|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
EKOLOGIE: DIE
term ekologie is die eerste keer in 1868 deur ’n Duitse geleerde, Ernst
Heinrich Haeckel, gebruik. Ekologie, of lewenstoestandsleer, is die
verhouding van lewende organismes tot hul omgewing. Ekologiese studies is
vandag baie belangrik weens verslegtende omgewingsprobleme soos
besoedeling en die oorbenutting van natuurlike hulpbronne. Hier
is ’n aantal terme wat met ekologie verband hou: •
Besoedeling—Die
besmetting van die omgewing deur die vrystelling van chemiese of
sintetiese stowwe. •
Biosfeer—Daardie
dele van die aarde waar lewende wesens aangetref word; dit sluit die
atmosfeer (dampkring), die litosfeer (vaste aardkors) en die hidrosfeer
(die waters op die aarde se oppervlak) in. •
CFK's
(chlorofluorokoolstowwe)—Kunsmatige
stowwe wat volgens baie •
Demografiese
groei—’n Vermeerdering in die
wêreldbevolking (die woord demografie beteken ''statistiese
volksbeskrywing''). Volgens 'n berekening vir Julie 2008 sou daar toe 6.706.993.152 mense op die aarde
gewees het. Omdat ons planeet se hulpbronne beperk is, stel baie wetenskaplikes
voor dat die geboortesyfer so beperk word dat daar geen verdere toename
sal wees nie (dit word zero-groei genoem). •
Energie—Die
woord beteken ''werkkrag'', ''arbeidsvermoë''. Daar is baie soorte
energie: party soorte, wat deur die verbranding van byvoorbeeld olie
verkry word, lei tot die besoedeling van die omgewing; ander soorte, soos
son- of windkrag, is natuurlik en nie besoedelend nie. •
Eutrofikasie—Wanbalans
veroorsaak deur ’n uitermatige hoeveelheid plantvoedingstowwe (soos
stikstof en fosfor) in mere en riviere. Hierdie voedingstowwe veroorsaak
dat alge hopeloos te geil groei, wat waterdiere doodmaak deur hulle van
suurstof te beroof. Omgewingsbewustes wyt dit aan die onoordeelkundige
gebruik van wasmiddels en kunsmisstowwe.
•
Ekosisteem—Dit verwys na al
die bestaande verhoudings tussen lewende organismes en hul omgewing. Daar
is ’n spesiale ewewig in die natuur wat behels dat elke lewende ding
(plant sowel as dier) in ’n wisselwerking met sy omgewing betrokke is.
In elke ekosisteem is daar ’n voortdurende ruiling van energie en
materie. Daarom is elke komponent ’n onmisbare stukkie in die legkaart
wat vir oorlewing van die ekologiese gemeenskap nodig is. •
Greenpeace—’n
Organisasie van omgewingsaktiviste wat in 1970 gestig is. •
Herwinning—Die
verandering van vullis in stowwe wat weer gebruik kan word. •
Kern—’n
Voorvoegsel wat met atoomkrag te doen het. •
Kweekhuis-effek—’n
Geleidelike toename in die aarde se temperatuur weens probleme en
wanbalanse in die omgewing. In ’n kweekhuis word sonlig binnegelaat,
maar uitstraling word deur die glas van die kweekhuis gekeer, met die
gevolg dat die temperatuur daarbinne konstant warmer is as die
buitetemperatuur. Wetenskaplikes sê die toename in koolstofdioksied in
die atmosfeer veroorsaak dat die hitte wat die aarde van die son ontvang,
soos in ’n kweekhuis stadiger na buitentoe ontsnap. Vanweë die warmer
aarde kan klimaatstoestande op verskillende plekke drasties verander—met
katastrofale gevolge. (Lees ook omvattende artikel oor aardverwarming
en die kweekhuis-effek.) •
Natuur—Die
geskape plante- en dierewêreld. Omgewingsbewustes dink graag aan die
natuur as diere en plante in hul oorspronklike staat, ongerep deur die
mens of kunsmatige stowwe. •
Omgewing—Die
fisieke en biologiese sisteem waarin plante- en dierelewe ontwikkel. •
Omgewingsverval—Die
ontaarding of verslegting van omgewingstoestande op die aarde. •
Oorkonsumpsie—Die
uitermatige gebruik van produkte wat tot die uitputting van natuurlike
hulpbronne lei. •
Organiese
tuinbou—’n Natuurlike bewerking van
die grond waarin kunsmis of plaagdoders nie gebruik word nie. •
Osoon—’n
Gas wat ook bekend staan as verdigte suurstof, omdat dit drie
suurstofatome in sy molekule het pleks van die twee van gewone suurstof.
Maar, anders as die lewegewende suurstof, is die bleekblou osoongas
giftig. Tog vorm osoon ’n lewensbelangrike laag in die bo-atmosfeer, wat
die aarde teen die son se gevaarlike ultraviolet strale beskut.
Besoedeling deur fabrieke en CFK's is volgens baie geleerdes besig om
daardie laag te vernietig.
Foto: NASA •
Plaagdoder—’n
Chemiese stof wat gebruik word om insekte of ander plae te vernietig wat
skadelik vir vrugtebome, groente, graan en ander gewasse is. •
Suurreën—Reën
wat suur word weens ’n besoedelde atmosfeer. Suurreën het al regom die
wêreld woude laat verwelk en die lewe in mere laat vrek. •
Tsjernobil—Die
ontploffing in 1986 van ’n kernreaktor in ’n kragsentrale by
Tsjernobil in die Oekraïene het daartoe gelei dat radioaktiewe stowwe in
die atmosfeer vrygelaat is. Dit het tot ernstige kernbesoedeling oor ’n
breë gebied gelei.
•
Uitsterwing—Die
verdwyning van ’n lewensvorm (plant of dier). ’n Voorbeeld van
uitgestorwe diere is die dinosourusse, wat volgens wetenskaplikes 65
miljoen jaar gelede uitgesterf het. •
Vegetariër—Iemand
wat nie rooi vleis, die vleis van pluimvee of vis eet nie. Party vegetariërs
eet tog wel dierlike produkte soos melk, kaas, eiers en heuning. Ander eet
of gebruik weer glad geen diereprodukte nie. • Vergaanbaar—Dit word gesê van ’n stof wat deur lewende organismes (soos bakterieë en swamme) afgebreek en opgelos kan word. Baie chemiese produkte soos plastiek is nie vergaanbaar nie en besoedel gevolglik die omgewing.
•
Volhoubare hulpbronne—As ’n
hulpbron volhoubaar is, sal dit bly voortbestaan en nie tot niet gaan
nie. Een voorbeeld is ’n woud. Wanneer sommige bome doodgaan, sal ander
begin groei, met die gevolg dat die woud sal bly lewe. Selfs die aanplant van gewasse om in ons energiebehoeftes te voorsien (soos sonneblomme of mielies vir die maak van motorbrandstof) is volhoubaar— maar daar is vandag baie mense wat dit ernstig bevraagteken of ons kosbare landbougrond wat voedsel moet lewer, durf gebruik om motors pleks van mense te voed! Ons moet nietemin altyd daarna streef om volhoubaarheid waar moontlik te ondersteun, want daarsonder kan die aarde woes en leeg raak... dalk soos in die begin... •
Vullissortering—Glas,
papier, aluminium, batteryselle en afvalkos behoort verdeel en in
afsonderlike houers geplaas te word sodat dit herwin kan word of sodat op
die mees omgewingsvriendelike manier moontlik daarvan ontslae geraak kan
word.
|