Thomas Edison
Die Towenaar van Menlo Park

Thomas Alva Edison'n Edison-fonograaf (grammofoon)Kan ’n mens jou hoege­naamd die moderne lewe sonder elektriese gloei­lampe voorstel? Hoe sou ons wêreld gewees het sonder die ou fonograaf (LINKS), wat die voorloper van vandag se gesofisti­keerde klanktoestelle was? n Wêreld sonder rolprente, wat ons ook deels aan hierdie vernuftige uitvinder te danke het? Wat meer sê, toe Thomas Alva Edison (REGS BO) oorlede is, het hy meer as duisend patente nagelaat. En om te dink hierdie groot genie kon as kind nie praat voordat hy byna vier jaar oud was nie!

 
As jou rekenaar met klank toegerus is en jy ’n program geïnstalleer het om klankopnames te speel, kan jy na Thomas Alva Edison (1847-1931) se stem luister.
Klik hier om te hoor hoe hy die Engelse kleuterrympie Mary had a little lamb opsê, ’n herhaling van dit wat hy vir die eerste klankopname op die fonograaf
geresiteer het. Die fonograaf is ’n instrument wat klanke meganies opneem en weergee, en dit het die hele bedryf van musiekopnames ingelui. Ons ken sulke historiese platespelers eintlik as “grammofone”.

Edison en sy begeesterde span werkers omstreeks Mei 1880 afgeneem in hul laboratorium (tweede verdieping) in Menlo Park

BO: Edison en sy begeesterde span werkers omstreeks Mei 1880 afgeneem in hul laboratorium (tweede verdieping) in Menlo Park.

Foto: U.S. Department of the Interior, National Park Service, Edison National Historic Site

D

IE baas van die uitvinderslaboratorium was ’n rare kêrel. Hy sou sestien uur per dag aanmekaar werk en sy sukses toeskryf aan die feit dat hy geen horlosie in sy werkplek gehad het nie.

En as die slaap hom bedags oorval het, sou hierdie baas niks daarvan dink om hom byvoorbeeld onder ’n bos op die grond neer te vly nie. Gou-gou ’n uiltjie knip en dan maar weer onverdrote voortgaan. Dis mos hoe dinge gedaan kom.

Die span wetenskaplikes en tegnici wat vir hom gewerk het, was ’n ewe begeesterde spul. Baie van hulle sou die hele nag wakker bly om aan uitvindsels te sloof terwyl hulle tussendeur aan ham, kraakbeskuitjies en kaas geknabbel en bier en koeldranke weggesluk het.

En teen middernag sou die baas self voor ’n pyporrel agter in die laboratorium plaasneem. Dan sou almal uit volle bors saamsing terwyl hy orrel speel. Wat ’n bende besielde uitvinders—hierdie vindingryke laboratoriumspan van Menlo Park!

Die baas en geroemde “towenaar” van Menlo Park (in die Amerikaanse staat New Jersey) was niemand minder nie as Thomas Alva Edison (1847-1931), wat allerweë erken word as een van die heel grootste uitvinders van die moderne tyd. Sy uitvindings het ’n beduidende invloed op sy tyd gehad en die manier waarop ons vandag lewe permanent verander.

Kan ’n mens jou immers die moderne lewe sonder elektriese gloeilampe voorstel? Hoe sou ons wêreld gewees het sonder die grammofoon, wat die voorloper van vandag se gesofistikeerde klanktoestelle was? Sonder rolprente, waarmee die vernuftige Edison ook deels geassosieer word?

Edison ondersoek film vir die rolprentprojektor wat hy saam met George Eastman ontwikkel hetREGS: Edison ondersoek film vir die rolprentprojektor wat hy saam met George Eastman ontwikkel het.

Foto: U.S. Department of the Interior, National Park Service, Edison National Historic Site

 

Dis lank nie al nie, want aan die einde van sy lewe kon Edison die ongehoorde getal van 1093 patente onderaan sy naam skryf. Tot vandag toe kon niemand dit nog ooit regkry om hierdie rekord te oortref nie.

Wat Edison des te merkwaardiger maak, was dat hy uiteindelik stokdoof in sy linkeroor was en omtrent net twintig persent gehoor in sy regteroor gehad het. Hy het eenmaal gesê dat die ergste van sy doofheid is dat hy nie die pragtige gesange van voëls kon hoor nie. Hy het in der waarheid so baie van voëls gehou dat hy later ’n versameling van meer as 5000 gevleueldes gehad het.

Tog het hy sy gehoorgebrek met gelatenheid aanvaar en selfs gereken dat dit ’n bate was omdat die stilte hom gehelp het om te konsentreer.

Verskillende redes is al vir Edison se doofheid aangevoer—soos dat dit die gevolg was van skarlakenkoors wat hy as kind opgedoen het—maar hy het self ’n ander mening daaroor gehuldig. In sy jeug het ’n welmenende kondukteur hom op ’n keer aan sy ore in ’n trein ingepluk en dit het sy gehoor aangetas, het hy vertel. Dit strook nogal met die heelparty ander rariteite wat die lewe van die geniale Thomas Edison gekenmerk het.

Thomas Edison as kindGeniaal? Wie hy? Toe Thomas ’n kind was (REGS), is daar glad nie só aan hom gedink nie. Trouens, hy was byna vier jaar oud voordat hy begin praat het en toe hy skool toe gegaan het, het sy onderwyser opgemerk dat hy ’n buitengewoon groot voorkop en ’n groot kop gehad het. Die leerkrag het ernstig geglo dat hierdie seun nie reg wys is nie.

Hy het duidelik nie die anderste breinwerking verstaan van die eksentrieke kêreltjie wat op ses jaar reeds ganseiers uitgebroei het deur by hulle te lê nie. Die gevolg was dat Thomas se ma—self ’n gewese skooljuffrou wat nie nonsies geduld het nie—hom uit die skool gehaal en self onderrig het.

Jare later sou Edison ook met sy eie verklaring van genialiteit vorendag kom. Dit was met sy nou beroemde stelling dat genialiteit “een persent inspirasie en 99 persent perspirasie” is! (Om te perspireer, is natuurlik om te sweet. Edison het kennelik bedoel dat skranderheid veel eerder gemeet moet word aan die bereidwilligheid om hard te werk as aan blink idees wat maar ’n klein deeltjie van die hele prentjie is.)
  

 ’n Tiener vol idees

    
THOMAS ALVA EDISON is op 11 Februarie 1847 in Milan, Ohio, gebore as die jongste van Sam en Nancy Edison se sewe kinders, van wie vier tot volwassenheid bly lewe het. Toe Thomas ’n kind was, was hy bekend as  “Al”.

As hy sy deursettingsvermoë van sy ma geërf het, kom ten minste ’n deel van sy vindingrykheid moontlik van sy pa. Nadat die gesin in 1854 na Port Huron, Michigan, verhuis het,  was dit byvoorbeeld een van Sam Edison se geldmaakskemas om ’n uitkyktoring langs hul huis te bou. Toeriste kon daar uitklim vir ’n uitsig oor die omgewing van die Huron-meer, maar die toring het ongelukkig nie veel geld ingebring nie.

Thomas Edison as tienerHoe ook al, Thomas self het vroeg al sy aanleg as entrepreneur getoon en was skoon behep met meganiese dinge en chemiese eksperimente. Reeds as tiener (LINKS) het hy sy sakevernuf getoon deur koerante, vrugte en lekkers op die Grand Trunk-spoorlyn na Detroit te begin verkoop en kraampies vir groente en ander produkte staan te maak.

Hy het boonop ’n stukkende drukpers gekoop, dit herstel en homself geleer om drukwerk te doen. Hy het insae gehad in boodskappe wat daagliks per teleks na die spoorwegstasie gestuur is en sy kans waargeneem om daardie berigte vir sy eie gewin te benut.

Van koerantverkoper het Thomas toe gevorder tot die skrywer, drukker en uitgewer van sy eie koerant, die weeklikse Grand Trunk Herald, wat hy in ’n bagasiewa op die trein tussen Detroit en Port Huron geproduseer het. Dit was heel moontlik die eerste koerant wat ooit in ’n bewegende trein gedruk is. Hy kon driehonderd pendelaars op die trein oorreed om op sy koerant in te teken.

Thomas het boonop vir hom ’n klein laboratorium op die trein ingerig, met rakke vol bottels, batterye en proefbuise. Toe ’n brand egter op ’n dag op die trein uitbreek, het ’n omgekrapte kondukteur Thomas op die volgende stasie laat afklim—en hy moes sy laboratorium en sy drukpers saamvat.

Dit het die einde van Thomas se pendelaarskoerant beteken, dog hy het nie van die stasie af weggebly nie. En toe neem sy lewe ’n onverwagte wending. Eendag loop die stasiemeester se seuntjie op die spoor voor ’n stadig bewegende goederetrein in en Edison raap die kind voor die trein weg en red hom van ’n gewisse dood.

Die dankbare pa bied aan om Thomas die grondbeginsels van telegrafie te leer. Hy kry die prestige-werk van telegrafis en swerf die volgende ses jaar van werk tot werk, soos telegrafiste destyds gedoen het.

Op 22 is hy egter platsak. Edison begewe hom na New York, waar hy werk by ’n telegraafagentskap van die aandelebeurs kry. Hy het in die kantoor van die aandele-tikker geslaap, waar hy dié telegrafiese toestel bestudeer het. Toe die tikker ’n paar dae later onklaar raak, het Edison dit herstel—en die werk van opsiener gekry met ’n vet salaris.

Hy bring verbeterings aan die aandele-tikker aan en verkoop sy patente vir ’n aansienlike bedrag. Van toe af was hy ’n “gemaakte man”, soos hulle sê. Voor hom het honderde uitdagings gelê wat net gewag het om deur hom aangepak en opgelos te word.
  

 Die frenetiese uitvinder

     
DIE onvermoeide Edison sou sy stoffasie as uitvinder wys deur dinge met ’n maniese geesdrif uit te vind—’n swetterjoel toestelle wat gewissel het van elektriese rottevangers en kakkerlakdoders tot gloeilampe en grammofone.

Misluk was nie deel van sy woordeskat nie. Wanneer van sy proefnemings nie geslaag het nie, het hy dit afgemaak met die woorde: “Ek het nie misluk nie, ek het net 10 000 maniere gevind wat nie wil werk nie.”

Alexander Graham BellBoonop het hy nie slegs nuwe dinge uitgevind nie, maar ook op ander mense se uitvindsels verbeter. Hy was byvoorbeeld uiters teleurgesteld dat die Brits-gebore Amerikaner Alexander Graham Bell (1847-1922) (REGS) hom voorgespring in die wedloop om die eerste outentieke transmissie van die menslike stem te patenteer, maar toe verbeter hy op Bell se telefoon met die toevoeging van die koolstofmikrofoon. Voor Edison se vernuwing moes mense in die praatbuis van die telefoon skreeu.

Met die geld wat Edison vir sy patente ontvang het, het hy sy eerste werkwinkel in Newark, New Jersey, geopen. In 1874 het hy die tikmasjien verbeter deur metaalonderdele pleks van hout te gebruik en die lettergroepering en inkverspreiding te korrigeer. Voor dit kon ’n mens gouer met die hand skryf as om te tik.

Edison het in 1876 ’n nuwe laboratorium in Menlo Park, New Jersey, geopen, ’n plek wat later as ’n “uitvindingsfabriek” bekend gestaan het, omdat hy en sy span werkers op enige gegewe tyd aan verskeie verskillende uitvindsels gewerk het.  Die volhardende Edison sou daar talle proefnemings doen om die antwoorde op probleme te vind. “Ek gooi nooit tou op voordat ek kry wat ek soek nie,” was sy uitgangspunt.

Sy fonograaf was een van die wêreld se oorspronklikste uitvindsels wat die hele bedryf van musiekopnames ingelui het. Selfs sy getroue voorman, John Kuesi, was oorbluf toe hy hoor hy moet die toestel maak volgens ’n skets wat Edison aan hom gegee het. Toe dit voltooi is, het Edison “Mary had a little lamb” in die spreekbuis geresiteer. Die toestel het die woorde herhaal. Selfs Edison was verstom!

Edison se eerste fonograaf het onder meer bestaan uit ’n roterende silinder met ’n blad tinfoelie daarom en die klank is opgeneem by wyse van groewe wat die instrument in die foelie gemaak het.

Edison en sy vroeë fonograaf

BO: Edison en sy vroeë fonograaf, nagenoeg 1877.

Tersaaklike deel van ’n (hier digitaal verkleurde) foto deur Levin C. Handy / Brady-Handy Photograph Collection / U.S. Library of Congress (“Public Domain Old”)
  

 Eureka, die gloeilamp!

’n Edison-gloeilamp van 1883REGS: ’n Edison-gloeilamp van 1883.

Foto: U.S. Department of the Interior, National Park Service, Edison National Historic Site

NADAT hy klank oorwin het, het Edison hom tot elektriese beligting vir die huis gewend. Trouens, die beroemdste uitvindsel wat uit Menlo Park gekom het, was juis die gloeilamp. Nou moet ’n mens dadelik sê dat Edison nie elektriese beligting uitgevind het nie—daar was reeds die sogenaamde booglampe, soortgelyk aan vandag se straatligte. Maar hierdie soort ligte was so sterk dat mense hulle nie binne hul huise wou hê nie. Tuis het hulle dus gaslampe gebruik, maar dié se oop vlamme was weer gevaarlik en het baie geflikker.

Die probleem was dus nie om ’n elektriese lig te skep nie—dit was reeds daar—maar om ’n lamp te maak wat nie gou sou uitbrand nie en om ’n gloeidraadjie daarvoor te vind wat so goedkoop geproduseer kon word dat dit die lamp kommersieel lewensvatbaar sou maak.

Edison het glo meer as 40 000 bladsye met notas volgeskryf voordat hy uiteindelik in 1879 ’n lamp kon vind wat veertig uur onafgebroke in sy laboratorium gebrand het. Hy het dit toe opsetlik laat uitbrand deur die spanning te verhoog.

Nadat hulle hoeveel verskillende soorte stowwe vir die gloeidraadjie getoets het, waaronder klappervesels, vislyn en selfs die hare van ’n vriend se baard, het Edison en sy werkers uiteindelik vasgestel wat hulle daarvoor kon gebruik—verkoolde katoengaring.

Later het drie soorte verkoolde bamboes hulle as selfs beter gloeimateriaal bewys. Met enkele aanpassings, onder meer die gebruik van wolfram pleks van die verkoolde bamboes, lyk vandag se gloeilampe nie veel anders as die Edison-lampe van destyds nie.
 

 ’n Beter laboratorium

    
IN 1887 het Edison sy werksaamhede van Menlo Park, New Jersey, na West Orange, New Jersey, verskuif, waar hy ’n groot en beter toegeruste laboratorium vir proefnemings en navorsing laat oprig het. Daar was sowat sestig werkers in die nuwe laboratorium en Edison het persoonlik die groot personeel probeer bestuur.

Daar word vertel dat hy eenmaal ’n nuwe werker wat wou weet wat die reëls was, as volg geantwoord het: “There ain’t no rules around here. We’re trying to accomplish something.” (Hier is geen reëls nie. Ons probeer om iets tot stand te bring.)

Tog was die werksaamhede in West Orange nie so gemeensaam as in Menlo Park nie, en Edison moes baie van sy tyd aan administratiewe take bestee. In 1888 het hy ewenwel die kinetoskoop uitgevind, die eerste masjien wat films geskep het deur ’n vinnige opeenvolging van afsonderlike beelde.

Edison het soveel ander uitvindsels agter sy naam dat ’n mens almal moeilik binne die bestek van een artikel kan noem. Deur sy grammofoon en kinetoskoop te sinchroniseer, het hy in 1913 selfs die eerste klankfilm geskep.

Nog van sy latere uitvindings en verbeterings het ’n opgaarbattery, ’n sementmenger, die diktafoon, ’n kopieermasjien en pratende poppe ingesluit. As ’n mens na die lang lys uitvindsels kyk, lyk dit inderdaad of dit tot in der ewigheid aanhou...
   

 Sy vroue en kinders

Mary EdisonEDISON se ma is in 1871 oorlede, en later daardie jaar, op Kersdag, is hy met ’n voormalige werkster van hom, Mary Stilwell (LINKS), getroud. Hoewel hy duidelik lief vir sy vrou was, was hul verhouding vol slaggate, veral omdat hy so behep met sy werk was en Mary nie ’n gesonde vrou was nie. Edison sou dikwels in of by sy laboratorium slaap—bedags of snags—en het ’n groot deel van sy tyd by sy manlike kollegas deurgebring.

Hul eerste kind, Marion, is nietemin in 1873 gebore, gevolg deur ’n seun, Thomas jr., in 1876. Edison het die twee die byname “Dot” en “Dash” gegee, twee bekende telegrafiese terme. ’n Derde kind, William Leslie, het sy opwagting in 1878 gemaak.

Mary is in 1884 oorlede, volgens een bron moontlik weens ’n breingewas, volgens ’n ander as gevolg van skarlakenkoors.

Mina en Thomas EdisonEdison het in 1886 weer getrou met die jong Mina Miller (by hom op die foto LINKS) en met sy nuwe vrou na ’n groot herehuis in West Orange verhuis.

Edison en Mina het ook drie kinders gehad: Madeleine (gebore 1888), Charles (1890) en Theodore  (1898). Anders as die sieklike Mary, wat dikwels tuis gebly het, was sy ’n bedrywige en uitgaande vrou wat baie tyd aan gemeenskapsgroepe, sosiale funksies en liefdadigheid bestee het, asook om haar wederhelf van sy dikwels traak-my-nie-agtige gewoontes en hebbelikhede te probeer genees.
 

 Sy laaste jare en nalatenskap

    
IN die jare twintig het sy verswakkende gesondheid sy tol van Edison begin eis en hy het meer tyd tuis by Mina begin deurbring. Sy verhouding met sy kinders was nie juis hartlik nie, ofskoon Charles die president van die firma Thomas A. Edison, Inc. was. Een projek wat hom in hierdie tyd geboei het, was die soeke na ’n alternatief vir rubber. Die groot motorvervaardiger Henry Ford was ’n bewonderaar en vriend.

REGS: “Pst, pst, ou Thomas, as jy vir my jou beste grammofoon gee, gee ek vir jou my vrotste Model T-Fordjie, hoe’s daai vir ’n ruil?” Wat Henry Ford egter regtig hier so vertroulik in Edison se oor gefluister het, is nie bekend nie!

Edison se plek as Amerika se voorste uitvinder is in 1928 verseker toe hy die Eremedalje van die Amerikaanse Kongres ontvang het. Volgens die medalje het hy “die pad van vooruitgang met sy uitvindings belig”.

Maar diabetes en maagprobleme oor baie jare het hom so afgetakel dat hy op 18 Oktober 1931 in West Orange oorlede is. Mense het blokke ver tougestaan om verby sy kis in die laboratorium se biblioteek te beweeg. Pres. Herbert Hoover het vir ’n minuut stilte—en donkerte—gevra om die groot uitvinder te huldig, en om 10 nm. op 22 Oktober 1931 het mense regoor die VSA hul elektriese ligte uitgedoof.

Vier jaar ná sy dood het Mina weer getrou en wel met Edward Everett Hughes, ’n man met wie sy as ’n jong meisie bevriend was. Ná Hughes se dood in 1940 wou sy egter weer as mev. Edison bekend staan. Tot haar eie dood in 1947 wou sy dus eintlik as die weduwee van die legendariese uitvinder onthou word. 

Thomas Alva Edison,  die “Wizard of Menlo Park”, wat in sy lewe nooit opgehou het op dinge te probeer uitvind nie, kan tot vandag toe nie vergeet word nie. Sy nalatenskap lê immers verskuil in elke gloeilamp, in hoeveel ander elektroniese dinge in die gemeganiseerde wêreld waarin ons lewe.

Selfs as jy hoor hoe die een of ander toestel ’n vooraf opgeneemde stem terugspeel of die beelde van mense sien wat lewensgetrou voor jou op skerms beweeg, beweeg sy eie skim miskien ook op die agtergrond van jou bewussyn. En dalk, as jy jou verbeelding nou werklik baie goed kan gebruik, hoor jy vaagweg die vrolike gesing met orrelbegeleiding... daardie liedere wat hy en sy makkers destyds so lustig in die ou laboratorium aangehef het!

Kernduikboot Thomas A. Edison

BO: As ’n waarderende wêreld Edison nie kan vergeet nie, hoeveel te meer sy vaderland Amerika. Hier is ’n kernduikboot van die VSA vloot, die Thomas A. Edison—genoem na die geniale “Towenaar van Menlo Park”.
  
Krediet: U.S. Navy Photo


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad