshoof opgevolg deur Mandela, wat 27 jaar in die tronk deurgebring het ná die Rivonia-verhoor.

 

Groot foto van Nelson Mandela: Geneem in 2000; U.S. Department of Defense Photo by R.D. Ward (cropped from)

Groot foto van F.W. de Klerk: Ateljeeportret van die F.W. de Klerk-Stigting; tot openbare besit verklaar (“released into the public domain”)

 

 

•   MAO ZEDONG, Chinese Kommunistiese leier

Mao Zedong (1893-1976), ook bekend as Mao Tse-toeng, was die voorsitter van die Kommunist Party van China en die hoofstigter van die Volksrepubliek van China. Hy het afgewyk van die Maxistiese model van die Sowjet-Unie en ’n sosialistiese gemeenskap tot stand probeer bring wat op die boerdery van die landvolk gegrond was eerder as op ’n gesentraliseerde, burokratiese, geïndustrialiseerde ekonomie. Sy sogenaamde Kulturele Revolusie, waarmee hy sy eie “hervormings” te weeg wou bring, het egter hand-uit geruk en groot chaos en baie lewensverliese tot gevolg gehad.

 

Groot foto van Mao Zedong: Geneem in 1935; word tot openbare besit gereken (“assumed tot be in the public domain”)

 

 

•   MUSSOLINI, Benito, Italiaanse leier

Hy was il Duce (die leier) van ’n Fascistiese Italië van 1922 tot 1943. Mussolini (1883-1945) verower die oppergesag toe die Fasciste na Rome marsjeer, en droom daarvan om die imperiale grootheid van Rome te herstel. Hy word diktator en ’n bondgenoot van Adolf Hitler, ’n verbintenis wat in die Tweede Wêreldoorlog hopeloos faal. Mussolini moet in 1943 bedank, en hy en sy minnares, Clara Retacci, word later deur Italiaanse partisane om die lewe gebring.

 

Groot foto van Mussolini: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

 

•   NASSER, Gamal Abdel, Egiptiese leier

Nasser (1918-1970) word in 1954 die leier in Egipte, nadat hy in 1952 die dryfkrag agter die onttroning van koning Faroek was. Hy sorg in 1956 vir groot wêreldspanning met sy nasionalisering van die Suez-kanaal. Hy is ’n sterk teenstander van Israel en probeer om die Westerse invloed uit die Midde-Ooste te verdryf, maar verloor in 1967 in die Sesdaagse Oorlog teen Israel. Nasser sorg wel vir baie hervormings in Egipte en bou die enorme Hoë Aswan-dam in die Nyl.

 

Groot foto van Nasser: Die Egiptiese leier indertyd op die voorblad van die tydskrif Time

 

 

•   OPPENHEIMER, J. Robert, Amerikaanse fisikus en “pa” van die atoombom

Oppenheimer (1904-1967) was aan die spits van die hoogs geheime Manhattan Project wat die atoombom ontwikkel het. Die eerste bom is in Julie 1945 naby Alamogordo in Nieu-Mexiko getoets. Atoombomme is twee maal in oorlogvoering gebruik, toe Amerikaanse vliegtuie in Augustus 1945 dood en verwoesting in die Japanse stede Hirosjima en Nagasaki gesaai het.

 

Groot foto van Robert Oppenheimer: U.S. Department of Energy

 

 

•   PELÉ [regte name: Edson Arantes do Nascimento], Brasiliaanse sokkerster

Pelé (1940-    ) word wêreldwyd as die grootste en gewildste sokkerspeler van alle tye beskou. Hy maak in 1958 as sewentienjarige sy geroemde verskyning in die Wêreldbeker-finaal in Swede en, tot met sy opspraakwekkende vertonings twaalf jaar later in Mexiko, speel hy die spel met ’n aansteeklike vreugde. In sy loopbaan van agttien jaar teken Pelé 1281 doele in 1363 wedstryde aan. Hy word in 1994 Brasilië se minister van sport.

 

Groot foto van Pelé: Foto in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar (“released into the public domain”)

 

 

•   PRESLEY, Elvis, van Amerika, die “koning van rock”

Elvis (1935-1977) was bes moontlik die grootste musikale fenomeen van die twintigste eeu. In die jare vyftig word hy met sy suggestiewe heupswaaiery as ’n rebel beskou, maar nadat hy van 1958 tot 1960 in die leër was, maak hy sy herverskyning as ’n skoongesig-neuriesanger. Sy gewildheid taan egter weens ’n reeks minder goeie musiekprente. In sy laaste jare is hy vet en opgepof weens ’n verslawing aan verdowingsmiddels, maar net om te bewys hoe gewild hy gebly het, word daar in die eerste 24 uur ná sy dood 20 miljoen van sy plate verkoop.

 

Groot foto van Elvis Presley: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)

 

 

•   PICASSO, Pablo, Spaanse kunstenaar

Hy sou die beroemdste kunstenaar van die twintigste eeu word. Picasso  (1881-1973) was ’n skilder, beeldhouer, grafiese kunstenaar en ontwerper, die seun van ’n Baskiese tekenonderwyser en ’n Italiaanse vrou wie se van hy aangeneem het. Sy skeppingsvermoë en ’n speelsheid in sy benadering het ’n vryheid in die twintigste-eeuse kuns gebring wat steeds by hedendaagse kunstenaars gesien kan word.

 

Selfportret van Picasso as jong man in 1896: Word tot openbare besit gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

•   ROOSEVELT, Franklin D., Amerikaanse president

Roosevelt  (1882-1945) was van 1933 tot 1945 president van die VSA. Hy word op 39-jarige leeftyd die slagoffer van polio en slegs sy onoorwinlike gees red hom van die lot van ’n hulpelose kreupele. Hy verrig sy inspannende pligte vanuit ’n rolstoel. Roosevelt word in die ergste tyd van die Depressie tot president verkies en dit is gou duidelik dat hy ’n groot leier is. Hy verklaar in die Tweede Wêreldoorlog oorlog teen Japan en Duitsland. Deur sy radiotoesprake (”fireside chats”) verenig hy die Amerikaanse volk eendragtig teen die vyand.

 

Groot foto van Franklin D. Roosevelt: Geneem in 1933; sou ten minste in Suid-Afrika tot openbare besit gereken kan word vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

•   STALIN, Josef, diktator van die gewese Sowjet-Unie

Stalin (1878–1953) was van 1922 tot 1953 die Hoofsekretaris van die Kommunistiese Party van die gewese Sowjet-Unie se Sentrale Komitee en het wesenlik die diktator van die land geword. Hy het gewild geword onder die massas deurdat hy aan hulle voorgehou is as ’n “man van die volk” wat uit die armer klasse kom, en ’n veldtog van verdrukking, vervolging en teregstelling van teenstanders het hom stewig in beheer geplaas. Hoewel hy beweer het dat sy beleid op Marxisme-Leninisme gegrond was, meen baie ontleders vandag dat dit eerder ’n staatkundige en ekonomiese stelsel was wat Stalinisme genoem word. Verskillende bronne oor die getal mense wat deur sy bewind om die lewe gebring is, stel dit op van drie miljoen tot ’n ongehoorde sestig miljoen. Die “Ystergordyn” tussen Wes- en Oos-Europa en die begin van die “Koue Oorlog” tussen die Sowjet-Unie en Amerika was nog van sy nalatenskappe.

 

Groot foto van Stalin: Word tot openbare besit gereken in Rusland (“image in the public domain in Russia”)


 

•   SMUTS, Jan Christiaan, Suid-Afrikaanse staatsman en soldaat

Genl. Smuts (1870-1950) veg in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) as Boer teen die Engelse. Vanweë sy oortuiging dat samewerking tussen Boer en Brit noodsaaklik vir Suid-Afrika is, is hy instrumenteel in die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Hy word SA premier van 1919-1924 en 1939-1948. Smuts word ’n veldmaarskalk in die Tweede Wêreldoorlog en ’n adviseur van die destydse Britse premier, Winston Churchill. Hy help stig sowel die Volkerebond as sy opvolger, die Verenigde Nasies.

 

Groot foto van genl. Smuts: Presiese bron onseker, maar vry algemeen gesirkuleerde foto

 

 

•   STRAVINSKY, Igor, Russiese komponis wat ’n Amerikaanse burger geword het

Hy was ’n reuse-figuur in die musiekwêreld, trouens, een van die grootste musikale innoveerders van die twintigste eeu. In sy vroeë, “Russiese”, periode verwerf Stravinsky (1882-1971) roem met drie ballette. Hierin bewys hy hom as ’n onverskrokke hervormer, met splinternuwe idees rakende harmonie, ritme en melodie. Van sy latere werke is weliswaar van uiteenlopende aard, maar sy pioniersgees is steeds duidelik in sekere van dié onsterflike skeppings.

 

Groot foto van Stravinsky: Foto tot openbare besit verklaar deur D.J. Culver (“released into the public domain”); U.S. Library of Congress

 

 

•   VERWOERD, Hendrik Frensch, Suid-Afrikaanse premier

Dr.  H.F. Verwoerd  (1901-1966) was 'n Nederlander van geboorte en van 1958 tot 1966 Suid-Afrikaanse premier. Hy word deur die wêreld as die argitek van “moderne” apartheid beskou, hoewel die grondslag daarvan reeds voorheen gelê was. Desnieteenstaande het hy die negentiende plek ingeneem in ’n Suid-Afrikaanse meningsopname van 2004 waarin mense gevra is om die top-honderd Suid-Afrikaners van alle tye aan te wys. Dit toon dat daar tot vandag toe glad nie oral op dieselfde manier aan Verwoerd gedink word nie. Tydens sy premierskap het die Unie van Suid-Afrika in 1961 die Republiek van Suid-Afrika geword, en Verwoerd het die land uit die Statebond onttrek. Hy het een sluipmoordaanslag in 1960 oorleef, maar in 1966 aan die hand van ’n parlementsbode, Dimitri Tsafendas, in die Volksraad gesterf. Tsafendas is nie verhoor nie, maar drie dekades lank in sielsieke-inrigtings aangehou. Verwoerd is deur John Vorster as premier opgevolg.

 

Groot foto van H.F. Verwoerd: Presiese bron onseker, maar vry algemeen gesirkuleerde foto

Bekende vroue

 

•   ARDEN, Elizabeth, (1878-1966), Kanadees-gebore Amerikaanse kosmetis

Gebore as Florence Nightingale Graham (1878-1966), verhuis sy in 1907 van Kanada na New York, waar sy as Elizabeth Arden ’n skoonheidsalon open. Dit sou die begin wees van ’n internasionale sakeryk wat op skoonheidsprodukte gegrond is. Met haar mededinger Helena Rubinstein maak sy grimering aanvaarbaar vir “respektabele” vroue. Sy laat hulle kennis maak met oogskadu, maskara en lipstiffies wat gekleur is om by hul uitrustings te pas.

 

Groot foto van Elizabeth Arden: U.S. Library of Congress

 

 

•   BARDOT, Brigitte, Franse aktrise

Bardot (1934-     ) is as ’n “sekskatjie” beskryf toe sy in 1956 in haar man Rodger Vadim se rolprent And God Created Woman verskyn het. Daarin speel sy ’n seksueel obsessiewe vrou, iets waarop sy dan ook vir die res van haar filmloopbaan konsentreer. Sy tree in 1973 uit as aktrise en wy haar aan die stryd vir diereregte.

 

Groot foto van Brigitte Bardot: Foto geneem uit rolprent; RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)

 

 

•   CALLAS, Maria, Griekse sopraan wat in Amerika gebore is

Callas (1923-1977) was een van die mees gevierde én omstrede verhoogsterre van die twintigste eeu. Sy was beroemd vir haar dramatiese interpretasies van Italiaanse Romantiese komponiste. Callas het ’n verhouding gehad met die Griekse skeepsmiljoenêr Aristoteles Onassis, wat haar ná tien jaar verlaat het om met pres. John F. Kennedy se weduwee, Jackie, te trou. Drie jaar later sterf Callas alleen in haar Paryse woonstel weens ’n hartaanval.

 

Groot foto van Maria Callas: Die sopraan as Violetta in Giuseppe Verdi se La Traviata by La Scala; kopiereg geld, maar as reklamemateriaal uitgereik

 

 

•   CHRISTIE, dame Agatha, vermaarde Britse speurverhaalskryfster en dramaturg

Haar groot skeppings is die Belgiese speurder Hercule  Poirot en Miss Marple, ’n oujongnooi wat die aanleg het om geheimsinnige misdade op te los. Dame Agatha (1890-1976) het byna sewentig speurverhale geskryf, waarvan verskeie tot rolprente verwerk is.

 

Groot foto van Agatha Christie: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit nie (“if not in the public domain”)

  

  

•   CURIE, Marie, Pools-gebore navorser

Die Pools-gebore Marie (1867-1934) was ’n beroemde navorser, wat saam met haar Franse man, Pierre, die radioaktiewe elemente radium en polonium ontdek het. Sy was ’n nooi Sklodowska. Die Curies het geweier om hul werk te patenteer en onvermoeid die gebruik van radium vir die behandeling van kanker voorgestaan. Marie is egter self aan bloedkanker oorlede weens te veel blootstelling aan radioaktiwiteit. Sy het die Nobelprys vir sowel fisika as chemie verower.

 

Groot foto van Marie Curie: U.S. Library of Congress

 

 

•   DIANA, Prinses van Wallis

Diana (1961-1997) word deur baie as die grootste ikoon van die twintigste eeu beskou. Geen koninklike is in elk geval ooit in die geskiedenis soveel in die media bespreek, afgebeeld, ontleed, opgehemel, afgetakel, beskinder en verafgood nie. In 1981 trou sy as die sprokiesbruid lady Diana (Spencer) met die Britse troonopvolger, prins Charles, vir wie sy die lewe aan twee seuns skenk. Hulle skei oplaas in 1996 ná ’n ongelukkige huwelik. Die wêreld word tot verbystering geskud toe sy en haar minnaar, Dodi al-Fayed, in 1997 in ’n motorongeluk in Parys sterf.

 

Groot foto van Diana: Presiese bron onseker, maar vry algemeen gesirkuleerde foto, dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)

 

 

•   DIETRICH, Marlene, Duits-Amerikaanse sangeres en aktrise

Dietrich is in Duitsland gebore as Maria Magdalene von Losch (1901-1992). Sy word ’n filmgodin met haar tydelose skoonheid, hoë wangbene en heserige stem. Sy verwerf wêreldroem in 1930 met Duitsland se eerste klankprent, waarin sy ’n verleidster speel. Dietrich verhuis later na Hollywood.

 

Groot foto van Marlene Dietrich: Kopiereg geld moontlik nog, maar destyds as reklamemateriaal uitgereik; dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

 

•   EARHEART, Amelia, Amerikaanse vlieënier

Amelia (1898-1997) was die eerste vrou wat alleen oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het (1932). Sy het tydens ’n vlug oor die Stille Suidsee verdwyn.

 

 

Groot foto van Amelia Earheart: U.S. Library of Congress (no copyright found)

 

 

•   ELIZABETH II, koningin van Engeland

Koningin Elizabeth (1926-      ) is in 1953 tot koningin gekroon, nadat haar pa, koning George VI, in 1952 oorlede is. Sy het 1947 getrou met Philip Mountbatten (hertog van Edinburg). Hul  kinders is Charles (die troonopvolger, gebore 1948), Anne, Andrew en Edward.

 

Groot foto van koningin Elizabeth II: U.S. White House photo by Eric Draper (cropped from)

 

  

•   GANDHI, Indira, Indiese eerste minister

Gandhi (1917-1984) was die eerste minister van Indië van 1966 tot 1977 en weer van 1980 tot 1984, toe sy deur Sikh-ekstremiste om die lewe gebring is. Haar pa, Jawaharlal Nehru,  was die eerste premier van Indië. Indira Gandhi (nie familie van die Mahatma nie) is opgevolg deur haar seun Rajiv, self die slagoffer van ’n sluipmoord in 1991.

 

Groot foto van Indira Gandhi: Openbare besit omdat kopiereg in Indië verval het (“in the public domain because copyright has expired in India”)

 

   

•   GARBO, Greta, Sweeds-Amerikaanse aktrise

Garbo (1905-1990) was een van Hollywood se eerste “legendes”. Sy het in 1925 na Amerika gegaan en aanvanklik ’n ster van stilprente geword. Haar regte naam was Greta Gustafson. Sy speel in klankrolprente die hoofrolle in o.m. Mata Hari, Anna Karenina, Camille en Ninotcha. Met haar besondere skoonheid en misterieuse houding beeld sy afgetrokke en eteriese heldinne uit. Garbo word later die wêreld se bekendste—en mees gefotografeerde—kluisenaar.

 

Groot foto van Greta Garbo: Status van kopiereg onseker, maar destyds as reklamemateriaal uitgereik; dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

 

•   KELLY, Grace, Amerikaanse filmaktrise wat ’n prinses geword het

Die skone Grace Kelly (1929-1982) is in 1956 tot prinses Grace gepromoveer toe sy met prins Rainier III van Monaco getrou het. Sy sal as rolprentaktrise onthou word vir haar rolle in o.m. White Christmas, High Noon, Dial M for Murder, To Catch a Thief en The Country Girl. Sy verwerf vir laasgenoemde ’n Oscar as beste aktrise. Ná haar huwelik word sy deel van die glans van die Europese koninklikes en sou sy nooit weer na Hollywood terugkeer nie. Prinses Grace sterf aan die Riviera toe haar motor ’n bergpad verlaat.

 

Groot foto van Grace Kelly (prinses Grace van Monaco): Grace as aktrise voordat sy prinses geword het; promosiefoto, dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if not in the public domain”)

 

 

•   KENNEDY-ONASSIS, Jackie, Amerikaanse presidentsvrou

Gebore as Jacqueline Lee Bouvier (1929-1994) sou sy eers die vrou word van Amerika se (vermoorde) pres. John F. Kennedy en later van die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis. As Amerikaanse presidentsvrou en aangetroude lid van die magtige Kennedy-clan geniet sy met haar elegansie wêreldwye bewondering. Ná haar troue met Onassis in 1968 was haar lewe volgens alle aanduidings veel ongelukkiger. Onassis sterf in 1975. Van 1978 af tot met haar dood aan kanker werk sy as joernalis in New York.

 

Groot foto van Jackie Kennedy (later mev. Onassis): Eerste amptelike Wit Huis-foto (“first official White House photograph”)

    

  

 •   MADONNA, Amerikaanse rock-sangeres en aktrise

Madonna (1958-   ), wat die eerste lewenslig as Madonna Louise Veronica Ciccone in Bay City, Michigan, aanskou het, het haar bekendheid as vermaaklikheidster bewerk deur ’n opsetlik verregaande beeld te projekteer. Haar eerste album, wat in 1983 uitgereik is, het ook Madonna geheet, en daarna het sy haar as ’n onbetwiste fenonomeen in die pop-wêreld en ook in rolprente gevestig. Madonna se waarskynlik grootste filmsukses tot op hede was die titelrol in die rolprent Evita. Dié prent is in 1996 vervaardig en is losweg gegrond op die lewe van Eva Perón (1919-1952), die tweede vrou van die Argentynse president Juan Perón. Madonna is vir haar rol in Evita met ’n Golden Globe-toekenning vereer.

 

Groot foto van Madonna: Die sangeres tree in 2006 in Los Angeles op; foto geneem deur wonderboylb@aol.com en in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar

 

 

•   MATA HARI, Nederlands-gebore spioen

Mata Hari (1876-1917) was ’n danseres wat in die Eerste Wêreldoorlog vermoedelik vir sowel Frankryk as Duitsland gespioeneer het. Haar regte naam was Margarete Gertrude Zelle. Haar verhoognaam, Mata Hari, is die Maleis vir “oog van die dag”. Sy het in Parys gewoon, waar sy inligting sou versamel het van die baie senior militêre en regeringsamptenare wat sy as minnaars gehad het. Die Franse het haar weens spioenasie tereggestel.

 

Groot foto van Mata Hari: Openbare besit (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

•   MEIR, Golda, Israeliese premier

Meir (1898-1978) was van 1969 tot 1974 eerste minister van Israel. Sy is in Rusland gebore as Golda Mabovitch. Ná ’n onderwysloopbaan in Amerika vestig sy haar in 1921 in Israel, waar sy aktief betrokke raak by arbeidersake. Sy word later Israel se minister van arbeid en van buitelandse sake. Meir streef as premier vrede vir Israel na. Sy bedank is 1974 ná kritiek oor haar land se gebrek aan voorbereiding vir die Arabies-Israeliese oorlog van 1973.

 

Groot foto van Golda Meir: Foto deur Marion S. Trikosko, U.S. Library of Congress

 

 

•   MONROE, Marilyn, Amerikaanse seksgodin en rolprentlegende

Marilyn is gebore as Norma Jeane Mortenson (1926-1962). (Dat haar van “Baker” was, soos party bronne beweer, berus glo op ’n misverstand.) Sy sou nooit haar pa se ware identiteit ken nie. Sy bring die eerste sewe jaar van haar lewe by pleegouers deur, maar woon in 1933 tog ’n kort rukkie by haar ma, wat aan ’n tragiese geestesversteuring ly. Norma Jeane word daarna deur ander mense, maar ook in ’n weeshuis versorg. In die middel van die jare veertig word sy deur fotograwe ontdek. Sy speel later in rolprente soos The Seven Year Itch (1955) en Some Like It Hot (1959). Sy trou drie keer en sterf aan ’n oordosis verdowingsmiddels in geheimsinnige omstandighede.

 

Groot foto van Marilyn Monroe: Die aktrise in The Prince and the Showgirl; foto destyds as reklamemateriaal uitgereik; dus RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit nie (“if not in the public domain”)

 

 

•   PERÓN, Eva, Argentynse presidentsvrou

Eva (1919-1952), aanvanklik ’n aktrise, was die tweede vrou van die Argentynse president Juan Perón. Sy het aansienlike mag gehad en was uiters gewild onder die massas. Andrew Lloyd Webber en Tim Rice se musiekblyspel Evita (en die gelyknamige rolprent met Madonna in die hoofrol) is losweg op haar lewe gegrond.

 

Groot foto van Eva Perón: Eva praat in 1950 vanaf die balkon van die regeringsgebou, die Casa Rosada, in Buenos Aires; foto tot openbare besit gereken omdat kopiereg in Argentinië verval het (“in the public domain because copyright has expired in Argentina”)

 

  

•   RUBINSTEIN, Helena, Pools-gebore Amerikaanse skoonheidskundige en sakevrou

Rubinstein (1870-1965) emigreer in die dekade van 1890 uit Pole na Australië, waar sy in 1902 dié land se eerste skoonheidsalon open. Sy studeer onder Europese dermatoloë en open salonne in Londen en Parys. Sy verhuis in 1915 na New York, waar sy ’n internasionale sakeryk loods. As “Madame” bepaal sy kosmetiese tendense, en haar sukses word gekrui deur ’n vyftigjarige vete met haar aartsmededinger, Elizabeth Arden.

 

Groot foto van Helena Rubinstein: Historiese foto deur Arnold Newman

 

 

•   TERESA, Moeder , Rooms-Katolieke sendeling-filantroop in Indië en wenner in 1979 van die Nobelprys vir vrede

In die gewese Joego-Slawië gebore vir Albaniese ouers as Agnes Gonxha Bojaxhiu (1910-1997), gaan sy as sewentienjarige Indië toe. Hier verlaat sy die klooster in 1948 en stig die Missionaries of Charity. Dié beweging het later kosverskaffingsentrums in talle lande. Moeder Teresa sterf in 1997 weens ’n hartaanval.

 

Groot foto van Moeder Teresa: Foto deur Evert Odekerken, Indië,1988, in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web beskikbaar gestel ingevolge Creative Commons-lisensie

  

    

•   TERESJKOWA, Walentina, Russiese ruimtevaarder

Die Sowjet-Unie kon in 1963 spog met dié vrou wat die eerste vrou in die ruimte geword het. Walentina is in 1937 in Maslennikowo, Rusland, gebore. Sy werk in ’n tekstielfabriek, kwalifiseer as sportvalskermspringer, begin in 1962 met haar opleiding as ruimtereisiger en vertoef in 1963 drie dae lank alleen aan boord van die wentelende Wostok 6. Deur die jare van die Koue Oorlog het Amerika en die Sowjet-Unie mekaar gedurig met hul ruimtelike “eerstes” probeer oortref.

 

Groot foto van Walentina Teresjkowa: Fotobron onbekend, maar waarsk. Virtuele Ruimtemuseum in Rusland

 

 

•   THATCHER, Margaret, Britse premier

Thatcher (barones Thatcher van Kesteven, 1925-     ) was die Britse Konserwatiewe eerste minister van 1979 tot 1990, en as sodanig die langsdienende Britse premier van die twintigste eeu. Sy was ook die eerste vrou wat dié pos beklee het. Thatcher voer tydens haar bewind baie radikale hervormings deur, lê onder meer die vakbonde aan bande, moedig private inisiatief aan en verminder inkomstebelasting. Sy is die “Ystervrou” genoem vanweë haar soms onwrikbare houding, maar dis ook haar outoritêre styl, onder meer, wat tot ’n paleisrevolusie gelei het waarin sy as Konserwatiewe leier deur John Major vervang is.

 

Groot foto van Margaret Thatcher: Foto in 1975 geneem deur Marion S. Trikosko;  U.S. Library of Congress


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad