Mieliestronk.com bied met trots aan: 'n volledige internet-roman
Nogtans sal ek jubel

Deur S. van
Coller-Linde

© Dugeot 2005. Kopiereg streng voorbehou 

Wenk: Druk die hoofstukke uit op jou drukker as jy op duur telefoontyd en die internet wil bespaar

FLAPTEKS:
Linda-Marié Groenewald -- 'n jong weduwee op 'n sendingstasie in Midde-Afrika -- is swanger en vrou-alleen met haar seuntjie, Jaco, wat ernstig verstandelik gestrem is. Sy staan op die punt om na Suid-Afrika terug te keer vir die geboorte van haar en oorlede man se nuwe baba, toe Jaco meteens spoorloos verdwyn. Die skok beïnvloed nie net haar bevalling nie, maar haar ganse lewe. In haar desperate soektog na Jaco word sy bygestaan deur die gawe Amerikaner Rod McMenemy, maar net toe sy begin ervaar dat 'n vrou 'n tweede keer opreg kan liefkry, word Rod se steun op 'n hartverskeurende manier aan haar ontruk...

NOGTANS SAL EK JUBEL deur S. van Coller-Linde is 'n roman met 'n heel ongewone opset en word met trots deur Mieliestronk.com vir webswewers se leesgenot op die internet geplaas. Die eerste hoofstuk volg hieronder en klik daarna net op die skakels om ook die ander hoofstukke te lees tot by die verbysterend verrassende slot...
  

HOOFSTUK 1

HERE, dankie vir die dorings. Só bid Linda-Marié die hele oggend. Oor die plate dorings rondom die kliphuis wat die wilde kind sal keer. Oor die duwweltjies wat hom sal terughou as hy dalk kaalvoet in die bosse in wil koers kry.

Hy klink darem vandag 'n bietjie rustiger. Gister het hy kort-kort net gegil. En bevange inboorlinge by hierdie sendingstasie het weer wye draaie om die huis geloop, want al is hulle gekersten, bepaal hul kultuur dat die ''wildes'' nie mag lewe nie.

Nie mag lewe nie! Genadige Vader! skryn dit binne-in Linda-Marié. Haar gestremde driejarige . . . hy is dan juis haar hele, hele lewe!

Buite gesel die fel Desember-son hierdie afgeleë wêreld in Midde-Afrika en draal die dampe uit die klam grond ná die donderstorm vroeër vanmôre.

In haar eie gemoed woed die storms egter eenstryk. Sy staan in die deurkosyn hier by klein Jaco se kamer. Hy is besig om oor en oor kerkies te bou met sy bontgekleurde plastiekblokkies, torinkies wat hy opbou net om hulle weer af te breek in 'n eindelose reëlmaat van volslae doelloosheid.

''Kêrrrkie,'' klank die melkwit mannetjie met die outistiese breintjie en glasige ogies. ''Kêrrrkie,'' herhaal hy tot vervelens toe, gryp hy na sin in sy selfgemaakte wêreldjie.

Vir Linda-Marié bly haar kind se gestemdheid 'n gedurige hartseer. Gelukkig is sy deesdae kort-kort bewus van die ander, nuwe, ryklik belowende lewetjie binne-in haar. Here, laat hierdie tweede enetjie tog net gesond wees, smeek sy nogtans vir die duisendste maal. Nietemin weet sy dis onnodig bekommerd wees. Jy kry selde twee outistiese seuns in een gesin.

Of dalk is die baba 'n fraai, blakend gesonde klein meisietjie . . . blond nes sy en Jaco en haar Johan wat nie meer hier is nie. Vroeër, toe Jaco nog 'n baba was, het die inheemse mense van hierdie sendingstasie nog altyd so gemoedelik van die ''withaar-Groenewalds'' gepraat!

Johan. Linda-Marié ruk haar hand weg van haar goed geswolle middel wat sy onbewustelik staan en streel het, en sy draai om en loop na die kombuis-eetkamer om 'n beker limonade vir klein Jaco te gaan skink.

Johan se dood was soos die afkappery van die Ysterboom, mymer sy toe sy die beker van die rak haal. Die boom was in hul Bloemfonteinse agterplaas toe sy self nog 'n kind was. Haar ma het dit die Ysterboom genoem omdat dit so taai en gehard was. Voëls, miere en klimmende kinders het in die geknoeste hardehouttakke gelewe.

En toe breek die dag aan dat die Ysterboom afgekap is, en skielik was sy bewonertjies haweloos. Weke, maande, dalk nog langer het sy destyds oor die boom van haar kindwees getreur.

Sy skink die tuisgemaakte limonade uit 'n karba in die beker en loop daarmee terug na klein Jaco waar hy in sy kamer 'n besonder kunstige kerkie gebou het. Maar meteens maak twee maal twee nie meer vir hom vier nie. Toe sy ma afbuk om vir hom die koeldrank te gee, klap hy dit tugteloos uit haar hande uit, en hy hardloop skreeuend na 'n boekrakkie en skeur 'n kinderboek aan flarde.

Net so gou bedaar hy weer. Terwyl sy gelate met 'n lap en dweil die gemorste limonade opvee, val hy weer agter sy blokkies in asof niks gebeur het nie.

''Kêrrrkie,'' sê Jaco doodluiters, hierdie weemoedskind van Tengo. ''Kêrrrkie,'' herhaal hy weer en weer, altyd op 'n eenderse toonhoogte. Gedurigdeur dieselfde trillende intonasie in 'n hoë stemmetjie, nou ekstaties, netnou droewig, altyd gevoed deur 'n eenspoor-verstandjie wat van hoegenaamd niks anders as kerkies wil weet nie. ''Kêrrrkie. Kêrrrkie.'' Soggens van vroeg af, smiddags en saans.

Daar is 'n geklop aan die deur, en Linda-Marié loop vinnig oor die klipvloer om dit oop te maak.

Sy bedink haar egter en glip eers gou in haar slaapkamer in. Haastig vee sy 'n borsel deur haar geelblonde hare, en bewustelik stry sy teen die moeë trek om haar opvallend groot bruin oë. Haar vol mond forseer selfs 'n glimlag wanneer sy uiteindelik aan die deurknop vat.

Die glimlag word warm, eintlik teergevoelig toe sy haar besoeker sien.

OU MOEDER MARTHA groet ewe vol warmte. Ná byna tagtig somers, die meeste daarvan tropiese somers hier op die einste sendingstasie, is sy nog die lewenslus en blymoedigheid self in die liefderyke akkers van die Here.

Nadat Linda-Marié haar binnegenooi het, neem sy hups plaas op 'n riempiesbank in die voorvertrek. Linda-Marié gaan sit self op 'n riempiestoel. Hiervandaan kan sy reg op die kinderkamer inkyk om 'n ogie oor Jaco te hou. En sy voel kennelik die deernis van ou Moeder Martha aan.

''Die tyd raak kort vir jou, nè, my kindjie? Presies wanneer gaan jy nou weer terug Bloemfontein toe?''

''Nog net 'n week of wat, Moeder Martha. Volgende Vrydag neem winkelman James my met sy vliegtuig Sengula toe. En daar haal ek dan die trein na die Suide.''

''Maar hoe voel jy, mens? Sal jy die krag hê?''

''Ag, ja wat, Moeder, die bevalling is eers oor twee maande.''

''Ek bedoel, sal die reis nie vir jou veeleisend wees nie?''

''Moeder bedoel ek alleen saam met Jaco'tjie?''

''Ai, kind, ek meen nou maar. En op sewe maande. Dit kan gevaarlik wees.''

Linda-Marié trek haar skouers net effens op. In die kinderkamer gee Jaco 'n gilletjie. Sy verstyf, maar ontspan weer toe dit blyk dat dit nie weer 'n woedebui is nie maar sommer 'n gekeuwel. Moeder Martha se altyd teenwoordige glimlag stel haar verder gerus.

''Ek weet net ek sal almal hier geweldig mis,'' sê Linda-Marié opreg. ''En jou die meeste, Moeder Martha. Ek sou so bitter graag weer wou teruggekom het. Maar met die baba én Jaco sal ek my hande voortaan baie vol hê.''

Moeder Martha knik begrypend. Sy weet hoe Linda-Marié reeds hier sukkel ná haar man, Johan, se malaria-dood. Dat so 'n groot, sterk man soos hy so onverwags moes sterf aan 'n tans heeltemal beheerbare siekte . . . Maar die komplikasies het niemand voorsien nie. Binne 'n paar dae nadat hy ernstig siek geword het, was die geroemde boskollege van Tengo, waar onderwysers opgelei word, sonder 'n hoof.

''Aag, miskien ook maar goed jy gaan nou beskawing toe,'' sê Moeder Martha naderhand, ''ek meen, nou met al die vreeslike dinge wat deesdae hier aangaan.''

Linda-Marié kyk vreemd op, frons. ''Vreemde dinge? Hoe bedoel Moeder Martha nou?''

''Kinderdiefstal,'' sê die matriarg van Tengo byna met huiwering. ''Het jy dan nog nie gehoor nie, my ou meisietjie? Hou hulle dit dalk van jy weg om jou nie te ontstel met jou blye verwagting nie? Ag, maar dit word oral hier op die sendingstasie rondvertel. En ek dink jy behoort te weet, my genade.''

''Ek . . . ek behoort te weet? Wat is aan die gang, my ou Moeder?''

''Daar word glo vermoed dat 'n . . . hoe sê hulle . . . 'n oorsese sindikaat agter die ding sit. Vyf kinders van statte in die omtrek het sommerso weggeraak.''

''O, nee.''

''Dis wat ek sê, mens. Die stad se gruwels . . . dit het nou tot hier binne-in ons ou wêreldjie versprei.''

En Moeder Martha vertel hoe die kinders dalk ontvoer sou word na kinderlose egpare iewers in die Weste of elders, wat bereid is om fortuine vir hulle te betaal en nie te veel vrae te stel oor waar hulle vandaan kom nie.

Vooroordele oor kleur bestaan immers vir baie Europeërs nie meer nie. Maar gewetenlose mense is nou kliphard besig om dit uit te buit. Tog is daar verslae ook van twee wit kinders wat op die naaste dorp, Fort Jubilee, sou verdwyn het.

Linda-Marié ril. Ja, dan is dit maar beter dat sy hier wegkom, dink sy. Hoe sy haar kinders ma-alleen in Bloemfontein gaan onderhou, bly nog 'n saak van gebede, maar om in gedurige vrees te lewe vir kinderontvoerders is stellig meer as wat sy kan verduur.

Moeder Martha staan ná 'n rukkie weer op om te loop. Linda-Marié veroorloof haar die weeldetjie om Jaco 'n paar minute alleen te los en saam met haar geestelike ma oor die oop veldjie daarbuite te loop om dankie te sê vir die besoek.

Toe sy terugkom, lê haar trouportret verfrommel. Die knapie het uit sy eie kamer na hare gedwaal, die kosbare foto uit die raam gepluk en dit skreeuend inmekaargedruk. Sou hy sy pappa daarop herken het en nie weet hoe om sy verlange te wys nie?

Soos so baie kere in die afgelope droefnistyd staan sy net 'n lang ruk doodstil sonder dat sy meer trane het.

NEGE-UUR DAARDIE aand hou Linda-Marié ook stiltetyd in dié alleenheid. Klein Ondeug slaap nou rustig. Buite lispel die swoel nag van Midde-Afrika met duisend gedempte stemme - dieregeluide van ver en naby, met nou en dan 'n veraf mensestem uit die naaste kraal.

Sy lees uit Habakuk, hoofstuk 3, vers 17 en 18:

''Alhoewel die vyeboom nie sal bloei nie en aan die wingerdstok geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.''

Linda-Marié maak haar Bybel afgetrokke toe. Blymoedigheid in beproewing is waarom dit in hierdie tekste gaan, reken sy. Om selfs gelowig dankie te sê vir die dorings - al voel jy dis onmoontlik.

''Maar, Here, hoe kan ek dan nou jubel?'' Só 'n opdrag kan sy tog nie deurgrond nie. ''Ek verstaan glad nie hoe ek dan nou bly kan wees nie,'' sê sy ongekunsteld en maak die Boek toe.

Voordat sy aan die slaap raak in die drukkende, tropiese nag, dink sy aan ou Moeder Martha en aan die ontvoerde kinders en aan die liefste kosbaarheidjie wat sy hier binne-in haar koester.

SY WORD wakker skuins ná dagbreek van 'n geklop aan die voordeur. ''Donna, donna Groenewald, kom kyk, daar het 'n ding uit die lug geval!'' verkondig mank Naomi, die baassendeling se huishulp, met leesbare ontsteltenis in gesperde oë.

Linda-Marié glip gou 'n japon en skoene aan en volg die half kreupel vrou tot duskant dominee Dumas se huis. Sy het eers seker gemaak dat klein Jaco nog vas slaap, en sy voel werklik gerus om hom 'n klein rukkie alleen te los.

Frans Dumas is reeds by die ''ruimtetuig'', asook 'n groepie ander mense van die sendingstasie. Hulle kyk na 'n vreemde metaalplaat, iets soos 'n enorme stuk blinkpapier of foelie, wat asof deur 'n reuse-hand verfrommel en erg deur vlamme geskroei is.

Die dun plaat is omtrent een by twee meter groot, sien hulle toe hulle dit oopsprei. Net waar dit geval het, is die groen gras nou roetswart. Selfs die grond daar lyk swart verkool.

Linda-Marié hoor dat Naomi se man, Jakob, verlede nag 'n gloeiende ding uit die lug sien val het, maar dat die twee te lugtig was om ondersoek in te stel en liewers tot ligdag gewag het toe hulle beter kon sien.

Dominee Frans stel almal gerus. Dis net 'n stuk ruimterommel, verduidelik hy so goed hy kan, 'n brok van 'n aardsatelliet of ruimtevuurpyl wat asof in 'n hellevaart hier kom neerstort het. Gewoonlik brand sulke vallende rommel heeltemal weg weens die geweldige wrywing met die atmosfeer. Hierdie stuk het egter nie gedisintegreer nie.

En vir almal wat nog twyfel: kyk hier is 'n ster en die letters C.K. (vir Cape Kennedy?) op die plaat gegraveer. Daarby is daar 'n dowwe beskrywing waaruit 'n mens net-net kan aflei dat 'n konsortium dit vir die Amerikaanse Ruimte-administrasie gemaak het.

Linda-Marié weet hoe bitter moeilik dit vir die inboorlinge moet wees om di‚ soort tegnologie te begryp. Onder Westerlinge gons dit hier in die sestigerjare al oor mense op die maan, maar hierdie landvolk is nog so onkundig, so totaal ongerep in hul eenvoud.

Met dié ironie in haar gedagtes, loop sy terug na haar kliphuis, in die benouende warmte van 'n nuwe dag wat weer 'n reënstorm beloof.

Met 'n verlammende skok sien sy dat die voordeur oopstaan. Sy hardloop die huis binne, maar sien Jaco nêrens nie. 'n Paar skoene van haar is ook skoonveld. Sy het hulle in die voorvertrek gelos toe sy netnou haastig skoene gesoek het om aan te trek.

Sonder om te twyfel weet sy: die kind het die skoene aangetrek om verby die dorings te kom!

Sy gil en hardloop verskrik die huis uit, en soek met frenetiese angstigheid hier, daar en oral in die onmiddellike omgewing, maar dis alles vrugteloos . . .

HYGEND. BIDDEND. Sy weet nie waar om eerste te soek nie. Eers gaan kyk sy agter die wildelemoenboom aan die een kant van die veldjie. Dáár roei sy met haar arms deur 'n sliertige bosgasie van grou-groen slingerplante.

Dan hardloop sy terug na haar kliphuis en van daar af in 'n heeltemal teenoorgestelde rigting as die wildelemoenboom. Eindelik hardloop sy terug na waar die groepie mense netnou by die ''ruimteding'' versamel het.

Net baassendeling Frans Dumas is nog daar. Hy ondersoek steeds die grond waar die metaalplaat geval het. En ou Moeder Martha kom ook nou eers van haar huisie af aangeloop nadat sy van die vreemde vonds gehoor het.

''Dominee Frans! Moeder Martha!''

Linda-Marié se gille laat hulle albei opkyk.

'n Rukkie later is die hele sendingstasie in rep en roer.

Net Linda-Marié sit nou bleek en besluiteloos op die growwe gruisgrond reg voor haar kliphuis - nog in haar japon, wat nou vuil en vol strepe is, en sy staar in die niet, heeltemal suf van ontsteltenis.

Moeder Martha staan by haar. Naderhand oorreed dié haar om in die huis in te gaan om darem 'n dagrok aan te trek. Linda-Marié doen alles meganies. Ook toe sy 'n kam deur haar nou woeste, blonde hare trek. Die vrolike kleure van haar geblomde kraamrok vloek teen die angs wat binne-in haar maal. Sy loop weer buitentoe, en Moeder Martha volg haar.

Dis Jakob, hy wat ''die ding uit die lug sien val het'', wat die eerste tyding bring. Hy en twee ander soekers het Linda-Marié se skoene gekry waarmee klein Jaco oor die groot plaat duwweltjies weggekom het. Hy sit die skoene in Linda-Marié se hande.

Maar die kind self? Nee, hy't die mushimani (seun) nie gesien nie. Linda-Marié dring egter daarop aan dat hy haar weer neem na die presiese plek waar die skoene gevind is.

Na 'n klofie tussen twee heuweltjies vlak noord van die sendingstasie word Linda-Marié deur Jakob en sy twee vriende gelei. Sy en Moeder Martha. Die ou vrou weier volstrek om op die stasie agter te bly. Met 'n krag vir haar jare wat elkeen moet verbaas, hyg en hink sy agter die ander aan en wat bybly is sy. Tog begin sy erg moeg raak.

Hulle is pas in die klofie of 'n hewige wind begin waai. En skielik reën dit. Emmersvol op emmersvol. Linda-Mari‚ probeer vir haar en Moeder Martha 'n skuilinkie bewerk onder 'n breëblaarstruik, maar hulle kon net sowel oop en bloot in die stormreën gestaan het.

Gelukkig bedaar die wind en die reën ná enkele minute net so skielik as wat dit gekom het. Net 'n druising van talle watervalletjies in die kits-strome teen die heuwelhange en 'n gedrup-drup van die belade struike versteur die stilte ná die storm.

En die vyf druipnat kindersoekers begin ook eindelik weer beweeg. Net Moeder Martha lyk nou heeltemal gedaan. Sy prostesteer nie eens toe Linda-Marié vra dat een van die mans haar liewer huis toe moet neem nie. Saam met Jakob en die ander man soek Linda-Marié verder.

Kyk! 'n Flenterlappie aan 'n uitstaande gebreekte boomtak! Deel van Jaco se pajamabaadjie! Nog 'n bewys dat die wegloperseuntjie noord op koers is reg in die klofie op. Linda-Marié voel nie die moegheid nie. Sy moet haar kind kry . . . en hy moet nou hier naby wees. Here, asseblief, Here, asseblief, 'n wilde roofdier moet hom tog net nie gevang het nie.

Dan kry hulle sy spoortjies! Vars in die modderige voetpaadjie ná die reën. Dit lei op teen 'n bultjie en dan weer af aan die ander kant. En dit loop vas teen die groot grondpad wat van Sengula af kronkel, vyfhonderd woeste kilometer na Fort Jubilee toe met geen enkele ander dorp tussenin nie. Fort Jubilee self lê darem net so sewentig kilometer hiervandaan.

Die spoortjies maak 'n paar eienaardige draaie. Linda-Marié buk af om mooi te kyk. Maar . . . nee, hier is iets onbegrypliks. Daar is die spore van 'n motor wat half met 'n gly-aksie stilgehou het, en skielik - hemel, nee! - verdwyn die spoortjies in die niet.

Iemand het Jaco net hier opgetel en is met hom vort in Fort Jubilee se rigting! Die kinderdiewe? Kan dit wees? Waarom sou hulle dan toevalig hier rond wees? Nee, seker darem nie, dink sy vinnig, seker net welmenende verbygangers wat hom polisie toe vat.

Toe hoor sy die kreuntjie. Van 'n ou gryskop wat sy goed ken. Hy sit op sy hurke teen 'n terpentynboom met sy draggie hout en sy verslete kombersie.

Elke nou en dan kom hy mos sy houtjies op die sendingstasie verkwansel aan wie ook al belang stel. Linda-Marié is gewoond om van hom te koop, net omdat sy die hoogbejaarde tog so jammer kry.

Hy praat net sy eie taal, maar sy verstaan dit reeds baie goed. ''Ou man, sê ons wat het hier gebeur?'' Jakob buk af om die grysaard op te help.

''Mense met gewere het die kind gevat,'' teem die oue met 'n baie yl stemmetjie. ''Ek ken hom mos, daardie kind, en ek wou hulle keer. Toe vat een die geweerkolf en hy slaan my neer teen die grond. Ek dink hulle is die slegte mense . . . daardie mense wat die kinders steel.

''Ai, ai, die skoon wêreld van my goeie voorvaders ruik vandag bola (vrot) van die slegte dinge, en almal wat 'n bietjie geld wil hê, is die oë en ore van daardie skelms,'' kla die ou man verder. ''Hulle roep hulle met die draadloos sodra hulle 'n kind sien wat alleen dwaal. Daar's baie van dié skelms wat hier rondloop en rondry. Hulle kom baie gou as hulle geroep word.''

Linda-Marié snak hoorbaar . . . word dadelik yskoud van die nuwe ontsteltenis.

Toe sy in 'n donker floute neersak, sien sy die bome om haar tuimel, en sy voel die vreeslike steekpyn in haar onderlyf toe sy die klam grond met 'n dowwe slag tref.

Klik hier vir hoofstuk 2

Klik hier om terug te keer na Die Mieliestronk